Psalm 119:65-72 – TET – U is goed en doen goed; leer my u voorskrifte

Psalm119-tetDie negende deel van dié Psalm fokus op God se goedheid (tôv).  Nie net IS God goed nie, maar DOEN Hy goed.  En dit is van dié God wat die Psalmis onderrig wil ontvang, omdat God se woorde, bevele, voorskrifte, opdragte, wet, en onderrig soortgelyk goed sal wees – weereens ses van die agt woorde vir God se openbaring in die Psalm.  Na alles, dit is dinge wat van God self af kom: “Die onderrig uit u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer.

Die Psalmis fokus op twee funksies van God se onderrig.  Die een is te vinde in God se woorde, die ander in ervarings in die lewe wat deur God gebruik word.

Aan die een kant prys hy die Here vir die positiewe funksie van God se “goeie woorde”.  Dit leer hom onderskei wat die pad van die Here is, en wat nie.  Die frase in vers 66: “Goeie oordeel” (BDV) of: “goeie insig” (NAV) vertaal die letterlike Hebreeuse frase: “goeie smaak” wat hier figuurlik gebruik word in ‘n moreel-etiese sin.  In Engels word dit weergegee as “proper discernment” (NET Bible) of “good judgement” (NIV).  Dit is wat God se woord hom leer, om goeie moreel-etiese besluite te kan neem.

Maar daar is aan die ander kant ook ‘n tweede funksie van God se onderrig in sy lewe, ‘n negatiewe dissiplinêre funksie wat in ervarings van: “vernedering, swaarkry of verdrukking” geleer word.  Die Palmis gebruik die Hebreeuse woord ânâh (119:67,71) om sy ervaring te beskryf.  Dié woord kan op verskillende wyses vertaal word, soos ‘n vergelyking in net ‘n paar van die Afrikaanse vertalings wys: “verdruk” (OAV), “swaarkry” (NAV), en “verneder” (BDV).  In Engels word dit gewoonlik vertaal met: “afflicted” (NET Bible, NIV, KJV), asook ‘n keer of wat met “humbled” (NRSV) wat ooreenkom met die BDV.

Wat die negatiewe ervaring presies in die Psalmis se geval beteken het, word nie uitgespel nie.  Dit is egter duidelik dat die ervaring van vernedering, swaarkry of verdrukking hom van sy dwaalweë teruggebring het om God se woorde en beloftes na waarde te skat.  Hy kan daarom sê: “Dit is goed vir my dat ek verneder was, sodat ek u voorskrifte kon leer.”  Die pynlike situasie waaraan hy blootgestel is, het dus die funksie van ‘n dissiplinêre aksie in sy lewe gehad.  Hy kon daaruit leer, en tot inkeer kom.

Dit laat ‘n mens besef dat elke woord uit God se mond belangrik is in ons onderskeiding van wat goed is en wat nie.  Netso is elke ervaring waaraan ons blootgestel is belangrik om in die praktyk van die lewe te leer hoe ons die pad met God moet loop.  En dit lyk asof dit veral die negatiewe en swaarkry ervarings is wat die Here in ons lewe gebruik.

Wat ons motiveer en inspireer op dié pad is die feit dat God goed is en goed doen!  Paulus sê nie verniet in Rom. 8:28: “Ons weet dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet, diegene wat volgens sy voorneme geroep is.” Lees gerus die verdere verse in Romeine 8 wat die implikasies hiervan uitspel.

Psalm 119:68 is daarom vandag vir my ‘n helder woord wat ‘n nuwe Bybelse begronding gee vir een van my lewensmotto’s.  Dit is Richard Niebuhr (The Responsible Self) se stelling: “God is acting in all actions upon you.  So respond to all actions as a response to his action.”  En ek besef nou, ek kan daarvolgens lewe, ómdat God goed is en goed doen.  Daarom kan ek, soos die Psalmis, hom vra om my sy voorskrifte te leer, en kan ek dit van harte navolg.

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
%d bloggers like this: