Psalm 139 – Die wonder van God en van menswees

Psalm139Hierdie Psalm is vir my heilige grond.  Aan die een kant besing dit die wonder van God se intieme betrokkenheid by ons maak nie saak waar ons ons bevind nie.  God is alomteenwoordig by ons en vir ons.  Aan die ander kant besing dit die wonder van menswees: “omdat ek ‘n ontsagwekkende wonderwerk is.

Dié twee waarhede ontlok twee gebede by die Psalmis.  Hy wil in die eerste plek God se eer ten alle koste beskerm en verklaar dat God se vyande ook sy vyande sal wees.  Hy wil in die tweede plek absoluut getrou en lojaal aan God leef en vra dat God se ondersoekende teenwoordigheid hom op die beproefde pad sal lei.

Die wonder van God se alomteenwoordigheid – vers 1-12

Die Psalm word omraam deur die werklikheid dat niks vir God verborge is nie.  Die Here sien dwarsdeur ‘n mens: “U ondersoek my en U ken my” (vers 1).  Dit is waar van alle aksies (sit en opstaan), gedagtes (”van ver af verstaan U wat ek in gedagte het” – BDV), omswerwinge (“U het dit afgemeet”), en woorde (“U ken dit volledig”).  Die Here omsluit ons van alle kante en sy hand is te alle tyd op ons soos ‘n pa wat sy peuter ondersteun, soos vers 5b meer korrek vertaal moet word: “U plaas u handpalms op my.

Dit is belangrik om raak te sien dat al die werkwoorde in die eerste ses verse wat God se betrokkenheid beskryf in die teenwoordige tyd vertaal is.  Die Psalmis is nie net as’t ware uit vorige ervaring bewus van God se intieme kennis van en betrokkenheid by hom nie.  Dit is iets wat van oomblik tot oomblik in sy lewe gebeur.  God is nader aan ons as wat ons bewussyn kan inneem: “Om dit te verstaan, is ‘n te groot wonder vir my; dit is te hoog, ek kan dit nie begryp nie.

God is nie net so naby aan ons dat ons van Hom kan wegkom nie.  Hy is oral waar ons sou wou wegvlug van Hom af, in die hemel, in die doderyk, aan die einde van die see, in die dag en in die nag, selfs in die duisternis wat as die plek gereken is waar God nie aanwesig sou wees nie.  God is alomteenwoordig deur sy Gees.

Dit is tegelykertyd ‘n verskrikking en ‘n vertroosting – vir die goddelose ‘n onrusbarende werklikheid; vir die gelowige ‘n gerusstellende werklikheid.  Want God is alomteenwoordig by ons en vir ons waar ons ook al mag gaan.

Die ontsagwekkende wonder van menswees – vers 13-18

Maar dié kennis is nie net aan die “ewige nou” verbind nie.  God se betrokkenheid kom eintlik van voor ons geboorte af en strek tot aan die einde van ons lewe, “nou en vir ewig”.  God se beplanning van ons ontstaan en ontwikkeling is dus omvattend, en uit die NT weet ons nog helderder dat dit selfs ná die dood voortgaan in die ewige lewe.

God het ons gevorm in die moederskoot – daarvoor loof die Psalmis Hom: “omdat ek ‘n ontsagwekkende wonderwerk is.”  Dit sluit sy binnekant of gewete in – die betekenis wat aan die niere gekoppel is (vers 13) – interessant genoeg iets wat dus gereken word as geskep selfs voorgeboortelik, en iets wat God gee, nie net iets wat deur die samelewing gevorm is nie.

Dit sluit sy skelet in, die deel van sy liggaam wat struktuur aan die tapisserie van menswees gee.  Dit sluit uiteindelik ook al sy lewensdae in wat in God se boek opgeskryf is – nie soseer alles wat sal gebeur nie, maar die tydsduur daarvan.

‘n Mens kan hier iets raaksien van die feit dat elkeen van ons ons oorsprong in God se gedagtes het.  God het ‘n prentjie van ons gehad, vóór ons nog daar was, en ons toe geskep daarvolgens.  Dit is waarom die Psalmis sê, dat hy wonderlik is, soos God hom gemaak het, en dat God se gedagtes vir hom wonderlik is.  Dit is eintlik net ‘n ontsagwekkende oorweldigende bewussyn.  Of hy slaap en of hy wakker is, hy is altyd in God se gedagtes – en God is altyd in sy gedagtes.

God se eer staan bó alles – vers 19-24

Dié twee ontsagwekkende en oorweldigende waarhede ontlok twee smeekgebede by die Psalmis.

Hy wil in die eerste plek God se eer ten alle koste beskerm en verklaar dat God se vyande ook sy vyande sal wees.  Hy wil met goddelose mense niks te doene hê nie.  Hulle is immers bloeddorstig en bedrieglik, mense wat teen God opstaan en sy vyande is.  Die Psalmis identifiseer dus volledig met God self en wil dus niks te doene het met enigiemand wat hom van dié lojaliteit kan wegskeur nie.

Hy wil in die tweede plek absoluut getrou en lojaal aan God leef en vra dat God se ondersoekende teenwoordigheid hom op die beproefde pad sal lei: “Kyk of ek nie op ‘n pad van verdriet is nie, en lei my op die ou beproefde pad.

Die “pad van verdriet” kan ook vertaal word as “pad van afgodery”.  Die eerste vertaling fokus die aandag op dinge wat pyn kan veroorsaak.  Die tweede vertaling fokus die aandag op dinge wat afvalligheid kan bring.

Daarteenoor vra hy dat God hom op die beproefde pad sal begelei.  Die vertaling “beproef” (“ancient” volgens Allen) gee die woord ‘ôlâm weer wat ook met “ewig” of “altyd” vertaal kan word.  Die idee is egter nie dat dit soseer op die lewe hierna dui nie, maar eerder op dit wat die toets van die tyd sal deurstaan.  D.w.s. dié pad wat van altyd af die regte een was, en wat vir altyd sal hou.  Dit is dié pad waarop die Psalmis begelei wil word.

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Goeie More Chris

    Ek geniet jou blad, dankie vir die werk wat jy doen, daar is baie web bladsye met baie inligting, idees en verskillende mense met verskillende maniere en gedagtes. Ek het ‘n Facebook blad :
    “Die Here is my Herder” met so 4300 volgelinge wat nie baie is nie maar my Liefde vir God is onbeskryflik groot, daar sal altyd kommentaar wees, ek het nog altyd net goeie kommentaar ontvang en ek glo die rede daarvoor is dat ek die Bybel soos ‘n doodgewone mens lees en fokus daarop om sy woord ook so te verkondig. Dankie vir jou bydra Maat, Jesus Liefde

    Hans

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: