Skip to main content

Psalm 110 – U volk is gereed vir die dag waarop u u magte monster

Psalm110Die volgende nege Psalms, Psalm 110-118, is bedoel om die geloofsgemeenskap te help om te fokus in gebed op God se beloftes van die vestiging van sy heerskappy.  Dit word in Psalm 110 verwoord in die gebed vir die vestiging van die Dawidiese koningskap, waarna die volk in die toekoms kan uitsien.  Dit dra dus ‘n Messiaanse karakter.

‘n Troonbestygingspsalm

Op ‘n eerste vlak kan dié Psalm uitgelê word as ‘n gebed uit die verlede van Dawid vir Salomo by die aanwysing van Salomo as die nuwe koning (vgl. 1 Konings 1-2 – Salomo word koning te midde van groot intriges).  Dawid praat immers van iemand wat: “my heer die koning” is.  Dit sou daarna by enige volgende troonopvolgingsgeleentheid gebruik kon word.  Daarom word dit ook ‘n troonbestygingspsalm genoem.

Binne hierdie uitleg daarvan was die eerste helfte van die Psalm ‘n gebed tot die Here dat die koning se heerskappy sal slaag. Dit is ook ‘n verbintenis aan die koningskap van dié nuwe koning: “U volk is gereed vir die dag waarop u u magte monster.  U jongmanne is u krag as hulle teen dagbreek aantree, geklee vir die heilige stryd.” – vers 1-3.

Die tweede helfte van die Psalm was dan ‘n belofte aan die koning dat Hy in ‘n besondere verhouding met God sal wees: “Jy sal altyd priester wees in die priesterorde van Melgisedek.” Doelbewus nie as deel van die Aäronitiese en Levitiese opeenvolging nie, maar as deel van die enigmatiese priester-koning tradisie uit Genesis van Melgisedek.  God sal die koning die oorwinning laat behaal oor al sy teenstanders – vers 4-7.

Oor Melgisedek

Die skrywer sluit in hierdie tweede deel aan by die verhaal van Melgisedek soos ons dit in Genesis 14 aantref.  Ek het meer geskryf daaroor in my lees van Hebreërs.

Om jou gedagtes te verfris: in Genesis 14:18-20 lees ons dat Abram met sy terugkoms, ná sy oorwinning oor Kedorlaomer en die konings by hom om Lot en sy mense te bevry, deur Melgisedek, die koning van Salem (Jerusalem) en priester van God die Allerhoogste, geseën is.  Hy het brood en wyn gebring vir Abram en gesê: “Mag Abram geseën word deur God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde.  Geloof sy God die Allerhoogste!  Hy het jou vyand in jou mag oorgegee.”  Abram se reaksie was betekenisvol.  Hy het vir Melgisedek ’n tiende van alles gegee.  Daarmee is Melgisedek se voorrang bó die aartsvader Abraham bevestig.

Die Hebreërskrywer lê natuurlik die bestaande teks in Genesis 14 verder uit en verduidelik benewens die verklaring van sy naam as “Koning van Geregtigheid” ook sy naam as “Koning van Salem” dit is “Koning van Vrede”.  Dit is egter die volgende aansprake oor hom wat ’n mens tot stilstand laat kom: “Hy was sonder vader, sonder moeder, sonder stamboom; sy lewe was sonder begin en sonder einde.”  Dit is beskrywings wat net op ’n hemelse ongeskape wese van toepassing kan wees.

Die toppunt van die Hebreërskrywer se aanspraak is dat Melgisedek daarbenewens: “soortgelyk aan die Seun van God” geteken word, d.w.s. dat hy ‘n voorafskaduwing van Jesus as Seun van God is.  Dit is merkwaardig!  Melgisedek as ‘n gestalte uit die OT het dus in die NT ‘n realiteit in Jesus geword.  Die enigmatiese misterieuse hemelse figuur Melgisedek vind vervulling in Jesus as die Seun van God.

Daar is dus ’n dieper band tussen Melgisedek en Jesus.  Ek is uiteraard versigtig om ‘n direkte identifikasie van Jesus terug na die OT figuur van Melgisedek te maak.  Ek sal verseker sê Jesus is in aanhalingstekens die “Melgisedek” van die NT, soos die skrywer van Hebreërs dit sê.  Ek sal egter versigtig wees om te sê Melgisedek is die “Jesus” van die OT.  Dit sou misleidend kon wees met geen eksegetiese basis in die Bybelteks nie.  Ons weet net te min van die OT figuur Melgisedek om só iets kwyt te raak. (Vgl. vir ‘n volledige bespreking Hebreërs 7:1-28 – Jesus Christus is Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek.)

‘n Messiaanse Psalm

Op ‘n tweede vlak is die Psalm in die ná-ballingskap konteks ‘n gebed vir die koms van die Messiaanse koning, omdat die koninklike tradisie op die agtergrond geskuif is en hulle uitgesien het na ‘n tyd waarin die koninkryk van Dawid in ere herstel sou word, soos ons veral in die Twaalf Kleiner Profete sien.

Dit is dan ook vanuit hierdie betekenis dat die Psalm op ‘n derde vlak ‘n rol in die NT kerk speel waar dit van toepassing gemaak word op die verwagtinge rondom die Here Jesus Christus.

Daarom word Psalm 110 ‘n paar keer in die NT aangehaal.  In ’n gesprek met die Fariseërs gebruik Jesus Psalm 110:1 om Sy goddelikheid te bevestig: “Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het.” (Matt. 22:41-45).  Die Hebreërskrywer gebruik twee verse uit hierdie Psalm om Jesus se priesterlike koningskap te bevestig: Psalm 110:1 – “Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het.” (Hebr. 1:13) en Psalm 110:4 – “Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.” (Hebr. 5:6).

Die apostels het ook Jesus se hemelvaart verklaar as ’n aanvulling van die uitspraak in hierdie psalm (Hand. 2:34).  Jesus se oorwinning aan die kruis is ook aan hierdie psalm verbind (Hand. 2:35).

Boodskap

Hierdie gebed is in NT konteks ‘n belangrike gebed om te bid. Dié Psalm herinner ons aan die Here Jesus wat alreeds koning is op grond van sy kruisdood, opstanding en hemelvaart, maar waarvan die volledige verwerkliking en erkenning daarvan nog in die toekoms by sy wederkoms lê.

Ons vra dus in die taal van die Psalm met reikhalsende verlange van God: “Heers dan oor u vyande!  U volk is gereed vir die dag waarop u u magte monster.” Ons wag vir die finale bekendmaking van God se heerskappy oral en oor almal.  Dit is dieselfde gebed as wat die Gees en die bruid in Openb. 22 bid: “Kom! En elkeen wat dit hoor, moet sê: ‘Kom!’

Bid dit dan vandag … en elke dag, totdat Hy weer kom.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda