Skip to main content

Psalm 118 – Aan sy liefde is daar geen einde nie

Psalm118Ons kom aan die einde van die tweede reeks Psalms – 110-118 – in die vyfde Psalmboek wat die geloofsgemeenskap gehelp het om te fokus op God se beloftes.  Dit is beloftes soos:

  • die vestiging van sy Messiaanse koninkryk waarvoor God instaan (Ps. 110);
  • dat God se werk groots en betroubaar is vir sy mense (Ps. 111);
  • dat ontsag vir God se gebooie vreugde bring en dat vertroue op Hom die vrees vir slegte tyding verdryf (Ps. 112);
  • dat die lewe betekenisvol raak wanneer die Here geprys word van waar die son opkom tot waar dit ondergaan (Ps. 113);
  • dat hulle jubeling oor die Uittog uit Egipte vir hulle ‘n model gee om nie net te dink aan die nuwe Uittog uit Babel nie, maar ook aan God se belofte van redding uit elke vasgevalde situasie waar hulle hulle mag bevind (Ps. 114);
  • dat hulle mag weet dat God sy eer daarin stel om hulle vertroue op Hom en sy beloftes te beantwoord (Ps. 115);
  • dat hulle die Here mag liefhê, want Hy verhoor hulle smeekgebede (Ps. 116);
  • dat hulle mag weet en vertrou daarop dat God oneindig betroubaar is in sy onmeetlike liefde vir hulle (Ps. 117).

Dít is die pakket van beloftes wat hulle met hulle mag saamdra op hulle lewenspad.

Hierby kom Psalm 118 nou om dié inleidende fokus op God se beloftes af te rond met die gedagte dat daar aan God se liefde geen einde is nie, soos Hy dit oor en oor in die geskiedenis bewys het.  Daarvan moet Israel getuig.  Daarvoor moet Israel God loof.

Dit is dan ook uit dié hoek wat ons die skare se woorde met die intog in Jerusalem moet hoor as hulle die woorde uit Psalm 118:26 gebruik: “Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” soos Matteus dit vir ons vertel (Matt. 21:9).  Psalm 118:27 maak dan net soveel meer sin: “Begin die fees!  Wuif met takke!”  Hoewel die fees in Jesus se geval natuurlik geëindig het by sy kruisdood.

Die beloftes van die Here in Psalm 110-118 is dus met die koms van Jesus vervul.   So interpreteer die vier evangelieskrywers dit (Mark 11; Matt. 21; Luk. 19; Joh. 12).  Selfs die skare in Jerusalem kon dit nie inhou nie en het Hosanna vir die Koning gesing.  Ook Jesus was baie bewus daarvan dat sy lewe die boodskap van die Psalms vervul het, soos ons lees in Luk. 24:44: “dat alles vervul moet word wat in die … psalms oor My geskrywe is”.

Die Psalm kan in twee dele opgedeel word aan die hand van die inhoud.

  • Die eerste deel fokus op gebedsverhoring wat onderstreep dat God goed is, dat aan sy liefde daar geen einde is nie – vers 1-18. Dit is waarskynlik bedoel as ‘n danklied vóór die tempel deur die koning of een of ander leier wat die geloofsgemeenskap se dank verwoord.
  • Die tweede deel fokus op die lofprysing en danksegging wat onderstreep dat die Here lewe skenk, dat aan sy liefde daar geen einde is nie – vers 19-29. Dit is waarskynlik bedoel as ‘n danklied ín die tempel soos ons uit vers 19 aflei: “Maak die tempelpoort vir my oop: ek wil ingaan en die Here loof.

118:1-18 – Die Here het my gebed verhoor

Die Psalm begin met die belydenis dat God goed is, dat aan sy liefde daar geen einde is nie.  Dít is iets wat die volk Israel sowel as sy geestelike leiers uit die huis van Aäron moet inspireer om te getuig.  Trouens: Elkeen: “wat die Here dien” – vir Hom ontsag het – moet getuig daarvan dat sy liefde geen einde het nie.

In die danklied vóór die tempel verwoord die koning of een of ander geestelike leier die dank wat hulle het omdat God hulle gebede verhoor.  Soos in Psalm 23 bely hulle dat die Here by hulle is, en dat hulle daarom geen vrees het nie: “Wat kan ‘n mens aan my doen?

Die Here is die enigste skuilplek wat van waarde is.  Geen fisiese skuilplek kan só help as die geestelike skuiling wat ‘n mens by die Here kan vind nie.  Selfs toe nasies “soos bye” die volk omsingel het, kon hulle in die Naam van die Here die aanval afslaan.  Die bye het: “soos doringtakke in ‘n vuur verdwyn.

Die vyande wou die volk platloop, maar het nie rekening gehou met die Here wat hulle uit die gevaar gered het nie.  Daarom kan hulle getuig: “Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe en van die dade van die Here getuig.” Al was dit moeilike tye, het hulle daardeur gekom!

118:19-29 – Aan sy liefde is daar geen einde nie

Daarom is die gebed van die volk: “Maak die tempelpoort vir my oop: ek wil ingaan en die Here loof.”  Van dié ervaring van gebedsverhoring moet die wêreld, maar veral ook die geloofsgemeenskap kennis neem.

Die Psalm werk dan heel onverwags met die metafoor van die: “klip wat deur die bouers afgekeur is,” maar: “juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.”   Die Psalmis bedoel daarmee dat hulle eintlik soos die afgekeurde klip was in hulle eie ervaring, en selfs in die oë van hulle vyande.

Deur die Here se ingrype voel hulle nou asof hulle van hulle posisie van vernedering verhoog is tot die mees prominente plek in die tempel van die Here, die belangrikste klip in die gebou (vgl. Jes. 28:16 vir ‘n soortgelyke gedagte, en Jer. 51:26 vir die teenoorgestelde boodskap aan Babel).

Die boodskap van die belangrikste klip vind op ‘n besondere manier in die NT weerklank in Paulus (Rom. 9:33; 10:11) en Petrus (1 Pet. 2:6) se onderrig oor Jesus as die fondament, die hoekklip, van die Christelike kerk.  Soos Jesus verneder is aan die kruis, is Hy verhoog deur sy hemelvaart.  En is Hy nou die hoeksteen, die belangrikste klip in die gebou wat God besig is om te voltooi, die hemelse Jerusalem.

Dit is daarom een van die belangrikste en wonderlikste boodskappe wat die OT en NT geloofsgemeenskap aan mekaar bind.  Wat hulle verwag het, dít is vervul in Jesus en vorm die basis vanwaar af ons as gelowiges leef. Daarom: “Begin die fees!  Wuif met die takke!”  Alle gelowiges van alle tye vind vreugde in dié werklikheid.

Onthou egter, net ter wille van volledigheid, ook die ander kant, die klip waarteen ‘n mens jou voet stamp, soos Jes. 8:14 op die tafel gesit het (“bedruktheid en benoudheid is sy padkos”!) en ook deur Paulus en Petrus gebruik word.

Boodskap

Die Psalm herinner ons aan die vreugde van gebedsverhoring.  Dit onderstreep dat God goed is, dat aan sy liefde daar geen einde is nie, en dat ons van Hom kan verwag dat Hy altyd só sal wees.  Die Psalm herinner ons ook aan die voorreg om deur lofprysing en danksegging ‘n getuienis af te lê van wie God ook vir ander kan wees.  Aan sy liefde is daar geen einde nie, voorwaar!

Die Psalm herinner ons ook aan die Here Jesus wat volgens die NT die belangrikste klip in die gebou geword het, vir die hele OT en NT geloofsgemeenskap regdeur die eeue. Hy is van volslae vernedering aan die kruis verhoog tot die hoogste heerlikheid in God se wêreld.

Daarom: “Begin die fees!  Wuif met die takke!”  Getuig van wat God vir jou gedoen het, en bly in gebed vir dié dinge waar daar nog uitkoms nodig is.  Die Psalm het inderdaad ‘n boodskap wat vandag nog ons met vreugde en verwagting vul.

John-WycliffeEk lees in die Bybel vir die Lewe die storie van die Engelse filosoof, teoloog, vertaler, prediker en Hervormer: John Wycliffe (1329-1384).  John het ‘n passie gehad om alle mense die Bybel in hulle eie taal te laat lees.  Sy vyande in die kerk het egter niks daarvan gehou nie, en wou hê dat net die geleerdes die Bybel in Latyn en die oorspronklike tale lees.  Hulle het hom selfs verbied om te preek.  Op 52 jarige ouderdom het hy as ‘n baie siek man afgetree.

Toe sy vyande selfs op sy siekbed hom geteister het met die idee dat hy sy “sonde moet bely” om die Bybel vir alle mense toeganklik te maak – kan jy dít glo! – het vers 17 van Psalm 118 hom te binne geskiet, en het hy dit vir hulle aangehaal: “Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe en van die dade van die Here getuig.

Net daar en dan het John besluit om die hele Bybel in Engels te vertaal.  Dit het hom drie jaar geneem en hy het dit voltooi net voor hy op 55 jarige ouderdom oorlede is. Sy passie vir die Woord het ander geïnspireer om dieselfde te doen.  Die Tsjeg Johannes Hus (1369-1415) het ‘n proses begin om die hele Bybel in Boheems te vertaal en Maarten Luther (1483-1546) het daarop voortgebou en self die hele Bybel in Duits vertaal.

Dat jy dus die Bybel in jou eie taal in jou hand kan hou, is te danke aan die visie en passie van hierdie Hervormers.  En Psalm 118:17 was die inspirasie wat die Here in die lewe van John Wycliffe gebruik het om sy lewenswerk te voltooi.  Trouens, die hele idee van ‘n Bybel in jou eie taal, kom tot ‘n groot mate van sy visie af!

Luister hier na die majestueuse melodie van Psalm 118, geskryf in 1545 deur Guillaume Franc in Straatsburg ‘n jaar voor Luther se dood (gespeel deur Dick Sanderman).

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar