Skip to main content

Psalm 137 – Jerusalem bly my grootste vreugde

Psalm137Hierdie Psalm is ‘n roerende herinnering aan die pyn en ontworteling van die ballingskap.  Die Psalmis is waarskynlik in Jerusalem ná die terugkeer uit ballingskap en skryf die Psalm om die geloofsgemeenskap te help om die verlede te verwerk, sowel as om die nuwe situasie in Jerusalem te omarm en skouer aan die wiel te sit om die geloofsgemeenskap te herbou.

Die Psalm is daarom meer as ‘n klag oor die verlede.  Dit gebruik die herinnering aan die pyn as die basis vir ‘n nuwe verbintenis in die hede en sluit twee bedes aan God in om reg en geregtigheid te laat geskied ten opsigte van beide Edom, wat hulle in die steek gelaat het, en Babel, wat hulle weggevoer het in ballingskap.

Dit leer ons dat die verlede, selfs in die grusame pyn wat dit vir ‘n mens kan inhou, hetsy weens persoonlike skuld of weens omstandighede buite jou beheer, steeds die basis kan bly om in die hede jouself aan God te verbind en van Hom ‘n herstelde toekoms af te bid.  Aan God se liefde is daar immers geen einde nie, soos Psalm 136 so oorvloedig beklemtoon het.

In Esegiël het ons gesien dat die ballinge van tyd tot tyd vergader het by die kanale wat vanuit die Eufraat en die Tigris die stad van water voorsien het (vgl. Eseg. 1-3).  Daar het hulle in hulle verdrukking as weggevoerde slawe gesit en dink aan die plek vanwaar die Here hulle weggevoer het.  Die versoeke tot Sionsliedere deur hulle oorwinnaars het tot hulle pyn bygedra.  Hulle het nie kans gesien om in hulle leed te sing nie, en het hulle liere aan die wilgerbome opgehang as simboliek van hulle hartseer en pyn.

Tóg beteken dit nie dat hulle Jerusalem vergeet het nie.  Nie toe nie, en ook nie nou nie.  Inteendeel.  Hulle verbintenis aan Jerusalem bly onverdund lojaal.  Hulle is bereid om selfs verdere fisiese leed aangedoen te word – ‘n lam regterhand wat hulle onbekwaam sal maak om vir hulle self te sorg, en ‘n tong wat aan die verhemelte vaskleef wat hulle stom sal maak om hulle self hoorbaar te maak – as hulle sou durf waag om van Jerusalem te vergeet.  Die plek van God se teenwoordigheid op aarde bly hulle grootste vreugde, dié plek, en dié God, waaraan hulle hulleself verbind.

Maar dié verbintenis aan die Here laat hulle ook vrymoedigheid neem om Hom om reg en geregtigheid te vra.  Die smart wat Edom (Jakob, die stamvader van Israel, en Esau, die stamvader van Edom, was broers) hulle aangedoen het met die wegvoering in ballingskap roep by hulle die gebed om vergelding op (vgl. veral die profeet Obadja vir meer detail hieroor, waar ek ook verwys na Jeremia en Esegiël se perspektiewe).  Die Edomiete se houding van “breek af, breek af” moet die Here se optrede teenoor hulle bepaal.

Op dieselfde wyse vra die Psalmis dat die Here sal optree teenoor die Babiloniërs wat fisies die stad afgebreek en hulle in ballingskap weggevoer het.  Op grusame wyse word die vergelding wat gevra word, uitgespel, selfs teenoor die kinders wat teen ‘n rotswand verpletter moet word.  Let op dat die Psalmis nie vra dat hulle dit persoonlik moet uitvoer nie, maar dat die Here daarvoor sal sorg.

Wat ons hier in gedagte moet hou, is dat dié gebede om vergelding ‘n belangrike manier was (en is) om die emosies wat steeds lewendig was vir die teruggekeerde ballinge te hanteer.  Wat vir ons as kinders van die Here egter belangrik is, is om te weet dat vergelding in die NT aan die Here behoort.  Van ons word gevra om nie te vervloek nie, maar te seën (Luk. 9:54) en selfs ons vyande lief te hê (Matt. 5:44).

Die Here wil van vyande vriende maak, ook deur ons optrede en opoffering.  Maar, die helder woord is steeds dat God uiteindelik reg en geregtigheid sal laat geskied.  Dit is ook sy belofte aan ons.

Soos Paulus aan die Romeine skrywe:

17Moenie kwaad met kwaad vergeld nie.

Wees goedgesind teenoor alle mense.

18As dit moontlik is,

sover dit van julle afhang,

leef in vrede met alle mense.

19Moenie self wraak neem nie, geliefdes,

maar laat dit oor aan die oordeel van God.

Daar staan immers geskrywe:

“Dit is mý reg om te straf;

Ék sal vergeld,” wsê die Here.

20“As jou vyand honger is,

gee hom iets om te eet;

as hy dors is,

gee hom iets om te drink;

want deur dit te doen,

maak jy hom vuurrooi van skaamte.” x

21Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie,

maar oorwin die kwaad deur die goeie. (Rom. 12:17-21).

w Vgl. Deut. 32:35

x Vgl. Spr. 25:21–25:22

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda