Skip to main content

Psalm 145 – Die Here is goed vir almal

Psalm145Psalm 145 is die afsluiting van die groepie Dawid Psalms – Ps. 138-145 – wat God se betroubaarheid deur die eeue bevestig sowel as die goeie bedoelings wat Hy van altyd af het vir sy mense, trouens vir alle mense: “Die Here is goed vir almal.” (vers 9).  Daarom, sê Dawid: “My mond sal die lof van die Here verkondig; alle mense moet sy heilige Naam prys vir altyd en ewig.” (vers 21).

‘n Mens kan die Psalm in twee deel, hoewel elke vers eintlik die hele boodskap van lof in sigself alreeds dra.

  • Die eerste deel – vers 1-9 – besing God se lof aan die hand van sy allesoortreffende kwaliteite en karakter, hoewel dit uiteraard verbind is aan die konkrete voorbeelde wat daarvan getuig. God se groot goedheid is lofwaardig vir ewig.
  • Die tweede deel – vers 10-21 – raak ‘n bietjie meer spesifiek en besing God se lof meer direk aan die hand van sy groot werke en magtige dade, en maak dit nog meer universeel op alles en almal van toepassing as selfs in die eerste deel van die Psalm. Dit is ook uitsonderlike beloftes wat jy kan aangryp in jou gebede!  God se besondere beloftes verryk die lewe vir ewig.

God is groot goedheid is lofwaardig vir ewig – vers 1-9

Die eerste deel van die Psalm is eintlik ‘n bron van aanhalings oor wie en wat God is.  ‘n Mens kan enige vers neem as ‘n “koringkorrel” vir jou dag om jou oor God te verwonder!

Let op die beskrywing van die meer as tien kwaliteite en karakter van God self:

  • sy lofwaardigheid wat vir altyd geprys moet word,
  • sy grootheid wat ondeurgrondelik is,
  • sy luisterryke majesteit wat alles verlig,
  • sy wonders wat ‘n mens uitnooi om vir altyd daaroor na te dink,
  • sy ontsagwekkende magtige dade waaroor jy nie kan stil bly nie,
  • sy groot goedheid wat mens verstom,
  • sy regverdige optrede waaroor ‘n mens net wil juig,
  • sy genade,
  • sy barmhartigheid,
  • sy geduldigheid,
  • sy groot troue liefde, en
  • sy glansryke koningskap wat mense oral met ontsag vervul.

Trouens: “U koningskap strek oor alle ewighede … deur al die komende geslagte” (vers 13)!

God se besondere beloftes verryk die lewe vir ewig – vers 10-21

Die tweede deel van die Psalm is eintlik ‘n bron van beloftes van wat God doen waarmee ‘n mens jou gebede kan verryk.  Let op die beskrywing van sy groot werk en magtige dade, want elkeen daarvan is ‘n belofte wat in gebed aangegryp kan word, nie net deur die geloofsgemeenskap nie, maar deur die hele mensdom!

Lees dié meer as tien beskrywings as beloftes en maak dit deel van jou gebede:

  • Die Here is goed vir almal,
  • Die Here ondersteun almal wat val,
  • Die Here help almal op wat teneergedruk is,
  • Die Here gee almal kos op hulle tyd,
  • Die Here versadig al wat lewe met wat hulle wil hê,
  • Die Here is regverdig in al sy weë,
  • Die Here is getrou aan alles wat Hy gemaak het,
  • Die Here is naby almal wat Hom aanroep in waarheid,
  • Die Here vervul die wens van dié wat vir Hom ontsag het,
  • Die Here hoor die hulpgeroep van dié wat vir Hom ontsag het, en verlos hulle,
  • Die Here beskerm almal wat Hom liefhet (maar al die goddelose mense vernietig Hy).

Dít is die Here wat ons aanbid!  Dít is die dinge waarop jy kan staatmaak.  Dít is die dinge waarvoor jy kan intree en die Here se seën op alles en almal kan afbid.  Ook vir jouself.

Ietsie ekstra

Op ‘n tegniese vlak is Psalm 145 ook ‘n akrostiese Psalm soos Psalm 111 en 112.  Vergelyk die Hebreeuse letters wat in die OAV en die BDV aangegee word, maar ongelukkig nie in die NAV verskyn nie.  Dit beteken elke versreël begin met ’n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet.  Dit gee ‘n reël (of ‘n vers of selfs ‘n groep verse soos in die geval van Ps. 119) vir elke letter van die alfabet, behalwe dat in Psalm 145 se geval een letter, NUN, uitgelaat is (tussen vers 13-14, d.w.s. tussen MEM en SAMEK), en hier dus net 21 reëls voorkom.

Dit is redelik algemeen in die akrostiese Psalms.  Vergelyk Psalm 25 (KOF word nie gebruik nie), Psalm 34 (KOF word 2 keer gebruik, maar geen WAW of HET nie), en Psalm 37 (ZAJIN word 2 keer gebruik, maar geen HET nie), hoewel Psalm 111, 112, en 119 weer wel al die opeenvolgende letters gebruik.  ‘n Mens moet nogal kop hou om dit raak te sien!

In Psalm 145 se geval kom daar wel in die Griekse en Siriese vertaling van die Psalm (die LXX en die Peshitta) ‘n reël voor wat met NUN begin.  Dit lui só: “Die Here is getrou aan al sy woorde en genadig in al sy dade.”  Dit beteken dat dié reël heel waarskynlik uitgeval het.  Nogal ‘n baie besondere en waardevolle toevoeging tot die boodskap van die Psalm!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…