Skip to main content

Psalm 112 – Ontsag vir God se gebooie bring vreugde; Vertroue verdryf die vrees vir slegte tyding

Psalm112Psalm 112 is soos 111 ‘n akrostiese Psalm.  Elke versreël begin met ’n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet.  Dit gee 22 reëls vir elke letter van die alfabet.  Dit is ook ‘n Hallelujalied soos Psalm 111 en 113 dit ook is.

Psalm 112 en 111 kom baie ooreen in inhoud met die fokus op bv. regverdigheid, genade, barmhartigheid, en voorsienigheid.  In Psalm 111 word dit as God se karakter en werk beskryf.  In Psalm 112 word dit nou as die gelowige se karakter en werk beskryf.  Waar Ps. 111 gesê het dat God self sal sorg dat sy magtige dade nie vergeet word nie, word dit in Psalm 112 van die gelowige gesê:  “‘n Regverdige bly vir altyd in die herinnering.”  Dieselfde geld voorsiening.  In Psalm 111 is dit God wat voorsien.  In Psalm 112 is dit die “goedhartige” wat uitleen en al sy sake reg bestuur.

Die twee Psalms is dus keersye van mekaar.  Wat van God in die een gesê word, word van die gelowiges in die ander gesê.

Omdat die twee Psalms maklik gememoriseer kon word vanweë die alfabetiese begin, het dit dus  as ‘n soort kortbegrip gefunksioneer om kinders nie net die alfabet te leer nie, maar die “ABC” – in Psalm 111 – van wie God is en wat Hy doen: “Groots is die werke van die Here, ‘n bron van nadenke vir almal wat vreugde daarin vind.”  Psalm 112 het hulle weer die “ABC” van wie gelowiges is en hoe hulle lewe, geleer.

Weereens gee ek hier die vertaling weer van die BDV met net die Hebreeuse alfabet letters vooraan om jou ‘n gevoel te gee van hoe dit werk – die eerste reël funksioneer as ‘n opskrif:

א Hoe gelukkig is die mens wat ontsag het vir die HERE, 

ב wat groot vreugde vind in sy gebooie. 

ג 2 Sy nageslag sal magtig wees in die land —

ד  ‘n geslag opregtes wat geseën word.

ה 3 Oorvloedige rykdom is in sy huis,

ו en sy regverdigheid hou vir altyd stand.

ז 4 Hy skyn in die duisternis as ‘n lig vir die opregtes;

ח hy is genadig, barmhartig en regverdig.

ט 5 Dit gaan goed met ‘n mens  wat goedhartig is en uitleen,

י wat sy sake eerlik bestuur;

כ 6 want hy sal nooit wankel nie.

ל ‘n Regverdige bly vir altyd in die herinnering.

מ 7 Vir slegte tyding is hy nie bang nie; 

נ sy hart is standvastig, hy vertrou op die HERE. 

ס 8 Sy hart is bestendig, hy is nie bang nie;

ע uiteindelik sien hy neer op sy teenstanders.

פ 9 Hy deel uit, hy gee aan behoeftiges;

צ sy regverdigheid hou vir altyd stand;

ק met waardigheid styg sy aansien.

ר 10 Die goddelose mens sien dit en vererg hom;

שׁ hy kners sy tande maar verloor moed.

ת Die begeerte van goddelose mense gaan tot niet.

Elke reël van die vers skets ‘n aspek van die gelowige se lewe voor God en voor die mense, soms in kombinasie met ‘n ander reël.  Op grond van die beklemtoning van sy ontsag vir God se gebooie in vers 2 en die feit dat hy daarom vir slegte tyding nie bang is nie, kan die Psalm in twee dele gedeel word, maar dit is maar net om die boodskap op ‘n manier op te som: Ontsag vir God se gebooie bring vreugde (112:2-6) en, Vertroue op God verdryf die vrees vir slegte tyding (112:7-10).

Ontsag vir God se gebooie bring vreugde – 112:2-6

Psalm 112 herhaal die belangrike paradigmatiese boodskap van Psalm 1: “Hoe gelukkig is die mens wat ontsag het vir die HERE,  wat groot vreugde vind in sy gebooie.” En voeg daaraan by: “Sy nageslag sal magtig wees in die land —  ‘n geslag opregtes wat geseën word.

Dit is die beginsels van ‘n geseënde en gelukkige lewe, die “ABC” van ‘n gesonde geloofslewe.  Dit is die basis vir die oorvloed wat ‘n mens selfs in die voorsiening van die Here kan beleef. Dit is ook die basis van ‘n lewe wat ‘n nalatenskap laat.

Let op hoe wonderlik sulke mense vir hulle medemense is: “Hy skyn in die duisternis as ‘n lig vir die opregtes.”  Hoekom?  Want hy of sy is genadig, barmhartig, regverdig, goedhartig en eerlik.  Jy kan op hom of haar staatmaak, want hulle wankel nooit nie.  Hulle nalatenskap sal vir altyd in die herinnering bly.

Vertroue op God verdryf die vrees vir slegte tyding – 112:7-10

Omdat die gelowige ‘n ontsag vir God het, dryf dit die vrees vir slegte tyding uit.  Sy hart kan standvastig bly, want Hy vertrou op die Here.  Hy hoef nie bang te wees nie, want hy weet in die lig van God se grootsheid en betroubaarheid, hoef hy nie vir teenstanders bang te wees nie.

Trouens, in sy goedhartigheid en regverdigheid, styg juis sy aansien en waardigheid.  Goddelose mense sien dit raak, kners op hulle tande van woede, maar kan niks aan die aansien en waardigheid doen nie.  Dit maak hulle moedeloos, want selfs al sou hulle slaag om iemand dood te maak, sal dit niks doen aan die “lig” wat uit hulle lewe skyn nie.

Boodskap

Watter kragtoer van ‘n Psalm!  Waar God se grootsheid en betroubaarheid in Psalm 111 onderstreep is, word die gelowiges se ontsag vir God se gebooie wat die vrees vir slegte tyding verdryf – omdat hulle op dié grootste en betroubare God vertrou – in Psalm 112 beklemtoon.

Psalm 119 sal nog verder hierop uitbrei, maar selfs kinders kon hierdie eenvoudige boodskap verstaan en omarm. Dit geld eintlik enige kind van die Here, ek en jy ook.

God se Woord – die volle openbaring wat ons in die Bybel het – bring vreugde en vertroue. Hoekom?  Want die Een wat dit vir ons gegee het, is groots en betroubaar.

Ons kan die Woord dus as ‘n riglyn vir ons lewe neem. Ons kan genadig, barmhartig, regverdig, goedhartig en eerlik lewe, want dit is hoe ons God leer ken het. Ons kan sóós Hy voorsien vir dié wat behoeftig raak – om watter rede ook al – en op God vertrou dat Hy ook daarvoor voorsiening sal maak.

Gee jouself vandag daarvoor om genadig, barmhartig, regverdig, goedhartig en eerlik te lewe.  Omarm iemand wat nood het en sorg dat alles wat jy doen reg bestuur word.  Dan beloof die Here sal jou regverdigheid vir altyd in stand bly en as ‘n lig vir ander dien.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…