Skip to main content

Psalm 126 – Dié wat met trane saai, sal met gejuig maai.

Psalm126Die Psalmis herinner die pelgrims aan die lotsverandering van Sion met die terugkeer uit ballingskap.  Dit was tegelykertyd iets so onwerklik soos in ‘n droom en iets wat die verbeelding aangegryp het.  Dit het hulle monde met gelag en hulle lewens met gejuig gevul.  Dit het hulle oortuig dat die Here dit goed bedoel het met hulle.  En die nasies is met ontsag vir God gevul: “Die Here het iets groots gedoen aan hierdie mense.

Die reaksie van die nasies, het hulle herinner dat die terugkeer ‘n oordeel oor die nasies ingesluit het, soos die profete belowe het (Sef. 2:7), maar ook verlossing, soos Sef. 3:9 dit belowe: “Ek sal die volke verander, hulle lippe rein maak, sodat hulle almal My sal aanroep en soos een man My sal dien”.

Maar hulle het ook geweet dat die terugkeer na die land en na God (Jer. 30:3), nie net politiese en godsdienstige dimensies sou insluit nie, maar ook ekonomiese en ekologiese dimensies (Am. 9:14). Dit is immers so uitvoerig in Jeremia se Boek van Vertroosting uitgespel, onder andere met ‘n grondkooptransaksie (Jer. 30-34).  En dié toekoms het nog nie voluit aangebreek nie.

Daarom is die Psalm nie net ‘n loflied wat die Here prys vir die feit dat Hy iets groots aan hulle gedoen het nie, maar ook ‘n gebed: “Verander weer ons lot, Here.”  Daar was net te veel dinge wat nie reg was nie, veral in terme van die situasie in die land wat weer heropgebou moes word, en hulle boerderye wat weer ekonomies aan die gang moes kom.

Die terugkeer uit ballingskap het God se goeie bedoelings met hulle bevestig.  Daarom kon hulle met vertroue die Here nader om nou weer hulle lot te verander.  Die Psalmis gebruik die beeld van die stroombeddings in die Negev (woestyn in die Suide) wat in ‘n oogwink in ‘n vloedwater kan verander met goeie reëns.  Dít is wat hulle van die Here vra dat Hy hulle droë lewens weer vrugbaar sal maak.

Sy gebed is egter ook ‘n verbintenis om die saad te saai, al is dit al huilende en met trane in die oë.  Die situasie wat moontlik agter hierdie metafoor sit, is die feit dat ‘n deel van die koringsaad uiteindelik teruggehou moes word om te sorg dat daar in die volgende seisoen weer brood is vir die familie.  Alles kan nie gemaal word vir brood nie.  ‘n Deel moes teruggehou word om ‘n toekoms te verseker, al is dit met trane omdat dit moontlik nou swaar is vir die familie om broodsgebrek te lei, totdat die saad vrug gedra en ‘n opbrengs gebring het.

Maar, hulle is steeds afhanklik van die Here vir die reën en die groei.  Sonder die saai van die saad sal niemand die vrug sien nie.  Maar, sonder die Here se seën sal die saai van die saad geen vrug oplewer nie.  Die Psalmis vertrou daarom die Here dat die Here sal sorg dat hulle met gejuig kan maai en die oes van gerwe sal geniet, al beteken dit nou opoffering en hartseer.

Jesus verwys in die NT op dieselfde wyse na sy dood en opstanding: “As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een;  maar as hy sterwe, bring hy ’n groot oes in.” (Joh. 12:24).  Daarmee gee Hy ons ‘n soortgelyke model vir die lewe, soos die Psalm sê: “Dié wat met trane saai, sal met gejuig maai.

Dit is steeds vandag die model vir ons geestelike lewe.  Dit is steeds gebaseer op die vertroue wat ons in die Here kan hê.  Soos Hy Homself al in ons lewe bewys het dat Hy ons lot kan verander, só kan ons Hom vertrou om dit weer te doen.

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar