Psalm 113 – Prys die Here van waar die son opkom tot waar dit ondergaan
Dié Psalm is vir my: “Hanna se lied,” die onvrugbare vrou aan wie die Here vir Samuel gegee het (1 Sam. 2). Dit is ook die derde Hallelujalied (Ps. 111-113) wat die volk oproep om die Here in absolute uitbundigheid te loof.
Die Psalm roep almal onder die son op om die Here te prys vir sy heerskappy en majesteit (113:4-6). God illustreer dit immers in sy genade wat hulpeloses verhef (113:7-8) en kinders aan ‘n kinderlose gee (113:9). So maak van Hy haar huis ‘n tuiste, en maak van ‘n onvrugbare vrou: “’n gelukkige ma van kinders”! Daarom moet almal die Here prys: “van waar die son opkom tot waar dit ondergaan.” (113:1-3).
Dit is dan ook die drie dele van die Psalm.
Almal onder die son moet die Here loof – 113:1-3
Die hele wêreld word opgeroep om die Here te prys. Nie net in dié tyd nie, maar vir altyd. Nie net in die land nie, maar: “van waar die son opkom tot waar dit ondergaan.” Nie net sy diensknegte nie, maar eintlik almal oor wie Hy heers.
Wie is so majestueus soos die Here? – 113:4-6
Want, die Here is hoog bo al die nasies, selfs hoog bó die hemel uit. Daar is niemand so majestueus soos Hy nie. Hy: “moet “afbuk om na die hemel en die aarde te kyk”! Dit is asof die ganse hemelruim en die aarde soos ‘n speelding vir die Here is wat Hy van hoek tot kant met een oogopslag kan raaksien.
Die Here hef hulpeloses op en maak ma’s gelukkig met kinders – 113:7-9
Dié Here is nie net groots en majestueus nie, maar Hy bekommer Hom oor hulpeloses en behoeftiges en laat hulle van die ashoop af opstaan en by die vooraanstaande mense van die volk sit. Hy hef hulpeloses en behoeftiges dus op vanuit hulle nederige “stof”-bestaan en maak van hulle mense van betekenis.
Die Here bekommer Hom ook oor onvrugbare vroue en gee vir hulle kinders sodat hulle huise tuistes word. Só word elke onvrugbare vrou: “‘n gelukkige ma van kinders.” Die verhaal van Hanna is die inspirerende krag agter dié verwysing. Lees haar wonderlike lofgebed in 1 Samuel 2 nadat Eli vir haar gebid en die Here: “aan haar gedink” het en vir haar ‘n seun gegee het. Ek het drie kort bydraes oor die verloop van Samuel se geboorte by: 1 Samuel – God werk altyd “behind the scenes”; 1 Samuel 1 – en die Here het aan haar gedink; 1 Samuel 2 – Hy beskerm sy troue dienaars op hulle pad.
Vgl. ook Jes. 54:1 wat soos dié Psalm die Here loof vir sy voorsiening (William Carey se moderne sendingbeweging is uit dié profesie gebore!) en Maria se loflied wat verbind word aan Hanna se wonderlike lofgebed: Luk. 1:46–55.
Boodskap
Die Psalm steek in my ‘n bruisende vreugde aan, ‘n dankbaarheid oor God se majesteit en grootsheid, maar ook ‘n ontsag vir sy genade aan hulpelose mense en sy geskenke aan kinderlose mense. Dié Psalm ontlok in my ‘n begeerte om: “van waar die son opkom tot waar dit ondergaan” die Here te loof, elke dag, en vir altyd. Nie net vir wat ek ontvang nie, al is dit baie, maar vir wat God ook vir ander mense gee. Dit verskaf my ‘n intense vreugde.
Die beskrywing van ‘n tuiste is natuurlik ook ‘n metafoor vir God se geskenk van ‘n gemeenskap aan elkeen van ons waar ‘n mens kan gedy, al sou jy die gawe van eie kinders nooit self smaak nie. Hoe nodig het almal van ons dit nie! En dié Psalm nooi ons uit om die Here daarvoor te vertrou. Selfs al kom die tuiskoms nie deur kinders nie, maar deur die gemeenskap met ander gelowiges, of miskien deur ouerlose kinders vir wie jy ‘n ma of pa kan wees.
Wie weet wat kan met jou gebeur ná jy dié Psalm gelees het!
View all posts in this series
- BYBELSKOOL OOR PSALM 107-150
- Die praktiese waarde van die Psalms
- Inleiding op die vyfde Psalmboek (107-150)
- Hoe om die Psalms te lees
- Psalm 107 – God is goed en getrou – aan sy liefde is daar geen einde nie
- Psalm 108 – Ek wil die rooidag met lof wakker maak – u liefde reik tot in die hemel, u trou tot in die wolke
- Psalm 109 – U is goed en getrou, moet U nie doof hou nie
- Psalm 110 – U volk is gereed vir die dag waarop u u magte monster
- Psalm 111 – God se werk is groots en betroubaar
- Psalm 112 – Ontsag vir God se gebooie bring vreugde; Vertroue verdryf die vrees vir slegte tyding
- Psalm 113 – Prys die Here van waar die son opkom tot waar dit ondergaan
- Psalm 114 – Jubel uitgelate oor die Uittog uit Egipte
- Psalm 115 – Nie aan ons nie, Here, maar aan u Naam kom die eer toe
- Psalm 116 – Ek het die Here lief, want Hy verhoor my smeekgebede
- Psalm 117 – God is oneindig betroubaar in sy onmeetlike liefde vir ons
- Psalm 118 – Aan sy liefde is daar geen einde nie
- Psalm 119 – Dit gaan goed met dié wat wandel volgens die woord van die Here
- Psalm 119:1-8 – ALEF: God begelei en inspireer ons deur sy wet en getuienisse
- Psalm 119:9-16 – BET: Gehoorsaamheid aan God se woord bewaar van sonde
- Psalm 119:17-24 – GIMEL: God se woorde is raadgewers wat insig gee
- Psalm 119:25-32 – DALET: Die pad van u bevele volg ek geesdriftig
- Psalm 119:33-40 – HE: Onderrig my dat ek enduit u voorskrifte kan nakom
- Psalm 119:41-48 – WAW – Die liefde vir God se wet gee vryheid en vrymoedigheid
- Psalm 119:49-56 – ZAJIN – Onthou tog u woord aan u dienskneg
- Psalm 119:57-64 – GET – U, Here, is my deel; U troue liefde vul die aarde
- Psalm 119:65-72 – TET – U is goed en doen goed; leer my u voorskrifte
- Psalm 119:73-80 – JOD – U hande het my gemaak en aan my ‘n plek gegee
- Psalm 119:81-88 – KAF – Op u woord wag ek sodat ek dit kan nakom
- Psalm 119:89-96 – LAMED – Vir ewig staan u woord vas
- Bydraes hervat Maandag 12 Oktober
- Psalm 119:97-104 – MEM – Insig in God se openbaring kom deur gehoorsaamheid
- Psalm 119:105-112 – NUN – Ek gehoorsaam U ten spyte van gevaar
- Psalm 119:113-120 – SAMEK – Ontsag vir God se woord bring ondersteuning en onderskraging
- Psalm 119:121-128 – AJIN – Insig lê anderkant die pyn van gehoorsaamheid
- Psalm 119:129-136 – PE – As u woorde oopgaan, gee dit lig
- Psalm 119:137-144 – TSADE – My ywer vir u woorde verteer my wanneer my teenstanders dit vergeet
- Psalm 119:145-152 – KOF – Op u woorde wag ek
- Psalm 119:153-160 – RESJ – Die hoofsaak van u woord is waarheid
- Psalm 119:161-168 – SIN/SJIN – Sewe keer ‘n dag loof ek U oor u regverdige beslissings
- Psalm 119:169-176 – TAW – Hou my lewend sodat ek U kan loof
- Psalm 120 – Here, bevry my van bedrieglike tonge
- Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nie
- Psalm 122 – Mag daar vrede in jou wees, Jerusalem
- Psalm 123 – Ons oë is gerig op God totdat Hy ons genadig is
- Psalm 124 – As die Here nie vir ons was nie … dan het hulle ons lewendig ingesluk
- Psalm 125 – Here, doen goed aan die goeies, aan dié wat opreg is in hulle harte
- Psalm 126 – Dié wat met trane saai, sal met gejuig maai.
- Psalm 127 – As die Here die huis nie bou nie, swoeg die bouers tevergeefs daaraan
- Psalm 128 – Hoe gelukkig is elkeen wat vir die Here ontsag het, wat sy paaie volg!
- Psalm 129 – Verlossing uit verdrukking; Verguising vir verdrukkers
- Psalm 130 – Uit die dieptes roep ek na U, Hoor tog my stem
- Psalm 131 – Groot dade en wonderwerke kom van God af
- Psalm 132 – Here, laat u gesalfde se kroon skitter
- Psalm 133 – Kyk hoe goed, hoe mooi is eensgesindheid onder gelowiges
- Psalm 134 – Mag die Here jou seën uit Sion
- Psalm 135 – God is goed; God is groot; God sorg vir sy volk
- Psalm 136 – Want vir ewig duur sy troue liefde
- Psalm 137 – Jerusalem bly my grootste vreugde
- Psalm 138 – U besiel my met innerlike krag
- Psalm 139 – Die wonder van God en van menswees
- Psalm 140 – Hou my veilig teen geweldenaars
- Psalm 141 – Maar op U bly my oë gerig
- Psalm 142 – Lei my uit gevangenskap dat ek u Naam kan loof
- Psalm 143 – U goeie Gees moet my lei op gelyk grond
- Psalm 144 – Hoe gelukkig is die volk wie se God die Here is
- Psalm 145 – Die Here is goed vir almal
- Psalm 146 – Ek wil my God besing solank as wat ek bestaan
- Psalm 147- Die Here vind vreugde in hulle wat vir Hom ontsag het
- Psalm 148 – Alles en almal loof die Here uit hemel en aarde
- Psalm 149 – Die Here is sy volk goedgesind en sal hulle vergeld
- Psalm 150 – Alles wat asem het, moet die Here oral loof!
- Psalm 151 – God luister na, roep en gebruik Dawid in die geveg met Goliat
Tags: Psalms
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Kobie,
Jesus leer dat oud en nuut uit die Skrif belangrik is in die koninkryk van die hemele
Matteus is die enigste wat hierdie gelykenis van Jesus vertel (Matt 13:51-52).
Nuwe en ou skatte
51 “Verstaan julle al hierdie dinge?” “Ja,” het hulle geantwoord. 52 En Hy het vir hulle gesê: “Daarom is elke skrifkenner wat ‘n leerling in die koninkryk van die hemele geword het, soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy skatkamer haal.” (Bybel 2020-vertaling).
Daarom rond Jesus ‘n gesprek af wat Hy oor sy geestelike familie gehad het (“Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.” – Matt 12:50). Hy het in die loop van die gesprek sewe gelykenisse oor die koninkryk van die hemele vertel, die gelykenisse van die saaier, onkruid, mosterdsaad, suurdeeg, verborge skat, pêrel en treknet.
Jesus het hierdie gelykenisse vertel, sodat dié wat ore het om te hoor, kan hoor (Matt 13:9-17). Die ongemaklike waarheid was dat daar talle Jode was wat juis nie wou hoor nie, en daarom was die gelykenisse vir hulle onverstaanbaar. Die gelykenisse was net verstaanbaar vir dié wat ore gekry het van sy Vader om te hoor (Matt 13:11), dié wat bereid was om te doen wat God vra (Matt 12:50).
Jesus vra dan die disspels of hulle regtig verstaan wat Hy deur die gelykenisse geleer het. Hy moet seker maak dat hulle verstaan voor Hy verder die evangelie met hulle deel.
Op hulle positiewe antwoord vertel Jesus dan ‘n verdere gelykenis, die gelykenis van die huiseienaar en sy voorraadkamer, om hulle te bevestig in hulle verstaan van die evangelie. Hulle is soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy voorraadkamer haal.
Dit is trouens ‘n beskrywing van wat met elke skrifkenner gebeur wat tot insig kom. Wanneer hy of sy deel word van Jesus se familie, omdat hulle bereid is om die wil van God te doen, word hulle leerlinge in die koninkryk van die hemele. En kry hulle die voorreg om kreatief te werk met beide die nuwe – Jesus se lering – en die oue – die Skrif van die OT. Saam vorm dit die Woord van God.
Boodskap en betekenis
Hierdie gelykenis is ‘n absoluut fundamentele uitspraak oor die relevansie van beide die Skrif – die Ou Testament – en die boodskap van Jesus – die uiteindelike Nuwe Testament. Elkeen wat ‘n leerling word in die koninkryk van die hemele sal nuut kyk na die openbaring van God, sê Jesus.
Aan die een kant sal hulle ‘n nuwe perspektief op die waarde van die oue kry – die OT. Aan die ander kant sal hulle insig kry in die waarde van die nuwe – die NT. Trouens, deur die bril van die openbaring van Jesus – die NT – sal hulle juis die oue nuut kan waardeer – die OT.
Charles Quarles gebruik hierdie gelykenis van Jesus as die invalshoek van sy teologie van Matteus – A Theology of Matthew: Jesus Revealed as Deliverer, King, and Incarnate Creator. Hy sê dat daar ‘n goeie saak uit te maak is daarvoor dat Matteus die gelykenis ook outobiografies verstaan het. Dit is nie net waar van elke skrifkenner nie, maar ook van Matteus wat ‘n kenner van die OT was.
Daarvan getuig die talle aanhalings wat hy uit die OT maak. Onder andere is daar 19 profesieë uit die OT wat Matteus op Jesus van toepassing maak as getuienis dat dit in Hom vervul is.
Vir jou verstaan van die oue en die nuwe en die blywende waarde van albei sal dit die moeite werd wees om die verwysings in hierdie lys na te gaan en te oordink.
Matteus stel Jesus aan ons voor as die vervulling van die volgende OT profesieë:
1. Matteus 1:22-23 sê Jesaja 7:14 is vervul in Jesus dat die Messias uit ‘n maagd gebore sou word.
2. Matteus 2:6 sê Miga 5:2 is vervul in Jesus dat die Messias in Bethlehem gebore sal word.
3. Matteus 2:15 sê Hosea 11:1 is vervul in Jesus dat die Messias uit Egipte geroep sal word.
4. Matteus 2:18 sê Jeremia 31:15 is vervul in Jesus dat ‘n kindermoord in sy tyd sou plaasvind.
5. Matteus 3:3 sê Jesaja 40:3 is vervul in Jesus dat ‘n profeet in die woestyn die koms van die Here sou voorberei.
6. Matteus 4:14-16 sê Jesaja 9:1-2 is vervul in Jesus dat die Messias na die nasies van Galilea sou kom.
7. Matteus 8:17 sê Jesaja 53: 4 is vervul in Jesus dat die Messias ons siektes en swakhede sou dra as ‘n offerlam.
8. Matteus 10: 35-36 sê Miga 7:6 is vervul in Jesus dat die Messias familielede teen mekaar sou draai.
9. Matteus 11: 5 en 15:31 sê Jesaja 26:19; 29:18; 35:5; 42:18; en 61:1 is vervul in Jesus dat die Messias blindes sal laat sien, lammes sal laat loop, die dowes laat hoor, dooies sal opwek en die evangelie aan die armes sal verkondig.
10. Matteus 11:10 sê Eksodus 23:20 en Maleagi 3:1 is vervul in Jesus dat ‘n boodskapper die koms van die Messias sou voorafgaan.
11. Matteus 12:18-21 sê Jesaja 42:1-4 is vervul in Jesus dat die Messias nie luid of pretensieus sou wees nie.
12. Matteus 13:14-15 sê Jesaja 6: 9-10 is vervul in Jesus dat die Messias se leer misverstaan sou word.
13. Matteus 13:35 sê Psalm 78:2 is vervul in Jesus dat die Messias met gelykenisse die mense sal leer.
14. Matteus 15: 8-9 sê Jesaja 29:13 is vervul in Jesus dat God se volk teen hom sou rebelleer en valse dinge oor Hom sal versprei.
15. Matteus 17: 10-13 sê Maleagi 4:5 is vervul in Jesus dat die koms van die Messias voorafgegaan sal word deur die koms van ‘n Elia-figuur.
16. Matteus 21:5 sê Jesaja 62:11 en Sagaria 9: 9 is vervul in Jesus wat die Messias se oorwinning in Jerusalem voorspel.
17. Matteus 26:31 sê Sagaria 13:7 is vervul in Jesus dat die Messias se dissipels hom sou verlaat.
18. Matteus 27: 9 sê Sagaria 11:13 is vervul in Jesus dat die Messias vir dertig silwerstukke verraai sou word.
19. Matteus 27:35,43,46 sê Psalm 22:1-2, 6-8,18 is vervul in Jesus dat mense vir die Messias se klere sou loot en Hom bespot en dat die Vader hom sou verlaat tydens sy lyding vir die kwaad.
Chris van Wyk
| #
Hi Pieter (ek sal nog antwoord oor die doop – net vasgedraai), ek gaan daaroor skryf in my Prontuit die Waarheid reeks vanaf die begin van Julie af.
Pieter
| #
Middag Chris
Jy het nie ‘n skrywe oor Lent wat meer die laaste 40 dae van Jesus na die kruis verduidelik.
Groete
Pieter
Kobie Marais
| #
Verduidelik asb vir my Matteus 13vers 52
Chris van Wyk
| #
Dankie, Jan. Eintlik verstommend hoe diep die Noag-verhaal ingebed is in die hele Bybel. Dit het selfs ‘n invloed op die “sinode”-sitting in Jerusalem (Hand 15) gehad en op ons siening van die doop (1 Pet 3). Noag is nie ‘n liggewig nie. Ons ignoreer hom tot ons skade.
Jan Louw
| #
Baie waardevol. Dankie Chris
Chris van Wyk
| #
Hi Denver, jy kan dit kry by https://bybelskool.com/matteus/
Denver
| #
Ek soek graag meer inligting oor Matteus
Chris van Wyk
| #
Hi Awie, “beter” beteken hier “het ‘n groter impak.” Dit is my weergawe van Paulus se lering dat Korintiërs hulle moet toelê op die “groter / belangriker gawes” soos die Grieks in 1 Korintiërs 12:31 vertaal moet word (χαρίσματα τὰ ⸀μείζονα). Hy gee die lering omdat die Korintiërs die spreek in tale verkies (hoër geag) het eerder as profesie, terwyl profesie juis ‘n belangriker gawe was wat ‘n groter impak in die gemeente gehad het. Dit is waarom die 2020-vertaling van “belangriker genadegawes” praat (1 Kor 12:31). Want, dit is waaroor dit gaan. Op soortgelyke wyse vertaal die 2020-vertaling die een wat profeteer as “van groter waarde” as die een wat in tale spreek (1 Kor 14:5). Gawes is dus gelyk in die sin dat die Gees dit aan elkeen uitdeel soos Hy dit wil. Maar dit is ongelyk in terme van die impak wat dit in ander se lewe kan hê. Tale stig jouself en as dit reg gedoen word, is dit ‘n teken aan ongelowiges (1 Kor 14:22), maar profesie – die uitleg van God se Woord vir vandag – bring almal tot insig, verantwoording en aanbidding omdat die geheime van die hart blootgelê word (1 Kor 14:24-25). Profesie is dus ‘n “groter” of “belangriker” gawe in die konteks van die gemeente. Hoop dit help!
Chris van Wyk
| #
Hi Roland, ek verduidelik dit in die breër konteks van die perikoop. Lukas 17:20-36:
Teks en konteks
Let op hoe Jesus in die eerste twee verse in gesprek met die Fariseërs gaan oor die huidige onsigbaarheid van die koninkryk van God. Om net daarna tot en met vers 37 met sy dissipels oor die uiteindelike sigbaarheid van die koninkryk van God te praat. Die boodskap van die huidige onsigbaarheid is dus vir die Fariseërs wie se oë blind is vir wat Hy doen onder hulle. Die boodskap van die toekomstige sigbaarheid is vir sy eie mense om hulle hoop te versterk, selfs al moet hulle self in verwagting leef en nie in aanskoue nie.
17:20-21 Met die Fariseërs praat Jesus hier oor die feit dat die koninkryk van God wel in sy aardse bediening raakgesien kan word. Dit is wat die frase beteken: “die koninkryk van God is onder julle.” Hulle het egter ‘n politieke of militêre koninkryk verwag. Daarom is die koninkryk vir hulle onsigbaar. Jesus se koninkryk is nie van hierdie wêreld nie. Dis die “vinger van God” wat uit die onsigbare geestelike sfeer sy impak in hierdie wêreld maak (vgl Luk 11:20; Matt 12:28). Die Fariseërs het nie oë om dit raak te sien nie, want hulle glo nie in Hom nie.
17:22-23 Met die dissipels praat Jesus oor die toekomstige koninkryk van God wat uiteindelik sigbaar sal word wanneer Hy weer na die aarde toe sal terugkom. Dit sal aan die een kant ‘n uitdaging vir hulle wees, omdat hulle sal verlang om dit te sien, maar dat die wagtyd lank gaan wees. Waarvoor hulle veral versigtig moet wees, is om nie mislei te word deur mense wat voortydig allerlei aansprake maak dat Hy hier is of daar.
17:24 Jesus se wederkoms sal onverwags, maar duidelik herkenbaar wees, soos die weerlig op een plek slaan, maar die hele hemelruim verlig.
17:25 Dan keer Jesus terug na die hede en praat oor sy lyding en verwerping deur “hierdie geslag”, ‘n verwysing na die Joodse leiers.
Jesus verwys dan na twee voorbeelde uit die geskiedenis wat die dissipels sal help om die wederkoms te verstaan. Die verhaal van Noag en die oordeel van die vloed. En die verhaal van Lot en die oordeel oor Sodom. Albei hierdie verhale is van ‘n ongeïnhibeerde boosheid wat die samelewing oorgeneem het. Totdat God met sy oordeel ingegryp het.
17:26-27 Die mense het in Noag se tyd vir ongeveer ‘n eeu lank aangegaan met hulle lewe terwyl Noag die ark gebou het. Geëet, gedrink, en getrou. Totdat alles klaar was, Noag in die ark ingegaan het, die vloed van God se oordeel gekom en almal uitgewis is. So sal dit ook wees met Jesus se wederkoms.
17:28-30 Die mense het in Lot se tyd dieselfde gedoen. Hulle het geëet, gedrink, gekoop, verkoop, geplant, gebou. Maar, op die dag wat die engele Lot en sy mense uit Sodom gered het, het die vuur en swael van God se oordeel uit die hemel gereën en almal uitgewis. So sal dit ook wees die dag waarop die Seun van die mens aan almal geopenbaar sal word. Hy sal kom met ‘n verlossende oordeel.
17:31-32 Jesus illustreer die gereedheid wat hy van sy dissipels verwag met die voorbeeld van iemand wat op die dak van sy huis is. Hy moenie nog tyd verspil om ‘n paar besittings uit die huis te gaan haal as die Here kom nie. Hy wat in die veld is, moenie terugdraai na wat by die huis is nie. “Onthou Lot se vrou!” Sy het in ‘n pilaar van sout verander toe sy teruggedraai het na wat agtergebly het in Sodom en Gomorra en is agtergelaat (Gen 19:17, 26). Sy het só haar redding verloor.
17:33 Jesus verklaar hierdie beginsel vir sy dissipels soos volg. As jy hier jou lewe probeer behou deur in te pas by hierdie wêreld, sal jy juis jou lewe daar met die wederkoms verloor. Maar, selfs as jy jou lewe hier verloor, omdat jy aan Hom getrou bly, sal jy jou lewe vir ewig behou in die hiernamaals (vgl Luk 9:24).
17:34-35 Die wederkoms sal ook ‘n skeiding bring tussen mense. Tussen eggenote en werkgenote. Die “aanneming” is ‘n verwysing na die engele se werk om die gelowiges van die ongelowiges te skei by die wederkoms. Wie Jesus in hierdie lewe “aanneem” (Joh 1:12), sal met sy Wederkoms “aangeneem word.”
17:36 Die dissipels probeer dan die plek agterkom waar dit sal gebeur. As die tyd dan onbekend is. Miskien kan hulle ten minste die plek identifiseer waar dit sal gebeur. Jesus antwoord hulle egter nie direk nie. Hy gebruik ‘n moeilike interpreteerbare verwysing na aasvoëls. Dit kan dui op die herkenbaarheid van die wederkoms, soos ’n mens weet daar is ’n lyk as aasvoëls daarom vlieg. Hulle sal dus weet as die wêreld ryp is vir oordeel. Die wêreld sal soos ’n verrottende lyk wees waarom die aasvoëls draai. Dan sal die einde kom.
Boodskap en betekenis
Hierdie verhale van Noag en Lot, en Jesus se toepassing daarvan, moet ons waaksaam maak om Jesus te gehoorsaam in hierdie lewe, en gereed maak sodat ons Hom in die volgende lewe kan ontvang as Hy terugkeer. Die tragiese feit dat die wederkoms ook skeiding sal bring tussen dié wat glo en dié wat nie glo nie, moet ons aanvuur om die evangelie aan almal te bring.