Skip to main content

Psalm 135 – God is goed; God is groot; God sorg vir sy volk

Psalm135Psalm 135 is waarskynlik ‘n lied wat by verskeie van die feeste van Israel gebruik is, en pas dus aan die einde van die reeks van Pelgrimspsalms.  Dit is tegelykertyd ‘n liturgie van lof waarin God se goedheid besing word sowel as ‘n liturgie van verwondering waarin God se grootheid in die hemel en aarde sowel as in die geskiedenis besing word. Dié werklikheid kom veral na vore in sy sorg vir sy volk waarin Hy hulle help om die verleiding van die afgode te kan trotseer.

God is goed – vers 1-4

Die hele volk word opgeroep om die Here te loof, want Hy is goed.  Sy goedheid het Hy bewys deur die feit dat Hy hulle as sy “persoonlike eiendom” – soos dit letterlik daar staan – uit te kies.  Daarom moet al die diensknegte van die Here wat diens verrig in die huis van die Here – die tempelpersoneel – ook in die voorhowe van die huis van die Here – die hele volk – die Here loof.

God is groot – vers 5-22

God se goedheid kan net iets beteken as Hy terselfdertyd ook groot is.  Daarom besing die liturg (let op die enkelvoud) God se mag soos dit geopenbaar word in die skepping (vers 5-7) sowel as in die geskiedenis (vers 8-12).

God is nie net groter as die afgode nie, maar Hy bewys dit boonop deurdat Hy alles wat Hy wil, kan doen.  Hy kan dit boonop oral in die skepping doen, in die hemel en op die aarde, in die oseane en alle dieptes (ondergrondse waters).  ‘n Mens sien dit ook in die stapelwolke wat opstyg, in die weerligstrale, in die wind en in die reën.

God is egter nie net in die groot kosmiese skema en die ekologiese voorsiening betrokke nie.  Hy is ook besig in die geskiedenis soos Hy met die plae, tekens en wonders in die verlossing uit Egipte gewys het teen die farao en al sy amptenare.  Die Psalmis/liturg herinner die aanbidders aan die oorloë in die woestyn teen Sihon van die Amoriete en Og, die koning van Basan (Moses het hulle albei oorwin – Num. 21; Og was die laaste van die Refaïte, dit is reuse, volgens Deut. 3:11), sowel as die ander teen die konings van Kanaän met die Intog in die Beloofde Land.  God het die land van die ander nasies af weggeneem en aan sy uitverkorenes gegee as ‘n erfdeel.

God sorg vir sy volk – vers 13-21

Die Psalmis brei ook uit oor die Here se blywende sorg vir sy volk (vers 13-14), wat opgevolg word deur ’n uitspraak oor die afgode wat niks beteken nie (vers 15-18).

Let op hoe God direk aangespreek word in die lofprysing van God se ewigheid, regverdigheid en ontferming.  Dit is die dinge waarin God Hom laat ken en waarvoor Hy vertrou kan word.

Daarteenoor verkondig die liturg die nutteloosheid van die afgode wat lyk asof hulle iets kan doen (monde, oë, ore), maar hulle praat nie, sien nie, en hoor nie, soos die spreekwoordelike apies.  En hy gee die stellige waarskuwing dat mense wat hulle maak en op hulle vertrou net soos hulle sal word – nuttelose ornamente.

Daarmee help die Psalmis die volk om die verleiding van die afgode te trotseer en hulle vreugde en vertroue in die Here te vind.

Die Psalm sluit af soos dit begin het, met ’n oproep om die Here te loof (vers 19-21).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar