Skip to main content

Psalm 131 – Groot dade en wonderwerke kom van God af

Psalm131Hierdie kort pelgrimslied bring ons terug aarde toe na die rus wat daar is in die wete dat God daar is vir ons: “van nou af en vir altyd.” Alles hang nie van ons af nie. Inteendeel.  Alles hang van God af.  Die groot dade en die wonderwerke is sy domein.

Nie dat dit altyd so maklik is nie!  Ons weet mos daar is altyd dinge wat ons gedagtes vashou en besighou, groot dinge, belangrike dinge, kritiese dinge.  Maar, ons weet ook uit ervaring dat dié dinge ons só kan vasvang dat ons óf hoogmoedig en verwaand raak en as’t ware bó ons vermoë met groot dade of wonderwerke probeer besig raak.  Óf dat ons só onrustig raak dat ons geen kalmte meer ken nie en selfs in ‘n donker gat van depressie kan wegsink.

Die Psalmis herinner ons dus aan twee goed.  Een, dat ons ons nie bó ons vermoë hoef te presteer nie.  God verwag nie meer van ons as wat ons kan gee nie.  Twee, dat God ons hoop is, niemand minder, niemand meer, en niemand anders nie.  Daarom die oproep: “Israel, vestig jou hoop op die Here, van nou en vir altyd.

Natuurlik neem die gedagtes nie die kompleksiteit van die lewe weg nie.  Dit beteken ook nie dat ons die komplekse vrae van die lewe kan of mag vermy nie.  Die Psalm: “pictures the simplicity on the yonder side of complexity, not on this side of complexity” (Shoemaker, aangehaal in Allen se Word kommentaar).

Maar vir die antwoorde op die kompleksiteite van die lewe, kan ons God vertrou.  Soos ‘n gespeende kindjie by sy ma – gewoonlik só op drie jaar oud – kan ons dus ons gemoed tot kalmte en bedaring bring.  Ons kan soos peuters, wat moeg gehardloop is, ons plek inneem by God, soos by ons ma, en op sy werk vertrou as dinge vir ons te veel raak.  Die groot dade en die wonderwerke kom in elk geval van Hom af.  Nou en vir altyd.  Soli Deo Gloria.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar