Psalm 134 – Mag die Here jou seën uit Sion

Psalm134Hierdie Psalm is nie om dowe neute aan die einde van die reeks van 15 Pelgrimspsalms geplaas nie.  Dit is ‘n wisselspraak tussen die pelgrims – vers 1-2 – en die tempelpersoneel – vers 3.  Dit simboliseer die afskeid wat onvermydelik kom met die einde van ‘n dag se feesviering en uiteindelik met die terugreis na die eise van die normale lewe.

Die hele gemeenskap van pelgrims roep dus aan die einde van die dag/besoek die verantwoordelike tempelpersoneel op om die Here te seën of prys (bârak) in die heiligdom terwyl hulle voortgaan om hulle diens deur die nag daar te verrig (letterlik staan).  Dit verwys waarskynlik onder andere na die Levitiese hoofwagte en poortwagte en ander funksionarisse wat vir die gladde verloop van die tempeldiens sowel as vir die beveiliging verantwoordelik was (vgl. 1 Kron. 9:10-34).

Die tempelpersoneel reageer daarop deur op wederkerige wyse die seën (dieselfde woord bârak word gebruik as in vers 1) van die Here uit Sion op elkeen van die pelgrims (vgl. die enkelvoud jou) uit te spreek.  Een só ‘n voorbeeld vind ons in die seënbede van Num. 6:24-26:

24Die Here sal julle seën en julle beskerm; 25die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; 26die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!”  Waaraan die belofte gekoppel is: 27“So moet die priesters my Naam oor die Israeliete uitroep, en Ek sal hulle seën.”

Dié seën word hier ook spesifiek aan die Here wat hemel en aarde gemaak het, verbind.  D.w.s., God sal hulle seën waar ook al hulle in sy skepping beweeg.

Die boodskap is dus duidelik.  Die gereelde aanbidding by die tempel het die pelgrims in kontak gebring nie net met die lewensveranderende teenwoordigheid van die Here, maar sy omvattende seën vir die lewe ontsluit.

Tye het verander, maar God se seën waar die geloofsgemeenskap bymekaar kom, is steeds ‘n werklikheid.  Soos Jesus self sê:

19Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, 20want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”(Matt. 18:19-20).

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (4)

  • Mat 18:20 prikkel elke keer my gedagtes as ek dit lees. Is God net daar waar 2 of 3 in Sy Naam vergader? Wat dan van my as ek alleen is en oor iets bid en vra………..?

    • God is eintlik oral, en het Hom daarby openbaar as Iemand wat met enigiemand in verhouding gaan wat die moeite doen om met Hom te praat. Daarom verhoor God eintlik in die eerste plek enkelinge se gebede. Vgl. die gebede van Moses, Elia, Hanna, Samuel, Dawid en so kan ‘n mens aangaan. Jesus sê dus eintlik in Matt. 18 dat gebedsverhoring ook geld vir groepe. Waar die geloofsgemeenskap in gebed saamstem oor ‘n saak – onthou die konteks van dissipline – sal Hy dit verhoor.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: