Skip to main content

Psalm 115 – Nie aan ons nie, Here, maar aan u Naam kom die eer toe

Psalm115‘n Interessante aspek van Psalm 115 help ‘n mens om aan die een kant die moontlike funksie en rol daarvan in oud-Israel agter te kom en aan die ander kant om dit vir jouself toe te eien.  Dit is die waarneming van baie geleerdes dat daar verskillende stemme in die Psalm onderskei kan word.

115:1-8 – Nie aan ons nie, Here, maar aan u Naam kom die eer toe

Dit wil voorkom asof dieselfde stem die Psalm begin – vers 1-8 – en die Psalm eindig – vers 17-18.  Waarskynlik was dit die geloofsgemeenskap in die tempel.

Dit gaan in vers 1-8 oor die aanvanklike weeklag van die geloofsgemeenskap, waarskynlik in die ontwrigtende situasie van die terugkoms ná die ballingskap, oor die spottery wat hulle moet verduur van afgodsdienaars wat die Here se bestaan ontken. Hulle herinner die Here aan sy liefde en trou wat eer aan sy Naam gee.

Let op hoe die geloofsgemeenskap met dié klag hulle eie posisie in afhanklikheid van die Here uitspel: “Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom die eer toe.” Hoekom?  “Want dit is U wat liefde en trou bewys.”  Ja, verseker, “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is …” het Jesus die Bergrede begin (Matt. 5:3).

Vandaar die klag dat die heidene met dié God die spot dryf terwyl nie net Israel se God in die hemel is en: “Alles wat Hy wil”, kan doen nie, maar op die koop toe dat die afgode van die nasies: “die werk van mensehande is”.  Die interessante is hoe Israel ook raaksien dat as ‘n mens op dooie beelde vertrou, jy eintlik net soos hulle word.  Ontstellend en afskuwelik.

115:9-14 – Vertrou op die Here en sy beloftes

In die middelste gedeelte – vers 9-14 – kan ‘n mens waarskynlik drie ander verskillende stemme onderskei – moontlik voorgedra deur van die priesters – wat die gebruik van dié Psalm in ‘n liturgie verder onderstreep.

  • Vers 9-10 reageer op die weeklag van die geloofsgemeenskap en beklemtoon vertroue op die Here se hulp en beskerming. Die priesters sowel as die volk word daaraan herinner.
  • Vers 11-12 herinner die geloofsgemeenskap om na te dink nie net oor hulle klag nie, maar oor die wonderlike werklikheid dat Here aan hulle dink en sy algemene seën aan die geloofsgemeenskap sal skenk. Weereens is dit van toepassing op beide die huis van Aäron en die huis van Israel, die geestelikes sowel as die geloofsgemeenskap, “klein en groot”.
  • Vers 13-14 gaan nog verder en herinner hulle aan die Here se beloftes rondom die seën van ‘n nageslag en koppel dit aan sy Skeppingsmag. Dié beloftes word nie net uitgespel nie, maar aktief ingespan om vir die Here se vervulling daarvan te vra.  Soos die hemel daar is vir die Here, só is die aarde en sy seën daar vir die mense en pleit hulle dat hulle iets daarvan sal kan ervaar.

115:17-18 – So lank as wat ons lewe, sal ons die Here prys

Die geloofsgemeenskap sluit in vers 17-18 op ‘n lofprysende noot af met die voorneme om die Here steeds te prys, “nou en vir altyd!” in reaksie op die herinnering en beloftes van die middelste gedeelte.  Omdat die dooies die Here nie meer op aarde kan prys nie, sal dié wat steeds lewe nie ophou om die Here te prys nie, “nou en vir altyd.”  Implisiet is daar in dié lofprysing ook die versugting dat die Here hulle in die lewe sal hou.

Boodskap

Die Psalm is ‘n wonderlike uitnodiging om met jou eie situasie voor die Here te kom en aan die een kant jou eie afhanklikheid van die Here te erken, maar aan die ander kant ook jouself te herinner aan God se beloftes en jou vandag in vertroue op God se hulp, beskerming en seën te verlaat.

Die Psalm laat my dink aan die opmerking wat John R.W. Stott oor Bybelstudie gemaak het:

In the Bible God gives us revelations of himself which leads us to worship, promises of salvation which stimulates our faith, and commandments expressing his will which demand our obedience.  This is the meaning of Christian discipleship.

Dié Psalm leen hom uitstekend daartoe om te lees vir openbarings van God self – Hy bewys liefde en trou, Hy help en beskerm – sy beloftes – Hy seën in die algemeen sowel as in spesifieke omstandighede – en opdragte – om Hom te vertrou en nou en vir altyd te loof.  Die meeste Bybelgedeeltes kan met dié eenvoudige drie vrae gelees word tot groot seën vir jou.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda