Skip to main content

Psalm 122 – Mag daar vrede in jou wees, Jerusalem

Psalm122Hierdie Psalm reflekteer die vreugde van die aankoms van die pelgrims in Jerusalem.  Die Psalmis was alreeds bly toe hulle weggetrek het na die huis van die Here, maar nou is sy voete in die poorte van Jerusalem, dié stad wat gebou is in die eerste plek as ‘n stad wat die volk as ‘n eenheid saamsnoer en waar die Here volgens sy eie voorskrifte geloof kan word.  Nie net is dit in die tweede plek die stad waar die lofsange vir God weerklink nie, maar dit is ook in die derde plek die stad waar regspraak gelewer word onder die bekwame leiding van die koning, wat verklaar hoekom die Psalm wel met Dawid, die ideale koning, geassosieer word, eerder as dat dit deur hom geskryf is, soos ‘n mens uit die titel verkeerdelik sou kon aflei.

Dit is daarom ook die drievoudige seën van Jerusalem: dit skep eenheid onder die volk in hulle diversiteit, dit bring lof aan God vanuit die geloofsgemeenskap, en dit bring vrede deur die regspraak wat billik en volgens God se voorskrifte geskied.

Omdat Jerusalem, die sentrum van die geloofsgemeenskap se aanbidding, só belangrik was, nooi die Psalmis sy medepelgrims uit om in die eerste plek te bid vir vrede vir Jerusalem, die plek self, sodat dié wat in hulle liefde vir die plek verenig is, rustig kan woon, en sy verdedigingswalle kan hou teen alle aanvalle en daar rustigheid in die vestings van die volk kan wees.  In die tweede plek nooi hy sy medepelgrims uit om te bid ter wille van gelowiges (familie en vriende) in Jerusalem sodat hulle vrede kan geniet.  In die derde plek nooi hy sy medepelgrims uit om te bid ter wille van die tempel, die plek van God se teenwoordigheid, in Jerusalem sodat dit altyd met hulle goed sal gaan.

Dit is daarom ook die drievoudige gebed vir Jerusalem: die stad self het vrede nodig, die gelowiges het vrede nodig, en die tempel het vrede nodig, sodat die drievoudige seën, die eenheid onder die volk, die lof aan God en die vrede deur regspraak tot hulle reg kan kom.

Ons onderskat soms die effek wat vrede kan hê op eenheid, lof en regspraak.  Dit is daarom een van die mees basiese dinge waarvoor ons kan bid.  Soos Paulus in die NT vir Timoteus oproep om sy mense te leer: “Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid.” (1 Tim. 2:1-2).

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar