Skip to main content

Psalm 107 – God is goed en getrou – aan sy liefde is daar geen einde nie

Psalm107Die eerste drie Psalms funksioneer gesamentlik as ‘n inleiding vir die vyfde Psalmboek.  In die breë handel dié drie Psalms oor vryheid, veiligheid en verhoring.

  • Psalm 107 handel oor die vryheid wat God in ‘n verskeidenheid van kontekste gegee het, veral ná die ballingskap.
  • Psalm 108 handel oor die veiligheid wat die Godsvolk ervaar in die oorwinning wat God gee, al is daar nog talle dinge wat nie reg is nie.
  • Psalm 109 handel daarom oor die gebed om verhoring te midde van vele uitdagings om die redding van die Here voluit te kan ervaar.

Daarom begin die Psalms dan ook met ‘n  refrein wat gelowiges as lewensmotto kan gebruik. Dit sluit mense in wat reeds bewus is van die vryheid en veiligheid wat die Here bring.  Dit sluit egter ook mense in wat maar al te bewus is van die uitdagings wat daar steeds bestaan. Dinge waarvoor die Here nog uitkoms moet bewerk.  Dinge waarvoor Hy nog hulle gebede moet verhoor.

Die refrein is dan ook die inleiding van die hele vyfde Psalmboek:

Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!

Daarmee gee die Psalmis vir gelowiges van alle tye beide ‘n belydenis en ‘n gebed, ‘n lofprysing en ‘n herinnering, ‘n stelling oor God se karakter en ‘n sug na God se ingrype in hierdie wêreld.  Iets wat jy vandag kan neerskryf of memoriseer en as gebed die volgende tyd kan gebruik: “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!

Met hierdie inleiding kan jy die Psalm nou lees en fokus op wat jou tref.  Ek sal in die boodskap die twee dinge uitlig wat vir my sentraal staan in die Psalm.

Om jou te help, kan jy my indeling van die struktuur van die Psalm in gedagte hou:

  • GOD IS GOED – 107:1-3. Die Psalm begin met die motief van die terugkeer na hulle land as bewys van God se getrouheid.  Dit bewys dat God goed is, dat aan sy liefde daar geen einde is nie.  Dit is daarom ook ‘n dankpsalm.
  • GOD SE LIEFDE HET GEEN EINDE NIE – 107:4-43. Die Psalm beskrywe God se goedheid aan ses groepe wat Hom daarvoor moet prys.  Sy liefde het immers geen einde nie.
    • God het verdwaaldes by die regte pad uitgebring (4-9). Waar verdwaaldes in die woestyn gesmag het na water om te drink en kos om te eet – moontlik met die Eksodus uit Egipte as agtergrond – het God hulle hulpgeroep gehoor en hulle uit hulle ellende gered.  Hy het hulle op die regte pad gebring (vgl. Ps. 1).  “Hy het die goeie in oorvloed gegee aan dié wat honger gely het.
    • God het gevangenes bevry (10-16). Die beskrywing van die donker, die diep duisternis, die feit dat hulle gevangenes in ellende en in boeie was, dui waarskynlik op die ervaring van die ballingskap.  Die rede daarvoor word ook aangegee: hulle verset teen die bevele van God.  “Hulle het die leiding van die Allerhoogste in die wind geslaan.”  In hulle nood het hulle egter om hulp geroep en God het hulle bevry uit hulle ellende.
    • God het dwase rebelle tot inkeer gebring (17-22). In ‘n voorsetting van die vorige beskrywing word gefokus op die dwaasheid van ‘n rebelse optrede teenoor God.  Dit laat jou selfs aan kos walg, só swaar is die ellende van rebelle.  Maar, God hoor selfs rebelle se hulpgeroep en maak hulle met een woord gesond.  Interessant dat rebellie hiermee eintlik as ‘n soort siekte geteken word!
    • God het seevaarders veilig uit hulle nood gelei (23-32). ‘n Mens het al by die profeet Jona kennis geneem van die nood wat seevaarders kan ervaar op die oop see, en hier word hulle nood geteken as dinge swaar gaan op die groot waters.  Maar, soos dit God is wat wonderdade op die diep waters doen, só kan Hy hulle ook na veiligheid en vryheid lei.  Waar God ‘n mensestem hoor roep, dáár luister Hy, maak die stormwind stil en gee kalmte: “God het hulle veilig gelei na die hawe waar hulle wou kom.” Jare later sou Jesus dit konkreet illustreer vir sy eie dissipels: Markus 4:30-41 – Het julle dan nie geloof nie? en Matteus 8 – Jesus herstel gemeenskap en bevorder geloof met gesprek en genesings. Ook Paulus sou dit ervaar dat God IN die storm bewaring skenk: Handelinge 27:1-28:31 – Paulus verkondig die evangelie in Rome.
    • God het die dorre aarde en sy mense weer geseën (33-38). Waar God is, daar kan die woestyngebied eintlik nie anders as om ‘n rietvlei, ‘n fonteinwêreld te word nie.  God se goedheid sluit dus selfs die omgewing in.  Daar kan honger mense hulle vestig en floreer omdat hulle gedy in die seën wat die Here skenk.
    • God het magtiges verneder en armes beskerm teen verdrukking (39-41). Die Psalmis is egter ook bewus van die feit dat mense, veral armes, dit soms hotagter het waar magtiges hulle verdruk, al het die armes geen skuld daaraan nie.  Waar mense dus verminder en wegkwyn onder die druk van teëspoed en moeilikheid, daar bring die Here ook omkeer, beskerming en seën.
  • GOD IS GETROU – 107:42-43. Die Psalm eindig met die waarneming dat waar opregtes dié dinge sien, is hulle bly. Die NAV vertaal die tweede deel van vers 42 regtig problematies: “alle onreg het tot ‘n einde gekom”.  Dit is regtig nie ‘n goeie vertaling van die welliswaar moeilike frase nie.  Die OAV het dit gehad as: “maar alle ongeregtigheid hou sy mond toe”, wat al beter is. Die BDV vertaal: “maar almal wat onreg doen, hou hulle monde toe.” Dit beteken dat God se getrouheid die monde van die onregverdiges snoer. Ek het veral gehou van dié vertaling: “Good people see this and are glad; bad people are speechless, stopped in their tracks.” (The Message).  Opregtes is dus bly omdat die dade van God se getrouheid wys dat God in staat is om die onreg en verdrukking om te keer. Die punt is dat God se goedheid en getrouheid bose mense en onreg stilmaak.  Daarom moet ons sonder ophou daaroor praat en God daarvoor loof.

Let op hoe God se liefde in die middelste deel van die Psalm al die bekende ruimtes van dié tyd insluit: die aarde en die see, die ballingskap en die beloofde land, die magtiges en die armes, hoewel die magtiges dit nie besonder positief sou ervaar het nie!

Let ook op hoe God se genade telkens kom waar daarvoor gebid en gesmeek word.

God is goed.  Hy is regtig goed.  Aan sy liefde is daar geen einde nie.  Hom kan jy vertrou.  Loof die Here!

Boodskap

Ek wil fokus op twee goed in die Psalm wat my tref.

Let in die eerste plek op hoe Psalm 107:7 vir Psalm 1:6 in herinnering roep.

  • Psalm 107:7 sê: “Hy het hulle op die regte pad gebring en by ’n bewoonde stad laat uitkom”.
  • Psalm 1:6 sê: “die Here leidie regverdiges op hulle pad” wat eintlik ’n vertaling is van die Hebreeuse frase: “die Here ken die pad van die regverdiges”.  Die NIV vertaal dit met: “the Lord watches over the way of the righteous”.

Die feit dat God met die Godsvolk in verhouding is, dat Hy hulle ken, dat Hy hulle beskerm, beteken dat hulle bestemming die gevolg is van God se beskerming.  Daarvan sing Psalm 107 in aansluiting by Psalm 1 se belydenis.

Let in die tweede plek op na die insig wat opdaag in dié Psalm.  Die wysheid wat die Psalmis aan ons wil deurgee, word in vers 43 só opgesom:

Wie verstandig is, moet op hierdie dinge ag gee, hulle moet let op die Here se dade van trou.

Daar gaan nog baie uitdagings wees, beide in terme van veiligheid en verhoring soos dit in die volgende twee Psalms aangeroer gaan word. Maar, die wyses, die verstandiges, fokus hierop.  Hulle gee ag op die bewys van God se trou in die verlede as ‘n inspirasie en motivering om God vir die hede en die toekoms te vertrou.

Geen wonder dat dié God geprys moet word nie, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.

2So moet die mense sê wat deur die Here bevry is, dié wat Hy uit hulle nood bevry het.

Hoekom?

Want God is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.  Loof die Here!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda