Skip to main content

Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nie

Psalm121Die Psalm verwoord die bewussyn van pelgrims dat hulle nie op hulle eie die gevaarlike tog na Jerusalem kan aanpak, sonder dat die Here as hulle Beskermer optree nie.  Trouens, sy beskerming is nodig in elke faset van die lewe.

Die Psalmis kyk dus op na die berge en vra amper op ‘n retoriese wyse vanwaar sy hulp sal kom.  En antwoord onmiddellik dat dit van die Here, die Skepper (Maker) van die hemel en die aarde af sal kom.

Die berge kan op verskillende maniere geïnterpreteer word (negatief of positief):

  • Dit kan die fisiese berge wees wat ‘n uitdaging was op hulle reis (vgl. Ps. 23:4 se “donker klowe”) (negatief).
  • Dit kan ook die berge van die ”gode” wees wat as ‘n bedreiging geskets word, waarteen die Skepper van die hemel en die aarde die beskerming kan bied (negatief).
  • Dit kan die berge van Jerusalem wees waarop die tempel gebou was as simbool van God se teenwoordigheid (positief).

Die beskrywing van God is dan met die negatiewe interpretasie ‘n uitkoms in gevaar, en met ‘n positiewe interpretasie die bron van die uitkoms in gevaar.  Hoe dit ook al sy, die Psalm besing dus die beskerming van die Here teen fisiese en geestelike gevaar.  Regdeur word die klem daarop geplaas.  Ses keer word verskillende verbuigings van die Hebreeuse woord beskerm of wag hou (sjâmar) gebruik wat op God se beskerming van die pelgrims van toepassing gemaak word.

Dié Psalm bely dus ‘n God wat op omvattende wyse vir sy mense sorg.  Hy is paraat in elke omstandigheid wat hulle kan tref.  En Hy doen dit: “nou en vir altyd”:

  • Twee keer word gesê dat dié Beskermer van Israel nie insluimer of slaap nie, d.w.s Hy sal dus nie toelaat dat jou voet struikel nie. Hy is met jou in alles wat jy doen (121:3). GOD LAAT NIE TOE DAT JY STRUIKEL NIE.
  • Die Beskermer doen dit nou en vir altyd, d.w.s. Hy sal nie soos ‘n wag op diens aan die slaap raak nie. Hy is dus met jou selfs wanneer jy slaap  (121:4,8).  GOD HOU ALTYD WAG OOR JOU.
  • Hierdie Beskermer is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie (121:5).  GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • Hierdie Beskermer sorg dat die son jou nie bedags “dodelik tref” nie en snags ook nie die maan nie (121:6). Die son en maan is baie keer met “gode” verbind.  Dit kan ook as metafore staan vir alles wat ‘n mens kan tref regdeur die dag.  God is dus daar waar jy nie noodwendig beheer het nie.  GOD SORG VIR JOU TEEN BOSE AANVALLE.
  • Die Beskermer beskerm teen alle onheil wat jou lewe bedreig. Hy is daar waar jy geen impak kan maak uit eie krag nie (121:7).  GOD SORG VIR JOU IN ALLE ONHEIL.
  • Die Beskermer sorg vir jou uitgaan en jou terugkoms, d.w.s. wanneer jy van die huis af weggaan en wanneer jy daarheen terugkeer (121:8). GOD SORG VIR JOU OP ELKE REIS.

Jy kan dus vandag ingaan met dié versekering van God as Beskermer.  Daar is nie ‘n beter belofte as dít nie.  Jy kan op Hom staatmaak en van Hom afhanklik lewe.  Hy is in staat om vir jou te sorg.

In die NT word dié belydenis uitgebrei dat hierdie beskerming van God nie net met aardse beskerming te make het nie, maar veral met die beskerming vir God se koninkryk.  Ons oog is dus nie meer soseer op die aardse Jerusalem gerig nie, maar op die hemelse Jerusalem.  Ons kan dié Psalm dus ontvang as ‘n belofte dat die Here ons sal beskerm om in sy hemelse koninkryk aan te kom.  Soos Paulus dit ook bely: “Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid! Amen.” (2 Tim. 4:18).

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on 1 Kronieke 28-29Groete!
  • Wansen Engelbrecht on 1 Kronieke 28-29Baie dankie. Groetnis Wansen Engelbrecht Klerksdorp
  • Chris van Wyk on Genesis 1:1-2:3Is dit op 'n selfoon?
  • Johan Kirsten on Genesis 1:1-2:3Middag Chris. Ek merk dat as jy op die "menu" hierbo tik, die blok wat aan die linkerkant verskyn, blanko is. Daar is wel "onsigbare" skakels wat jou na die verskillende bladsye neem. Groete. Johan
  • Chris van Wyk on Psalm 11Dankie, Jenny. Ek het self weer baie moed uit dié Psalm 11 gekry. Veral uit die feit dat ons nie baie beheer het oor die fondamente nie, maar op God kan vertrou wat opregtes suiwer en goddeloses skroei, soos dit in die laaste deel van die Psalm uitgespel word. God kan oneindig meer doen as wat ons k…
  • Jenny on Psalm 11Baie dankie vir die boodskap wat weereens soos vorige boodskappe my help om deur baie swaar tye te kan kom. Die laaste jaar is daar so baie berge wat my toesak dat ek net kan vasklou aan God se woord en U maak dit makliker om sekere dinge beter te verstaan en net aan te hou glo en vertrou. Baie dank…
  • Chris van Wyk on Die Twaalf Kleiner ProfeteDankie Johan, waardeer.
  • Johan v Zyl on Die Twaalf Kleiner ProfeteHi Chris net so baie dankie vir die enorme werk wat jy in Bybelskool doen. Ek gebruik dit elke dag in my bediening hier in Lichtenburg Klipkerk. Ek het op 60 die Bybel herontdek met nuwe passie . Jesusliefde Johan v Zyl
  • Chris van Wyk on Salwing in die BybelEk is bly, Stoffie, dat ek kon help. Die waarhede in die Skrif is ons diepste en enigste beskerming teen dwaling.
  • Stoffie Van Dyk on Salwing in die BybelEk het die afgelope Sondag 'n diens bygewoon wat my baie ontstem het - mense in die gehoor is gesalf deur 'n "profetes", en snaakse dinge het gebeur. Hierdie hele skrywe oor die salfgebruik, en van die antwoorde op vrae was vir my baie leersaam omdat dit vir my Skriftuurlik is. Baie dankie
  • Chris van Wyk on 2 Samuel 18Dankie Lesley, waardeer.
  • Lesley Barnard on 2 Samuel 18Pragtig, ñ mooi toepaslike verduideliking.
  • Chris van Wyk on 2 Samuel 17Hi Hettie. Daar is twee letters in Hebreeus wat amper dieselfde geskryf word, maar verskillend uitgespreek word. Daar is die normale h wat uitgespreek word soos ons dit normaalweg doen. Dan is daar egter ook die letter ḥ (geskryf met 'n h met 'n punt onder) wat anders uitgespreek word. Die uitspraak…
  • Hettie Swart on 2 Samuel 17Baie dankie vir die oopbreek van die Woord. Ek sien dat my Bybel 35 vertaling na Husai verwys en nie Gusai soos in die Bybelstudie aangetoon word nie. Is dit verskillende uitsprake vir dieselfde mens? Help my reg asseblief.
  • Chris van Wyk on Josua 2 – Ragab se ontsag vir Jahwe spaar die verkenners se lewe👍