Skip to main content

Psalm 144 – Hoe gelukkig is die volk wie se God die Here is

Psalm144Die Psalm val duidelik in twee dele uiteen.  Die eerste deel – vers 1-11 – beskryf in die eerste persoon enkelvoud die gebed van die koning om bevryding.  Die tweede deel – vers 12-15 – beskryf in die eerste persoon meervoud die gebed van die koning vir en namens die geloofsgemeenskap dat die Here hulle op omvattende wyse sal seën.

Die BDV verbind dié twee dele met ‘n “sodat” in vers 12 om die implisiete verband tussen die bevryding van konflik en die seën van ‘n florerende gemeenskap te beklemtoon.  Daarmee word twee van die grootste teologiese lyne in die OT aan mekaar verbind – die Abrahamitiese tradisie van seën en die Mosaïese tradisie van bevryding.  En dit is betekenisvol dat dit in die gebed van Dawid gekombineer word, want hy is dan ook die voorafskaduwing van die Messias, Jesus Christus, die een wat ons verlos en die een wat ons seën.

Bevry my en red my uit die mag van vreemdelinge – vers 1-11

Dit wil voorkom asof die konteks in die eerste gedeelte ‘n dreigende oorlog is – vgl. vers 1 wat praat van oorlog en vers 10 wat praat van die oorwinning wat God aan konings gee, ook aan Dawid sy dienskneg wat Hy: “bevry van ‘n dodelike swaard.

Eksegeties is daar ‘n baie belangrike woordspeling wat in die NAV verlore raak. Dit is die verwysing na Dawid se hande wat deur die Here geleer word om oorlog te maak (vers 2), die Here se hand wat uit die hoogte hom red van gevaar (vers 7), in die konteks van die vreemdelinge: “wie se monde onsin verkondig en wie se regterhande bedrieglik is.” (vers 8 en 11 – NAV: “wie se woorde en dade leuens en bedrog is.”)

Die laaste verwysing na die vreemdelinge se “regterhande” dui waarskynlik op valse eedswering, want, soos vandag, is die regterhand opgehou as teken van ‘n eed van waarheid.  Dawid se teenstanders se regterhande is egter bedrieglik en dui eintlik op die teendeel, d.w.s. dat hulle nie hulle woord kan hou nie.

Daarom prys hy die Here dat dié standvastig bly midde in die konflik.  Hy druk dit in die eerste twee verse uit met ses beskrywings van God: my Rots, Vertroueling, Bergskuiling, Toevlugsoord, Bevryder, en Skild by wie hy skuil.  Dít betuig die Here aan hom deurdat die Here hom in staat stel om die konflik die hoof te bied – “Hy wat my hande leer om te veg, my vingers om oorlog te maak.

Maar, let op dat dié vaardigheid uiteindelik aangevul moet word – eintlik afhanklik is daarvan – dat God se hand hom nie net versorg en in ag neem (vgl. die eksplisiete verwysing na Ps. 8 se loflied op God se sorg vir die mens: Psalm 7-8 – God gee om vir sy mense en verhoor hulle gebede) al is hy soos ‘n asemteug en sy lewensdae soos ‘n vlugtige skaduwee.

Nee, God se hand reik uit die hemel soos van ouds by die berg Sinai – terwyl die berge rook en die weerligte flits – en bring verwarring by die vyande en bevry Dawid van die konflik (watermassa) ten spyte van die onsin wat die vreemdelinge verkondig en die bedrog van hulle gedrag.

Daarom, wil Dawid die Here loof op sy tiensnarige harp, omdat God Hom telkens bewys as die een wat in konflik Self ingryp en klaarheid en oorwinning bring.  Let op hoe Dawid aan dié loflied weereens die gebed koppel teen die vreemdelinge se onsin en bedrog, ‘n baie belangrike herhaling, wat die erns van die situasie waarin hy verkeer, beklemtoon.

Hoe gelukkig is die volk wat God se voorsienige seën beleef – vers 12-15

Dawid skets dan die voorsienige seën van die Here wat hulle almal se deel sal wees, as God hom bystaan in die oorlog.  Hulle seuns sal nie in hulle jeug sneuwel nie, maar volgroeide plante word.  Hulle dogters sal nie weggevoer word in slawerny nie, maar soos hoekpilare die familie se voortbestaan nie net bevestig nie, maar ook versier met hulle skoonheid: “uitgekerf, geskik vir ‘n paleis.

Dit sal ook sorg dat die graanskure vol van kos kan word, en die weivelde vol vee, en die beeste vrugbaar en hulle gemeenskapslewe kan floreer: “met geen bres in ons mure nie, en geen gejammer op ons pleine nie.” Die dood sal nie meer die volk se bestaan kenmerk nie.

‘n Droom?!  Moenie glo nie: “Hoe gelukkig is die volk wie se God die Here is!” Waar Hy hulle lei en hulle Hom volg, is dít hulle voorland – bevryding en seën!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar