Psalm 111 – God se werk is groots en betroubaar

Psalm111Psalm 111 en 112 is akrostiese Psalms.  Dit beteken elke versreël begin met ’n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet.  Dit gee 22 reëls vir elke letter van die alfabet.  Dit is ook ‘n Hallelujalied soos Psalm 112 en 113 dit ook is.

Psalm 111 en 112 kom baie ooreen in inhoud met die fokus op bv. regverdigheid, genade,  barmhartigheid, en voorsienigheid.  In Psalm 111 word dit as God se karakter en werk beskryf.  In Psalm 112 word dit as die gelowige se karakter en werk beskryf.  In Psalm 111 sê die Psalmis dat God self sal sorg dat sy magtige dade nie vergeet word nie.  In Psalm 112 word dit van die gelowige gesê:  “‘n Regverdige bly vir altyd in die herinnering.”  In Psalm 111 is dit God wat voorsien.  In Psalm 112 is dit die “goedhartige” wat uitleen en al sy sake reg bestuur.

Die twee Psalms is dus keersye van mekaar.  Wat van God in die een gesê word, word van die gelowiges in die ander gesê.

Omdat die twee Psalms maklik gememoriseer kon word vanweë die alfabetiese begin, het dit dus  as ‘n soort kortbegrip gefunksioneer om kinders nie net die alfabet te leer nie, maar die “ABC” van wie God is en wat Hy doen: “Groots is die werke van die Here, ‘n bron van nadenke vir almal wat vreugde daarin vind.”  Die volgende Psalm het hulle die “ABC” van wie gelowiges is en hoe hulle lewe, geleer.

Om jou ‘n gevoel te gee van hoe dit werk, gee ek hier die vertaling weer van die BDV met net die Hebreeuse alfabet letters vooraan – die eerste reël funksioneer as ‘n opskrif:

111 1 Halleluja!

א Ek wil die HERE loof met my hele hart,

ב in die kring van opregtes en in die byeenkoms.

ג 2 Groots is die werke van die HERE, 

ד ‘n bron van nadenke vir almal  wat vreugde daarin vind.

ה 3 Vol luister en glansrykheid is wat Hy doen,

ו  en sy regverdigheid bestaan vir altyd.

ז  4 Hy het bewerk dat sy wonders onthou word.

ח  Genadig en barmhartig is die HERE.

ט  5 Hy het kos gegee aan wie vir Hom ontsag het.

י  Hy hou vir ewig sy verbond in gedagte.

כ  6 Die krag van sy dade het Hy aan sy volk getoon

ל  deur die erfdeel van nasies aan hulle te gee.

מ  7 Waarheid en wet is die werk van sy hande. 

נ  Betroubaar is al sy opdragte,

ס  8 bestendig vir altyd, vir ewig —

ע  dit word nagekom in trou en opregtheid.

פ  9 Verlossing het Hy vir sy volk gestuur.

צ  Hy het sy verbond vir ewig voorgeskryf.

ק  Heilig en ontsagwekkend is sy Naam.

ר  10 Die begin van wysheid is ontsag vir die HERE;

שׂ  almal wat sy opdragte uitvoer, het goeie insig.

ת  Sy lof hou vir altyd stand.

Elke reël van die vers skets ‘n aspek van God se werk in die lewe van die volk, soms in kombinasie met ‘n ander reël.  Op grond van die beklemtoning van sy werk in vers 2 en 7 kan die Psalm in twee dele gedeel word, maar dit is maar net om die boodskap op ‘n manier op te som: God se werk is Groots (111:2-6) en, God se werk is Betroubaar (111:7-10).

God se werk is Groots – 111:2-6

Die eerste deel van die Psalm fokus op die werke van die Here in terme van sy voorsiening wat uitgemond het in die gawe van die Beloofde land.  In die proses het die volk sy magtige dade ervaar, sy genade en barmhartigheid, en dat Hy sy verbond met hulle in stand gehou het.  Daarom prys hulle die Here met hulle hele hart in die byeenkomste van die geloofsgemeenskap, terwyl hulle bely dat die Here self sal sorg dat sy majestueuse en luisterryke dade nie vergeet sal word nie.

Onthou ook dat dié Psalm ‘n besondere betekenis vir die teruggekeerde ballinge in Jerusalem gehad het, waarin hulle eintlik op ‘n dubbele manier God se voorsiening kon vier.  Hulle voorouers het die eerste Intog in Kanaän beleef, en hulle self die tweede een.

Vers 4 word in Jakobus 5:11 aangehaal en met die verhaal van Job se volharding verbind.  “Kyk, ons beskou hulle wat volhard as geseënd.  Julle het gehoor van Job se volharding, en julle het die Here se einddoel met hom gesien en dat die Here vol medelye en ontferming is.” (BDV).

God se werk is Betroubaar – 111:7-10

Die tweede deel van die Psalm fokus op die werke van die Here in terme van die betroubaarheid van wat Hy doen, sowel as in sy opdragte.  Die BDV se vertaling is misleidend in die eerste deel van vers 7 en ek verkies die NAV se se vertaling: “Wat Hy doen, getuig van trou en reg, al sy voorskrifte staan vas.”  Die Hebreeuse woord ‘emet wat met “waarheid” in BDV vertaal word, kan ook met “trou” vertaal word, en die Hebreeuse woord mishpat wat met “wet” in BDV vertaal word, slaan baie eerder op “regspraak” of “geregtigheid” (justice).

Hoe dit ook al sy, die klem is op die feit dat ‘n mens nie net kan staatmaak op die werk van die Here, dat Hy genadig en barmhartig in sy voorsiening sal wees nie, maar dat jy ook kan staatmaak daarop dat dit regverdig en betroubaar sal wees.  ‘n Mens kan op God staatmaak dat Hy sal optree.  En jy kan staatmaak daarop dat dit die regte optrede sal wees.

Dit is vir ewig so, sê die Psalm.  Almal wat dus sy opdragte uitvoer, het goeie insig.  God is ook betroubaar in die wyse waarop Hy ons begelei deur sy opdragte en voorskrifte.  Daarom is die wyse manier van lewe: Leef met ontsag vir God se opdragte.

Boodskap

Die Psalm tref my in sy eenvoud en diepte.

Aan die een kant is dit só maklik en eenvoudig om die boodskap op te som en vir jouself toe te eien. God se werk is grootsGod se werk is betroubaarLoof die Here.  En dít kan jy deur jou hele lewe onthou en daarop staatmaak.  Dit is die ABC van jou verhouding met God.

Maar die Psalm het ‘n diepte wat verras as ‘n mens ‘n bietjie onder die oppervlak gaan rondkrap. Vers 7-8 sê ook, opgesom: God is betroubaar in sy opdragte.  Die NAV sê: “Wat Hy doen, getuig van trou en reg, al sy voorskrifte staan vas, hulle is vir altyd geldig, hulle is gegee in trou en regverdigheid.” Peterson vertaal: “He manufactures truth and justice; All his products are guaranteed to last—Never out-of-date, never obsolete, rust-proof. All that he makes and does is honest and true.” (The Message)

Dit beteken dat ‘n mens God se voorskrifte ernstig kan neem, want hulle is gegee in trou en regverdigheid.  Hulle is betroubaar om na te volg, want hulle dui die regte pad aan.

Dink vandag daaroor na in terme van nie net die woorde van God wat deur jou lewe vir jou van betekenis was nie, maar ook oor die Bybel as sodanig as die Woord van God.

View all posts in this series

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

  • Dankie Chris vir die les uit Psalm 111 Bring vir my nuwe insigte en padkos vir die dag Opregte dank en waardering

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: