Skip to main content

Psalm 140 – Hou my veilig teen geweldenaars

Psalm140Die Psalm is opgedeel in vyf dele.  Die eerste drie vorm ‘n eenheid en beskryf die situasie van aanvegting waarin die Psalmis (Dawid) verkeer en vra telkens dat die Here hom daaruit sal verlos. Die drie dele word telkens afgesluit met ‘n Sela (140:4,6,9).  Die vierde deel vra dat die Here teen hierdie geweldenaars sal optree (140:10-12).  Die vyfde deel bevestig die getrouheid van die Here aan magteloses en behoeftiges en neem dit as ‘n belofte waarop regverdiges en opregtes altyd weer kan staatmaak (140:13-14).

Hou my veilig teen geweldenaars – vers 1-9

Vers 1-4: Die Psalmis bid dat die Here hom sal red van slegte mense, van geweldenaars, van mense wat booshede beplan, wat gevegte aanhits.  Hulle tonge is so skerp soos dié van slange en die gif van adders skuil agter hulle lippe.  Die skerp punte van slange se gevurkte tong word dus as metafoor vir bitsigheid gebruik, en die gif vir die dodelikheid daarvan.

Interessant genoeg word dié beskrywing van giftige woorde in Rom. 3:13 gebruik as prentjie van die tipe sondes waaraan ons almal skuldig is, en waarvan die Here Jesus ons kom bevry het.  Niemand is dus vanself regverdig nie, selfs nie een nie, sê Paulus.  Ons het God se redding nodig, selfs van ons eie gevurkte tonge en giftige woorde.

Vers 5-6: Die Psalmis bid dat die Here hom sal beskerm van die hande (mag) van goddeloses en hoogmoedige mense.  Woorde verwond, maar magspeletjies verguis en kan ‘n mens maklik ontspoor.  Die Psalmis vra dus dat die Here hom sal bewaar van die vangstrikke wat mense vir hom stel, sodat hy op die pad kan bly wat die Here vir hom aanwys.

Vers 7-9: Die Psalmis bely dat die Here alleen sy God is.  Daarom kan hy met oorgawe sy smeekgebed aan die Here bid.  Hy vra dat die Here hom sal beskut in die tyd van oorlog en nie die goddelose mense sal gee wat hulle begeer nie, dat hulle bose planne nie sal slaag nie, anders sal hulle nog meer verwaand raak.

Vers 8 se laaste deel lui eintlik só: “U beskut my kop in ‘n tyd van oorlog.” (BDV).  Dit is wat agter die NAV se dinamiese vertaling lê: “U beskerm my wanneer die goddeloses my aanval.” Dit is belangrik om die meer letterlike vertaling in gedagte te hou in die lig van die kontras wat in vers 10 getrek gaan word met die koppe van die aanvallers.

Mag een ná die ander ramp geweldenaars inhaal – vers 10-12

Die pleitgebed dat die Here sal optree teen geweldenaars werk met die eksplisiete veronderstelling dat daar ‘n wetmatigheid in die wêreld werksaam is.  Iets wat van God af kom.  Dit is, dat geweld uiteindelik altyd die geweldenaars self vernietig. Soos Jesus ook in die NT sê: “almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom.” (Matt. 26:52).

Daarom bid die Psalmis dat die een ramp ná die ander die geweldenaars sal inhaal: verleentheid (vurige kole – dit laat my dink aan Paulus se beskrywing van skaamte in Rom. 12:20), vernietiging (vuur en bodemlose putte), verslaentheid (nie weer opstaan nie), en ontworteling (nie gevestig nie).

Terloops: vers 10 se eerste deel in die NAV dra nie regtig die betekenis van die Hebreeus reg oor nie.  Dit word in die NAV as volg vertaal: “Dié wat my van alle kante bedreig, verhef hulle teen U; laat hulle dreigemente hulleself tref.”  Die laaste deel is wel korrek, maar die eerste deel word meer korrek vertaal in die BDV: “Die koppe van hulle wat my omring, laat dit oordek word met die onheil wat hulle ander toewens (of meer letterlik: die onheil van hulle lippe).”  Die frase: “verhef hulle teen U”, kom nie in die grondteks voor nie.

Dié vers is duidelik in kontras met die uitspraak in vers 8 waar die Here gevra word om sy kop in ‘n tyd van oorlog te beskut, soos dit letterlik daar lui.  Hy vra dus dat die Here hom sal beskerm teen die geweld van geweldenaars, maar nie dieselfde sal doen vir dié wat voortgaan om onheil oor ander uit te spreek nie.

Ek weet die Here behartig die regsaak van magteloses – vers 13-14

Die Psalmis verklaar stellig dat hy weet dat die Here Homself deur die geskiedenis bewys het as dié een wat die regsaak van magteloses en behoeftiges (armes) behartig het.  Daarop kan regverdiges en opregtes staatmaak.  Dit sluit uiteraard goddeloses en geweldenaars uit.  Maar regverdiges sal die Here kan loof en opregtes sal God se teenwoordigheid as ‘n tuiste ervaar.

Internasionale dag van die Bybel 23 November

Dit is vandag, 23 November, die Internasionale dag van die Bybel na aanleiding van Habakuk 2:14 “Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die Here soos die waters die seebodem oordek.”  Daar is ‘n leesplan en die idee is om 12:00 vandag almal saam ‘n gedeelte uit die Bybel te lees.  Gebruik #BibleCelebration en deel met ons die gedeelte wat jou tref.

Ek self gaan hierdie Psalm, Psalm 140, lees, die gedeelte vir die dag by Bybelskool.com​.  Dit is ‘n baie gepaste gebed in die lig van die bedreiging van wêreldvrede op só baie plekke, veral in Frankryk, België, Irak, Iran, Sirië, Kenia, Somalië en nog baie ander.  Geweldenaars is Godloënaars, en dié Psalm verkondig ‘n God wat die regsaak van magteloses en behoeftiges behartig.

Kom ons bid daarvoor.  En bely dat regverdiges sy Naam sal loof; dat opregtes in sy teenwoordigheid sal woon.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ja Gerhard, ek sal eerder sê dat 'n mens jouself kan verafgod, as jou geloof as sodanig. Die Bybel praat nie so nie so ver ek kan agterkom. Die Bybel wys uiteraard afgode af, en dinge soos gierigheid wat 'n afgod kan raak. Daaruit kan 'n mens aflei dat enigiets wat in die plek van God gestel word, o…
  • Gerhard on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ds ek is besig om afgodery na te slaan. Ek het 'n ds gehoor met die opmerking dat jy jou geloof kan verafgod? Afgodery is tog weg van God af soos wat ek verstaan. Groete Gerhard
  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.