Skip to main content

Genesis 27:1-45 – Rebekka en Jakob se bedrog bedreig die geloofsgemeenskap se voortbestaan

655804-breathtaking-space-artDie vorige hoofstuk het afgesluit met die uitdaging wat konflik rondom ‘n mens se kinders vir jou bring.  Die skrywer het ons ‘n kykie gegee spesifiek in die bitterheid van gees wat hulle skoondogters, die Hetitiese vrouens van Esau, vir Isak en Rebekka gebring het.

Dit wil egter voorkom asof hierdie konflik minder van ‘n probleem vir Isak was as vir Rebekka, want hulle reageer op heeltemal verskillende maniere teenoor Esau. Nie net trek Isak vir Esau, “sy seun”, steeds voor en Rebekka vir Jakob, “haar seun”, nie, maar Isak roep slegs vir Esau om hom te seën en vergeet skoon van Jakob.  Dit was binne die tradisionele gebruike van daardie tyd regtig ongehoord.  Jakob seën bv. nie net ál sy seuns nie, maar selfs sy kleinkinders, die twee seuns van Josef! (Gen. 48-49).

Daarby sal ons in die volgende gedeelte lees dat Rebekka só siek en sat was vir die Hetitiese vroue van Esau dat sy vir Isak gevra het om Jakob na Laban te stuur om met ‘n dogter van hulle familie te trou.  Dit is nou benewens die feit dat sy Jakob só die gramskap van Esau wil spaar.  Dit is egter duidelik dat Esau se lewenskeuses haar teen die bors gestuit het en sy het nie geskroom het om agteraf te konkel om Jakob te bevoordeel en Esau te benadeel nie.

Dit bly darem maar hartseer dat Rebekka juis dié een wat haar só lief gehad het, dat sy juis vir Isak bedrieg.  Sy neem eintlik die voortou in die misleiding van haar wederhelf.

Maar niemand is eintlik in dié deel van die verhaal te verskone nie.  Isak tree wederregtelik op deur nie sy twee seuns saam te seën nie.  Rebekka tree wederregtelik op deur doelbewus haar geliefde te bedrieg en Jakob voor te trek.  Esau het reeds sy kaarte gewys deur sy eersgeboortereg prys te gee en daarby met plaaslike heidense meisies te trou.  Jakob speel saam met sy ma ter wille van die voordeel wat hy dink hy daaruit sal kry.

‘n Tragiese vertroebeling van die geloofsgemeenskap in hulle onderlinge verhoudinge.  Die bedrog bedreig hulle voortbestaan.

Rebekka bedrieg Isak en Jakob word geseën

Isak is teen dié tyd oud en blind en bewus van die naderende einde.  Hy vra vir ‘n stukkie wild om te geniet voor hy Esau seën.  Soos Wenham sê: “Isaac’s sensuality is more powerful than his theology.”  Sy maag was nou sy ondergang.

Rebekka het egter gehoor wat aangaan en beraam ‘n plan met Jakob om Isak te bedrieg tot voordeel van haar witbroodjie seun.  In ‘n mens se agterkop is natuurlik die feit dat Esau sy eersgeborereg verloën het.  ‘n Mens wonder watter rol dit in Rebekka en Jakob se oorwegings gespeel het, hoewel dit natuurlik nie die bedrog kan verskoon nie.

Jakob stribbel eers teë, want hy is bang die bedrog bring ‘n vervloeking oor hom.  Sy ma is egter baie duidelik dat sy kans sien vir dié vervloeking – kan jy nou meer – en oorreed Jakob om haar plan uit te voer.

Isak is duidelik agterdogtig, maar die plan werk en Jakob word in die plek van Esau geseën.  Let op hoe Jakob nie net lieg oor wie hy is nie, maar die Here ook daarby betrek.  Toe Isak wonder hoe Jakob so vinnig geholpe geraak het met die bok, antwoord Jakob: “Die Here u God het my dit laat raakloop.”  U God, inderdaad.  Nie Jakob se God nie, Isak s’n.  Hoe tragies.  Hoe ironies.  Sonde is nooit net iets wat op ‘n horisontale vlak ander mense raak nie.  Dit het altyd ook ‘n vertikale dimensie. Dit het altyd met God te make.  En die arrogansie van Jakob se antwoord het eintlik geen perke nie.

Die seën wat Jakob van Isak ontvang omvat op ‘n besondere poëtiese manier die wonder van die skepping as ‘n seën aan Jakob – die reuk van die veld, die dou uit die hemel, koring en wyn in oorvloed – sowel as ‘n groot naam op aarde – volke wat hom sal dien, voorrang onder sy broers.  Let egter ook op hoe Isak net die een deel van die Abrahamitiese seën wat vir die nasies bedoel was – “in jou sal al die volke van die aarde geseën wees” – aanhaal.  Dit verander die seën in ‘n voorwaardelike seën aan dié wat vir Jakob seën.  Dat die nasies van die aarde in hom geseën sal word, soos Abraham dit van die Here af ontvang het, laat Isak weg uit sy seën aan Jakob.

Dié subtiele weglating in sy seën vir Jakob verraai waarskynik ‘n sweem van selfsug in Isak se versugting vir sy seun Esau.  En verklaar miskien hoekom so baie in Israel gesukkel het om die seën van Abraham wat vir die nasies bedoel was, te omarm.  Dink maar net aan die skoorvoetende profeet Jona wat die Nineviete niks gegun het nie, en eerder wou hê dat hulle vervloek word.

Esau se smart oor sy verlies ken geen perke nie

Uiteraard is die ontknoping van die omvang van die bedrog ‘n aardskuddende ervaring beide vir Esau as vir Isak.  Isak raak onbedaarlik en amper paniekbevange aan die bewe.  Esau raak onbedaarlik aan die skree, hard en bitter, en pleit by sy pa om die seën om te keer en hom ook te seën.

Let egter op hoe Esau Jakob nie net verkwalik vir hierdie bedrog nie, maar ook vir die wegneem van sy eersgeboortereg, iets waarvoor hy self verantwoordelikheid moes neem.  Hy het dus ‘n onvermoë om in te sien watter effek sy eie dade inhou, selfs al is hy hierdie keer die een wat aan die kortste end trek.

Die seën wat Isak wel vir Esau gee, herinner aan die belofte wat die Here vir Ismael vroeër gegee het, een waarin Esau nie ‘n maklike lewe sal hê nie, een van oorlog en konflik, hoewel Isak tog die moontlikheid oophou: “maar as jy jou kans afwag, sal jy sy juk (Jakob s’n) van jou nek afgooi.

Esau se diep hartseer oor sy verlies kom na vore in ‘n dodelike haat vir sy broer Jakob wat net bedwing word ter wille van sy pa.  Rebekka is daarom nie links nie en raai Jakob aan om na haar familie te vlug tot sy broer se bui gesak het. In die volgende hoofstuk sal sy dié raad in ‘n versoek aan Isak verwoord en dit regkry om Jakob onder Esau se voete uit te kry.

Almal kry dus seer in hierdie groot konflik.  Maar, die groter vraag is natuurlik, hoe gaan dit die heilsgeskiedenis raak?  Hoe gaan God sy belofte van die seën vir die nasies in hierdie bedrieër Jakob tot vervulling bring?  Is dit enigsins haalbaar om die pad te stap met iemand wat die seën van sy pa met bedrog gesteel het? Tyd sal leer.

Boodskap

Die opmerking in die vorige hoofstuk oor Esau wat met twee vroue getroud is – waarskynlik op dieselfde dag – is ‘n belangrike sleutel om sin te maak van die chaos van die interpersoonlike verhoudinge in hierdie hoofstuk.  Die feit dat hierdie vroue Hetiete was, het beteken dat hulle daarom ‘n vreemde morele en godsdienstige standaard in die geloofsgemeenskap sou indra.  Die poligame aard van Esau se verbintenis met hulle, sou die lesers verder ook herinner aan die nageslag van Kain se gebrek aan ‘n ontsag vir God se wil vir monogame verhoudings.  Geen wonder dat hierdie huwelik ‘n bitter ervaring vir Isak en Rebekka sou wees nie.

Die verbreking van God se wil rondom die huwelik sou altyd ‘n uitdaging bly vir die geloofsgemeenskap, selfs al het die profete dit van tyd tot tyd aangespreek.  Totdat Jesus en Paulus die verwording van die huwelik pertinent aangespreek het en in ‘n beroep op Genesis 1-2 die huwelik in ere herstel het as ‘n verbintenis tussen een man en een vrou (Matt. 19; 1 Kor. 7).

Maar dit is nie al nie.  Die destruktiewe effek wat voortrekkery op die onderlinge verhoudinge binne ‘n familie het, is eintlik nog ‘n belangriker boodskap.  Isak is selfs bereid om die tradisionele gebruike rondom die aangee van God se seën vir die geslagte te verbreek om Esau voor te trek.  Rebekka is selfs bereid om haar geliefde man te bedrieg en só haar seun Jakob nie net voor te trek nie, maar te betrek en van hom ‘n bedrieër te maak.  Dit wreek hom op hulle verhoudinge sodat in die volgende hoofstuk Jakob die vreemde moet in om vrede te bewaar met sy tweelingbroer.

Ons leer ook hier die dure les dat as Jakob se verhaal uiteindelik wel verander in ‘n verhaal van hoop, soos ons nog sal agterkom, dit nie te danke is aan enige intrinsieke waarde wat hy het bó Esau nie.  Dit is nie omdat Jakob beter was of beter gedoen het as Esau nie.

Vgl. bv. vir Paulus wat hieroor teologiseer in sy bespreking van die uitverkiesing in Rom. 9-11.  God se verkiesing van Jakob bó Esau was voor hulle geboorte: “Toe haar kinders nog nie gebore was nie en ook nog niks goeds of kwaads gedoen het nie, toe is al vir haar gesê: ‘Die oudste sal die jongste dien.’ … Die besluit van God is gegrond op die uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat ‘n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep.

Die hoop van Jakob se verhaal berus dus in die eerste plek op die belofte wat God aan Isak gegee het, op die seën wat Isak oor Jakob uitgespreek het in die tweede plek, al is dit ‘n geval van misplaaste identiteit, en veral op die genade van God self in die derde plek wat by die Jabbokrivier die bedrieër ‘n bedienaar van die goddelike genade maak vir die geslagte wat sou kom.

Dit is God se roeping wat die verskil maak, ook in jou lewe vandag.  Daarop moet ons in geloof en gehoorsaamheid reageer.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar