Genesis 19 – Losbandigheid en bloedskande bedreig familiewees
Die verhaal van Sodom en Gomorra begin reeds in hoofstuk 14 waar hulle rebelleer teen die vyf Mesopotamiese konings. Sodom en Gomorra word egter verslaan in die geveg en hulle mense spat in verskillende rigtings. Die konings van Sodom en Gomorra is verneder toe hulle in die Siddimvlakte in die asfaltgate geval het. Abram het egter in die proses om sy broerskind Lot te red die Mesopamiese konings verslaan en die twee stede van uitwissing gered.
Dit is egter duidelik dat Abram niks met Sodom en Gomorra te doene wou hê nie, en het enige vergoeding van die koning van Sodom geweier. Abram wou: “nie eers ‘n garingdraad of ‘n skoenveter”, van die koning van Sodom aanvaar nie, sodat hy nie kon sê: “Ek het vir Abram ryk gemaak” nie (Gen. 14:23).
Dit is nou amper ‘n kwarteeu later en die Here het so pas met Abram ‘n indringende gesprek gehad oor die sonde van Sodom en Gomorra: “Die geroep teen Sodom en Gomorra is hard. Hulle sonde is baie groot!” (Gen. 18:20). Terwyl die Here met Abram in gesprek was oor Abram se versoek dat die regverdiges nie saam met die goddeloses vernietig moet word nie, het die twee engele in die gedaante van twee mans na Sodom weggedraai en teen die aand vir Lot in die poort van Sodom aangetref (Gen. 18:22; 19:1).
Lot ontvang hulle met groot gasvryheid ten spyte van hulle aanvanklike teëstribbeling en sit vir hulle ‘n maaltyd van ongesuurde brood voor, amper iets soos die pasga maaltyd wat nog in die toekoms sou lê met die laaste nag voor die Uittog van Israel uit Egipte.
Al die mans van Sodom: “oral uit die stad uit, die mans van Sodom, oud en jonk, die hele klomp”, het egter Lot se huis omsingel om Lot se gaste te verkrag (Gen. 19:4). Dit dui onteenseglik op ‘n wydverspreide sedeloosheid in Sodom wat veral in selfdegeslag seksuele vergrype na vore gekom het. Daar was regtig nie een regverdige in Sodom en Gomorra nie. Almal het sedeloos en goddeloos gelewe. Hoe verskriklik!
Lot se poging om die mans te beskerm – onder andere met die gruwelike aanbod dat hulle liewer sy dogters moet verkrag, want ‘n selfdegeslag verkragting was vir hom ‘n nog erger daad – lewer egter niks op nie, en die engele moet hom beskerm deur die mans van Sodom met blindheid te slaan, soos Elisa ook later in ‘n gevaarlike situasie sou doen (2 Kon. 6:18). Dat die mans van Sodom die aanbod van seks met Lot se dogters van die hand wys, versterk die idee dat hier onteenseglik ‘n sterk selfdegeslag dimensie in die poging tot verkragting aan die werk is.
Die engele kondig dan aan dat Sodom verdelg sal word weens hulle sonde en gryp Lot, sy vrou en sy twee dogters en sleep hulle weg toe hulle nie gou genoeg reageer nie, omdat die Here Hom oor Lot-hulle wou ontferm in antwoord op Abram se gebed die vorige dag. Lot se aanstaande skoonseuns dink egter Lot maak ‘n grap en kom saam met die res van die mense van Sodom om in die swael en vuur wat die Here uit die hemel uit op Sodom en Gomorra en die hele vlakte laat reën het. Alles is vernietig.
Lot se vrou het dit ook nie gemaak nie, omdat sy die bevel om nie om te kyk nie, verontagsaam het. Die suigkrag van die sedelose lewe van Sodom was te veel.
Abram het uit die verte die verwoesting gesien wat vandag met die gebied om die Dooie See geassosieer word. Dit het gelyk asof die hele wêreld soos ‘n steenoond rook.
Die verhaal sluit af met die verdere ongemaklike verhaal dat Lot se twee dogters hulle pa dronk maak – ‘n mens kan nie anders as om die verhaal van Noag en Gam in herinnering te roep nie (Gen. 9) – en hom verkrag. Waar Lot vroeër sy dogters se maagdelikheid wou opoffer om die engele te beskerm, offer die dogters nou self hulle maagdelikheid op deur hulle pa te verkrag.
Twee nasies het uit hierdie ongeoorloofde seks ontstaan, die Moabiete en Ammoniete, nasies wat op verskillende maniere ‘n doring in die vlees van Israel sou wees, en uit die gemeenskap van Israel geweer is weens hulle bloedskandelike oorsprong (Deut. 23:3; Neh. 13:1).
Dit is gelukkig nie die laaste woord oor Moab en Ammon nie. Die Here het hulle met die Intog van Israel in Kanaän beskerm op grond van hulle verbintenis met Lot (Deut. 2:9, 19). Die Here begenadig ook later vir Rut, ‘n Moabiet, deur haar in die nageslag van Juda in te trek met die resultaat dat sy ‘n stammoeder van die Messias sou word. Ook Jeremia het geprofeteer dat die lot van die Moabiete (Jer. 48) en Ammoniete (Jer. 49) verander sal word in die nuwe bedeling wat God in die toekoms sal bring, soos dit inderdaad in die NT met die koms van die Messias, Jesus, gebeur het.
Verkragting word ten sterkste afgekeur
Dit is duidelik uit die verhaal dat verkragting veroordeel word. Of dit nou tussen mans van die dieselfde geslag gebeur (selfs die poging word afgekeur) en of dit nou tussen vroue en mans gebeur, soos dit met die twee dogters die geval was wat hulle pa verkrag het, dit bly altyd verkeerd. Vandaar die wette wat in Levitikus gemaak sou word wat beide geslagsgemeenskap tussen mans of tussen lede van dieselfde gesin (behalwe uiteraard tussen die pa en ma) sou afkeur (Lev. 19-20).
Die enigste plek waar seksuele gemeenskap regtig tot sy reg kom, is in die veilige ruimte van die monogame huwelik tussen een man en een vrou soos God dit reg aan die begin gewil het in die paradysverhaal (Gen. 1-2).
Dit is aan die een kant duidelik dat daar in die verhaal van Genesis 19 nie per se sprake is van homoseksualiteit as sodanig nie – dit is immers ‘n moderne gender begrip – hoewel dit onteenseglik ‘n poging tot selfdegeslag verkragting was. Die voorkeur vir die selfdegeslag seks met die twee mans eerder as met die twee dogters van Lot laat ‘n mens aan die ander kant egter ook deeglik besef dat daar ‘n selfdegeslag aangetrokkenheid teenwoordig was by dié mans van Sodom. Dit kan dus ook nie ontken word nie.
Dié poging tot verkragting is egter net één van die redes vir die stede van Sodom en Gomorra se verwoesting, al het die woord “sodomie” natuurlik ook die beskrywende woord vir selfdegeslag annale seks geword, en word selfdegeslag seksuele gedrag regdeur die res van die Bybel en in die kerkgeskiedenis en belydenisskrifte baie negatief bejeën.
Die broer van Jesus, Judas, skryf onder andere baie negatief oor dié poging van die Sodomiete tot selfdegeslag verkragting in sy brief om gelowiges teen dwaalleraars te waarsku, en vergelyk dit ook met die verhaal van Noag waar die hemelswesens op soortgelyke wyse hulle grense oorskry het deur met aardse vroue gemeenskap te hê. Daar is ‘n seksuele grens tussen mans en mans en tussen hemelwesens en (vrou)mense. Dit mag nie oorskry word nie.
Die rede vir die stad se verwoesting lê egter ook in verskeie ander booshede soos die res van die Bybel dit verwoord.
- Jesaja wyt dit aan die stad se sosiale onreg (Jes. 1:10-17).
- Esegiël wyt dit aan hulle hoogmoed en sorgelose materialisme waarin hulle geen deernis met armes gehad het nie (Eseg. 16:49-50).
- Jesus wyt dit aan hulle ongasvryheid (Luk. 10:10-13).
- Judas, soos reeds gesê, wyt dit aan die mans van Sodom se begeerte om omgang te hê met hemelse wesens, wat waarskynlik steeds ook weens die selfdegeslag seksuele gedrag daarvan afgewys word. Hy noem dit “vreemde vlees” (vers 6).
- Petrus verwys weer in die algemeen na die sonde van Sodom as: “die losbandige lewenswyse van sedelose mense” (2 Pet. 2:7).
Hoe dit ook al sy, die selfdegeslag aard van hierdie geslagsgemeenskap word regdeur die tradisies hieroor by Philo en Josephus en die latere interpretasies van Genesis 19 deur die kerkvaders, afgekeur. Dat Genesis 19 dus negatief is oor die selfdegeslag aard van die seksuele gedrag staan vas, selfs al was daar ook ander oorwegings vir die oordeel oor Sodom en Gomorra.
Boodskap
Ek wil aan twee aspekte van dié verhaal aandag gee, omdat dit só ‘n belangrike boodskap vir ons tyd is. Die een boodskap het met familiewees te make. Die ander boodskap het met losbandigheid te make.
OOR FAMILIEWEES: Lot se ervaringe in die sondige stede Sodom en Gomorra waar hy aan ontvoering, goddeloosheid en geweld blootgestel word en op die koop toe selfs ná sy ontvlugting van die vernietiging van Sodom en Gomorra verkrag word deur sy eie twee dogters, ruk ‘n mens tot diep in jou binneste. Dit is asof ‘n mens nie kan glo dat mense só laag kan daal nie. ‘n Mens wonder waarom Lot nie self ‘n keuse gemaak het om die goddeloosheid te ontsnap ter wille van sy familie nie? Kon hy nie insien dat hy sy mense aan die verderf blootstel nie?
Dit is daarom ’n verhaal wat jou diep laat nadink oor familiewees en die effek wat die plek waar jy woon op die onderlinge verhoudinge in jou eie familie het. Waar goddeloosheid in die samelewing gedy, het dit onvermydelik ‘n groot effek op jou eie mense. ‘n Mens kan altyd kies om uit te trek en ‘n lewe op ‘n ander plek te soek waar die uitdagings en versoekings van ‘n losbandige samelewing nie jou familiewees in sy wese bedreig nie.
Lot se dogters moet uiteraard verantwoordelikheid dra vir hulle eie keuses. Hulle kon bv. gewag het om by hulle oom Abram geholpe te kom met mans, soos Abram dit met sy soeke na ‘n vrou vir sy seun Isak sou doen, en Isak se seun Jakob later self sou doen. Abram het ‘n vrou vir Isak by sy familie in Mesopotamië gaan soek, en Jakob het vir homself ‘n vrou in Haran by sy familie bekom, maar moes ongelukkig uiteindelik tevrede wees met twee wat die gevaar van poligamie verder ingedra het in die geloofsgemeenskap. Ai!
Die blootstelling aan ‘n losbandige en sedelose omgewing het egter sy tol geëis op Lot en sy kinders.
Die genade in die verdere verloop van hulle verhaal is dat die Here tog wel vir Moab en Ammon, die nasies wat uit dié twee dogters gebore is, met die Intog van Israel in Kanaän beskerm op grond van hulle verbintenis met Lot (Deut. 2:9, 19). Die Here begenadig ook vir Rut, ‘n Moabiet, deur haar in die nageslag van Juda in te trek met die resultaat dat sy ‘n stammoeder van die Messias sou word. Die genade word geëggo in Jeremia se belofte dat die lot van die Moabiete (Jer. 48) en Ammoniete (Jer. 49) verander sal word in die nuwe bedeling wat God in die toekoms sal bring, soos dit inderdaad in die NT met die koms van die Messias, Jesus, gebeur het.
OOR LOSBANDIGHEID: Jesus gebruik die verhaal van Lot en ook spesifiek Lot se vrou in Lukas 17 om die geloofsgemeenskap te waarsku om te alle tye die koninkryk eerste te stel en waaksaam te bly in die verwagting van die Here Jesus se wederkoms wat gepaard sal gaan met groot ontwrigting en verdrukking te midde van ‘n losbandige wêreld wat dink dat wat hulle doen heeltemal normaal is.
‘n Mens moenie probeer om jou lewe te red in hierdie wêreld deur aanpassings te maak vir die sedelike peil van jou omgewing nie. Soms word van jou gevra om nie langer in dieselfde juk te trek saam met dié wat die Here in hulle sedelike lewe verloën nie. Dit kan beteken dat dit vir jou kan voel asof jy jou lewe agterlaat, maar eintlik is dit tot die behoud van jou lewe, sê Jesus.
Maar, dan moet jy nie terugkyk en terugverlang – soos Lot se vrou teruggekyk het na wat sy agter gelaat het – want jy loop die gevaar om jou toekoms in God se koninkryk te verloor. Ons mag nooit te gemaklik raak met die losbandigheid van die wêreld – wat dink dat dit normaal is – dat jy die losbandigheid later nie eers meer raaksien nie (Luk. 17:20-37).
Petrus sluit nog meer eksplisiet aan by hierdie verhaal van Lot as ‘n oproep aan gelowiges om versigtig te wees vir mense wat die Here Jesus verloën (2 Pet. 2:4-9). Hy waarsku die gelowiges dat vals leraars, soos die valse profete van vroeër, vernietigende ketterye sal insmokkel in hulle geloofsgemeenskap wat in die eerste plek hulle kan verlei om van die Here Jesus self afvallig te raak deur Hom te verloën.
Maar dit is nie al nie. Petrus gebruik die goddelose tyd van Noag en later van Lot – soos Jesus dit in Lukas 17 gedoen het – met die verwoesting van Sodom en Gomorra as voorbeelde van die gevare wat die verloëning van God inhou soos dit in seksuele grensoorskryding (hemelwesens wat met vroue seksueel verkeer het) en seksuele geweld (Sodom en Gomorra waar alle mans selfdegeslag verkragting wou pleeg) na vore kom, soos dit in die “onsedelike leefwyse van beginsellose mense” manifesteer.
Daar is net een plek vir seksuele gemeenskap en dit is in die monogame huwelik tussen een man en een vrou. Geen ander seksuele verbintenis dra God se goedkeuring weg nie. Só was dit in die hele OT. Só was dit in die NT. Telkens wanneer seksuele vergrype die geloofsgemeenskap bedreig het, het die openbaring van God op die keuse gedui vir die voorrang van die monogame huwelik.
Só hoor ons dit in die wet waar die keuse teen owerspel, prostitusie, bloedskande, egskeiding, bestialiteit en selfdegeslag seksuele gedrag gemaak word. Só hoor ons dit in die profete en wysheidsliteratuur dat die huwelik beskerm en bevorder moet word. Só hoor ons dit by Jesus en Paulus, Judas en die Hebreërskrywer, trouens regdeur die NT.
Paulus skryf in sy heel eerste brief aan die Tessalonisense dat die gemeente weet hoe God wil hê dat julle moet lewe. Maar hy versoek dringend dat hulle nog meer nougeset hulle daarop moet toelê in terme van die huwelik: “Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid (porneias). Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe; julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie. Ook mag niemand hom in hierdie verband te buite gaan en sy broer bedrieg nie, want die Here straf al sulke dinge. So het ons julle trouens al vroeër gewaarsku; ons het julle nadruklik hierop gewys. God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe. Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net ’n mens nie, hy verwerp God wat ook sy Heilige Gees aan julle gegee het.”
Paulus wys hoe ander verhoudinge moet lyk deur daaraan toe te voeg hoe die res van die geloofsgemeenskap met mekaar moet lewe: “Oor broederliefde hoef ons nie aan julle te skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê. En dit doen julle dan ook teenoor al die broers in die hele Masedonië. Ons versoek julle egter dringend, broers: Lê julle nog meer daarop toe. Laat dit vir julle ’n saak van eer wees om rustig te lewe, julle met julle eie sake besig te hou en self in julle lewensonderhoud te voorsien, soos ons dit aan julle voorgehou het. Dan sal julle eerbare leefwyse die agting van die mense buite die gemeente afdwing, en julle sal van niemand afhanklik wees nie.” (1 Tess. 4:1-12).
Terug by die belangrike boodskap van Petrus aan die gelowiges, d.w.s. ook aan ons. Die diepste boodskap wat Petrus in sy brief aan ons gee, is dat die Here Jesus self vir ons intree, soos ‘n Abraham van ouds, en ons uit die noute, ook die noute van seksuele versoeking, wil red: “dan weet die Here tog baie goed om daardie mense wat ‘n toegewyde lewe lei, uit versoeking te red.” Dit is iets om op staat te maak, wat jou moet aanmoedig om weerstand te bied teen versoekings, soms deur ook letterlik “onder hulle uit te gaan.”
Ons moet onthou dat die Here nie net genadig is, maar ook in staat is: “om die onregverdiges tot op die dag van oordeel gevange te hou sodat hulle gestraf kan word.” Sy oordeel is allerverskrikliks. Jesus is nie net Verlosser nie , maar ook Here. Hy verlos en Hy veroordeel. Hy seën en Hy straf. Daarmee moet ‘n mens rekening hou.
View all posts in this series
- God gee Genade vir Geloofsgemeenskappe - October 5, 2016
- Die Pentateug
- Hoe lees ons die verhale in die Bybel?
- Lees, Luister, Leef
- Genesis – Die oorsprong van alle dinge - October 6, 2016
- Genesis in sy ontstaanswêreld
- Die verskille oordonder die ooreenkomste
- Indeling
- Genesis 1:1-2:3 – In die begin het God die hemel en die aarde geskep - October 7, 2016
- Genesis 2:4-25 – Dit is nie goed dat die mens alleen is nie - October 8, 2016
- Genesis 3 – Die mens kruip vir God weg weens die sonde - October 10, 2016
- Genesis 4 – Kain oorweldig vir Abel en maak hom dood - October 11, 2016
- Genesis 5 – Adam het ‘n seun na sy beeld - October 12, 2016
- Genesis 6 – God is bedroef dat Hy die mens gemaak het, maar begenadig Noag - October 13, 2016
- Genesis 7 – Ek het jou gesien en bevind jou regverdig - October 15, 2016
- Genesis 8 – Toe het God gedink aan Noag en al die diere in die ark - October 16, 2016
- Genesis 9 – God sluit ‘n verbond met alle lewende wesens - October 18, 2016
- Genesis 10 – Uit Noag en sy nageslag versprei die nasies oor die aarde
- Genesis 11 – God bring ‘n taalverwarring en beweeg Tera om na Kanaän te trek - October 19, 2016
- Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwys - October 21, 2016
- Genesis 13 – God herhaal sy belofte van die land en ‘n groot nageslag aan Abram
- Genesis 14 – Abram seën en straf nasies op die wêreldverhoog - October 22, 2016
- Genesis 15 – Die Here belowe beskerming en beloning in ‘n verbond met Abram - October 24, 2016
- Genesis 16 – Abram val vir die versoeking om self ‘n nageslag te voorsien - November 14, 2016
- Genesis 17 – Lewe naby My en wees onberispelik - November 15, 2016
- Genesis 18 – Abraham se gasvryheid sluit die lewe vir almal oop - November 16, 2016
- Ekskursus: Kan God van gedagte verander?
- Genesis 19 – Losbandigheid en bloedskande bedreig familiewees - November 17, 2016
- Genesis 20 – Abraham tree as profeet op ten spyte van sy onbehoorlike gedrag - November 18, 2016
- Genesis 21 – Die Here het aan Sara gedink soos Hy beloof het - November 19, 2016
- Genesis 22 – Nou weet ek dat jy My dien - November 21, 2016
- Genesis 23 – Sara word begrawe in die Makpelagrot as vervulling van die landsbelofte - November 22, 2016
- Genesis 24 – God gee vir Isak ‘n gasvrye vrou wat hom vertroos na die dood van Sara - November 23, 2016
- Genesis 25:1-18 – Abraham omhels die roeping van God enduit - November 24, 2016
- Genesis 25:19-34 – Esau minag sy eersgeboortereg en verkoop dit aan Jakob - November 25, 2016
- Genesis 26 – Isak beweeg van rusies na die ruimte wat die Here hom gee - November 26, 2016
- Genesis 27:1-45 – Rebekka en Jakob se bedrog bedreig die geloofsgemeenskap se voortbestaan - November 30, 2016
- Genesis 27:46-28:22 – Die Godsverhouding en die beskerming van die huwelik bevestig die geloofsgemeenskap - December 1, 2016
- Genesis 29-30 – Jakob word sterk in die stryd met Laban - December 2, 2016
- Genesis 31 – Die Here stuur Jakob as ‘n ryk man weer terug na Kanaän - December 3, 2016
- Genesis 32 – Jakob worstel enduit met God en word verander van bedrieër na begenadigde - December 5, 2016
- Genesis 33 – Jakob bely teenoor Esau dat God goed was vir hom - December 6, 2016
- Genesis 34 – Dina se verkragting word met koelbloedige moord beantwoord - December 7, 2016
- Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin het - December 8, 2016
- Genesis 36 – Esau verlaat die beloofde land en slaan sy eie koers in - December 9, 2016
- Genesis 37 – Josef die dromer word ‘n slaaf in Egipte - December 10, 2016
- Genesis 38 – Tamar tree as verlosser op in Juda se afvalligheid en losbandigheid - December 12, 2016
- Genesis 39:1-20 – Josef weerstaan Potifar se vrou om aan God en sy baas getrou te bly - December 13, 2016
- Genesis 39:21-40:23 – Josef lê drome uit in die tronk met God se hulp - December 14, 2016
- Genesis 41 – Josef se lot word dramaties verander van vergete na vrugbaar - December 15, 2016
- Genesis 42 – Jakob se seuns word deur God uitgedaag in Egipte - December 16, 2016
- Genesis 43 – Jakob stuur Benjamin na Egipte in die hoop dat God hulle barmhartig en genadig sal wees - December 17, 2016
- Genesis 44 – Juda offer sy lewe vir Benjamin op toe God hulle sonde aan die lig bring - December 19, 2016
- Genesis 45 – Josef omhels sy broers en verklaar dat alles God se werk was - December 20, 2016
- Genesis 46 – Jakob trek Egipte toe en herenig met Josef - December 21, 2016
- Genesis 47-48 – Jakob seën die farao sowel as Josef se twee seuns - December 22, 2016
- Genesis 49-50 – Jakob seën sy seuns met die oog op die toekoms - December 23, 2016
- Oor die woord van Sarai - June 20, 2018
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Neels Hubinger
Kosbare diepsinnige en omvattende insig en betekenis, baie dankie Chris vir die toepassing vandag…