Skip to main content

Genesis 1:1-2:3 – In die begin het God die hemel en die aarde geskep

Genesis 1:1-2:3

Genesis 1:1-2:3 (2020-vertaling)

655804-breathtaking-space-artGenesis 1 is ‘n gedig oor die skepping wat op digterlike en metaforiese wyse grondoortuigings oor die ontstaan en bestaan van alle dinge weergee.  Dit sien ‘n mens uit die sistematiese en simmetriese wyse waarop veral die middelste gedeelte oor die ses dae se skeppingswerk geskryf is.

Genesis 2 verskil hiervan deurdat dit meer in ‘n verhalende styl na die skeppingsgebeure kyk.  Waar die kroon van die skepping in Genesis 1 die mens is, is die verbintenis tussen man en vrou, die huwelik, die kroon van die skepping in Genesis 2.  Daarom is die wyse waarop God in Genesis 2 skep baie meer intiem.  Hy “vorm”, “blaas”, “neem” en “bou” terwyl dit in Genesis 1 baie meer formeel gebeur met die woorde “skep” en “maak”.

Genesis 1:1-2:3 kan in drie dele opgedeel word:

  • Die begin van tyd, ruimte en materie – Genesis 1:1-2
  • Die skep van ‘n plek vir alles wat lewe in ses dae – Genesis 1:3-31
  • Die rus van God op die sewende dag na Hy alles voltooi het – Genesis 2:1-3

“In die begin het God die hemel en die aarde geskep.” – 1:1-2

1In die begin het God die hemel en die aarde geskep 2Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.

Met hierdie kernagtige eerste vers word die ontstaan van tyd, ruimte en materie op weergalose ekonomiese manier beskryf.  Geen detail word verklap van die proses of selfs ‘n motivering daarvoor gegee nie, net maar die feit dát God die hemel en die aarde in die begin geskep het.

Ons weet nie hoe lank dit geduur het nie. Ons weet nie waaruit alles gemaak is nie. Daar staan bv. nie hier dat die hemel en die aarde uit niks gemaak is nie – ex nihilo – hoewel dié idee duideliker uit ander dele van die Skrif afgelei kan word (vgl. Ps. 33:6: “Deur die woord van die Here is die hemele gemaak, deur sy bevel al die hemelliggame”; 148:5; “Hy het beveel en hulle is geskep”; Joh. 1:3: ”Alles het deur Hom tot stand gekom”; Kol. 1:15-17: “Alles is deur Hom [Jesus] en vir Hom geskep”; Hebr. 11:3: “die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie.”).

Die idee speel wel uiteindelik ‘n belangrike rol in die teologie van onder andere Augustinus en Calvyn.  Ons weet egter nie hoe dit presies gebeur het nie. Genesis vertel nie vir ons meer nie.  Ons weet net dát dit gebeur het en dat Gód daarvoor verantwoordelik is: tyd, ruimte en materie.

Die versoeking is groot vir my om hierdie skeppingsdaad met die Big Bang te verbind.  Ek het juis onlangs weer gelees oor die boson deeltjie van materie wat Peter Higgs voorspel het, en nou met Cern se eksperimente waargeneem is.  Hierdie Higgs boson, soos dit bekend staan, was die deeltjie wat direk na die eerste millisekonde van die eerste ontploffing van materie sy werk begin doen het om aan alles wat bestaan massa te gee.

Maar dit is nie wat die skrywer hier probeer doen nie, naamlik om ‘n wetenskaplike prentjie te gee van hoe dit gebeur het nie.  Hy wil doodgewoon sê, die feit dat daar iets is en nie niks nie, is aan God te danke.

In die tweede vers word twee negatiewe opmerkings oor die skepping gemaak: dat die aarde onbewoonbaar en die diep waters donker was.  Daarteenoor word egter die belowende positiewe stelling gemaak dat die Gees van God oor die waters gesweef het.

Met hierdie twee verse word dus drie fundamentele stellings oor die aanvanklike skepping gemaak:

  • dat God alles in die begin gemaak het – vers 1 (vgl. Psalm 19; Psalm 104);
  • dat daar konflik van die begin af in die skepping was – vers 2a (vgl. Psalm 74:12-17);
  • dat die Gees die belofte van ‘n nuwe toekoms dra – vers 2b (vgl. Psalm 136).

Vir die dieperdelwers: John Walton (Genesis 1 as Ancient Cosmology) werk met die idee dat die skeppingsverhaal nie soseer die materiële ontstaan van alles wat bestaan beskryf nie.  Dit word as gegewe aanvaar.  Die skeppingsverhaal fokus volgens hom eerder op die funksies wat God aan alles binne die heelal toegeken het.  Die eerste drie skeppingsdae word dan volgens hom gespandeer aan die skep van tyd en ruimte waarbinne die waters en plante vir water- en voedselvoorsiening hulle rolle kry.  Die volgende drie skeppingsdae word gespandeer aan die skep van die funksionarisse wat die ruimtes moet benut, die hemelliggame vir die seisoene en die wisseling van dag en nag, die diere in die see, die voëls in die lug, die diere op die land sowel as die mens as verteenwoordigers van God.  Hy plaas dié interpretasie ook op verantwoorde wyse binne die kosmologie van daardie tyd, met talle raakpunte met ander skeppingsverhale.

Ek is versigtig vir sulke radikaal ander idees, veral omdat die belangrike derde dimensie van die heelal, materie – wat saam met tyd en ruimte ons bestaan moontlik maak en bepaal – nie genoegsaam verreken word nie. Ek sou eerder wil sê saam met Gen. 1:1 dat God al drie dimensies van die heelal op die tafel sit: “in die begin” – tyd; “hemel” – ruimte; “aarde” – materie.  Die ses skeppingsdae wys dus hoe tyd, ruimte en materie georden word om lewe moontlik te maak, soos ek dit hierbo en hieronder uitlê.

“Toe het God gesê …” – 1:3-25

Ná hierdie aanvanklike skepping van hemel en aarde – tyd, ruimte, en materie – wy Genesis 1:3-25 uit oor wat God met die materie gedoen het binne die tyd en ruimte wat Hy geskep het.

Die volgende vier opmerkings sal jou help om sin te maak van wat op die verskillende skeppingsdae gebeur.

  1.  Hou in gedagte dat God regdeur transendent geteken word, d.w.s. dat Hy per definisie onafhanklik is van tyd en ruimte en dit kan hanteer soos Hy wil. Hy is soos ‘n pottebakker wat met klei werk en daarmee maak wat Hy wil, soos die profete ook daaroor skryf (Jes. 29:16; Jer. 18:1-6).  God is dus nie gebonde aan tyd of ruimte nie.  Hy is die subjek, die Skepper.  Die skepping is die objek, die materiaal waarmee gewerk word. God is dus soewerein en selfstandig.
  2.  Hou ook in gedagte dat die skeppingsdade wat volg die bestaande materie vorm en orden tot die skeppinge en skepsels wat God daaruit maak. Hy bepaal die reëls van die proses en die uitkomste daarvan.  In dié verband hou ek baie van wat Justinus, die Christen Apologeet (en martelaar) aan die begin van die tweede eeu n.C., hieroor geskryf het.  Hy was die eerste wat teologies ‘n onderskeid gemaak het tussen die skepping van die ongevormde stof (creatio) soos wat ons dit in Genesis 1:1-2 kry, en die vormgewing daarvan (formatio), soos ons dit in Genesis 1:3-25 kry.

Hoewel dit ‘n meer dogmatiese onderskeid is, maak dit goeie sin van die eksegetiese materiaal van dié hoofstuk en help ‘n mens ook verstaan wat regtig aangaan in die tweede skeppingsverhaal wat in Genesis 2 opgeteken is waar vormgewing die hoofmotief is.  God skep orde in die chaos, soos Hy immers op ‘n voortgaande wyse doen in die lewe van elke dag.

  1.  Hou in gedagte dat ons hier met ‘n gedig te doene het. God se skeppingswerk word in ses dae beskryf.  Die eerste drie dae word spandeer aan die verskillende ruimtes waarin lewe moontlik word.  Die laaste drie dae word gespandeer aan die verskillende lewende wesens wat daarop kan floreer.  Hierdie sistematiese ordening van die ruimtes en die wesens wat daarin en daarop lewe beteken dat Genesis nie ‘n moderne wetenskaplike proses probeer beskryf nie, maar in digterlike en figuurlike vorm die wonder van God se skeppingswerk wil besing.
  2.  Hou dus in gedagte dat die skeppingsdae wel as werklike dae beskryf word, soos dit onder andere in die Tien Gebooie, met verwysing na die skeppingsverhaal, as uitgangspunt vir die werksweek geneem word. “Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak …” (Eks. 20:8-11).  In Genesis word die dae egter figuurlik ingespan om in die gedig die planmatige vorming en ordening van God se skeppingswerk te beskryf.  Dit sien ‘n mens in die geykte formule wat verskeie kere regdeur die gedig gebruik word: “Dit het aand geword, en dit het môre geword.  Dit was die eerste dag.” Die figuurlike betekenis staan dus voorop, nie die letterlike nie.

‘n Mens sou die beskrywing van die dag in hierdie skeppingverhaal as ‘n tydperk kon neem, omdat die woord “dag” in Genesis 2:4 ook gebruik word in die betekenis van ‘n tydperk.  Daar staan letterlik: “die dag toe die Here die hemel en die aarde gemaak het.”  “Dag” word dus daar vir die hele tydperk van die skepping gebruik.

Die gedagte het baie ondersteuning reg deur die eeue gehad, ook by van die kerkvaders (Ireneaus – die dae was duisend jaar tydperke – en Augustinus – die dae was onbepaalde tydperke).  Hulle verwys onder andere na Petrus se beskrywing van die betekenis wat tyd vir God het vir wie: “een dag soos ‘n duisend jaar is en duisend jaar soos een dag” (2 Pet. 3:8; vgl. Ps. 90:4).

Dit is egter nie nodig om só te dink nie.  Die dae is immers nie letterlik bedoel nie, maar digterlik en figuurlik.  Dit hoef ook nie met die wetenskap van vandag gesinkroniseer te word nie, omdat die skeppingsverhaal vir ‘n hele ander tyd en met ‘n ander doel geskryf is.  Die “dae” dui slegs aan dat dit God is wat sy werk vanuit sy onafhanklike ongebondenheid in ons tyd en ruimte doen om orde te skep en die skepping te vorm na sy voorkeur.  Selfs die dag en die nag is in elk geval sy skeppingswerke en Hy kan dit inspan soos dit Hom behaag.

Vir die dieperdelwers: Daar is uiteraard baie oor die betekenis van die woord jôm – “dag” – geskrywe.  Hier is ‘n paar van die verskillende betekenisse waarvoor die woord gebruik word in die Bybel sodat jy jou eie mening kan vorm.  Soms is jôm ‘n aanduiding van die “daglig” in kontras met die nag (Gen. 1:5).  Meesal sluit jôm die daglig en die nag in, d.w.s ‘n “dag van 24 uur” (ook Gen. 1:5). Soms word jôm vir ‘n dag van betekenis gebruik, bv. reëndag (Eseg. 1:28) of werksdag (Eseg. 46:1) of dag van onheil (Ob. 12).  Dit is ook hoe oor die “dag van die Here” gepraat word wat eintlik metafories ‘n tydperk van oordeel beteken (Amos 5:18). Soms word jôm vir ‘n tydperk gebruik (Gen. 2:4).  Soms word jôm ook indirek vir ‘n tydperk gebruik, soos in ‘n “dag of twee” (Eks. 21:21) of in die betekenis van “oestyd” (Spr. 25:13), selfs in die betekenis van ‘n jaar soos in die frase “elke jaar” (1 Sam. 1:3).

God maak die lig en skei lig van donker – Dag 1

Die eerste skeppingsdaad van God is lig.  Hy skep die lig en sien dat dit goed is en skei in ‘n tweede aksie die lig en die donker van mekaar.  Hy bring daarmee aan die een kant ‘n ritme tussen die daglig en die nag wat ‘n ritme vir gesonde lewe skep.  Hy maak daarmee aan die ander kant ‘n keuse vir die lig teenoor die duisternis, soos Hy veel later sy Seun sou stuur om die lig te word vir die mense wat in duisternis lewe (Joh. 1:4-5).

God maak die gewelf en skei die waters van mekaar – Dag 2

God maak die gewelf, dit is die uitspansel, en skei die waters van mekaar.  Daar is dus water in die hemel en water onder die hemel, binne die kosmologiese beeld van daardie tyd.  Terloops, sonder water sou ons glad nie kon bestaan nie.  Ons liggame bestaan vir 75% uit water, en die omgewing waarin ons leef, moet waterryk wees.  Ditto alle ander lewende wesens.  Petrus verwys na hierdie skeppingsgebeure as ‘n proses “uit water en deur water” (2 Pet. 3:5).

God skei die land en die see en maak die plante – Dag 3

God skei ook die waters onder die hemel van die droë grond en noem die “see” en “aarde”.  Sonder vaste grond sou lewe vir die mens immers nie moontlik wees nie.  Sonder voedsel vir al die lewende wesens wat God sou skep, sou lewe egter ook nie moontlik wees nie.  Daarom laat God die plante en bome uitspruit om kos te verskaf, die lewensmiddele wat alle lewende wesens op aarde nodig het om van te lewe.

God maak die ligte en seisoene – Dag 4

God maak die ligte aan die hemel – die son en die maan – en sorg so dat daar nie net dag en nag sal wees nie, maar  ‘n ritme van lewe kan wees, die seisoene, wat interessant genoeg verbind word met die hemelliggame se bewegings, soos dit inderdaad is.  Hy vul dus die ruimte in die hemel.  Hierdie vierde dag het daarom ‘n verband met die lig wat op die eerste dag geskape is.

God maak die seediere en die voëls – Dag 5

God laat die ruimtes in die see en in die lug krioel met lewende wesens.  Hierdie vyfde dag het dus ‘n verband met die droeë en nat ruimtes wat op die tweede dag geskape is.  Die lewende wesens kry die opdrag om vrugbaar te wees as deel van God se seën aan hulle.

God maak die diere en die mens – Dag 6

God skep lewende wesens, mak diere sowel as wilde diere, vir die ruimte op land en gebied hulle ook om vrugbaar te wees en te vermenigvuldig om te geniet wat God hulle gegee het.  Let op dat die mens as kroon van God se skeppingswerk gemaak word.  Die mens is geskape nie gebore nie, ‘n belangrike onderskeid met ander skeppingsverhale.  Hierdie sesde dag het dus ‘n verband met die voedsel wat op die derde dag voorsien is.

God verskaf ‘n habitat, ‘n tuiste

God se bedoeling met die ruimte van hemel en aarde was dus dat alles wat lewe ‘n plek daarop sal vind, ‘n habitat, ‘n tuiste – vir mens, dier en plant.  Ons kan dié bedoeling selfs sien in die manier waarop die Bybel diere en plante klassifiseer.  As jy Genesis 1 deeglik lees, sien jy dat die diere nie volgens hulle anatomie en morfologie geklassifiseer word nie, maar volgens hulle ekologie, hulle habitat, die plek waar hulle bly, die voëls in die lug, die visse in die see, die diere op die aarde.  Dit is selfs waar van die mens in die tuin, en later in die onderskeie streke van die aarde waar hulle gaan woon het (Gen 2-11).

Dit wys hoe fundamenteel alles wat leef, verbind is aan waar hulle leef.  Dit is aanvanklik selfs belangriker as dinge soos afkoms en die nageslag.  Die opdrag om die aarde vol te maak (Gen 1:28), het dus te make met ’n tuiskoms, ’n habitat, vir almal: mens, plant en dier.

God maak die mens as sy verteenwoordiger en beeld

Die mens word ook as verteenwoordiger (gelykenis) en beeld van God beskryf, ‘n baie diepsinnige begrip.  Daar is ook hieroor al baie geskryf.  Ek gee net drie belangrike perspektiewe daarop:

  • Die feit dat ons verteenwoordigers en beeld van God is, is in die eerste plek ‘n relasionele Dit dui die mens as in verhouding met God aan.  God tree met ons in verhouding en ons kan met God in verhouding tree.  Dié verhouding sluit in dat ons Hom verteenwoordig op aarde.  Ons is in ‘n besondere sin gestaltes van God op aarde.
  • Dit is in die tweede plek duidelik dat ons in ons hele menswees, selfs in ons binêre geslagtelikheid, verteenwoordigers en beeld van God is. Menswees sluit van die begin af beide die manlike en vroulike gestalte van menswees in.  Die punt is dat daar niks uitgesluit van ons bestaan wat nie deel is van ons status as beeld van God nie.  Ook ons liggaamlikheid is deel van ons status as beeld van God.
  • Dit is in die derde plek ook duidelik dat ons as verteenwoordigers en beeld van God ‘n baie spesifieke funksie het op die aarde wat met die drie woorde bewoon, bewerk, en bewaar (heers regverdig) uitgedruk word. God het mense gemaak om Hom in die aardse ekologie te verteenwoordig, om die “tuin” met alles daarin te bewoon, te bewerk en te bewaar (vgl. Gen 2:15). Dit is waarom God die mens in die tuin van Eden plaas en seën waaroor die volgende hoofstuk gaan handel.  Dit beteken ook dat bewoonbewerk en bewaar fundamenteel is tot die mense se bestaansdoel en werk in hulle tuiste op aarde.

God seën die lewende wesens

‘n Laaste belangrike perspektief uit die ses skeppingsdae, en een van die temas wat regdeur die Bybel voorkom, is die ervaring van God se seën.  God seën hier die diere en voëls met vrugbaarheid en ’n ruimte om in te floreer.  God seën ook die mens met vrugbaarheid en ’n ruimte om te floreer.

Dit gee ons ‘n belangrike kykie in God se hart, dat Hy nie net ‘n waarderende uitspraak maak oor die lewende wesens wat Hy geskep het nie – dit is goed – maar dat Hy inderdaad hulle seën om te floreer.  Hy doen ook iets meer vir die mens, iets wat deel is van sy seën vir hulle.  Hy gee die mens ’n opdrag, ’n bestaansdoel, ’n roeping vir die aarde: om die aarde te bewoon, te bewerk en te bewaar.

Dit gee ons ook ‘n dieper waardering vir wat in die NT gesê word van die seën wat ons deel in Christus is.  Paulus skryf aan die Efesiërs: “Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.” (Ef. 1:3).

God rus van sy werk en seën en heilig die sewende dag – 2:1-3

Die eerste skeppingsverhaal sluit af met die rus van God op die sewende dag ná al die werk wat Hy gedoen het. Hy kom egter nie net self tot rus nie, maar doen ‘n verstommende ding.  Hy seën en heilig die sewende dag as gereelde rusdag.  Hieruit sou die voorskrif in die wet spruit dat daar ‘n ritme tussen werk en rus in die lewe van die volk moet wees (Eks. 20).  In die NT sou dié rus ook as metafoor vir die rus van sonde wat God in die lewe van sy mense bring, gebruik word (Hebr. 3-4).

Die eerste skeppingsverhaal van Genesis 1 stel dus die grondoortuiging wat ons wêreldbeeld vorm: die hemel en die aarde is God se skepping.  Hy het dit gemaak reg in die begin by die ontstaan van alles.  Alles wat bestaan kom van God af.  Alles.  Dit beteken, die aarde behoort aan God en alles daarop en daarin (vgl. Ps. 8; 24; 104).  Hierdie oortuiging is fundamenteel.  Maak nie saak waaroor ons dink, of wat ons doen nie.  Ons doen dit op God se aarde, in Sy heelal, in die ruimte wat Hy vir alles en almal geskep het.  Hy is die hoofkarakter van die Skeppingsverhaal.  Alles draai om Hom, want alles is deur Hom en vir Hom gemaak.

View all posts in this series

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar