Genesis 25:1-18 – Abraham omhels die roeping van God enduit

655804-breathtaking-space-artMet hierdie hoofstuk kom ons aan die einde van die Abraham verhaal.  Abraham het die roeping van God enduit omhels.  Hoewel hy twee keer gefaal het voor die versoeking om te lieg oor sy vrou se skoonheid in Egipte en Gerar, en dit sy roeping en die belofte van God vir sy nageslag in gevaar gestel het, het die diepte van sy verbintenis aan die Here ‘n stygende lyn getoon. Hy het met onderskeiding die wedloop van die geloof gehardloop en enduit gehoorsaam volhard.

Die skrywer rond die verhaal van sy lewe af met twee mededelings.  Die eerste is die verwysing na die begin van ‘n groot aantal nasies wat uit sy verbintenis met Ketura voortgespruit het.  Dit is egter ook duidelik dat hy hulle wegstuur met geskenke om nie die grondgebied van Isak te bedreig nie.  Die meeste van die name van sy nasate word met Arabië geassossieer.

Die ander mededeling is sy sterwe en begrafnis in die enigste plek wat hy ooit besit het, die grot by Makpela.  Abraham het oud geword en ‘n vol lewe gehad, herinner die skrywer ons.  Dit is ook opmerklik dat die twee seuns, Isak en Ismael, hom saam begrawe.  Trouens, al die aartsvaders en hulle vrouens is in die Makpelagrot begrawe (23:1-20; 25:9; 35:27-29; 49:29-32).  Dié grot kan ‘n mens vandag nog besoek waar ses monumente vir die aartsvaders en aartsmoeders opgerig is.

Isak word deur die Here geseën as die opvolger van Abraham en in die volgende hoofstukke sal sy verhaal, waarin Jakob natuurlik ‘n sentrale rol speel, vertel word.

Ismael verdwyn hierna van die toneel, hoewel die geslagsregister ‘n paar interessante laaste feite oor dié eerste kind van Abraham vertel.  Hy het ook twaalf seuns soos Jakob later sou hê, en die begin van ‘n twaalfstam-koninkryk.  Maar, Ismael se nageslag se veglustigheid staan soos ‘n paal bo water: “hulle het met al Ismael se broerskinders oorlog gemaak.” Dit verklaar die bykans skisofreniese aard van die konflikte in die Midde-Ooste waar die onmin telkens in ‘n familietwis begin wat ‘n konflikterende identiteit tussen mense van dieselfde breër familie tot stand bring.

Boodskap

Die eerste elf hoofstukke van Genesis het ‘n prentjie geteken van ‘n wêreld wat dit nie regkry om met God in ‘n volhoubare geloofsgemeenskap te leef nie.  Die verhaal van Abraham wys in die volgende veertien hoofstukke egter dat God se bedoeling met die mens nie deur die verhale van wanhoop gedwarsboom word nie.  In sy genade tree Hy in en roep vir Abram om in hom en sy nageslag die verhale van wanhoop te herskryf, om in ‘n volk wat aan Hom behoort die nasies van die hele wêreld te seën, en daardeur die mensdom te verlos.

Abraham kry dit reg om enduit te volhard.  Daarom is hy só ‘n inspirasie vir ons, selfs al het hy ook twee keer gefaal in die uitlewing van sy roeping om tot ‘n seën te wees.  As Abraham dit kon regkry om vóór die Here te leef (Gen. 17) en hy die voorreg beleef dat die Here vóór hom leef, hom intrek in wat God vir hierdie wêreld beplan (Gen. 18), nooi Abraham ons uit om dieselfde te doen.

Die God wat Abraham geroep het en met hom die pad gestap het, is ook ons God.  Dieselfde wonder van sy teenwoordigheid is ook ons beskore.  Ons kan net soos hy voor God leef en iets van God se lewe voor en saam met ons beleef.

Die verhale in Genesis het daarom ‘n besondere openbaringskarakter.  Dit help ons om diep na te dink oor die lewe, oor God, oor menswees en oor wat regtig  belangrik is in dié lewe.  Dit sluit vir ons die betekenis van ons menswees oop en nooi ons uit om op die belangrike dinge te konsentreer.

Dit konfronteer ons egter ook met die erns van geloof.  Die verhale wys ons hoe ernstig geloof is.  Vir Abraham. Vir God.  Vir die wêreld.  Ook die toetsing van ons geloof is ’n saak van lewe en dood soos dit vir Abraham was.

Abraham roep ons ook op om die roeping wat die Here vir ons het te omhels en enduit te volhard.

View all posts in this series

Genesis


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: