Skip to main content

Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin het

655804-breathtaking-space-artDie aartsvaders het nou al verskillende altare gebou om hulle aanbiddingsplekke te merk.  Hier lees ons van die eerste opdrag wat die Here self gee vir ‘n aartsvader om ‘n altaar te bou.  In taal wat herinner aan ‘n pelgrimstog sê God vir Jakob: “Maak jou klaar en gaan na Bet-El toe en bly daar. Bou vir My daar ’n altaar. Ek is die God wat daar aan jou verskyn het toe jy vir jou broer Esau gevlug het.

Die opdrag was nie net om hom te herinner aan die belofte wat hy self gemaak het met sy reis na Haran nie, hoewel hy ook duidelik verbind aan: “die God wat my gebed verhoor het toe ek in die moeilikheid was en wat by my was waar ek ook al gegaan het.

Dit is in die eerste plek om seker te maak dat Jakob en sy familie hulle reinig van alle afgodsbeelde wat nog by hulle was.  Dit het natuurlik Laban se afgodsbeeldjies ingesluit wat Ragel gesteel en saamgebring het na Kanaän toe.

Ná die afgodsbeelde en ook oorringe begrawe is onder die groot boom by Sigem en het hulle die trek aangedurf.  Die verwysing na oorringe is nie so duidelik nie, behalwe dat twee latere verhale verwys na oorringe wat gebruik is om afgodsbeelde te maak.

Miskien wou Jakob voorkom dat daar weer afgode van die oorringe gemaak word, soos dit die geval was met die goue kalf in die woestyn van Aäron (Eks. 32:2-4), en die efodbeeld wat Gideon ná sy oorwinning oor die Midianiete gemaak het (Rigt. 8:24-27).  Die volk is by beide geleenthede verlei om afgode te aanbid.

Dit is interessant hoe die Here Jakob se gehoorsaamheid eer deur die volke van die omgewing bang te maak vir Jakob en sy seuns sodat hulle nie agtervolg is en verantwoordelik gehou is vir die uitwissing van Sigem en sy mense nie.

Met die aankoms by Bet-El is die siklus voltooi.  Die Here het sy gebede vir beskerming beantwoord en Jakob het sy gelofte kom betaal.  Die Here herhaal aan hom sy beloftes van vroeër sowel as sy naamsverandering,  Hy voeg ‘n nuwe belofte by van konings waarvan hy die voorvader sou wees.

Bet-El is egter ook die plek waar Debora, die vrou aan wie Rebekka as kind gedrink het, begrawe is onder die groot boom wat hulle Huilboom genoem het. Die eerste van drie hartseer gebeure in die verloop van ‘n baie kort tyd.

Die volgende hartseer gebeure het Jakob met gemengde gevoelens gelaat.  Aan die een kant is sy twaalfde en laaste seun gebore, maar sy lieflingvrou, Ragel, is met die bevalling dood.  Hy verander die naam wat sy die seun gegee het, Ben-Oni – seun van my smart – na Ben-jamin – seun van my regterhand.  Dit was op die pad na Efrata naby Bethlehem.

Die hoofstuk sluit af met ‘n stukkie familiegeskiedenis waarin die derde hartseer verhaal vertel word, dié van Ruben wat gemeenskap gehad het met Bilha, sy pa se slavinvrou. Miskien wou hy voorkom dat Ragel se slavinvrou nou bó sy ma Lea verhef word.  Miskien wou hy sy pa se gesag uitdaag.  ‘n Mens weet nie.

Al wat die skrywer sê oor die saak: “Israel het dit te hore gekom”, sonder om verder daaroor uit te brei.  Jakob het ‘n manier gehad om nie dadelik te reageer op iets negatiefs nie, soos stadig-werkende gif, en ‘n mens dink by voorbaat dat Ruben êrens aan die pen sal ry vir dié onverskoonbare skande wat hy oor Jakob bring.

Die feit dat Ruben probeer om verantwoordelikheid te neem vir die situasie wanneer die broers in opstand kom teen die voortrekkery van Josef (Gen. 37:21-22), en uiteindelik dit regkry om volle verantwoordelikheid te neem vir Benjamin toe dié Egipte toe ontbied word (Gen. 42:37), spaar hom egter nie die gramskap van sy pa.

Op Jakob se sterfbed begin Jakob om Ruben te prys: “Ruben, jy is my eersgeborene, my krag en die eersteling van my sterkte; die vernaamste in hoogheid en die vernaamste in mag!” (Gen. 49:3).  Maar laat dan die giftige geweld van sy vervloeking op Ruben los: “Maar jy sal nie langer die vernaamste wees nie, want soos stormwater was jy onstuimig: jy het jou vergryp aan ’n vrou van jou vader, jy het my bed verontreinig toe jy daarin geklim het.” (Gen. 49:4).

Geen wonder dat Levitikus later presies hierdie tipe bloedskande verbied, dié met die tweede vrou van jou pa (Lev. 18:8).  Bloedskande saam met al die ander vergrype aan seksualiteit buite die veilige ruimte van die huwelik om was sterk afgewys.

Die laaste mededeling in die hoofstuk is van Jakob se besoek aan sy pa Isak wat op dié stadium in Abraham se oorspronklike plek by Mamre, dit is Hebron, gebly het.  Isak is in die hoë ouderdom van honderd en tagtig jaar dood. Hy het ’n vol lewe gehad, sê die skrywer en is deur sy twee seuns Esau en Jakob begrawe.

Boodskap

Weereens kan ‘n mens nie anders as om die refrein deur die boek Genesis raak te sien nie.  Die belangrikste twee goed wat die Godsverhouding en die geloofsgemeenskap se onderlinge verhoudinge in gevaar gestel het, was afgodery en onsedelikheid.

Ek het nou al ‘n hele paar keer daaroor geskryf, en wil dit nie herhaal nie, behalwe om net te onderstreep dat dié boodskap van Genesis, soos dit in wette in Levitikus uiteindelik neergelê het, die identiteit en moraliteit van die volk van God gestempel het, soos dit van niks anders geld nie.  Dit is daarom ook in die hart van die Tien Gebooie opgeneem.

Die eerste tafel van die wet kan opgesom word in ‘n aandrang op ‘n onverhandelbare lojaliteit aan God wat alle afgode daarmee van die tafel afhaal. Die tweede tafel van die wet kan opgesom word in ‘n aandrang op ‘n onverhandelbare lojaliteit aan die naaste, wat ouers insluit, wat moord en steel uitsluit, wat egbreuk en valse getuienis uitsluit, en jou begeerte na iets van jou naaste van die tafel afhaal.

Ek is eintlik net verstom met die integriteit waarmee die Bybel aan mekaar gesit is. Die verhale in Genesis illustreer die wette in die res van die Pentateug.  Die riglyne wat God gee vir die lewe is nie uit die lug gegryp nie.  Dit is ingebed in die lewe van die volk.  En ‘n mens ignoreer die geopenbaarde wil van God op eie risiko.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda