Skip to main content

Genesis 43 – Jakob stuur Benjamin na Egipte in die hoop dat God hulle barmhartig en genadig sal wees

Dit is insiggewend dat daar in hierdie episode van die Josef-siklus twee woorde vir die eerste keer in die Bybel met God geassosieer word.  Dit is barmhartigheid/meegevoel/ontferming en genade.

Die eerste verwysing na barmhartigheid is in die mond van Jakob as ‘n gebed vir sy kinders (“goedgesind” in die NAV).  Die tweede verwysing na barmhartigheid is in die beskrywing van Josef se innerlike roering waarin sy: “gemoed vol” word vir sy broers, veral vir Benjamin.  Die woord beskryf dus wie God in sy wese is, en wat in ons kan gebeur as ons oop is vir God se ingrype in ons en ander se lewe.

Die eerste verwysing na genade is in die mond van Josef as ‘n gebed vir sy broer Benjamin waarin hy op diepsinnige wyse God se karakter teken, soos hy dit inderdaad in sy lewe ervaar het, selfs al het dit dertien jaar van ontbering in ‘n tronk ingesluit.  Die woord is ‘n vorige keer gebruik deur Josef se broers waar hy hulle om genade gesmeek het, maar hulle nie daaraan gehoor gegee het nie (Gen. 42:21).

Hierdie twee konsepte – barmhartigheid/meegevoel/ontferming en genade – is só belangrik dat ek in ‘n ekskursus aan die einde ietsie meer daaroor sê.  Al die verhale tot dusver in Genesis illustreer eintlik alreeds hierdie twee kante van God, sy barmhartigheid en ontferming oor die mensdom in die skepping – dink aan die reënboog as teken daarvan – sowel as die genade wat hy meer spesifiek die verbondsgemeenskap laat beleef – dink aan die besnydenis as teken daarvan.

Jakob se seuns keer terug na Egipte in die hoop dat God in Josef hulle barmhartig sal wees

Let op hoe Juda hier leiding neem om Jakob te oortuig om Josef se opdrag na te kom dat Benjamin saam met hulle moet aftrek Egipte toe as hulle weer daar gaan koring koop.  Jakob het geweet wat moet gebeur, maar kon dit aanvanklik nie oor sy hart kry om sy lieflingseun Benjamin saam te stuur soos Josef geëis het nie.

Let op dat daar weereens van Jakob as Israel gepraat word.  Die skrywer is baie bewus daarvan dat hier ‘n groter ding aan die gang is as maar net die behoefte aan kos wat hulle na Egipte toe dring.  Die volk Israel is in ‘n transisie periode wat uiteindelik vierhonderd jaar in Egipte sou word.

Jakob gee uiteindelik in en stuur die broers met geskenke sowel as ‘n dubbele hoeveelheid geld om te vergoed vir die moontlik vergissing van die vorige transaksie in Egipte.  Hy is oortuig dat God die Almagtige hulle barmhartig sal wees – soos dit in die teks staan – en sal sorg dat die man hulle goedgesind sal wees en ook vir Simeon sal terugstuur.   Hy is egter ook voorbereid op die moontlikheid dat hy steeds ook van sy kinders sal verloor.  Dan is dit tot daarnatoe, reken hy.

Josef onthaal sy broers en seën vir Benjamin met God se genade

Josef ontmoet hulle by ‘n onthaal wat hy die middag vir hulle reël, hoewel hulle bevrees is dat dit eintlik is om hulle in slawerny te dompel.  Ironies genoeg is dit presies wat uiteindelik met ‘n volgende farao gebeur het, maar daarvan lees ons eers in Eksodus.

Josef se broers probeer so al wat hulle kan om in die Egiptenare se goeie boekies te kom en gee die geld dubbeld terug wat die vorige keer op onverklaarbare wyse in hulle sakke beland het.

Let op hoe die hoofamptenaar hulle antwoord:

Wees gerus! Moenie bekommerd wees nie. Julle geld het by my uitgekom, en dit is julle God, die God van julle voorvaders, wat ’n skat in julle sakke gesit het.

Dit is ‘n ongelooflike uitspraak van die hoofamptenaar wat waarskynlik goed geweet het wat eintlik gebeur het, maar onder die invloed van Josef die vergissing as ‘n genade van God interpreteer.

Ook Simeon is aan hulle terugbesorg en aan hulle fisiese behoeftes is aandag gegee.

Met Josef se inkoms buig hulle diep voor hom neer, nóg ‘n waarmaking van Josef se aanvanklike drome.  Josef vra uit oor sy pa Jakob en gee spesiaal aandag aan Benjamin.  Met Josef se “voorloper” Aäronitiese seën (Num. 6:25) aan Benjamin – “My seun, God sal jou genadig wees” – oorval die emosies van ontferming en barmhartigheid egter vir Josef en hy het eenkant gaan huil.

Met sy terugkoms het hulle saamgeëet waarin twee goed hulle opgeval het.  Josef laat hulle volgens ouderdomme sit en bedien hulle volgens Hebreeuse eetgewoontes.  Hieroor was hulle verbaas.  Hy identifiseer ook met hulle deur hulle kos van sy tafel aan hulle te gee, met Benjamin wat vyf keer meer gekry het as die res.

Wat nie uitsonderlik was nie is dat hulle vrolik geraak het van die wyn. Die skrywer sê hulle het wyn gedrink en saam met Josef: “vrolik geraak” en genoegsaam onder die invloed geraak dat ‘n mens dit soos in die NAV vertaling as “dronk word” kan beskryf.  ‘n Groot familiefees, sou ‘n mens wou sê, maar helaas, daar was nog ‘n paar draaie wat vir hierdie verhaal voorgelê het …

Ekskursus oor barmhartigheid en genade

Dit is insiggewend dat daar in hierdie episode van die Josef-siklus twee woorde vir die eerste keer eksplisiet in die Bybel met God geassosieer word.  Dit is barmhartigheid/meegevoel/ontferming (rǎ·ḥǎmîm, die meervoud van rǎ·ḥǎm [rě·ḥěm]) en genade (yāḥ·neḵā van die werkwoord ḥā·nǎn).

Al die verhale tot dusver in Genesis het eintlik alreeds hierdie twee kante van God geïllustreer, sy barmhartigheid en ontferming oor die mensdom in die skepping – dink aan die reënboog as teken daarvan – sowel as die genade wat hy meer spesifiek die verbondsgemeenskap laat beleef – dink aan die besnydenis as teken daarvan.

Barmhartigheid

Die eerste woord rǎ·ḥǎm (rě·ḥěm) wat barmhartigheid, meegevoel of ontferming beteken, is eintlik wegvertaal in die NAV met die vertaling: “God die Almagtige … sal sorg dat die man julle goedgesind is.” (Gen. 43:14).  Dit moet eintlik lees soos in die OAV: “Mag God, die Almagtige, julle barmhartigheid verleen by die man.

En dit is ‘n baie belangrike merker in die teks, nie net om die karakter van God mee te beskryf nie, maar ook om die karakter van God se mense te beskryf.  Dit lei ons af deurdat dieselfde woord gebruik word in vers 30 om Josef se reaksie op die weersiens van sy broers, en veral Benjamin, te beskryf.  Soos die skrywer dit uitdruk: “sy binneste was ontroerd oor sy broer” (OAV) of: “sy gemoed was vol oor sy broer.” (NAV).

Die gebed van Jakob dat God barmhartigheid sal bewys, word dus direk geëggo in wat in Josef se hart gebeur.  God se barmhartigheid stem hom tot barmhartigheid.

Barmhartigheid of meegevoel sal hierna ‘n belangrike beskrywing van God word in die OT sowel as in die NT.  Dink maar net aan:

  • Eksodus 22:27 wat verklaar oor die onreg wat ‘n arm mens aangedoen word: “As hy My hieroor aanroep, sal Ek na hom luister, want Ek is barmhartig.
  • Psalm 103:13 se belydenis oor God wat vir sy dienaars sorg: “Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.” (vgl. Ps. 103:8; 111:4; 112:4; 145:8-9)
  • 2 Kronieke 30:9 waar Hiskia spesifiek vir Efraim en Manasse – die nageslag van die seuns van Josef! – uitnooi om by Juda aan te sluit: “Die Here julle God is genadig en barmhartig. Hy sal nie afsydig staan as julle na Hom toe terugkom nie.
  • Habakuk 3:2 waar die profeet bid vir die volk in die hoop dat hulle tot inkeer sal kom: “laat u dade ook in ons tyd ervaar word, ontferm U selfs in u toorn.” (vgl. ook Nehemia 9:17; Joël 2:13 vir nog voorbeelde).

Barmhartigheid sal ook ‘n uitstaande beskrywing raak van dié mense wat aan God behoort en as sy verteenwoordigers op aarde optree. Vergelyk in die NT:

  • Matteus 5:7 waar Jesus in die Bergrede dit as ‘n uitstaande kenmerk van sy mense beskryf: “Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”
  • Luke 6:36 waar Jesus sy oproep tot barmhartigheid koppel aan wie God die Vader is: “Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.

Dié barmhartigheid is natuurlik nie net voor die voet nie.  Daarom is die Bybel ook duidelik daaroor dat hierdie barmhartigheid aan God se soewereiniteit verbind is.  Hy besluit aan wie Hy barmhartig is, en aan wie nie.  Vergelyk:

  • Eksodus 33:19 waar God vir Moses teregwys omdat hy God se arm wil draai om hom uit te wis om aan die volk barmhartigheid te bewys: “Maar die Here sê: ‘Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep, want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm. ‘
  • Romeine 9:15-16 waar Paulus dié gedagte uit Eksodus 33:19 intrek in sy lering oor die uitverkiesing: “Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees, en Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm. Dit hang dus nie af van ’n mens se wil of strewe nie, maar van God wat barmhartig is.

Genade

Die tweede woord ḥā·nǎn wat genade beteken, vind ons in Josef se gebed vir sy broer Benjamin: “God sal jou genadig wees.” (Gen. 43:29).

Dit is alreeds ‘n belangrike merker in die konteks van die broers van Josef wat juis nie genadig was teenoor hom nie. Onthou hoe hulle hulleself net in die vorige hoofstuk verwyt het dat hulle nie genadig was teenoor Josef nie: “Ons het sy angs gesien toe hy ons om genade gesmeek het, maar ons het nie geluister nie.” (Gen. 42:21).  Josef bid nou dat die genade vir sy broer – en uiteindelik ook vir al sy broers en selfs vir sy pa – van God self afkomstig sal wees.  Roerend!

Dit is daarom net só ‘n belangrike merker in die teks om God se karakter te beskryf reeds hier in die OT.  Daar is so baie verwysings dat ek net ‘n kort seleksie maak:

  • Numeri 6:25 maak dit deel van die liturgiese seën wat die priesters oor die volk uitspreek: “Die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees.
  • 2 Samuel 12:22 verwoord Dawid se sewe dae lange gebed vir sy sterwende seun – dié een wat by Batseba in owerspel verwek is – waarin hy hom op die genade van God verlaat het: “Terwyl die kind nog gelewe het, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink: wie weet, dalk is die Here my genadig, en dan sal die kind lewe.
  • Psalm 9:14 maak genade die hart van Dawid se gebed – juis in die tyd dat hy sy seun verloor – dat die Here hom genadig sal weer in die aangesig van sy haters: “Wees my genadig, Here, aanskou die ellende wat my haters my aangedoen het, U wat my terugruk uit die poorte van die dood.” (Vgl. Ps. 4:2; 25:16; 26:11; 30:9; 77:8; 84:12; 86:16; 102:14; 119:132; 142:2).
  • Spreuke 28:13 verbind die ontvangs van genade aan sondebelydenis: “Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang.
  • 2 Konings 13:23 verwoord die vertroue op God se genade soos Hy dit in die verbond met die aartsvaders belowe het: “Die Here was hulle genadig en het Hom oor hulle ontferm. Hy het Hom na hulle gewend ter wille van sy verbond met Abraham, Isak en Jakob. Hy wou hulle nie vernietig nie; Hy het hulle tot nou toe nie verwerp nie.
  • Jesaja 30:18 verkondig selfs aan die volk wat God se oordeel beleef: “Tog is die Here gretig om julle genadig te wees en wil Hy hom oor julle ontferm: Die Here is ’n God wat reg laat geskied, en dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou.

Die NT sal op voortreflike wyse hierop voortborduur.  ‘n Mens sien dit selfs in die gebruiklike aanhef van die briewe van Paulus: “Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en die Here Jesus Christus.”  (1 Kor. 1:3 en verder).  Dit is immers een van die mees sentrale boodskappe van die koms en bediening van die Here Jesus:

  • Lukas 1:68 kondig in die lofsang van Maria die geboorte van Jesus as God se genade aan: “Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het sy volk in genade opgesoek en vir hulle verlossing bewerk.
  • Johannes 1:14 koppel die genade in Jesus aan die waarheid wat Hy gebring het: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.” (vgl. Lukas 2:14)
  • Handelinge 4:33 wys hoe die verkondiging van hierdie Jesus se opstanding uit die dood God se genade oorvloedig oor hulle gemaak het: “Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal.” Dit word daarom ‘n woord wat Lukas kwistig gebruik in die res van sy verhaal van die uitbreiding van die koninkryk deur die getuienis van die genade van God in Christus Jesus (Hand. 6:8; 11:23; 13:43; 14:3, 26; 15:11, 40; 18:26; 20:24, 32).
  • Romeine 1:5 maak genade deel van die roeping van Paulus om gelowiges aan God te verbind, soos dit trouens regdeur die brief uitgespel word: “Deur Hom het ek die genade ontvang om apostel te wees onder al die heidennasies, om tot eer van sy Naam mense tot geloof en so tot gehoorsaamheid te bring.” (Vgl. Rom. 1:7; 3:24; 4:16; 5:2, 15-21; 6:1, 14-15; 8:32; 11:5-6; 12:3, 6; 15:15; 16:20).

Uiteindelik sou dit een van die vyf basiese belydenisse van die Gereformeerde teologie word: sola gratia (saam met sola scriptura, sola fide, solus Christus, soli Deo gloria).

Soos met barmhartigheid is genade gekoppel aan God se soewereiniteit.  Dit kan ook misbruik word, soos Judas 4 ons waarsku dat ‘n keuse vir losbandigheid terwyl jy steeds staatmaak op genade nie moontlik is nie:

Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe, en hulle verwerp ons enigste Meester en Here, Jesus Christus.

Paulus is net so helder daaroor dat ‘n mens nie mag aanhou sonde doen in ‘n gewaande afhanklikheid van genade nie:

Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe.” (Rom. 6:1-2).

Die roeping van elke gelowige is om juis deur die genade die suigkrag van die sonde te ontkom en aan God in elke faset van jou lewe toegewyd te lewe.  Dit sluit ons liggame in wat nie die sondige begeertes (vgl. Rom. 1 vir ‘n lysie van begeertes) moet gehoorsaam nie, maar God self en hoe Hy wil hê dat ons moet lewe, heilig, onberispelik, aan Hom welgevallig:

Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ’n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.” (Rom. 6:12-14).

View all posts in this series

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar