Skip to main content

Tag: Genesis

Genesis 49-50 – Jakob seën sy seuns met die oog op die toekoms

Soos ek in die vorige bydrae gemeld het, sluit die boek Genesis in die laaste twee hoofstukke af met die volgende drie temas:

  • Jakob seën die res van sy seuns – Gen. 49:1-28
  • Josef stel sy broers gerus met Jakob se dood dat God steeds vir hulle sal sorg – Gen. 49:29-50:21
  • Josef herinner sy broers met sy eie dood dat God hulle sal terugneem na die beloofde land – Gen. 50:22-26

Dit is drie baie belangrike temas in die lig van die nuwe situasie waarin hulle hulle nou in Egipte bevind.  Al drie temas vertolk die toekoms vir die groeiende Godsvolk.

  • Jakob lewer sy seën in die vorm van ‘n laaste testament waarin sy toekomsvisie vir sy kinders en hulle nageslagte uitgespel word.
  • Josef fokus ook op die toekoms. Aan die een kant fokus hy in die onmiddelike toekoms op sy lojaliteit aan sy broers.  Hy begrond dit in God se sorg vir hulle.  Hy sal hulle nie anders hanteer as wat God dit doen nie.
  • Josef fokus egter aan die ander kant ook op God se sorg in die verre toekoms, d.w.s. selfs ná hy dood is. Hy verklaar stellig dat God hulle sal terugbring in Kanaän as vervulling van sy belofte aan hulle.

Die hoop op ‘n land van hulle eie word daarmee brandende gehou.  Al sou dié tydperk in die geskiedenis van die Godsvolk meer as vier eeue duur, sou daar ‘n dag aanbreek waarin die Here hulle sou uitlei.  Daarvan vertel die boek Eksodus ons.

Continue reading

Genesis 47-48 – Jakob seën die farao sowel as Josef se twee seuns

Die laaste vier hoofstukke van Genesis brei uit oor die wyse waarop Jakob en sy seuns in Egipte vestig vir die fase van nasiebou, hoewel dit nie net ‘n lang tyd sou neem nie, maar ook groot ontberinge sou insluit.  Die volgende temas word aangestip in die proses:

  • Jakob seën die farao met hulle eerste ontmoeting – Gen. 47:1-12
  • Josef verstewig die farao se greep op die mense en sy land – Gen. 47:13-26
  • Jakob seën Josef se twee seuns – Gen. 47:27-48:22
  • Jakob seën die res van sy seuns – Gen. 49:1-28
  • Josef stel sy broers gerus met Jakob se dood dat God steeds vir hulle sal sorg – Gen. 49:29-50:21
  • Josef herinner sy broers met sy eie dood dat God hulle sal terugneem na die beloofde land – Gen. 50:22-26

Ons lees die eerste drie temas as ‘n eenheid en daarna ook die laaste drie temas in die volgende bydrae.

Continue reading

Genesis 46 – Jakob trek Egipte toe en herenig met Josef

Die fokus in die verhaal van Josef skuif terug na sy pa, Jakob, en sal só bly tot aan die einde van die boek Genesis.

Met sy vertrek uit Kanaän bring Jakob ‘n offer aan God by Berseba, die eerste keer dat ons weer só ‘n spesifieke aktiwiteit van aanbidding van hom waarneem.  Let op hoe dié offer baie spesifiek aan “die God van sy pa Isak” gebring word.

Die goeie nuus oor Josef het Jakob se vertroue in God weer laat opvlam, al was daar tye waarin die smart sy lewe só oorheers het, dat hy met minder oorgawe van sy geloof in God getuig het.  Dit sien ‘n mens in die beskrywings van sy smart waarin dit lyk asof hy glad nie met die Here daaroor in gesprek getree het nie, maar net verslae gesit het in sy verdriet (Gen. 37).  ‘n Mens sien dit in sy aanvanklike weiering om Benjamin saam te stuur: “Netnou gebeur daar iets met hom!”  (Gen. 42).  En ‘n mens sien dit in die gelatenheid waarmee hy die tweede keer ingee om Benjamin te stuur, en in sy gebed wel God, die Almagtige, aanroep om barmhartigheid vir sy kinders in Egipte, maar daarby half fatalisties voeg: “En ek, as ek dan my kinders moet verloor, moet ek hulle maar verloor.” (Gen. 43).

Die Here roep daarom in ‘n visioen vir Jakob dié nag en bevestig dat Hy inderdaad die God van sy vader Isak is.  En anders as wat die geval was met Abraham en Isak gee die Here vir Jakob verlof om na Egipte te trek.  Dit is die plek waar die Here hulle nou ‘n groot nasie wil maak voordat Hy hulle almal weer na Kanaän, die beloofde land, sou laat terugkom.

Continue reading

Genesis 45 – Josef omhels sy broers en verklaar dat alles God se werk was

Die broers se eerlike ontbloting van hulle skuld aan die verlede roer Josef só diep dat hy dit nie meer kan regkry om homself te bedwing nie.  Hy stuur alle diensknegte weg en bars uit in trane in sy eie selfontbloting aan hulle: “Ek is Josef. Leef Pa werklik nog?

Hy sien egter hulle vrees en laat hulle nader kom om self te kan agterkom dat dit werklik hy, Josef, is.  Die opgekropte spanning in Josef borrel oor in ‘n stortvloed van woorde waarin hy soveel as moontlik probeer inprop van alles wat die afgelope twee dekades sedert hulle hom verkoop het, gebeur het.  Hy brei ook uit, met amper te veel detail, van wat hy voorsien vir die toekoms.

Continue reading

Genesis 44 – Juda offer sy lewe vir Benjamin op toe God hulle sonde aan die lig bring

Hierdie hoofstuk is een van die belangrikste hoofstukke in die Josef-siklus.  Dit beantwoord die vraag of die familiebande wat hierdie geloofsgemeenskap aan mekaar verbind, sterk genoeg is om innerlike konflik en uiterlike uitdagings die hoof te bied.  Sal die broers lojaal bly aan mekaar, selfs al het hulle baie onder Jakob se bevoorregting van Josef en later Benjamin gely?  Sal die broers bereid wees om dié keer by Benjamin te staan wat in die moeilikheid gekom het?  Of sal hulle hom in die steek laat soos hulle dit vroeër met Josef gedoen het?

Continue reading

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda