Skip to main content

Genesis 21 – Die Here het aan Sara gedink soos Hy beloof het

655804-breathtaking-space-artGenesis 21 bring die kwarteeu van konflik rondom die belofte van ‘n nageslag tot ‘n vreugdevolle einde.  Isak word vir Abraham en Sara gebore – Gen. 21:1-7.  Die vervulling bederf egter ook die verhouding met Hagar en Ismael wat tot ‘n tragiese skeiding van die weë lei – Gen. 21:8-21.  Dit alles gebeur steeds teen die agtergrond van die konflik wat Abraham regdeur sy lewe met die mense van Kanaän sou hê, hoewel hy dit hier probeer besweer met ‘n ooreenkoms met Abimelek rondom die diefstal van ‘n waterput by Berseba – Gen. 21:22-34.

Isak word vir Abram en Sara gebore – 21:1-7

Die Here het aan Sara gedink soos Hy beloof het.”  Watter wonderlike woord!  God kom sy belofte aan haar na, en begin daarmee met die vervulling van sy belofte aan Abraham dat hy ‘n groot nasie sal word, trouens dat daar talle nasies uit hom sal voortspruit.

Sara weet nie of sy moet lag vir haarself – soos ander na ander na haar sal kyk nie – of moet lag van blydskap dat die onmoontlike moontlik geword het: “Wie sou vir Abraham kon sê dat Sara seuns aan haar bors sal voed?  Ek het in sy ouderdom ‘n seun in die wêreld gebring.

God sien vir Hagar en Ismael raak en seën en beskerm hulle – 21:8-21

Die vreugde is egter van korte duur, want Isak se geboorte bring konflik tussen Sara en Hagar.  Soos Hagar vroeër vir Sara geminag het (Gen. 16:4) spotlag/terg – soos die Hebreeuse woord meṣǎ·ḥēq eerder vertaal moet word – Ismael vir Isak by die fees van sy spening, op ongeveer driejarige ouderdom (Gen. 21:9).  Sara kon dit net nie verdra nie en tree onmiddellik en skerp op.

Haar woorde is aan die een kant onverbiddelik tragies, maar aan die ander kant ook profeties: “Jaag hierdie slavin en haar seun weg.  Die seun van die slavin mag nie saam met my seun Isak erf nie.” Ek sê dit omdat dit tragies is op ‘n menslike vlak, maar profeties is in die weerklank wat dit in Paulus se teologie vind waar hy hieroor teologiseer in sy brief aan die Galasiërs.  Ek het daaroor vroeër die volgende kwyt geraak:

“Paulus gebruik (moontlik gebaseer op ’n soortgelyke allegorie van die Jode) Hagar en Sara as figuurlike simbole van twee verbonde wat teenoor mekaar staan:

  • Hagar, die slavin, staan vir die verbond van die wet; Sara, die vrygeborene, staan vir die verbond van die belofte.
  • Hagar het ’n kind gehad volgens hulle eie besluit.  Sara het ’n kind gehad volgens God se belofte.
  • Hagar staan (volgens Paulus se allegoriese verstaan) vir Sinaiberg wat ’n beeld is van die huidige Jerusalem (as geestelike sentrum); Sara, by implikasie, staan vir die hemelse Jerusalem.

Gelowiges is volgens dié beeld kinders van Sara, kinders van die belofte, kinders wat vrygeborenes is, en wat hulle nie weer onder ’n slawejuk moet begeef nie.  Anders sou hulle slawekinders van Hagar wees.”  Jy kan meer daaroor lees in my vroeëre skrywes in Galasiërs 3:1-4:20 – Dié wat glo, is kinders van Abraham en Galasiërs 4:21-5:12 – geloof wat deur dade tot liefde oorgaan.

Dit is waarskynlik dan ook hoe ons die verhaal moet lees en waarom selfs die Here vir Abraham aanmoedig om na Sara te luister.  God se verbond is met die geloofsgemeenskap wat uit Isak sou kom, en nie met die nageslag van Ismael nie, hoewel die Messias wat uit die nageslag van Israk gebore sou word, ook die Verlosser van die nageslag van Ismael, trouens van al die nasies van die wêreld sou word.

Dat die Here Hagar en Ismael nie aan hulle lot oorlaat nie is egter ook duidelik uit die verhaal.  Soos God aan Sara gedink het, hoor God die kind juis en troos hulle nie net met water nie, maar met die belofte van ‘n eie identiteit as nasie.

Dat Hagar Ismael laat trou met ‘n vrou uit Egipte gee ‘n mens die idee dat sy haar weer met haar eie mense assossieer wat die kort maar konflikterende kontak met die geloofsgemeenskap binne die verbond waarskynlik mettertyd sou uitdoof.  ‘n Mens sou dit so anders wou hê, dat Abraham ook ‘n seën vir hulle op dié stadium sou wees.  Maar die realiteit was anders.

Abraham sluit ‘n ooreenkoms met Abimelek oor ‘n waterput – 21:22-34

Ná die onverkwiklike gebeure rondom Hagar en Ismael, tref dit jou net weer hoe alles in die verhaal van Abram steeds teen die agtergrond van konflik met die mense van Kanaän gebeur.  Dit sou Abraham regdeur sy lewe beleef, hoewel hy dit hier probeer besweer met ‘n ooreenkoms met Abimelek rondom die diefstal van ‘n waterput by Berseba.

Die positiewe van die verhaal is dat Abraham steeds tot ‘n seën vir die nasies bly, al kon hy dit nie regkry met sy eie seun Ismael nie. Dit wil ook lyk asof Abimelek nie net in ontsag bly lewe het vir die Here wat aan hom in twee drome verskyn het nie, maar inderdaad selfs waar sy mense oortree in diefstal, dinge regmaak.  Waar Hagar en Ismael negatief teenoor beide Sara (Gen. 16:4 – Hagar het Sara geminag) en Isak (Gen. 21 – Ismael het Isak gespot) opgetree het, tree Abimelek met baie respek teenoor beide Abraham en sy God op.

Boodskap

Ek wil vandag meer aandag gee aan twee betekenisse wat hierdie gedeelte in terme van die Bybelse boodskap self het.  Jy kan in jou oorweging hiervan gevolgtrekkings vir jou eie lewe trek in terme van jou eie ervaring van “vreemdelingskap” en “aanbidding” van die Here wat bó alles moet wees.

1.  Abraham sou altyd ‘n vreemdeling bly in die land wat die Here aan hom belowe het, totdat sy nageslag dit onder Josua in besit sou neem. Die enigste fisiese aanspraak wat hy op die land in sy lewe sou hê, sou:

  • hierdie waterput wees,
  • die stuk grond van Efron in Makpela wat Abraham gekoop het, waarop die grot was waarin Sara uiteindelik begrawe is en wat oos van Mamre geleë was, sowel as
  • die boom wat hy self geplant het (‘n tamarisk by Berseba in die suide – Gen. 21:33), en
  • die vier altare wat hy opgerig het regdeur die land:
    • by Sigem se aanbiddingsplek by die groot waarsêerboom – Gen. 12:6;
    • tussen Bet-El en Ai waar hy verskeie kere die Naam van die Here aangeroep het – Gen. 12:8; 13:4;
    • by Mamre by Hebron, die plek wat later aan Kaleb sou behoort (Jos. 14:14), en waar Dawid sou bly met die eerste sewe jaar van sy koningskap oor Juda en hy uiteindelik gesalf is oor die hele Israel (2 Sam. 2:11; 2 Sam. 5:3) – Gen. 13:18;
    • op die berg in die landstreek Moria – Gen. 22:9.

2.  Die betekenis van dié altare waar hy die Here aangeroep het, is uiters belangrik vir die ontvouing van die geskiedenis van die volk van God. Daarmee word nie net ‘n band met die aanbiddende nageslag van Set, seun van Adam, en Set se seun Enos gesluit nie: “In daardie tyd het die mense begin om die Naam van die Here aan te roep” (Gen. 4:26).  Maar, op ‘n manier het Abraham se aanbidding van die Here op dié plekke die vervulling van God se belofte dat dié land aan Abraham se nageslag sou behoort, voorafgegaan:

  • Die slawerny in Egipte sou begin met Josef se besoek aan sy broers in die landstreek van Sigem – waar Abraham ‘n altaar gebou het – en uiteindelike ontvoering vanaf nabygeleë Dotan (Gen. 37:12-36).
  • Die Intog uit Egipte sou plaasvind vanaf Gilgal (Jos. 4:19) uit die noord-ooste naby Bet-El en Ai – waar Abraham ‘n altaar gebou het.
  • Dawid sou koning word in Hebron, suid van Jerusalem – waar Abraham ‘n altaar gebou het – en
  • die tempel van Salomo sou op die berg Moria in Jerusalem gebou word – waar Abraham ‘n altaar gebou het: “Salomo het begin bou aan die huis van die Here in Jerusalem. Dit was op Moriaberg waar die Here aan Dawid, sy pa, verskyn het, op die plek wat Dawid laat regmaak het, waar die dorsvloer van Arauna die Jebusiet was.” (2 Kron. 3:1).

TOEPASSING: Daar is dus besondere uitkomste regdeur die Bybel gekoppel aan ons omhelsing van nie net ons vreemdelingskap nie, maar ook om die Here bó alles te aanbid en vir Hom te leef.  So kom ons dit in die lewe van Abraham agter.  So sal ons dit ook in ons eie lewe agterkom.  Die gevolge van jou gehoorsaamheid ten spyte van jou vreemdelingskap sal ‘n impak hê tot in die verre toekoms.

Lees maar net Hebreërs 11:8-19 se refleksie oor Abraham om ‘n idee te kry van hoe fundamenteel die impak van ons getrouheid is.  Daarom moet ons Petrus se raad volg, wat sê:

Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net ’n mens se lewe.  Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.” (1 Pet. 2:11-12).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda