Skip to main content

Genesis 31 – Die Here stuur Jakob as ‘n ryk man weer terug na Kanaän

655804-breathtaking-space-artNa twintig jaar in die vreemde raak die verlange na sy vaderland vir Jakob te veel.  Laban se seuns het ook al hoe meer jaloers geraak op Jakob se vermoë om slegte situasies om te keer in ‘n voordeel vir homself.  Jakob het net te ryk en te sterk geword vir hulle.  Ook Laban het ongemaklik geraak met Jakob se sukses.

In dié situasie hoor Jakob die roepstem van die Here: “Gaan terug na jou vaderland, na jou familie toe.” Weereens herhaal die Here die belofte van vroeër by Bet-El: “Ek sal by jou wees.

Let op hoe effektief Jakob telkens Laban se houding teenoor hom kontrasteer met wat God vir hom gedoen het as ‘n motivering vir sy twee vroue, Ragel en Lea, dat hulle moet trek.  Laban, sê Jakob, voel nie meer soos voorheen oor my nie. Maar, die God van my vader was by my.  Laban het my bedrieg, maar God het hom nie toegelaat om my te benadeel nie.  Laban, sê Jakob, het my met die kleinvee probeer bedrieg, maar God het Laban se besittings vir my gegee.

Dit dek egter net die tafel vir die eintlike beweegrede vir sy trek terug na sy land toe.  Die Engel van God het in ‘n droom aan hom verskyn en opdrag gegee om terug te trek.  Dit is duidelik uit die inhoud van die gesprek met Jakob dat dit God self is wat met hom kommunikeer, dieselfde God wat by Bet-El aan hom verskyn het.

Dit oortuig Ragel en Lea om in te val by sy voorneme: “Doen dus gerus maar alles wat God vir jou gesê het.”  Dat Jakob hulle in dié geval gelyk hanteer, het waarskynlik ook ‘n rol gespeel in hulle gesamentlike aanvaarding van sy voorneme.

Jakob laat daarom nie gras onder sy voete groei nie en neem al sy besittings en begin die lang trek terug na Kanaän toe. Laban was juis weg om sy skape te skeer wat Jakob ‘n voorsprong gegee het.

Daar is duidelik ‘n reuseverskil tussen die lewende God wat in dié verhaal optree in kontras met die afgodsbeeldjies wat Ragel van haar pa gesteel het.  God het nie net aan Jakob verskyn nie, maar doen dieselfde met Laban om hom te waarsku om versigtig te wees met wat hy vir Jakob sê in hulle ontmoeting.  Die Here tree dinamies op in die praktyk van hulle lewe terwyl die afgodsbeeldjies so passief is dat hulle selfs gesteel kan word, trouens op gesit kan word, soos dit inderdaad gebeur toe Ragel hulle onder haar wegsteek.

Dit is ook ironies dat hulle daarmee “onrein” raak vanweë Ragel se menstruasie, selfs al het sy dit net voorgegee.  Dit is eintlik ook skreeusnaaks dat Laban se soektog vir sy afgodsbeeldjies niks oplewer nie.  Hy kan sy afgode nie opspoor nie, want hulle kan nie vir hulleself praat nie, laat staan nog enigiets effektiefs doen.  Dit terwyl die lewende God in geen onseker terme die gang van sake bepaal van alle partye wat in hierdie konfliksituasie betrokke is.

Jakob benut die geleentheid om sy frustrasie met die bedrog van Laban uit te spreek en beroep hom op God se sorg en beskerming regdeur die tyd by Laban.  Dié God, sê Jakob, is die God van sy voorvaders wat gesien het hoe hard hy gewerk het en daarom in Jakob se guns besluit het in die geskil tussen hom en Laban.

Laban besef dat hy hier sterk tweede viool speel en vra dat hulle ‘n ooreenkoms sal sluit.  ‘n Herinneringsklip word as getuienis daarvan opgerig.  Die twee name vir die plek beteken albei “getuienis”.   Jegar-Sahaduta is die Aramees en Galed Hebreeus.  Hulle eet ‘n maaltyd wat dié ooreenkoms beseël.

Laban gee die herinneringsklip ook ‘n ekstra naam, Mispa, wat beteken: “die Here hou ’n oog oor ons wanneer ons mekaar nie meer kan sien nie.”  Daarmee maak hy aanspraak op die Here as getuie van die ooreenkoms tussen hulle.  Hy verwag dat Jakob goed sal kyk na sy kinders en belowe om nie self teen Jakob op te trek in oorlog nie.

Hy roep daarmee die God van Abraham – Jakob se oupa – en die God van Nahor – sy eie oupa – as getuie en regter op in die toekomstige kontak tussen hulle nasate.  Jakob lê net ‘n eed af by die Naam van die Beskermer van Isak, sy pa.

Hiermee is ‘n belangrike ooreenkoms voor God gesluit.  In die oorloë wat wel later jare tussen dié twee nasies gewoed het, het God telkens opgetree as getuie en regter.  Lees gerus van die oorloë tussen Dawid en die Arameërs van Damaskus (2 Sam. 8), ook hulle samewerking toe hulle aan Dawid onderhorig geword het (2 Sam. 10).  Agab, die koning van Israel, sneuwel in die oorlog teen die Arameërs weens God se besluit (1 Kon. 22), terwyl Naäman, die Arameër, genade ontvang van dieselfde God deur die werk van Elisa, en van sy melaatsheid genees word.  Die getuienis van ‘n jong vyfjarige dogtertjie wat op een van die Arameërse veldtogte buitgemaak is en in sy huishouding moes werk, speel daarin ‘n belangrike rol (2 Kon. 5).

‘n Mens kan ook nie anders as om die baie belangrike bekering van ‘n jong Saulus op pad na Damaskus in herinnering te roep nie … (Hand. 9).  Soos die profeet Sagaria vroeër sou sê: “Die woord van die Here is ook in Gadrak, en Hy het ook in Damaskus sy woonplek. Die Here sien alle mense, nie net al die stamme van Israel nie.” (Sag. 9:1 vv.)

Boodskap

Die verhaal se betekenis lê op ten minste twee vlakke.

Op die eerste vlak gee die verhaal ‘n mens perspektief op die latere konflikte tussen Israel en die Arameërs, twee nasies wat vanuit dieselfde familie ontstaan en mettertyd in opposisie teen mekaar te staan gekom het.  Tera was die voorvader van beide die nageslag van Abraham, Isak en Jakob en die nageslag van Nahor, Betuel, en Laban.  Soos die twee volkere groter en groter geword het, het die onderlige konflikte geëskaleer en van tyd tot tyd tot volskaalse oorlog aanleiding gegee.

Dit is op ‘n tweede vlak ook duidelik dat albei volke die Here aanbid het.  Daar is egter ‘n reuseverskil.  Abraham se nageslag het Hom as die enigste God aanbid.  Nahor se nageslag het Hom net as ‘n God onder die gode aanbid.

Dit verklaar hoekom die getuienis van die Israeliete die toets van die tyd deurstaan het.  Uit dié geloofsgemeenskap is die Messias uiteindelik gebore wat tot ‘n seën van die wêreld sou wees. Die Arameërs se getuienis was altyd ‘n gemengde werklikheid wat die Godsbeeld in hulle geskiedenis verduister het.  Hoewel hulle die pad saam met die Godsvolk begin het, het hulle liefde vir ander gode hulle van die pad af verlei.

Daarmee kan die Here Homself nooit vereenselwig nie.  Soos die wet later sou uitspel: “Jy mag naas My geen ander gode hê nie.  Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My.” (Eks. 20:3-5).  Die wortels vir dié duidelike riglyn vir die geloofslewe lê onder andere in dié verhaal van Jakob en Laban en die God van Bet-El en die afgodsbeeldjies waarop Ragel kon sit …

Dieselfde boodskap kan daarom aan ons gerig word. Ons durf ook nie enige ander lojaliteit hê benewens God self nie.  Hy is ons Beskermer. Hy is ons Begeleier.  Hy is die een wat Bystaan.  Hy is die God van Bet-El wat Jakob eenmaal bygestaan het, en dit altyd ook vir ons sal doen.  Dit is van Hom wat ons ons seën kan verwag, soos Jakob in die volgende hoofstuk van sal getuig in sy worsteling met God self.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar