Skip to main content

Genesis 11 – God bring ‘n taalverwarring en beweeg Tera om na Kanaän te trek

4782847Genesis 11 handel oor drie onderwerpe.  In die eerste plek word die verhaal van die toring van Babel en die taalverwarring vertel – 11:1-9.  In die tweede plek word die geslagsregister van Sem waaruit Abraham gebore is aan die orde gestel met ‘n duidelike datering aan die hand van die sondvloed – 11:10-26.  In die derde plek word die familiegeskiedenis van Tera vertel, die vader van Abram en patriarg van die res van die aartsvaders wie se verhaal in die res van Genesis 12-50 vertel sal word – 11:27-32.

Dit is duidelik dat die Here sy plan om die mens te gebruik om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar nie laat vaar nie.  Hy keer met die taalverwarring dat ‘n sekulêre en godlose beskawing in Babel tot stand kom wat sy planne met die mens sou fnuik.  Agter die skerms is Hy ook besig in die lewe van Tera om die trek na Kanaän te begin.  Selfs toe Tera nie die trek voltooi nie, word God nie daardeur gestuit nie, maar gaan voort met sy roeping van Abram, die vader van die gelowiges, soos ons in Genesis 12 gaan agterkom.

Watter wonderlike getuienis van God se werk agter en deur alles wat ‘n impak het regdeur die geskiedenis.  Dit herinner my aan Richard Niebuhr se stelling dat ons altyd met dié God moet rekening hou in alles wat ons doen: “God is acting in all actions upon you.  So respond to all action upon you as to respond to his action.

Die toring van Babel en die taalverwarring – 11:1-9

Die verhaal begin met die opmerking dat die hele wêreld een taal (“een lip” soos dit letterlik daar staan) gehad het.  ‘n Mens kry nie ‘n direkte ooreenkoms hiermee in van die antieke verhale nie, howel daar tog in die Sumeriese epos, Enmerkar en die Heer van Aratta, die versugting na en droom van een wêreldtaal voorkom, hoewel die betekenis moeilik ontsyferbaar is.  Sommige beskou dié versugting as die beskrywing van ‘n vervloë goue tydperk.  Ander dink dat dit as ‘n droom vir die toekoms gesien moet word.

In hulle migrasie na die ooste het hulle in Sinar (Babilonië) in Mesopotamië gekom en daar gaan woon.  Daar is nie antieke verhale wat ooreenkom met die bou van die toring van Babel nie, alhoewel die bou van ziggoerats wydverspreid in Babilonië voorgekom het.  Die toring van Babel is waarskynlik in die vorm van dié struktuur gebou wat bestaan het uit ‘n aantal trappe of terasse wat soos ‘n piramide al hoe smaller word na bo, maar waar anders as met ‘n piramide, daar ‘n platvlak was waar bv. offers gebring is.  Dit is ook van stene gebou, presies soos dit hier beskryf is: “Kom ons maak stene en ons brand hulle hard.”  In plaas van klip het hulle dus stene gebruik, en in plaas van klei, wat meer verganklik was, asfalt.

Die feit dat hulle die toring wou bou: “waarvan die punt tot in die hemel reik” is waarskynlik ‘n aanduiding daarvan dat hulle die grens tussen mens en God wou oorsteek, waarvan die verhaal van die “hemelwesens” in Genesis 6 die teenoorgestelde grensoorskryding beskryf. Hulle wou vir hulleself ‘n naam maak onafhanklik van God self, maar daarmee het hulle hulleself in sy plek geplaas.

Dat God “afkom” om te kyk na wat hulle aanvang, gee ‘n stukkie ironiese kommentaar op die nuutste poging van die mens om sonder God ‘n beskawing te bou.  Net soos dit die geval was met Kain wat ‘n beskawing gebou het sonder God, só doen die mens dit ná die vloed weer.  Anders as met Set se nageslag wat die naam van die Here aangeroep het, maak die mens vir hulleself naam en vind hulle identiteit in hulle eie prestasies.

Dit is daarom besonder interessant om die botsing van bedoelinge in dié verhaal raak te sien.  God se bedoeling van die begin af is dat mense oor die hele aarde sal versprei.  Hy het hulle geseën om vrugbaar te wees en die aarde te bewoon, bewerk en bewaar.  Die mens se bedoeling in hierdie oergeskiedenis is om op een plek te bly, ‘n stad te bou met ‘n toring wat aan die hemel raak, om so beroemd te raak vir hulle prestasies en ‘n naam te maak vir hulleself.  Die res van die skepping kan, volgens hulle, gerus maar aan hulleself oorgelaat word.

Naas die bedreiging van die “sondeval” en “broedermoord” is hierdie dus ‘n derde bedreiging, die bedreiging wat kom deurdat die mense die aarde aan homself oorlaat.  Dit sou een van die gevolge wees van die poging om in die vlakte van Sinar ’n tuiste vir almal te vind.  Die aarde sou gevolglik nie bewoon, bewerk en bewaar kon word nie.

Die Here besluit om hulle taal te verwar om hulle te stuit in hulle poging om ‘n koninkryk sonder Hom op te rig.  Maar, daarmee het Hy nie bedoel dat Hy teen ontwikkeling of beskawing is nie.  Hy wou eerder ’n tuiskoms verseker – vir mense, plante en diere – oor die hele aarde.  Die toring van Babel het in die pad van dié doelwit van God gestaan.  Trouens, soos Wenham sê: “Genesis holds that the confusion of languages is a divine antidote to human arrogance.

In dié verband is dit merkwaardig om die droom van die profeet Sefanja – ‘n tydgenoot van Jeremia, Nahum, Obadja en moontlik Joël, wat verantwoordelik was vir die negende boek van die Twaalf Kleiner Profete – in ag te neem.  Hy droom van ‘n tyd wat die lippe van die nasies weer rein gemaak sal word, om die Here te aanbid (Sef. 3:9).

Sommige verbind dié reinheid met ‘n suiwer taal, soos dit inderdaad vertaal kan word: “For then will I turn to the people a pure language.” (KJV).  Soos Peterson ook vertaal: “In the end I will turn things around for the people.  I’ll give them a language undistorted, unpolluted, Words to address God in worship and, united, to serve me with their shoulders to the wheel.” (The Message).

Dié gedagte word ‘n werklikheid met die talewonder op Pinksterdag waar Petrus en die ander dissipels waarskynlik Noordwes Aramees (moontlik ‘n Gallilese dialek), die omgangstaal in die tyd van Jesus, praat, maar godvresende Jode, uit die vyftien nasies wat daar genoem word, die boodskap in hulle eie taal hoor soos die Heilige Gees dit moontlik gemaak het (Hand. 2).

Die nageslag van Sem – 11:10-26

Die vierde deel van die Oergeskiedenis fokus op die geslagsregister van Sem.  Dit word op die patroon van die geslagsregister van Adam gegee wat geëindig het met Noag en sy drie seuns (Gen. 5).  Dit sluit dus naatloos daarby aan, hoewel daar geen interessante brokkies nuus oor van die persone ingesluit word nie.

In tien geslagte wat ‘n tydperk van 290 jaar omspan, beweeg die oergeskiedenis van Sem, die seun van Noag, na die aartsvadertyd, Abraham, die seun van Tera.  Dit beteken dat Abram 367 jaar ná die vloed na Kanaän getrek het toe hy 75 jaar oud was (Gen. 12:4 – Arpaksad is twee jaar ná die vloed gebore).

Dit is duidelik dat Sem se geslag al hoe korter gelewe het ná die geboorte van Peleg wat verbind word met die verdeling van die aarde weens die taalverwarring.  Tog het Sem (600) , Arpaksad (438), en Selag (433) nog gelewe in die tyd toe Abram die trek na Kanaän aangedurf het.  Sestig jaar voor Tera dood is, het Abram die pad gevat agter die roeping van die Here aan.

Die nageslag van Tera – 11:27-32

Met die vyfde en laaste deel van die oergeskiedenis word die oorgang na die patriargale geskiedenis beslissend gemaak.  Tera word die vader van Abram, Nahor en Haran in Ur van die Galdeërs (waarskynlik suid-Mesopotamië naby die Persiese Golf, hoewel daar ook goeie redes vir ‘n Turkse interpretasie is).  Haran is vroeg dood, maar hy het twee dogters gehad, Milka (ouma van Rebekka) en Jiska.  Die naam van sy vrou word nie genoem nie.  Die teks maak nie iets van die feit dat Nahor met een van dié dogters van sy broer Haran getroud is nie.  Isak sal ook later met sy kleinniggie Rebekka trou uit dieselfde geslag.

Die vermelding van Sarai, Abram se vrou, se onvrugbaarheid is ‘n belangrike opmerking in die lig van die verhaal wat hierna sal volg veral in die lig van die feit dat God die nageslag van Noag en Sem geseën het en die opdrag gegee het om vrugbaar te wees en die aarde te bewoon, bewerk en bewaar.

Dit is ook interessant dat Tera sy kleinseun Lot, seun van Haran, sowel as vir Abram en sy vrou Sarai neem om te trek na Kanaän.  Onthou dat Abram reeds in Ur geroep is (Gen. 15:7; Hand. 7:2).  Dit beteken dat Tera op een of ander manier hierby ingetrek is.  Hulle het egter net tot in Haran (plek naby die Eufraat in Mesopotamië) getrek en daar het dié inisiatief gestop.  Tera het daar gesterf.  Dit laat die opening vir die nuwe geskiedenis wat God met Abram sal skryf …

Boodskap

Aldrie die groot bedreigings van Genesis 1-11 vir God se goeie skepping bestaan steeds vandag nog.

  1. Die skepping word bedreig deur die verhouding met God af te skeep (Gen. 3 en 6),
  2. deur nie in vreedsame naasbestaan met ons medemense te lewe nie (Gen. 4)
  3. sowel as om die aarde nie te bewoon, bewerk en bewaar nie (Gen. 11).

Die gevolge is ook steeds dieselfde.  Ongehoorsaamheid aan God se riglyne vir die lewe stel jou tuiste by God, jou tuiste by ander, en jou tuiste op die aarde in gevaar.

Een toepassing hiervan is om na te dink oor waar die wortels van die onrus in ons land en op ander plekke in die wêreld lê.  Dink maar net na wat vandag in die breër Midde-Ooste gebied gebeur – Sirië, Turkye, Iran, Palestina-Israel en die vlugtelinge krisis in Europa.  Trouens, dié deel van die wêreld het eintlik regdeur die geskiedenis sulke onrus beleef.

Die rede daarvoor lê ook telkens in die feit dat mense nalaat om in liefde teenoor God, hulle naaste en hulle omgewing te lewe.  Die gevolge van dié wanbalans lê in die ervaring van mense dat hulle hul verbintenis met die land en die samelewing verloor, en dan praat ons nie eers van die effek op plante en diere of die Godsbewussyn nie.

Dit vorm na my mening die kern van die diskoers wat tans die voorblaaie van ons media haal, selfs in die onlangse onrusbarende gebeure onder studente rondom #Feesmustfall.   Daar is ‘n diepgewortelde dissonansie, ‘n gevoel van nie-behoort, ‘n ervaring by die studente dat daar nie ‘n toekoms vir hulle is nie, dat hulle nie ‘n tuiste in hierdie land het nie.

Ons word daarom geroep om ‘n verskil te maak.  Nie om aan alle eise gehoor te gee nie.  Verseker nie.  Maar om die boodskap van Genesis 1-11 prakties te maak, om mee te werk aan die klem wat God plaas op die ruimte wat nodig is om te bewoon, bewerk en bewaar.  En dit vir alle mense.

Dié boodskap kom ooreen met die NT boodskap, hoewel dit daar ook duidelik is dat God op pad is met die heelal na ’n finale herskepping.  God gaan die hele wêreld laat herleef en nuut maak.  Dit sluit alles in: mens, dier, plant, en aarde (Matt. 19:28).  Dit is ook die droom van Johannes (Openb. 21:1-8).

En dit is een van die take waarby die Gees ons intrek (Rom. 8:18-30).  Soos die skepping sug om van die verganklikheid verlos te word, en dit sluit die hele ekologie in – die habitat van die mens, dier en plant – so sug die kinders van God, bygestaan deur die sug van die Gees, om volledige verlossing.

En dit is waaraan ons ons lewe wy, aan God, ons medemense en die omgewing.

Plekname in die Bybel

Indien jy belangstel in die plekname van die Bybel, en spesifiek hoe ‘n mens dit met plekname van vandag kan verbind, kan jy OpenBible gebruik.  Enige naam wat in ’n Bybelboek genoem word, is beskikbaar by Openbible.  Kry daar die name van die Bybelse plekke en tik dit so akkuraat as moontlik by Google Earth in. Dan kan jy uit satellietfoto’s sien hoe die presiese plek vandag lyk. Jy moet natuurlik ook Google Earth op jou rekenaar installeer!

(Met erkenning aan Bybel-Media vir dié wenk)

View all posts in this series

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar