Skip to main content

Genesis 24 – God gee vir Isak ‘n gasvrye vrou wat hom vertroos na die dood van Sara

655804-breathtaking-space-artDit is ‘n heerlike vrou-soek verhaal, want Abraham besluit ná Sara se dood dat die tyd gekom het om vir Isak ‘n maat, ‘n metgesel, te soek.  Die skrywer herinner ons aan die seën wat hy ervaar het in sy verhouding met die Here.  Hy wou nou van dié seën vir sy seun aangee.

Maar dit is ook duidelik ‘n verhaal van God wat in dit alles die leiding neem en ‘n vrou vir Isak gee wat by hom kan pas sodat hy die rol kan speel wat God in die heilsgeskiedenis vir hom beplan het.  Soos Abraham die gasvrye een gewees het in die vorige geslag sou Rebekka dit nou wees in die volgende geslag.   Haar gasvryheid sou verseker ook haar skoonpa se goedkeuring weggedra het!  Haar naam rym ook met die Hebreeuse woord vir seën, bē·rǎḵ, wat in die eerste vers van Abraham gebruik word.

Abraham is al baie oud, waarskynlik 139.  Isak was reeds ouer as ses en dertig jaar (sy ouderdom toe sy ma dood is), en het nog getreur oor sy ma se dood, soos ons aan die einde van die hoofstuk lees.  Dit moes dus min of meer in sy nege en dertigste jaar gebeur het, want op veertig was hy met Rebekka getroud (Gen. 25:20).

Die slaaf se naam word nie genoem nie, anders as wat die geval was met Eliëser, die slaaf wie se naam in hoofstuk 15 genoem word.  Hierdie slaaf het ‘n belangrike posisie in Abram se huishouding beklee en was in beheer van al sy besittings.

Die slaaf word aangesê om sy hand onder Abraham se heup (bobeen) te sit wat ‘n eufemisme is vir die opdrag dat die slaaf aan Abraham se geslagsdele moes vat.  ‘n Eed is baie keer in die Ou Nabye Ooste gesweer met ‘n heilige objek in die hand.  Hierdie aksie het dus ‘n diep godsdienstige betekenis gegee aan die eed wat die slaaf moes sweer.  Hy sweer by die vrugbaarheid van Abraham en in die bewussyn van die belofte van ‘n nageslag dat die Here se seën verder sal gaan as net die een seun Isak in die koms van die volgende geslag.

Ons sien hier die eerste getuienis van ‘n “gereelde huwelik”, waar die pa vir sy seun ‘n vrou soek, soos wat Hagar natuurlik dieselfde gedoen het vir Ismael.  Binne die sterk patriargale, en in Hagar se geval matriargale konteks, waarin ouers ‘n outoritêre rol in hulle kinders se lewens gespeel het, was dit een van die verantwoordelikhede van ouers.  Soms het kinders self inisiatief geneem, soos ons in die verhaal van Jakob sien, maar selfs in daardie geval het Rebekka se broer Laban eintlik namens haar opgetree, maar uiteindelik Jakob se keuse van Ragel aangevul met haar suster Lea, wat weereens die problematiek van poligamie in die aartsvaderlyn in gedra het.

Abraham is ook baie duidelik daaroor dat hierdie vrou van sy eie mense af moet kom, en nie van die mense van Kanaän nie.  Die enigste vrou wat sou deug vir die seun van die belofte is iemand wat nie gekontamineer is met die kultuur en gebruike van Kanaän nie, om die versoekings te vermy wat die blootstelling daarin in die huishouding sou bring.

Die wet sou later uitvoerig uitbrei oor die verkeerde seksuele praktyke wat sou voorkom as: “Julle … julle seuns met hulle (Kanaänitiese) dogters laat trou, en wanneer hulle dogters onsedelikheid bedryf in die verering van hulle gode, sal hulle julle seuns tot dieselfde soort onsedelikheid verlei.” (Eks. 34:16).  Daarom is dit ten sterkste verbied (Deut. 7:3) en die gevare van die Moabitiese orgie in Siddim wat tot Baäl-Peor aanbidding aanleiding gegee het, aan die nageslagte oorvertel (Num. 25).

Let op dat hierdie gereelde huwelik steeds die vrou se instemming benodig.  Indien Rebekka sou weier om saam terug te kom sou die huwelik van die baan wees.  Sy het die finale sê gehad.

Abraham se instruksies is egter ook spesifiek dat Isak die seun van die beloofde land moet bly en onder geen omstandighede toegelaat moet word om Kanaän te verlaat nie.  Die slaaf van Abraham het dus meer magte gehad as wat ‘n mens sou verwag van ‘n slaaf.  Hy kon waarskynlik Isak verbied om die land te verlaat in uitvoering van die opdrag van Abraham.

Let op dat Abraham nie maar net bid dat God se engel met die slaaf sal gaan nie, maar inderdaad verklaar dat dit sal gebeur, iets waarop die slaaf dan staatmaak in sy eie gebed dat die Here hom sal lei deur die gebeure by die waterput waar hy Rebekka aantref.  Abraham het ‘n baie noue verhouding met God regdeur sy lewe geniet, soos die slaaf later aan die familie getuig: hy “leef naby die Here”.

Let op dat die slaaf staat maak op God se voorsienigheid in terme van sy betrokkenheid by die normale verloop van sake.  Hy vra dat die Here in die normale verloop van die waterdrink proses by die put die vrou wat God uitkies, sal aanwys.  Dit is hoe bo-natuurlike ingrype baie keer werk, in die normale gang van die lewe!  Iets waarop ons ook daagliks kan staatmaak.

Dit is verder insiggewend dat die slaaf ‘n baie spesifieke versoek rig dat die Here hom na ‘n vrou sal lei wat nie bang is om gasvry te wees teenoor vreemdelinge nie.  Hy het dus ‘n idee van watter tipe vrou geskik sal wees vir Isak.  Dit is inderdaad dan hierdie tipe vrou, ‘n uitgaande gasvry persoon, wat die Here uitwys as die gepaste gesellin vir Isak, wat ‘n mens in die verloop van sy eie verhaal in die volgende paar hoofstukke sal agterkom ‘n diep introvert en maklik beïnvloedbare mens was.  Rebekka was nommerpas vir hom.

Die skrywer is helder daaroor dat Rebekka ‘n maagd was, sodat daar geen suspisie oor haar morele karakter sou wees wat die nageslag wat uit haar gebore sou word in enige diskrediet sou kon bring nie.  Dit is dus duidelik hoe hoog die skrywer die heiligheid van die huwelik waardeer, selfs voordat die wet in meer eksplisiete detail riglyne daarvoor neergelê het.  Seks het in die huwelik gehoort en klaar.

Rebekka is daarby direk familie van Abraham, die dogter van Betuel, die seun van sy broer Nahor en sy vrou Milka wat weer ‘n dogter was van Abraham se ander broer, Haran.  Rebekka is daarom ‘n bloedniggie van Isak.  Sy noem interessant genoeg nie die naam van haar ma nie, maar wel dié van haar ouma Milka wat ná haar pa Haran se dood waarskynlik deur haar oom Nahor van weeskind-status gered is deur met haar te trou (soos Abraham Haran se seun Lot weer saam met hom laat trek het).  Dit beteken dat Rebekka eintlik van beide Abraham se twee broers afstam – van Haran via Milka en van Nahor via Beteul.  Verstommend!

Die weë van die Here is voorwaar wonderbaar, soos die slaaf in sy gebed verklaar.  Die slaaf oorlaai Rebekka met geskenke en dank die Here op roerende wyse dat Hy die regte een gekies het vir Abraham se seun Isak, toe Rebekka presies optree soos die slaaf gebid het.

Laban verskyn op die toneel wat nog ‘n paar keer in die verdere verloop van die verhaal van Isak en Jakob ‘n rol sal speel en word die brugbouer na die uiteindelike ooreenkoms wat tussen die twee families gesluit word.  Dit is egter duidelik dat hy deur gierigheid gedryf word, anders as sy suster se gasvryheid.  “Toe hy die neusring sien en die armbande aan sy suster se arms … het hy na die man gehardloop …” Die verwysing na wat die man alles vir haar gesê het, word tweede genoem in die beskrywing wat dié indruk by ‘n mens laat.  En soos ‘n mens in die verhaal van Jakob later sal sien, is dit presies hoe Laban uiteindelik geteken word.

Let ook op hoe die slaaf die voorsienigheid van God in sy versoek in gebed en die uitkoms in die gebeure by die waterput gebruik om die familie van die Goddelike oorsprong van die huweliksaanbod te oortuig.  Hy brei ook duidelik uit oor sy eienaar se oorvloed, wat veral vir Laban van waarde sou wees.  Hulle aanvaar egter die slaaf se woorde as die woord van die Here en ook Rebekka laat haar die aanbod van ‘n huwelik met Isak geval.

Die slaaf is slim om die aanbod om langer te vertoef van die hand te wys en vat die pad met ‘n paar vroue om haar by te staan, haar grootmaak-“ma”, Debora (Gen. 35:8), en ‘n paar slavinne.  Dit sou haar ‘n stukkie bekendheid gee in ‘n vreemde omgewing.

‘n Seënwens vergesel haar wat iets van die toekomstige hoop vir ‘n nageslag en ‘n tuiste in die land Kanaän uitspreek: “Ons suster, mag jou nageslag tienduisende word, mag hulle die stede van hulle vyande verower!”  Onthou dat dié familie saam met hulle pa Tera op pad was Kanaän toe, maar vasgehaak het in Haran in Mesopotamië.  Hulle het dus steeds iets van die oorspronklike droom verstaan, hoewel hulle nie dit enduit gevolg het nie.

Dit is duidelik dat Isak al selfstandig gewoon het, interessant genoeg by Lagai-Roï, die plek waar Hagar aanvanklik die ontmoeting gehad het met God in die woestyn toe Sarai haar die eerste keer met haar ongebore kind weggejaag het.

Dat daar kontak was tussen Isak en Ismael is duidelik, nie net uit dié mededeling nie, maar ook uit hulle gesamentlike afskeidneem van hulle pa, Abraham, soos ‘n mens in die volgende hoofstuk lees.

Die ontmoeting met Rebekka word met ‘n stukkie ingetoënheid vertel dat Isak in sy verlies van sy ma Sara getroos word deur die vreugde van Rebekka, soos blyk daaruit dat hy haar laat woon in die tent wat aan sy ma behoort het.  Daarmee het sy Sara se posisie in die uitgebreide familie ingeneem.

Die slaaf noem Isak ook sy eienaar waaruit dit wil voorkom dat Abraham se gesag na Isak oorgegaan het, hoewel daar ook geleerdes is wat dink dat dit dui op die feit dat Abraham moontlik al dood was.  Genesis 25 vermeld egter sy ouderdom as 175 met sy dood, wat dit onwaarskynlik maak.

Die skrywer sluit af deur te sê: “Sy was sy vrou en hy het haar liefgehad.” Die eerste huwelik waarvan ons in die Bybel lees waarin dit pertinent genoem word.

View all posts in this series

Genesis


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar