Skip to main content

Genesis 26 – Isak beweeg van rusies na die ruimte wat die Here hom gee

655804-breathtaking-space-artDit is duidelik uit hierdie verhaal dat dieselfde tipe uitdagings vir Isak tref as vir Abraham.  Hongersnood tref ook vir Isak.  Hy word ook versoek om sy eie bas te red deur voor te gee Rebekka is sy suster, soos Abraham dit met Sara ervaar het. Hy ervaar ook die uitdaging wat voorspoed bring, soos dit die geval was met Abraham met Lot.  Hy ervaar ook konflik rondom sy kinders, hoewel die situasie effens anders is.  Met Abraham was dit Sara teen Hagar.  Met Isak is dit Esau teen Jakob met Rebekka aan Jakob se kant.

Life is difficult!

Dit is egter ook duidelik dat die Here op ‘n heel ander manier met Isak werk as met Abraham.  Isak het immers ‘n heeltemal ander tipe persoonlikheid as Abraham.  Maar God vorm ook vir Isak in die proses sodat hy van “rusies” beweeg na die “ruimte” wat die Here vir hom verskaf.  Isak raak só self een van die geloofshelde van die OT, al is dit ‘n enkele vers in die Hebreërbrief (11:20).

Die uitdaging van hongersnood

Die Here gee ‘n ander opdrag in hongersnood aan Isak toe hy aanvanklik die uitdaging van hongersnood hanteer soos sy pa dit die tweede keer gedoen het deur te trek na Gerar, na koning Abimelek van die Filistyne toe.  Hierdie Filistyne moet waarskynlik eerder met die mense van Kaftor geassossieer word (Deut. 2:23).  Die Filistyne wat van die Rigtertyd af in die Bybel beskrywe word, het aan die westekant by die Meditereense kus in die vyf stede Gad, Gasa, Askelon, Asdod, en Ekron gebly.  Hulle het histories gesproke eers ‘n hele paar eeue hierna op die toneel verskyn.

Die Here het egter, anders as met Abraham, aan Isak verskyn en ‘n duidelike opdrag gegee om nie soos sy pa voor hom na Egipte te trek nie: “Bly waar Ek jou sê: in hierdie land.”  Die Here koppel aan dié opdrag ‘n belofte van sy teenwoordigheid sowel as voorspoed in terme van die land, ‘n getalryke nageslag en dat hy tot ‘n seën vir die nasies sal wees.

Interessant genoeg koppel die Here die voortgang van sy belofte aan die gehoorsaamheid van Abraham wat God se gebooie, sy voorskrifte en sy wette nagekom het.  Abraham se gehoorsaamheid beteken dat die belofte vir Isak aangegee kan word.  Maar, God verwag nou van Isak dieselfde gehoorsaamheid, al vra hy van Isak ander dinge as van Abraham.

Die uitdaging van Isak se mooi vrou Rebekka

Isak gehoorsaam die Here en bly op die suidgrens van die beloofde land, in Gerar.  Isak val egter ook soos Abraham vir die versoeking om Rebekka as sy suster voor te stel, eerder as sy vrou, omdat hy bang was haar skoonheid kos hom sy lewe.  Ai tog!

Hierdie keer kom hy ‘n tyd lank weg met die leuen totdat Abimelek op ’n keer deur die venster sien “hoe Isak sy vrou Rebekka liefkoos.”  “Liefkoos” is ‘n vertaling van die Hebreeuse woord “speel” wat ‘n eufemisme is vir hulle “liefdespel”.  Abimelek sal vergewe word as hy gedink het hy ly aan deja vu toe hy agterkom dat Isak presies dieselfde aan sy mense doen as wat Abraham aan hom gedoen het.  Sy verbasing blyk duidelik uit sy uitroep: “Wat het jy ons aangedoen!”  Hy verswyg egter sy “afloerdery”!

Die verhaal loop wel aanvanklik goed af deurdat Abimelek sy beskerming aan beide Isak en Rebekka gee, maar dit het nie op die lange duur gehou nie.  Isak het mettertyd te ryk begin word weens die seën van die Here.

Die uitdagings wat voorspoed bring

Die Here seën Isak se gesaaides honderdvoudig sodat hy ’n ryk man word.  ‘n Mens dink onwillekeurig aan Jesus se gelykenis van die Saaier waar die goeie grond se beste opbrengs honderdvoudig was (Matt. 13)!  Die afguns van die Filistyne lei egter daartoe dat Isak se putte toegegooi word, en Abimelek vra dat hy eerder weg trek van hulle af, omdat hy: “te sterk geword” het.

Let op hoe Isak probeer om in vrede te lewe met die mense rondom hom, maar dat die seën van die Here hom telkens in konflik bring met hulle.  Twee keer word dié konflik rondom die waterputte beskryf met beskrywende woorde: “Rusie” en “Klagte”, totdat hy ‘n plek gekry het waar hy die waterput: “Ruimte” kon noem, “want … nou het die Here vir ons ruimte gemaak en in dié land sal ons voorspoedig wees.

Die Here verskyn daarom aan hom by Berseba met ‘n wonderlike herinnering aan die feit dat Hy die God van sy pa Abraham is en ook by hom sal wees.  Dit bevestig die vorige belofte wat hy met sy trek na Gerar ontvang het.  Isak bou daarom ‘n altaar daar wat uiteindelik ook lei tot ‘n ooreenkoms met Abimelek, al kon Isak hom nie bedwing om darem ‘n stekie in te kry vir hulle vorige onvriendelikheid nie!  Hulle kon egter die waarde van God se seën in Isak se lewe nie langer ontken nie en wou nie in stryd met hom lewe nie: “Dit is so: jy word deur die Here geseën.

Die uitdaging wat kinders bring

Die hoofstuk sluit af met ‘n kort opmerking oor die uitdaging wat Esau se keuse van lewensmaats vir hulle bring.  Esau minag sy pa se geskiedenis, sowel as dié van sy oupa, wat binne familie-verband getrou het, en trou met plaaslike vrouens, nogal sommer met twee op een slag.  Die kort, maar gelaaide opmerking, laat ‘n mens besef dat nog meer konflik aan die kom is: “Hulle het baie kommer in Isak en Rebekka se lewe gebring.” Daarmee word nie na Esau verwys nie, maar spesifiek na die twee skoondogters.  In die Hebreeus staan dit dat hulle: “bitternis in gees” vir Isak en Rebekka gebring het.  Spreuke 14:10 gebruik ‘n soortgelyke frase: “bitternis in siel” om dieselfde aanvegting te beskryf: “Net ’n mens self ken die bitterheid van sy eie gemoed.”  Ja, die lewe is nie maklik nie.

Boodskap

Dit is so heerlik om deur hierdie verhaal te lees en agter te kom hoe dinamies die verhouding tussen God en sy mense ontwikkel.  Daar is ander uitdagings vir Isak en Rebekka en die Here se pad met hulle is anders as wat dit was met Abraham en Sara.  Abraham het ook die uitdaging van hongersnood gehad soos Isak, maar die Here gee hierdie keer ‘n direkte opdrag aan Isak om nie al die pad na Egipte te gaan nie. Abraham is nie op dieselfde wyse gelei nie.

Uiteraard speel die verskillende geaardhede van die aartsvaders ook ‘n rol in die wyse waarop die Here by hulle wel en wee aansluit.  Abraham soek self vir oplossings vir die uitdaging van kinderloosheid terwyl Isak die Here in gebed vertrou vir ‘n uitkoms.  Die Here gebruik dit in die uitkomste wat hy vir hulle albei gee.  Ironies genoeg wag Abraham langer as Isak vir die Here se uitkoms, maar waarin albei wel kry wat God belowe het. Die ekstrovert hantering van uitdagings – by wyse van spreke – is nie beter as dié van ‘n introvert se hantering nie, sou ek daaruit wou aflei.

Sommige uitdagings is wel dieselfde, ten minste in die impak wat dit op hulle onderlinge verhoudinge het, al verskil dit in die detail van die gebeure.  Abraham moet die konflik in sy huis tussen twee sterk vroue hanteer sowel as die uitdaging wat die sewe seuns waarvan hy die pa is uiteindelik in terme van grondgebied vir hom gee.  Hy kry dit reg, maar nie sonder dat dit baie spanning en hartseer veroorsaak nie.

Isak moet die konflik tussen sy twee sterk seuns hanteer sowel as die uiteindelike pogings van sy vrou om hom na haar wil en wens te manupileer.  Hy kry dit reg om ‘n reguit pad tussen die uitdagings te loop, maar ook nie sonder dat dit baie spanning en hartseer veroorsaak nie.  Veral nie in die bitterheid wat Esau se twee vroue vir hom en Rebekka bring nie.  Die lewe is regtig nie maklik nie!

Soos ek ‘n paar keer al gesê het, dié verhale is daarom ‘n illustrasie van hoe die Godsverhouding werk.  Jy word daardeur uitgenooi om met die besondere uitdagings wat jy in jou lewe ervaar na die Here te gaan.  En jy kan dit doen op die manier wat vir jou werk, bv. om self na oplossings te soek in vertroue op die Here, óf die Here vertrou om te antwoord op gebed.  Die Here sal jou menswees en manier van werk eer en intrek in die wyse waarop Hy jou begelei.

View all posts in this series

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar