Skip to main content

Genesis 27:46-28:22 – Die Godsverhouding en die beskerming van die huwelik bevestig die geloofsgemeenskap

655804-breathtaking-space-artDie bedrog van die vorige episode in die lewe van die aartsvaders Isak en Jakob het die voortbestaan van die geloofsgemeenskap in die gedrang gebring.  Nie net het almal seergekry in die groot konflik rondom die seën van Isak nie.  Die gebrek aan ‘n onberispelike wandel vóór God het hulle bedenklike moraliteit en spiritualiteit aan die kaak gestel.

Die dieper vraag na hoe dit die heilsgeskiedenis gaan raak, het nou krities belangrik geword.  Het Rebekka en Jakob se bedrog God se belofte aan Abraham en Isak in gedrang gebring?  Sal God die pad met Jakob verder stap al is hy iemand wat met uitbuiting (Esau) en bedrog (Isak) die seën verkry het?  Trouens, kan ‘n seën wat só bekom is enigsins van krag bly?

Die antwoord hierop word in drie episodes gegee.

Rebekka neem inisiatief om vir Jakob ‘n vrou uit haar eie familie te verkry

Die eerste antwoord lê in Rebekka se inisiatief om Isak te vra om Jakob na haar broer Laban te stuur sodat hy vir hom daar ‘n vrou uit hulle familie kan gaan soek, soos Abraham dit indertyd vir Isak gedoen het.  Daarmee voorkom hulle die gevaar van die onsedelike en godsdienstige verleiding van vroue uit die Kanaänitiese omgewing.

Die beweegrede daarvoor lê nie net in die gevaar wat Esau vir Jakob ingehou het weens Jakob se bedrog nie.  Sy besef ook dat as Jakob met Hetitiese vroue vanuit die omgewing sou trou, haar eie leed sou vererger: “Ek is nou siek en sat van hierdie Hetitiese vrouens van Esau.

Isak se opdrag aan Jakob neem dié inisiatief van Rebekka in ag, maar plaas dit in ‘n meer godsdienstige perspektief waarin hy die belofte aan Abraham weereens aan Jakob toevertrou, met selfs meer detail as in die vorige hoofstuk.  Dit sluit vrugbaarheid en die land van Kanaän in.

Dit is duidelik dat ten minste ‘n deel van die antwoord vir die voortbestaan van die geloofsgemeenskap in die beskerming van die huwelik sowel as die omarming van die belofte van God lê.  Die vreemde invloed van Kanaän moet ten alle koste vermy word.  Die toekoms lê in gedeelde familiewaardes en die vasgryp en gehoorsaamheid aan die verbond wat God met hulle gesluit het.  Daarvan is Isak en Rebekka oortuig, soos Abraham voor hulle.

Esau probeer tevergeefs sy pa tevrede stel deur ‘n vrou uit Ismael se familie te neem

Die tweede antwoord lê in Esau se poging om sy pa tevrede te stel deur ‘n derde vrou te neem wat nie Kanaänities is nie, maar deel van Ismael, Isak se broer, se nageslag.  Hulle is immers deel van sy nader familie.  Ismael se vrouens was egter van Egiptiese oorsprong wat nie die probleem van ‘n ander kulturele en godsdienstige impak in sy huis sou voorkom nie.  Hy word daarmee ook die eerste opgetekende persoon in die Bybel wat drie vroue gelyktydig gehad het.  Hy tree dus met minagting op nie net vir die regte familiewaardes in die huwelik nie, maar ook in terme van die godsdienstige invloed wat sy vrouens op sy kinders sou hê.

Esau se planne was dus ondeurdag en vererger eintlik die impak op sy huis en sy nageslag.  Dit is duidelik dat die antwoord vir die voortbestaan van die geloofsgemeenskap in ‘n verhouding met God lê wat onder andere in die deurdagte keuse vir ‘n vrou met dieselfde kulterele en godsdienstige waardes insluit.  ‘n Noue Godsverhouding en die beskerming van die huwelik is die boustene van die voortbestaan van die geloofsgemeenskap.  Esau se keuses lei na ‘n vermenging van waardes met dié van die volkere wat téén God se pad met sy volk gekies het.

God maak Jakob deel van die verbond en seën hom uit eie keuse

Die derde is God se ingrype in die lewe van Jakob waar Hy die inisiatief neem en die verhaal beslissend op die regte baan plaas.  Daarmee wys die skrywer dat God die enigste hoop is dat die geloofsgemeenskap aan sy doel om ‘n seën vir die nasies te wees, kan beantwoord, al trek Hy natuurlik ook die planne wat Rebekka gemaak het in sy groter plan met Jakob in.

Jakob sien in ‘n droom ’n leer wat op die aarde staan waarvan die punt aan die hemel raak, en die engele van God wat op en af klim met die leer.  Soos die geval was met Abraham, kom staan die Here by Jakob om aan hom die belofte aan sy oupa en pa te herhaal.  Dit sluit die grondgebied in sowel as ‘n groot nageslag waarin die seën vir die nasies ook lê. Maar die belangrikste is dat die Here belowe dat Hy by Jakob is en hom sal beskerm waar hy ook al gaan, selfs al is dit nou buite die beloofde land.  Die Here belowe ook om hom na hierdie land toe terug te bring. Hy sal Jakob nie in die steek laat nie en doen wat Hy hom beloof het.

Ons sien hier dus die uitverkiesende genade van God in werking.  Jakob het tot op dié stadium die voordele van die verbond met sy pa Isak geniet, maar eintlik volledig op sy eie, soms regtig duistere, planne staatgemaak.  Die Here breek dus in sy onafhanklike eiesinnige bestaan deur en kies om die pad met Jakob te loop, sonder dat Jakob dit op enige manier verdien.  God se roeping en verkiesing berus volledig op sy eie soewereine besluit.

Geen wonder dat Jakob in ontsag vir dié God wakker word en die plek Bet-El noem nie, “huis van God”, ‘n poort of kontakpunt na die hemel.  Soos sy oupa en pa voor hom verklaar hy dié plek as ‘n heilige plek met die gesalfde klippilaar wat hy daar neersit en belowe dat hy ‘n tempel daar sal oprig en van alles wat die Here vir hom gee ‘n tiende terug te gee.  Met die belofte van ‘n tiende haak hy nie net aan by die voorbeeld van sy oupa Abraham teenoor Melgisedek nie (Gen. 14), maar gee self ‘n voorbeeld wat ‘n belangrike geestelike riglyn geword het vir nie net sy nageslag nie, maar ook vir die Christelike gemeenskap van die NT en daarna.

Hierna sou God Homself as die God van Bet-El aan Jakob bekendstel in van hulle volgende ontmoetings (Gen. 31:13; 35:1) en Jakob ook aanmoedig om sy belofte na te kom om ‘n altaar – later ‘n tempel – vir die Here daar te bou (Gen. 35:1).  Hy sou ook ‘n tyd lank daar bly in opdrag van die Here.

Boodskap

Dit is ‘n ryk en betekenisvolle gedeelte.  Dit wys hoe God deur menslike planne sy eie plan ten uitvoer bring – Rebekka en Isak se keuse van ‘n vrou vir Jakob uit hulle eie familie.  Dit wys hoe ‘n halfhartige poging tot gehoorsaamheid ‘n mens nie regtig baat nie – Esau se keuse vir ‘n derde vrou uit Ismael se nageslag. Dit wys ook hoe God se soewereine roeping die enigste wyse is waarop sy beloftes in vervulling gaan – Jakob se ervaring by Bet-El.

Dit is ook duidelik dat die Here hier met ‘n beslissende proses begin om Jakob te skuif van ‘n passiewe gelowige wat die voordeel van sy ouers se geloof geniet, na ‘n aktiewe gelowige waarin hy self aan die Here in gehoorsaamheid vasgryp.  Dié proses sou eers met die terugkoms na Kanaän voltooi word by die Jabbokrivier waar Jakob weer die engele teëkom en in ‘n worsteling die nag God van aangesig tot aangesig sien (Gen. 32:30).

Die belofte dat God by Jakob sal wees, is daarby ‘n belofte wat nie net telkens aan geloofshelde in die OT herhaal is nie – Moses (Eks. 3:12), Josua (Jos. 1:5), Gideon (Rigt. 6:16) – maar in die Here Jesus Christus ‘n persoonlike realiteit vir elke kind van God geword het.  Jesus kry ook die naam: “Immanuel”, dit is: “God met ons” (Matt. 1:23; vgl. Jes. 7:14).  Die wonder van ons verkiesing in Christus is dat hierdie belofte ook vir ons waar geword het.

Die Hebreërskrywer pas dié belofte toe op elke gelowige, interessant genoeg ook in die konteks van die huwelik, presies soos dit hier in Genesis 27 aan die orde kom.  “Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.” (Hebr. 13:4).  Daaraan word die vermaning gekoppel dat gelowiges hulle lewe vry van geldgierigheid moet hou en tevrede moet wees met wat hulle het.  Die motivering?  “God self het gesê: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.’  Daarom kan ons met vertroue sê: ‘Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ’n mens aan my doen?” (Hebr. 13:5-6 – laasgenoemde sin is aangehaal uit Ps. 118:6).

Daar is nog meer wat ‘n mens kan sê oor die realiteit van hierdie visie op die engele.  Psalm 91 praat van die beskerming van engele wat moontlik op hierdie visie van Jakob geskoei is, hoewel die Here Jesus in die versoeking van die duiwel om dié belofte van God te misbruik, teenstaan (Matt. 4:6). Dit vorm egter wel deel van die groter visie van God se belofte van sy teenwoordigheid, soos Jesus wel ervaar ná die versoeking: “daar het engele gekom en Hom versorg.” (Matt. 4:11).  Maar daaroor ‘n ander dag!

View all posts in this series

Genesis


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar