Skip to main content

Oor die woord van Sarai

Ons lees in die verhaal van Abraham en Sarai in Egipte dat die Here Sarai beskerm van die belangstelling van die farao: “Maar die Here het die farao en sy huis met swaar plae getref oor Sarai die vrou van Abram.” (Gen 12:17). So vertaal die meeste vertalings dit.

Maar dit is nie al manier om dit te verstaan nie. In die Hebreeus staan daar dat die Here farao en sy huis met swaar plae getref het: “oor die woord (al-dabar) van Sarai“, die vrou van Abram.

Nou, die Hebreeuse dabar kan as “saak” vertaal word, soos dit gewoonlik in die tradisionale vertalings van die frase gedoen word. Dit wil sê, die Here tree dan op: “oor die saak van Sarai“. Sommige vertaal die frase dan ook net “oor Sarai” om dit eenvoudiger te stel.

Maar, die normale betekenis van die Hebreeuse dabar is eintlik “woord“. Indien dié vertaling gekies word, verander dit nogal die betekenis van wat hier gebeur! Dan gaan dit oor iets wat Sarai gedoen het, ‘n woord van haar, óf in gebed voor die Here óf in opdrag van Hom aan die farao.

As dié vertaling van dabar gekies word, was Sarai nie ‘n passiewe deelnemer in die vergryp van farao nie. Trouens, die enigste passiewe een was dan Abram wat niks gedoen het aan die dreigende situasie wat die belofte van die Here vir ‘n nageslag uit Sarai in die gevaar sou stel.

Die optrede van die Here kan dus taalkundig verbind word aan óf Sarai se woord (gebed) aan die Here oor haar situasie, óf Sarai se woord (profesie) van die Here af aan farao wat hulle met plae getref het.

Laasgenoemde interpretasie is veral aantreklik vir my in die lig van die feit dat dieselfde frase gebruik word deur Moses waar dit duidelik met die plaag van paddas geassosieer word. Hy bid daar (letterlik vertaal): “En Moses het uitgeroep na die Here oor die woord (al-dabar) van die paddas wat Hy oor farao gebring het.” (Eks 8:12).

Hierdie interpretasie word uiteraard nie deur ander gegewens gesteun nie wat ‘n mens versigtig moet maak om te veel daarin te lees. Maar, as dit ‘n geldige interpretasie is, beteken dit ten minste die volgende:

  1. Sarai was nie ‘n passiewe deelnemer in die aartsvaderverhale nie. Soos ons immers later sien in die ontvouing van die vervulling van die Here se beloftes ook aan haar.
  2. Sarai was ‘n verskuilde voorloper van die verlossing wat God deur Moses vir die volk deur plae uit Egipte sou verskaf eeue later.

Sou graag wou hoor hoe julle daaroor dink!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar