Skip to main content

Genesis 4 – Kain oorweldig vir Abel en maak hom dood

4782847Genesis 4 word in drie dele opgedeel telkens ingelei deur die seksuele gemeenskap wat eers: “die mens” (4:1), dan Kain (4:17), en laastens Adam (4:25) – hierdie keer met sy eienaam genoem – met hulle onderskeie vroue gehad het.  Daarmee word die vervulling van die belofte van vrugbaarheid van Genesis 1 en die instelling van die huweliksverbintenis in Genesis 2 aan die orde gestel.

Kain en Abel – 4:1-16

Dié verhaal is uiters vernuftig opgedeel wat die fokus laat val op die: “battle of the siblings” waarvan vers 8 ons vertel:

  • Die vertelling van die geboorte en verhouding met Jahwe van Kain en Abel – vers 1-5
    • Die gesprek tussen Jahwe en Kain oor die mag van die sonde – vers 6-7
      • Die geveg tussen Kain en Abel waar hulle alleen is – vers 8
    • Die gesprek tussen Jahwe en Kain oor die gevolge van die sonde – vers 9-15a
  • Die vertelling van Jahwe se beskerming van Kain en sy “weggaan” van Hom af – vers 15b-16

‘n Mens sien hier duidelik die parallel met die soortgelyke opbou van die verhaal van Genesis 2-3.  In die sewe episodes van die “sondeval” staan die ongehoorsaamheid aan God se bevel voorop.  In die vyf episodes van die “broedermoord” staan die vyandskap teenoor die naaste voorop.

Geen wonder dat die wet in Eksodus 20 (vgl. Deut. 5) ook in twee helftes opgedeel kan word, om, in kontras met die “sondeval”, die absolute enkelvoudige gehoorsaamheid aan God (eerste tafel se vier gebooie), en, in kontras met die “broedermoord”, die omvattende liefde vir die naaste (tweede tafel se ses gebooie) as riglyn vir die volk te gee.  Jesus doen presies dieselfde in die NT en verklaar as riglyn vir die NT kerk dat die hele wet en die profete – d.w.s. die hele OT – opgesom kan word in die dubbele liefdesgebod teenoor God en ons naaste (bv. Matt. 22).

Die verhaal van Kain en Abel begin met die wonder van die geboorte van Kain.  Eva roep uit: “Ek het ’n man in die wêreld gebring met die hulp van die Here!”  Dit is ‘n uiters interessante uitspraak.  Die NET Bible se vertaling sal jou ‘n beter idee gee van wat regtig hier gesê word: “I have created a man just as the Lord did!”  Eva besef met hierdie geboorte dat iets ongelooflik besonders gebeur het.  Iets van God se skeppende krag het in haar aan die werk gekom om ‘n menslike wese tot stand te bring.  Sy het ‘n mens: “geskep” (qaniti in Hebreeus) soos wat God dit aanvanklik gedoen het.

Dit is dieselfde Hebreeuse woord wat later in Genesis ook vir God as Skepper gebruik sal word, wat die verstommende ooreenkoms tussen God se werk en die geboorteproses onderstreep (Gen. 14:19,22). Moses gebruik ook dieselfde woord vir God as Skepper en verbind dit verder met sy Vaderskap wat die verband tussen skepping en geboorte verder versterk (Deut. 32:6).  Ook Dawid besing die wonder van sy eie geboorte waar hy God loof wat sy binnekant geskep het (qānîṯā – Ps. 139:13).  Ditto Spreuke waar die Wysheid deur God geskep is (qānîṯā) reg aan die begin, vóór die aarde daar was (Spr. 8:22).

Eva noem haar eersgeborene ook Kain (qayin in Hebreeus), wat ‘n interessante woordspel tussen dié twee woorde in Hebreeus gee, hoewel sy naam se betekenis onseker is.  Dit kan moontlik “spies” beteken.

Abel se geboorte word met baie minder verwondering aangekondig: “Sy het weer ‘n kind gekry, Abel, ‘n broer vir Kain.” Hoe ironies dat sy geboorte vir haar so anders is as haar eersteling s’n, en dat Abel se identiteit eintlik aan Kain gekoppel word, “’n broer vir Kain.”  En dat dit juis dié broer is wat nie ‘n broer soos Abel wil hê nie. Op die koop toe beteken sy naam: “wasempie/walmpie”, soos ons die woord weer sal aantref in Prediker.  ‘n Ontstellende voorspelling van sy lot!

Voor God is Abel se offer van sy vee egter meer aanvaarbaar as Kain se offer van sy saailande.  God se gereelde keuse vir die “tweede” kind, die een wat nie soveel aandag kry nie, kom hiermee in spel.  Só sal ons Hom nog leer ken in die verhaal van Jakob en Esau, van Isak en Ismael, en van Josef en Dawid teenoor hulle broers.  Niemand is vir God ‘n “wasempie” nie!  Trouens, die “tweede” kind is baie keer God se uitverkorene.

‘n Mens moet nie te veel probeer aflei uit die tipe offer wat hulle gebring het nie asof die aanvaarding daarvan al dan nie in die gehalte van die offer gelê het nie.  Sommige geleerdes sê bv. dat die latere offerkultus se keuse vir “bloed”-offers as deel van die versoening tussen God en mens hier in die oog kom, of dat Abel se eerstelinge van ‘n beter tipe offer as slegs maar “’n opbrengs van die land” van Kain spreek, maar ons het nie genoeg gegewens om regtig ‘n verantwoorde mening hieroor uit te spreek nie.  Dit is eerder God se soewereine optrede wat hier in spel is.

Kain se woede en depressie oor die nie-vaarding van sy offer, word deur Jahwe verklaar as ‘n gevolg van die sonde wat hom in sy mag probeer kry, ‘n baie belangrike perspektief nie net uit die hoek van wat verkeerd geloop het in Genesis 3 nie, maar ook uit die hoek van die verlossing wat die mens nodig het om oor die sonde te kan heers: “die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy moet oor hom heers.

Maar, eerder as om God se aanvaarding te soek, onder andere deur sy fokus te plaas daarop om goed te doen, soos Jahwe hier voorstel, fokus Kain sy aandag op die een wat in sy oë voorgetrek is, oorweldig hom en maak sy broer Abel dood.  En die straf van die dood wat aan die boom van alle kennis gekoppel was, neem sy intrek in die goeie skepping van God.

Let op hoe Kain op God se retoriese vraag na Abel ‘n leuen vertel: “Ek weet nie.” Die sonde het nie net moord tot gevolg nie, maar ook leuentaal.  Die sonde deurbreek op allerhande maniere die verhouding met God en met mekaar.

Aan die een kant deurbreek Kain se sonde sy verhouding met God: “tot U het ek nie meer toegang nie.”  Dit is bykans altyd die gevolg.  Ongehoorsaamheid aan God lei tot onbarmhartigheid teenoor ons naaste.

Aan die ander kant vervreem die bloedskuld van Kain hom ook van die aarde, want: “die bloed van jou broer roep van die aarde af na My.”  God spel daarom sy straf uit as een waarin hy nooit weer ‘n rustige lewe op die aarde sal vind nie, juis dít wat ‘n saaiboer nodig het.  Hy word ook van die normale plek wat kinders in die groter familie se deel was, verban.

Sy straf word versag deur ‘n teken wat sy lewe sou beskerm van weerwraak, waarskynlik een of ander fisiese kenmerk, hoewel ons geen idee het wat dit sou kon gewees het nie.  Hy gaan bly in Nod, oos van Eden, wat waarskynlik beteken dat hy ‘n swerwersbestaan in swerwersland gevoer het, want dit is wat die woord Nod beteken, “swerwersland”.

Kain en sy nageslag – 4:17-24

Die skrywer gaan voort om Kain se nageslag te beskryf.

Interessant genoeg bestaan Kain se nageslag nie net uit swerwers uit nie, hoewel die sewende geslag kleinkind, Jabal, ‘n bedoëine lewe gelei het in tente saam met hulle kuddes.  Ons lees van verskeie ontwikkelinge waarvoor sy nageslag verantwoordelik is:

  • verstedeliking (Henog),
  • poligamie (Lameg met sy twee vrouens, Ada en Silla),
  • kuns en musiek (Jubal by Ada wie se naam “pragtig” beteken),
  • tegnologie (Tubal-Kain by Silla wie se naam onder andere “klokkie” kan beteken) en
  • digkuns (Lameg).

Dié ontwikkelings is almal elemente van wat ons as die begin van die vroeë “beskawing”sou kon beskryf.  Maar dit word baie spesifiek as ‘n ontwikkeling in die afwesigheid van God geteken, anders as wat net hierna van Adam se nageslag in Set vertel sal word, dat hulle begin het om saam die naam van die Here aan te roep.

Die gedig van Lameg is besonders, aan die een kant in sy sterk ritmiese vorm, en aan die ander kant in sy totale wreedheid, ‘n kenmerk van Kain se familiegeskiedenis:

Ada en Silla, luister na my stem.
Vroue van Lamek, luister na my woord.
Verseker het ek ‘n man doodgemaak, wat my wond,
‘n Jongman, wat my seergemaak het.
As Kain sewe maal gewreek moet word,
Lameg sewe maal sewentig.

Adam en sy nageslag – 4:25-26

Teenoor die negatiewe ontplooing van Kain se familiegeskiedenis wat die donker kant blootlê wat inherent aan enige beskawing wat sonder God ontwikkel, opgesluit lê, word ‘n stukkie hoop geskets in die geboorte van Set, die uitverkore nageslag van Adam.  Hy word ook hier vir die eerste keer genoem op sy naam.

Let op dat Eva hier nie meer praat asof sy self: “geskep” het nie, maar die eer aan God gee: “God het vir my ’n ander kind gegee in die plek van Abel omdat Kain hom vermoor het.”  Set word vir haar gegee in die plek van Abel, ‘n plaasvervangende seun wat die effek van die wreedheid van Kain kon bestry.  Dit sien ‘n mens in die feit dat wanneer Set self ‘n kind kry, Enos, hulle bekend begin word vir hulle aanroeping van die naam van Jahwe.

Die vooruitgang van die beskawing sou nie hulle identiteit bepaal nie, eerder hulle toewyding aan God self, die begin van die publieke aanbidding van God, die begin van die erediens.  Dit sou regdeur die geskiedenis, ook later in die tyd van die kerk, die uitdaging bly.  Om nie jou menswees te laat bepaal deur wat die kultuur of vooruitgang voorskryf nie, maar wat in die verhouding met en aanbidding van God moontlik raak.

Boodskap

Hoewel ‘n mens steeds bewus is van die werklike karakters wat die skrywer teken, is dit ook duidelik dat hierdie verhale paradigmaties is.  Dit beskryf op ‘n baie diepsinnige manier die wyse waarop die voorgeskiedenis van die mens verloop het. Die stryd wat daar tussen die lig en die duisternis in die skepping teenwoordig was (Gen. 1), kan ook gesien word in die wyse waarop die mens in sy kultuur en godsdiens ontwikkel het (Gen. 4).

Hierdie verhaal help ons ook verstaan dat God se goeie bedoeling met die skepping en die mens nie net deur die ongehoorsaamheid aan God (Adam en Eva – Genesis 3) bedreig word nie, maar ook deur die geweld teenoor medemense (Kain wat Abel doodmaak – Gen 4).  Geen wonder dat Jesus se opsomming van die wet baie eeue later sou wees: om God lief te hê en jou naaste soos jouself, presies die oplossing vir die twee goed wat die verhouding met God en ons naaste bedreig.

Hoofstuk 4 is dus ‘n noodsaaklike aanvulling van die boodskap van hoofstuk 3.  Sonde is nie net iets wat teenoor God gepleeg word nie.  Dit het ook alles te make met hoe ons teenoor mense optree.

Hierna sal Genesis ons van nog ‘n derde bedreiging vertel, die bedreiging wat kom deurdat die mense die aarde aan homself oorlaat.  Dit sou een van die gevolge wees van die poging om in die vlakte van Sinar ’n tuiste vir almal te vind (Genesis 11).  Die hele aarde sou gevolglik nie bewoon, bewerk en bewaar kon word nie.  Die taalverwarring was dus ’n doelbewuste manier om ’n tuiskoms te verseker, vir mense, plante en diere, oor die hele aarde.  Maar daaroor later.

View all posts in this series

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar