Skip to main content

Genesis 44 – Juda offer sy lewe vir Benjamin op toe God hulle sonde aan die lig bring

Hierdie hoofstuk is een van die belangrikste hoofstukke in die Josef-siklus.  Dit beantwoord die vraag of die familiebande wat hierdie geloofsgemeenskap aan mekaar verbind, sterk genoeg is om innerlike konflik en uiterlike uitdagings die hoof te bied.  Sal die broers lojaal bly aan mekaar, selfs al het hulle baie onder Jakob se bevoorregting van Josef en later Benjamin gely?  Sal die broers bereid wees om dié keer by Benjamin te staan wat in die moeilikheid gekom het?  Of sal hulle hom in die steek laat soos hulle dit vroeër met Josef gedoen het?

Josef beraam ‘n laaste uitdaging om agter te kom of sy broers verander het – 44:1-17

Dit is vroeg die volgende môre.  Josef beraam ‘n laaste uitdaging vir sy broers om agter te kom of daar regtig by hulle ‘n verandering plaasgevind het.  Hy sit weereens elkeen se geld terug in hulle oorvol sakke.  Maar, dié keer gaan hy verder en laat sy silwerbeker – die beker wat met voorspellings geassossieer is – bo in die sak van die jongste seun, Benjamin, sit.

Ligdag is die broers toe daar weg. Maar gou is Josef se hoofamptenaar agter hulle aan om hulle te konfronteer volgens Josef se planne.  Die broers se verontwaardiging oor die valse beskuldiging dat hulle die silwerbeker gesteel het, verander baie gou in afgryse toe die silwerbeker in Benjamin se sak gekry word.

Let op hoe die afgryse hulle almal, sonder uitsondering, beetpak en hulle hulle klere skeur en laat omdraai stad toe om voor Josef neer te val.  Juda bely namens hulle almal: “God het ons sonde aan die lig gebring. Hier is ons, ons is Meneer se slawe: ons almal, saam met hom by wie die beker gekry is.

Hulle weet – en die lesers weet, sowel as Josef in die stilligheid – dat hulle onskuldig is, maar hulle kan hulle onskuld nie bewys nie.  Hulle kan net op Josef se barmhartigheid staatmaak, soos hulle pa gebid het.  Dit is iets wat ons weet reeds in die vorige hoofstuk gedemonstreer is, toe Josef se hart ontroer is oor sy broer Benjamin, maar waarvan die broers nog niks geweet het nie.

Dit is ook belangrik om te weet dat Juda nie hier verwys na die “sonde” van die diefstal van die silwerbeker nie.  Daaraan het almal geweet dat hulle nie skuldig is nie, al het die broers nie geweet wat Josef weet nie.  Juda verwys hier na die “sonde” teen Josef, toe hulle hom leed aangedoen het en aan slawehandelaars verkoop het meer as twee dekades gelede.  Hulle het toe hulle harte toegesluit vir sy pleidooi om genade.  Nou, sê Juda: “God het ons sonde aan die lig gebring.

Die eerste belangrike hekkie na versoening is hiermee oorgesteek.  Die sondebelydenis is egter nog nie heeltemal genoeg om versoening tussen hulle en Josef te bring nie.  Josef kan nie maar net op só ‘n erkenning staatmaak nie.  Hy moet weet of hulle dieselfde ding sou doen as hulle weer in dieselfde situasie geplaas word.  Daarom herskep hy presies dieselfde tipe situasie as waarin hyself was in die put by Dotan.

Hy laat die broers kies tussen hulle eie vryheid en dié van Benjamin.  Net Benjamin sal ly onder die diefstal, is Josef se reëling.  Die broers kan Benjamin agterlaat in die penarie waarin hy homself “onskuldig” bevind, hoewel hulle natuurlik nie op dié stadium weet dat Josef weet dat Benjamin onskuldig is nie.

Juda offer homself op vir sy broer Benjamin – sy transformasie is voltooi – 44:18-34

Dit lei tot een van die roerendste toesprake in Genesis, trouens in die hele OT.  Op ‘n besondere eerlike en innemende manier verwoord Juda die broers se keuse.  Hulle kies vir die bande van die bloedfamilie selfs al was hulle ervaring daarvan nie altyd so goed nie.  Juda noem sy pa veertien keer in dié toespraak.  Daarmee bevestig hy hulle lojaliteit aan hom, al weet elke leser dat dié pa juis vir Josef en sy broer Benjamin bó sy ander seuns voorgetrek het en dit hulle seergemaak het.

Soos Gordon Wenham hieroor sê: “The acknowledgment of his father’s favoritism is striking, for it was Jacob’s love of Joseph that caused his brothers to hate him. Now this same favoritism is cited as ground for mercy; the other brothers, or at least Judah, have accepted that love for their father must override all other grudges.” (Genesis 16–50).

Juda sê hiermee dat lojaliteit aan die familie – wat natuurlik ook waar is van die geloofsfamilie – juis volgehou kan en moet word, selfs al is daar talle ervarings van die temperamentele en onvoorspelbare, selfs onregverdige kante van die liefde in die familiekonteks.  Juda se begrip vir sy pa Jakob se onvolmaakte liefde oorwoeker sy vroeëre jaloesie waarin Juda instrumenteel was om Josef as slaaf te verkoop.  Juda word nou die een wat homself offer sodat sy pa nie die leed van nog ‘n verlore seun moet beleef nie.

Soos Robert Alter in sy uitstaande boek oor die kuns van die Bybelse verhale Juda se keuse hier opsom: “Twenty-two years earlier, he stood with his brothers and silently watched when the bloodied tunic they had brought to Jacob sent their father into a fit of anguish; now he is willing to do anything in order not to have to see his father suffer that way again.” (Art of Biblical Narrative).

‘n Mens kan ook nie anders as om te onthou dat dit juis dié Juda is – wat deur Tamar van die Kanaänitiese versoekings verlos moes word – wat nou as ‘n onkreukbare lojale familielid optree nie.  Dit is Juda wat nou bereid is om homself prys te gee om sy broer los te koop.  ‘n Keuse wat ons vanuit die NT perspektief weet die Messiaanse geslag waardig is.  Hoewel ons ook weet dat die uiteindelike Messias nie net sy lewe vir een persoon sou opoffer nie, maar vir ‘n skare uit die nasies, soos dit immers in die belofte aan die verbondsfamilie verwoord was: “Julle sal tot ‘n seën vir die nasies wees.

Juda is net nie bereid dat sy pa ‘n tweede keer deur die onnoembare leed van ‘n verlore seun gaan nie, en gee homself as ‘n offer vir Benjamin: “Hou my daarom dan nou hier as Meneer se slaaf in die plek van die seun, maar laat hý saam met sy broers teruggaan. Hoe kan ek sonder die seun by my pa aankom? Ek sal dit nie kan verdra om te sien dat so ’n smart hom tref nie.

En Josef weet uiteindelik die verandering waarvan die skuldbelydenis getuig het, is werklik.  Die bereidheid van Juda om anders op te tree, oortuig Josef.  En ‘n mens weet al waarmee die volgende hoofstuk vorendag gaan kom, ‘n versoening tussen Josef en sy broers.  Die werk van God in hulle lewens het volwassenheid bereik.

In die wysheidsliteratuur sal die Spreuke skrywer uiteindelik dié gedrag van Juda opsom in die volgende rigtinggewende spreuk: “Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang.” (Spr. 28:13).  Sondebelydenis en ‘n nuwe lewe gaan saam.  Soos dit veel later ‘n belangrike deel van Paulus se prediking sou wees dat dié wat hulle tot God bekeer: “dit moet bewys met dade wat by die bekering pas.” (Hand. 26:20).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda