Skip to main content

Genesis 3 – Die mens kruip vir God weg weens die sonde

4782847Hierdie hoofstuk is ‘n fassinerende een, veral as ‘n mens dit nie net in samehang met die begin van die verhaal in Genesis 2 lees nie, maar ook saam met hoofstuk 4 hierna oor die stryd tussen Kain en Abel lees.  Genesis 3 vertel onder andere die verhaal van die “battle of the sexes”.  Genesis 4 vertel die ooreenstemmende verhaal van die “battle of the siblings”.

Genesis vertel vir ons hierdie verhale, nie net om vir ons te illustreer hoe die God-mens en mens-mens verhouding werk nie, maar om ons in trek en saam te neem na ‘n eie geloofservaring.  Dit gee ons ‘n soort “kyk-weer” ervaring, sodat ons self die uitnodiging kan hoor:  God praat en wil ons metgesel word ten spyte van ons sonde!

Kent Ira Groff het hieroor gesê: “Stories skep ‘n innerlike ruimte waar ons eggo’s van God se teenwoordigheid kan hoor.”  En dit is wat met ons gebeur as ons die verhale lees.

Ek gee eers ‘n paar vooraf opmerkings oor Genesis 3 vóór ek die laaste vyf episodes van die verhaal wat in Genesis 2 begin het aan die orde stel.

Die idilliese lewe in Eden kom onder geweldige druk

Die storie van Adam en Eva begin met ‘n idilliese lewe in die tuin van Eden, soos ons in Genesis 2 gesien het.  God maak vir Adam ‘n maat, een soos hy, een wat hom voltooi, een wat sy eensaamheid kan wegneem, en een wat saam met hom in die voorreg en verantwoordelikheid van die tuin kan deel, Eva.  God word geteken as die goeie Gewer, die Een wat – anders as in die ander buite-Bybelse mites waar die gode die lewe juis weghou van mense – die lewe wíl gee aan die mense.

God voorsien dus in die mens se fisiese en sosiale behoeftes.  Nie net dit nie, Hysélf word hulle metgesel.  God praat met hulle, Hy seën hulle, Hy gee opdragte … en dit is ‘n tweerigting gesprek.  Adam en Eva praat ook met Gód en lewe in gemeenskap met Hom.  Dit wil lyk asof Adam en Eva God se fisiese teenwoordigheid ervaar, miskien selfs van aangesig tot aangesig met Hom wandel in die tuin.  Hulle hoor sy stem, en hulle antwoord daarop.  Só wonderlik intiem is dit.

Maar dan kom dié idilliese lewe onder geweldige druk, want Adam en Eva misbruik die vryheid wat God hulle gegee het, soos ons in Genesis 3 lees.  Hulle doen die een ding wat hulle verbied was.  Hulle eet van die boom van alle kennis. Hulle kies om self te kies tussen reg en verkeerd, om in hulle outonomiteit hulle pad te vind.  En rebelleer só teen God en sy wil vir die lewe.

Die mens val in sonde

Dit is natuurlik nie net Genesis 3 wat die verhaal van die sondeval vertel nie.  Regdeur die Bybel is daar die verhaal van die donkerte wat sonde in die menslike geskiedenis gebring het en die gevolglike verwydering tussen God en mens (tuin van Eden), en mens en mens (toring van Babel).  Paulus skryf daaroor, “almal het gesondig … en dit ontbreek ons aan die heerlikheid van God” (Rom. 3:23).

Dit is ‘n ontsaglike werklikheid – Gordon Fee en Douglas Stuart (How to Read the Bible book by book, 2002) sê drie goed het met die sondeval gebeur:

  • die visie op God en sy natuur en wese is versteur,
  • die beeld van God in ons is versteur, en
  • die teenwoordigheid van God in ons is deurbreek.

Dit het tot gevolg dat die leuen bo die waarheid verkies word deur mense, dat ons lewens selfliefde eerder as Gods- en naasteliefde vertoon, en dat ons die sin en doel van ons plek in God se skepping verloor het.

Die sonde deurbreek alle verhoudings

‘n Mens móét Genesis 3 daarom sáám met Genesis 2 lees, soos die skrywer dit inderdaad aanbied, want die verhaal se spanningslyn bou op vanuit die gawe van Eva aan Adam tot by die klimaks van die oortreding van dié twee, met sy afloop en konklusie in die gesprek met God.  Die teoloog Coats (op voetspoor van die Engelse digter Milton se twee epiese gedigte: “Paradise lost” en “Paradise regained” – die eerste beslaan 12 boeke, terwyl die laaste een korter is) het daarom die twee hoofstukke in Genesis getipeer as “Paradise gained” en “Paradise lost”.

Die sonde deurbreek natuurlik nie net die mens se verhouding met God nie – want hulle raak bang vir God – maar deurbreek ook die verhouding met mekaar – want hulle raak skaam vir mekaar en begin vroteier (verplaas hulle skuld na ander) speel – en op die koop toe deurbreek dit hulle verhouding met die omgewing – want die aarde word vervloek na hulle uitsluiting uit die tuin van Eden.

  • Die verhaal verklaar dus hoe sonde in die wêreld gekom het, én waarom Jesus as die tweede Adam nodig was om aan die kruis te kom sterwe.
  • Die verhaal verklaar hoekom mense in ‘n slegte verhouding is met medemense, en die geneigdheid het om ander te blameer vir allerlei, en hoekom dit nodig was vir Jesus om in ons plek die blaam op Homself te neem, sodat ons tot versoening met mekaar kan kom.
  • Die verhaal gee ons insig in ons problematiese verhouding met ons omgewing, dat ons só moeilik die voorreg van en die verantwoordelikheid vir die aarde reg verstaan en uitvoer.
  • Maar wat my veral aanspreek in die verhaal, as ‘n mens van God se kant af kyk, is dat sy bedoeling van die begin af was om met ‘n mens in verhouding te lewe. Hy wil ons metgesel wees.  Hy wil met ons praat.  Hy wil hê dat ons met Hom praat.  Hy wil interaksie met ons hê.  Hy wil deel wees van ons lewe, van ons gedagtes, van ons besluite, van ons vreugdes, van ons manier van doen, selfs wanneer ons in ons dwaasheid aan Hom ongehoorsaam raak.

God bly steeds gefokus op ‘n verhouding met ons

Genesis 3 is dus nie net die verhaal van die erfsonde, en van skuld verplasing en van die verydeling van die ekologie nie.  Dit sê vir ons, dat die lewe oor ‘n verhouding met God gaan; dat die Bybelse verhaal daarmee begin, en in ‘n sekere sin sentraal daarop gefokus is.

En daarin sien ons God se bedoeling met die mens.  God wil by ons wees, met ons saamloop, soos die Nuwe Testament daaroor skrywe, in ons woon, en Hy nooi ons uit om met ons diepste behoeftes, vrae en vrese na Hom te kom, want Hy wil op ‘n verlossende wyse ook ons lewens verander.  Hy wil in ‘n verhouding met ons lewe.

Die wonder van God se bedoeling is, soos ons dit in Genesis 3 met Adam en Eva sien, dat Hy ons nie opsoek as ons eers alles reggemaak het wat verkeerd is nie.  Hy wil juis hê dat ons met ons behoeftes, ons vrae, ons vrese, ons skaamte, ons skuldgevoelens, ons stukkendheid na Hom toe moet kom.  Om die waarheid te sê: Hy kom na ons toe en nooit ons uit om Hom toe te laat om in ons lewens in te kom en ons van binne af, in ‘n verhouding met Hom, te verander.

Episode 3: Die gesprek tussen die slang en die vrou – 3:1-5

‘n Interessante eksegetiese element in die teks is die ooreenkoms tussen die woord “kaal” en “slim” of “listig” wat ook die skarnier tussen hoofstuk 2 en 3 is.  ‘n Mens lees aan die einde van hoofstuk 2: “Hulle twee .. was kaal …” en dan in hoofstuk 3: “Die slang was listig …”!  Beide die woorde “kaal” en “listig” kom van een woordstam af ‘rwm.  Kaal en listig is nie goeie maats nie, sou ‘n mens wou sê!

Die slang vertolk hier ‘n rol as teenstander, maar word anders as in sommige van die ander Ou Nabye Oosterse verhale net as ‘n skepsel wat God gemaak het, voorgestel.  Die mitologiese karakter van die slang in ander antieke verhale word vermy.  Die slang is net een van die diere wat God gemaak het, al is dit ook listiger as die ander diere.  Hierdie perspektief dra alreeds die boodskap dat die slang se beste pogings nie God se bedoelinge in die laaste instansie kan dwarsboom nie.

Let op na die strategiese optrede van die slang.  Hy praat met haar waar sy alleen is.  Hy saai twyfel met sy vraag oor God se bedoeling: “Het God werklik gesê …”.  Hy verkondig ‘n leuen dat daar geen gevolge sal wees as sy God se verbod verontagsaam nie.  Trouens, hy volg dit op met ‘n verdere leuen wat haar ‘n God-gelyke bestaan aanbied: “Julle sal soos God wees deurdat julle alles kan ken.

Satan saai dus twyfel oor God se woord.  Daar sal geen gevolge wees, anders as wat God gesê het.  En hy val God se motiewe aan in sy verbod op die eet van die vrugte van die boom.  God will alle kennis vir Homself hou en niks met die mens deel nie.  Hy beskuldig God dus van verskuilde motiewe.

Paulus waarsku daarom aan die hand van hierdie verhaal in Genesis 3 die gelowiges om nie in hulle gehoorsaamheid aan God te verslap nie: “Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus, net soos Eva verlei is deur die listigheid van die slang.”(2 Kor. 11:3).  Hy praat daar van die valse apostels wat soos die slang van ouds optree en twyfel saai met hulle weergawe van die boodskap van die evangelie van Jesus Christus waardeur gelowiges in hulle toewyding verslap.

In die verdere refleksie van die Bybel hieroor word die slang wel met die persoon van die Satan geassossieer. Die woord satan beteken immers teenstander, presies soos die slang hier optree (Openb. 12:9; 20:2).  Die valse apostels, soos Paulus daaroor praat, is dus nie net teenstanders nie, tree nie net op soos die slang van ouds nie, maar is in der waarheid werktuie van die Satan, soos die gordyn oor hom uiteindelik in Openbarings as die aartsteenstander van God en sy skepping onthul word, en soos Jesus natuurlik ook inderdaad vroeër oor hom gepraat het.

Jy sal self die destruktiewe effek van dié aanslag op die Woord van God en op God se motiewe vir sy morele riglyne regdeur die Bybel kan raaksien in die debatte oor seksualiteit en moraliteit wat vandag veral in die Weste gevoer word.

Maar, dít moet nie jou oë toemaak vir die wyse waarop jyself mislei kan word deurdat jy twyfel of die Woord ook op jou van toepassing is, in elke detail daarvan, en of God dit goed bedoel met jou deurdat Hy absolute gehoorsaamheid daaraan van jou vra. Ons gedagtes kan só maklik weggelei word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus.

Episode 4: Die sonde van die vrou en die man – 3:6-8

Die vrou val vir die versoeking en verlei haar man om saam met haar te sondig.

Let op hoe die boom se vrugte op drie maniere aantreklik was vir haar.  Dit was “goed om te eet”- d.w.s. dit was op fisiese vlak ‘n versoeking.  Dit was “mooi om na te kyk” – d.w.s. dit het haar op estetiese vlak bevredig.  Dit was ook “begeerlik omdat dit kennis kan gee”- d.w.s. dit was op intellektuele vlak uiters stimulerend.  Selfs vandag nog die basiese bestanddeel van elke liewe versoeking.

Met haar optrede word sy die eerste rebel, die een wat in opstand kom teen God en sy goeie bedoelings met haar en sy skepping.  Die man val ook vir die versoeking en eet saam met haar van die vrugte, maar begaan daarmee eintlik ‘n groter sonde – as ‘n mens só ‘n onderskeid sou kon tref – want hy het in die eerste plek die opdrag gekry om nie van die boom van alle kennis te eet nie, en het sy rol as beskermer en bewaarder nie net van die tuin van Eden, maar ook van sy vrou in hulle gelyke vennootskap gefaal.

Die sonde van die tuin word dus in die eerste en laaste instansie met Adam self geassossieer, soos Paulus later in Romeine sou argumenteer.  In Adam het die hele menslike geslag gesondig.  Die effek op Adam en Eva is onmiddellik sigbaar in hulle verhoudings.  Hulle word skaam vir mekaar.  Hulle word skaam vir God.  Skuld verplaas die onskuld in hulle bewussyn van hulleself en hulle plek in hierdie wêreld.  En hulle verbeur die voorreg van die Metgesel wat hulle in alle wysheid wou begelei.

Episode 5: Die gesprek tussen God en die mens – 3:9-13

Die “maar” waarmee vers 9 begin, is die evangelie in dié droewige verhaal.  God los nie die mens in sy afvalligheid nie, maar soek hulle op: “Waar is jy?” God begin dus die gesprek wat uiteindelik sy verlossende oordeel oor die mens inlei.  Soos ons in die volgende deel sal sien, het die sonde gevolge, erger selfs as wat die mens, en selfs die slang, kon bedink, maar terselfdertyd is daar in God se oordeel die verlossende moontlikheid opgesluit.

Let op hoe die mens moeite het met skuld en dit telkens verplaas na iemand of iets anders.  Dit is die vrou wat vir my laat eet het, sê Adam.  Dit is U wat my dié vrou gegee het – watter aanklag!  Dit is die slang wat my mislei het, sê Eva.

Soos ‘n proffie, Flip Theron, van my eenmaal gesê het, jy moet vashou aan jou sonde, wat as dit nie jou sonde is nie, kan jy nie daarvan verlos word nie!  Miskien ‘n bietjie skerp gestel, maar duidelik!

Episode 6: Die versteuring van verhoudinge in die skepping – 3:14-21

Let op hoe direk God in sy hantering van die ontstellende gebeure is. Ná Hy deeglik in gesprek getree het met die mens, tree Hy beslissend op.

1.  Hy vervloek die slang nie net as ‘n slepende stofkruiper onder die diere nie, maar gee ‘n bedekte belofte in die vyandskap wat Hy tussen die slang se nageslag en die vrou se nageslag verklaar: “Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.” (3:15).

Dit staan volgens sommige bekend as die “moederbelofte” waarin die oorwinning van Christus aan die kruis oor die werk van die Satan voorspel word.  In Gereformeerde kringe word die woord moederbelofte gewoonlik vermy onder andere weens ‘n ongemak met ‘n Rooms-Katolieke interpretasie wat dit aan die verhaal van Moeder Maria koppel sowel as ‘n ongemak om die gedeelte in die lig van die NT uit te lê.

Ek dink die ongemak is onnodig, want ‘n mens kan aan die een kant duidelik sien dat hier meer ter sprake is in die teks as maar net dat daar vyandskap tussen die slang en die mensdom is, iets wat in ‘n eerste rondte natuurlik ook deel van die teks se betekenis is.  Jesus is na alles uit Maria gebore!

Dit is aan die ander kant ook duidelik dat die teks die onderbou vir die NT interpretasies vorm wat in Genesis 3:15 die begin van ‘n stryd tussen die mens en die Bose skets, wat in Christus sy toppunt bereik het.  Daarom kan Paulus in sy Romeinebrief, onder andere op grond van hierdie teks, sê dat die Satan deur die werk van God en die genade van die Here Jesus onder hulle voete verpletter sal word: “Almal het gehoor van julle gehoorsaamheid aan die evangelie. Ek is baie bly oor julle, en ek sou graag wou sien dat julle alles weet van die goeie en niks wil weet van die slegte nie. God wat vrede gee, sal die Satan spoedig onder julle voete verpletter. Die genade van ons Here Jesus is by julle!” (Rom. 16:19-20).  Dit is ook duidelik dat hy die boom van alle kennis ook as deel van sy interpretasie neem.  Vergelyk ook Johannes hieroor in Joh. 8:44; 1 Joh. 3:18 en Openb. 12:9.

Ons kan dus gerus die teks Christologies lees.  Jesus het immers op ‘n plek gesê dat die hele OT – die wet van Moses, die profete en die psalms – van Hom vertel en in Hom vervul is (Luk. 24:44).

2.  Die vrou se swangerskap word verswaar deur die pyn wat hierna daarmee gepaard sou gaan. Dit is opvallend dat dit nie ‘n vloek is soos met die slang nie.  Dieselfde geld die man, hoewel die gevolge van sy sonde ‘n vervloeking van die aarde inhou waaruit hy met swaarkry sy bestaan sal maak totdat hy self weer deel van die aarde sal word: “Stof is jy, en jy sal weer stof word.

Die vrou is natuurlik nie ondergeskik gemaak aan die man soos soms hieruit afgelei nie. Hier word net die “battle of the sexes” beskrywe. Sy wil heers (hunker) en hy wil heers (domineer)!  Haar begeerte is om hom te beheer, soms seksueel geïnterpreteer. Sy begeerte is om haar te domineer. In Christus word dit opgelos in “onderdanigheid aan mekaar” wat in die liefde begrond word (Ef. 5).

In Genesis 4 sal dit die “battle of the siblings” wees.  Dieselfde werkwoord vir begeerte en beheer word ook in Genesis 4:7 gebruik maar waar dit aan die een kant die sonde is wat vir Kain: “in sy mag wil kry,” en aan die ander kant hy die opdrag kry om die sonde te beheer.

3.  Die man se straf is eintlik ‘n ongelooflike pynlike ervaring, want dit tref nie in die eerste plek vir homself nie, maar vir die skepping. Hy wat moes bewoon, bewerk en bewaar is nou die oorsaak dat die aarde vervloek word. Die onskuldige ly onder die skuldige.  Hy ly egter ook swaar daaronder, want soos die vrou in haar vrugbaarheidsrol sal swaarkry, sal die man in sy arbeidsrol swaarkry en uiteindelik nie vir altyd die vrug van sy handewerk kan geniet nie, want hy was nou ook uitgelewer aan verganklikheid.  Hy het die boom van die lewe gemis.

Episode 7: Die sluiting van die tuin van Eden vir die mens – 3:22-24

Die lewensruimte van Eden word dus in ‘n finale episode vir die mens gesluit.  Hulle is daarmee nie volledig afgesny van God se sorg en seën nie. Hy gee immers vir hulle klere om aan te trek.  Maar die gemaklike genot van God se gemeenskap in die tuin word deur ‘n gerub van hulle geweer … totdat dié moontlikheid weer in die belofte van ‘n nuwe hemel en aarde deur Jesus Christus moontlik gemaak is.

Genesis 3 is dus ‘n tragiese verhaal.  Alle swaarkry en verydeling kom van dié enkele daad van rebellie, van ‘n poging om self te onderskei tussen goed en kwaad.

Dit is gelukkig ook Genesis 3 wat die verhaal begin vertel van die verlossing van die mens, trouens van alle dinge, wat die teenpool van die donkerte vorm, die verhaal van die lig van God wat die mense se lewens nie net verlig nie, maar inderdaad weer met Hom versoen.

Dit is die verhaal van God se keuse van mense en hulle families, deur hulle geslagte heen, tot by die keuse van die Seun, die Een wat die prys kon betaal wat mense se visie op God herstel het.  In die Seun kon ons weer vir God sien.  In Hom is die beeld van God in ons herstel, in die mate wat Hy gestalte kry in ons deur die werk van Sy Gees.

Daarmee het die teenwoordigheid van God van ‘n eksterne werklikheid, bv. in die tempel, na ‘n interne werklikheid verander, in ons lewe.

Ekskursus oor die Erfsonde

View all posts in this series

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar