Skip to main content

Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwys

4782847Abraham is die oorgangsfiguur tussen die oergeskiedenis en die patriargale geskiedenis. Genesis 12-50 fokus ná die oergeskiedenis op die verhale van die drie aartsvaders, Abraham, Isak en Jakob en hulle nageslag.  Hierin is Josef, die seun van Jakob, ‘n belangrike oorgangsfiguur na die tyd van slawerny in Egipte.  Hy is die hoofkarakter in die  verhaal van Genesis 37-50.

Genesis 11:27-32 het reeds met Abraham se geslagsregister die drie hoofkarakters van die Abraham verhaal van Genesis 12-25 aan ons voorgestel: Abraham, Sarai, en Lot.  Die verhaal wat die ontstaan van die verbondsvolk in die volgende hoofstukke aan die orde stel, word aan die hand van alles wat met hulle gebeur het in hulle verhouding met God, mekaar en die nasies rondom hulle vertel.

Voordat ons die teks begin lees, wil ek net aandag gee aan twee sake wat met die plasing van die verhaal binne die Bybel verband hou, die mondelinge tradisies waarop dié verhale berus, en die datering wat die teks self gee.  Uiteraard kan ‘n mens nie dié tradisies met historiese presisie nagaan nie.  Daarom gee ek dit weer soos dit hier vertel word, sodat die verhaal se eie interne gegewens jou prentjie van wat hier gebeur, kan vorm.

Mondelinge tradisies

Dié verhale berus uiteraard op mondelinge tradisies, omdat ons van geen skrifstellende aktiwiteit in dié tyd lees nie, anders as wat dit bv. in Eksodus met die Uittog vir ons vertel word met Moses (Eks. 17:14: “Skryf hierdie woorde op in ‘n boek as ‘n blywende herinnering en lees dit vir Josua voor.”).

Dit beteken natuurlik nie dat dié verhale daarom noodwendig ‘n legendariese karakter aangeneem het en as on-histories of selfs voor-histories gesien moet word nie.  Omdat almal wat deel was van die uitgebreide families die verhale geken het, kon niemand sommer enigiets byvoeg sonder dat dit nie dadelik opgetel kon word nie.  Mondelinge tradisies word daarom eintlik as ‘n reël baie getrou oorvertel, soos dit tot vandag toe nog in die Midde-Ooste onder sommige stamme geld.

Dit is ook in ons eie land die geval op afgeleë plekke.  ‘n Kennis het my vertel van onderhandelinge wat hy in KwaZulu-Natal rondom grondeise moes doen met mense wat nie kon lees en skryf nie.  Om by hulle uit te kom het nie net ‘n viertrekvoertuig geverg nie, maar uiteindelik ook ‘n lang staptog.  Hy het die kontrak van tientalle bladsye diep in die berge in detail met hulle mondelings deurgegaan vir hulle oorweging en instemming.  Na ‘n paar weke het hy teruggegaan om te hoor of hulle dit só sou goedkeur en of daar veranderinge is wat hulle wou aanbring.  Groot was sy verbasing toe hulle die hele kontrak verbatim vir hom kon aanhaal en spesifieke veranderinge kon aanvra.  Die kontrak is daarom volgens hulle voorkeure verander, al het die onderhandelinge as sodanig net mondelings plaasgevind.

Êrens in die proses van oorvertel van die patriargale verhale is dit natuurlik wel neergepen, soos dit die geval was met die res van die Pentateug, al weet ons nie presies wanneer nie.  Die talle verwysings na die aartsvaders – Abraham, Isak en Jakob – in die verhale van al vier boeke van die res van die Pentateug – Eksodus, Numeri, Levitikus, en Deuteronomium – laat ‘n mens dink dat van die aartsvaderverhale goedskiks al teen daardie tyd ter skrif gestel is.  Veral die standaard manier waarop na die landsbelofte aan die aartsvaders verwys word, laat ‘n mens in daardie rigting dink, al kan ‘n mens dit uiteraard nie met sekerheid sê nie.

Wat wel sou gebeur het, is dat met die skrifstelling die skrifteks natuurlik van daar af aan die basis geraak van die oorlewering, soos ons in Deuteronomium 6 lees: “Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly.  Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan … Skryf dit op jou deurkosyne (die mesusa) en op jou stadspoorte.” (Deut. 6:6-9).

Datering

Daar is ‘n redelike groot verskil van mening oor die datering van dié siklus van verhale.  Die later daterings in die 14de eeu v.C. kan ‘n mens eintlik ignoreer, omdat dit te min tyd laat vir die tyd in Egipte, die Uittog en die Intog met alles wat daarna in die Rigtertyd gebeur tot en met die aanvang van die koninkryk van Israel onder Saul en Dawid wat nie later as die 11 de eeu v.C. gedateer kan word nie.

Daarom dateer al hoe meer geleerdes die aartsvaderverhale vroeër.  Die datering wat vir my die meeste sin maak op grond van die interne gegewens van die Bybel self, is in die sogenaamde Middel Brons tydperk van ongeveer twee millenia v.C.   Dit word ondersteun deur die argeologiese gegewens van stede en plekke wat in die loop van Genesis 12 en verder genoem word.  Die name van die patriarge en van hulle gebruike kom ooreen met inligting wat in buite-Bybelse data beskikbaar is.

Selfs die feit dat hulle gebruike gehandhaaf het wat in latere wette verbied is – soos Abraham wat met sy half-suster Sarai trou (Gen. 20:12), iets wat in Lev. 18:9,11; 20:17 verbied word, en Jakob wat met twee bloedsusters trou (Gen. 29:21 vv.), iets wat in Lev. 18:18 verbied word – getuig van die oudheid van dié tradisies van die aartsvaders.

Die feit dat die verhale dus uiteindelik neergepen is net soos dit oorgelewer is, sonder om dit te verander en in lyn te bring met die wet wat eers later gekom het, getuig van die oudheid van dié tradisies.  Soos De Vaux hieroor sê: “One is bound to conclude that these traditions have a firm historical basis” (Early History).

‘n Mens kan die datering uitwerk op grond van die vaste punt wat 1 Konings 6:1 gee vir die datum van die Eksodus.  Daar staan: “Vier honderd en tagtig jaar nadat die Israeliete uit Egipte getrek het, vier jaar nadat Salomo koning van Israel geword het, het hy begin bou aan die tempel van die Here. Dit was in die maand Sif, die tweede maand.”   Die datum van hierdie vierde jaar van Salomo is 966 v.C. wat met inligting uit buiteBybelse Assiriese lyste ooreenkom.  Die begin van die Eksodus wat 480 jaar tevore was, kan dus op grond van hierdie inligting op 1446 v.C. vasgestel word.

Dit word verder ondersteun deur van die nuutste argeologiese ontdekkings, onder andere deur die voorkoms van die naam “Israel” op die Merneptah Stele uit die 13de eeu sowel as die soortgelyke naam “Israel” op die voetstuk van ‘n standbeeld uit die 15de eeu v.C. wat onlangs ontdek is. Ek sal in my skrywe in Eksodus meer uitvoerig daarop uitbrei.

Hierby moet ‘n mens dan die tyd in Egipte tel (430 jaar volgens Eks. 12:40) wat beteken dat Jakob na Egipte is ongeveer in 1876 v.C., tien jaar ná Isak se dood.  Jakob is op daardie stadium 130 jaar oud soos hy vir die farao te kenne gee (Gen. 47:9), wat beteken hy is in 2006 v.C. gebore (Gen. 25:26).  Abraham was weer 100 jaar oud toe Isak vir hom gebore is wat beteken dat Abraham in 2166 v.C. gebore is.

Dit beteken ‘n mens kan die verhale in Genesis 12-50 as volg dateer as jy die verdere gegewens in die boek in ag neem:

  • Abaham 2166-1991 v.C.
  • Isak 2066-1886 v.C.
  • Jakob 2006-1859 v.C.
  • Josef 1915-1805 v.C.

Genesis 12 begin die verhaal van Abraham deur sy roeping te beskryf – 12:1-9 – en onmiddellik van die uitdaging van ‘n besoek aan Egipte weens hongersnood te vertel – 12:10-20.

God roep vir Abraham – 12:1-9

Die eerste drie verse vertel vir ons in diepsinnige taal van die eerste roeping wat ‘n mens direk van God af ontvang.  Adam was met God in gesprek.  Henog het met God gewandel.  Noag het God se opdragte uitgevoer.  Maar Abraham word direk geroep vir ‘n baie spesifieke en omvattende taak, iets waarvan die impak nie net ‘n volk tot stand sou bring nie, maar drie godsdienste ingrypend sou beïnvloed: die Judaïsme, die Christendom en Islam.

Let op hoe Abram – sy naam is nog nie verander na Abraham nie soos dit met die besnydenis en verbondsluiting in Genesis 17 sou gebeur – uit die bekende omgewing van die Persiese Golf geroep word na ‘n onbekende land wat die Here vir hom sou aanwys.  ‘n Mens lei af dat dit in die proses duidelik geword het dat dié land Kanaän sou wees, soos reeds in Genesis 11 met die aanvanklike trek van Tera vermeld word.  Maar aanvanklik was dit ‘n roeping wat ‘n gehoorsaamheid gevra het sonder dat daar te veel detail uitgespel is.

Abram moet sy eie land, sy eie mense en selfs sy familie – behalwe sy vrou en sy broerskind Lot – verlaat in die hoop dat die Here sy belofte sal waarmaak dat hy ‘n groot nasie sal word op ‘n ander plek as sy eie omgewing, en dat God hom sal seën en ‘n man van groot betekenis sal maak.

Daaraan word gekoppel ‘n verdere opdrag wat saamhang met God se seënende gedrag in Genesis 1-11, maar wat nou aan vervulling deur die impak van ‘n geroepene gekoppel word: “Jy moet tot ‘n seën wees.  Ek sal seën wie jy seën, en hom vervloek wat jou vervloek.” Trouens: “In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.

Daarmee word Abram se verhaal gekoppel aan die oergeskiedenis waarin God die seënende en straffende God was.  Hy word nou die een in wie seën en straf ervaar sal word.  Daarmee word ‘n ander dimensie in die verhaal van God met die aarde oopgemaak.  Hy gee sy seënende genade vir hierdie wêreld deur die seënende invloed van die geroepe Abram.

Abram gee gehoor aan dié roeping van God en trek saam met sy vrou en broerskind uit Haran met al hulle besittings en slawe.  Met hulle aankoms in Kanaän verskyn die Here aan hom by die aanbiddingsplek by Sigem en bevestig dat dít die land is wat God aan hom en sy nageslag gee.  ‘n Merkwaardige belofte aan iemand wat nog geen kind of kraai het nie, en eers baie later kinders sou hê.  Ismael is vir Abram op 86 gebore en Isak op 100 jaar oud.

Nadat Abram ‘n altaar vir die Here gebou het, het hy deur die land getrek en al gaande na die Suidland toe versit en telkens die Here aangeroep.

Abram stel sy roeping in gevaar in Egipte – 12:10-20

Abram word onmiddellik egter voor ‘n groot uitdaging gestel.  ‘n Swaar hongersnood dwing hom na Egipte om daar ‘n heenkome te soek.  Die ruimtes waarheen God ons roep, hou altyd in dat ons voor uitdagings en versoekings geplaas gaan word.  Abram se gehegtheid en toewyding aan die roeping van God word hiermee getoets, soos dit trouens ‘n hele paar keer hierna weer en weer gaan gebeur:

  • Die verhaal van Lot (Gen. 13) wat die beste deel van die land kies, toets Abram se vertroue dat Kanaän wel die plek is waar God Abraham wil gebruik.
  • Die verhaal van Hagar en Ismael (Gen. 16) toets Abram se vertroue dat God ‘n nageslag sal voorsien soos Hy belowe het, nie soos Abram en veral Sarai sou wou hê nie.
  • Die verhaal van die offer van Isak op die berg van die Here (Gen. 22), toets Abram se vertroue dat God in alles sal voorsien. Trouens, hulle weet uiteindelik nie eers hoe profeties dit sou wees nie, omdat dit ‘n voorafskaduwing van God se eie verhaal met sy Seun, Jesus Christus, sou wees.

Hier is die eerste toetsing van Abram rondom sy verbintenis aan sy vrou Sarai.  En tot Abram se skande faal hy liederlik in dié toets, want hy steek weg dat sy sy vrou is, en vertel ‘n leuen dat sy sy suster is – ‘n halwe waarheid natuurlik!

Die Here gryp egter in met plae om beide die farao en Abram tot besinning te roep.  Abram word teruggestuur na Kanaän met al sy besittings, interessant genoeg, waarskynlik met al die geskenke ook wat farao vir hom in ruil vir Sarai gegee het.  Kan jy nou meer!

Interessant is dat ons hier die eerste verwysing na kamele in die Bybel kry (Gen. 12:16), soos dit ook bekend is uit argeologiese gegewens waarin beenfragmente gevind is uit die derde millenium en ‘n gevlegte koord van kameelhaar in Egipte uit die tweede millenium.  Daar is ook ‘n oudBabiloniese teks uit Ugarit wat die kameel as ‘n makgemaakte dier beskryf.

Boodskap

Die eerste elf hoofstukke van Genesis het ‘n prentjie geteken van ‘n wêreld wat dit nie regkry om met God in ‘n volhoubare geloofsgemeenskap te leef nie.  Die enkele verhale van hoop – Set, Henog en Noag – word oordonder deur die verhale van wanhoop – Kain, “hemelwesens”, en die toring van Babel.

God se bedoeling met die mens word egter nie deur die verhale van wanhoop gedwarsboom nie.  In sy genade tree Hy in en roep vir Abram om in hom en sy nageslag die verhale van wanhoop te herskryf, om in ‘n volk wat aan Hom behoort die nasies van die hele wêreld te seën, en daardeur die mensdom te verlos.

Daarom stuur Hy vir Abram na Kanaän om aan Sy opdrag om die aarde te bewoon, uiting te gee.  Let op dat dieselfde opdrag nie later ook gegee word aan Isak of Jakob nie, ook nie later aan Josef en die res van die Israeliete nie.  Nét Abram moet trek, die res van sy nageslag moet bly waar hulle is.

Selfs wanneer dit nodig is om ter wille van droogte of vanweë ongehoorsaamheid die vreemde in te trek of daarheen weggevoer te word, bly die verbintenis aan die grondgebied waar God hulle geplaas het.  Want dít is die plek waar God hulle wil seën en wil koester en wil laat ontwikkel en wil gebruik.

Maar, dit is nie al nie.  God seën nie vir Abram om ’n eksklusiewe nasie te skep, een wat al God se goedheid kan ervaar, en die res van die wêreld word net aan hulle eie genade oorgelaat nie.

Nee, God seën vir Abram met land en nageslag SODAT hy tot ’n seën kan wees vir die ander nasies, die nasies wat God ook wil seën.

Die Here wil met die nageslag van Abram ’n ontmoetingsplek skep waar Hy Homself aan ander kan bekendstel, waar Hy kan woon en Sy genade en goedheid kan demonstreer en deur Abram se nageslag kan aangee na ander.  Dit sien ons regdeur die res van die verhale van Genesis.

  • Dit is waarom God vir Abram lei om Lot nie teë te staan toe hy die beste deel van die land vir homself kies nie, want God wil vir Lot ook seën (Gen. 13). Abram se hantering van Lot het dus ’n seënende effek op Lot en sy nageslag en verseker dat hulle ook ’n plek sal hê om in te ontwikkel.
  • Dit is waarom God vir Abram lei om Lot te gaan verlos uit die penarie waarin hy beland toe hy ontvoer word (Gen. 14). God ontferm hom dus oor dié een wat eintlik met Abram in konflik was en red hom ten spyte daarvan dat Abram en Lot se paaie uitmekaar geloop het.
  • Dieselfde gebeur wanneer God die goddelose Sodom en Gomorra wil uitwis (Gen. 19). Op Abram se voorbidding vir Lot, red God vir Lot.  Trouens, ek dink Abram kon bid vir Lot, omdat God reeds twee keer vir hom gelei het om vir Lot te red.  Abram is dus tot ’n seën vir ’n ander nasie, eintlik nasies, gegewe die feit dat die Moabiete en Ammoniete uit Lot se nageslag voortgekom het. Trouens, Rut, ’n Moabiet, word later ingesluit in die geslagsregister van die Verlosser van die wêreld, wat net wys hoe ver die seën gestrek het.
  • Dieselfde gebeur wanneer God vir Abram lei om Hagar te laat gaan met die uitdruklike belofte dat God Hagar sal seën omdat Ismael Abram se kind is, al stuit die verhaal ‘n mens op ‘n sekere vlak teen die bors (Gen. 16). Ismael is nie ’n weggooikind nie en sy nageslag nie ’n weggooinasie nie.

God seën Abram sodat hy tot ’n seën kan wees – en beide God se seën en Abram se seën is sigbaar op vele wyses in die ontplooiing van die verhaal.

Daarmee het ons ’n patroon gekry van hoe God met ons ook wil werk.  Dít is fundamenteel tot die Christelike lewe.  Soos Abram deur God gebruik is, só is Christus deur God gebruik.  Soos Christus deur God gebruik is, só gebruik God vandag nog die Christelike geloofsgemeenskap, Sy liggaam.

God het vir ons as individue en as gemeente ook ’n ruimte gegee waarin Hy ons seën.  Hy het ons ’n roeping gegee om ander tot ’n seën te wees.

My gebed is dat ons ook soos Abram sal gehoorsaam en ons roeping enduit sal uitvoer.  Dit beteken dat ons na God se stem sal moet luister om sy roeping vir ons lewens te identifiseer en uit te voer – persoonlik en in die gemeente.  Soms sal dit ook beteken dat daar Lotte en Hagars oor ons pad sal kom wat ons met deernis en menswaardigheid sal moet hanteer.  Bowenal sal ons die ruimte wat God ons gee met passie moet benut sodat ons die roeping wat Hy vir ons het met oorgawe kan nakom.

Geseën om te seën – dít is ons motto vir die lewe.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar