Genesis 34 – Dina se verkragting word met koelbloedige moord beantwoord

655804-breathtaking-space-artDit is duidelik dat daar raakpunte is tussen dié verhaal van Dina en dié van beide Sara (Gen. 13; 20) en Rebekka (Gen. 26).  Soos dit die geval was met Abraham en Isak wat hulle vrouens in gevaar stel deur voor te gee hulle is nie getroud met hulle half-susters nie, so stel Jakob vir Dina in gevaar deur toe te laat dat sy gaan kuier by die dogters van die omgewing van Sigem. Maar anders as Sara en Rebekka, ly Dina direk onder die gevaar van die sedelose Kanaänitiese omgewing.

Die feit dat sy haarself ook in gevaar stel deur by die dogters van die omgewing te gaan kuier – Genesis waarsku regdeur dat daar geen kontak met die dogters van die land moet wees nie (Abraham se verbod aan sy slaaf in Gen. 24:3,37; Isak en Rebekka se verbod aan Jakob in 27:46; 28:1,6,8) – verskoon egter nie die tragedie dat sy die slagoffer word van Sigem nie – nogal ‘n volksleier! – wat haar sien, haar gryp, en haar verkrag.

Dit illustreer egter die onversoenbaarheid van die waardes van die geloofsgemeenskap met dié van die omringende heidense omgewing.

Dat Sigem vir Dina lief raak (“sy siel kleef aan haar”) – dit wil voorkom asof hy haar in sy huis gehou het, ‘n mens weet nie of dit teen haar sin was of nie (kyk vers 17,26) – verskoon egter nie die gruwelike onreg wat hy nie net vir haar nie, maar ook vir die geloofsgemeenskap aangedoen het nie.  Hy het selfs haar hart probeer wen, hoewel sy opdrag aan sy pa om “daardie meisie/kind” vir my te kry sy brutale kant duidelik wys.

Jakob is egter duidelik minder bekommerd oor wat met Dina gebeur het as oor die effek wat dié situasie vir sy onderlinge verhouding met die inwoners van die land gaan hê.  Daarom doen hy aanvanklik niks tot sy seuns terug is van die veld nie.  Trouens, dit lyk asof hy hulle nie eers laat weet het nie.  Hy raak ook nie direk betrokke in die onderhandelinge wat sy seuns met Sigem voer nie, al kyk hy klaarblyklik toe sonder om te praat.

Dit is duidelik dat dié verkragting vir Sigem se mense geen skande was nie.  Daarom onderhandel hulle net oor die beste manier om dié ding te hanteer en bied aan dat die twee gemeenskappe onderling met mekaar vermeng.

Jakob se seuns het egter duidelik ‘n heeltemal ander waardestelsel gehad – die opdrag was immers baie duidelik dat daar geen vermenging met die Kanaänitiese bevolking mag wees nie – hoewel hulle handhawing daarvan gruwelik boos was.  Hulle bied met voorbedagte rade aan dat Sigem se mense deur die besnydenis deel van die geloofsgemeenskap word, maar vermoor al die mans toe die aanbod aanvaar word en hulle op die derde dag onbekwaam is om hulleself te verdedig.  Dit wil darem voorkom asof hulle die vrouens gespaar het, maar dit versag nie eintlik die onreg van die massaslagting nie.

Die broers het Dina uit Sigem se huis gaan haal en hulle optrede regverdig met die perspektief wat ook die gedeelte opsom: “Hy (Sigem) moes nie ons suster soos ‘n hoer behandel het nie!”  ‘n Duidelike aanduiding dat geslagsgemeenskap buite die huwelik om as ‘n gruwel beskou is, soveel te meer as dit met iemand was wat nie deel van die geloofsgemeenskap was nie.  “So iets doen ’n mens nie.

Jakob is egter steeds meer ontsteld oor die dinge wat sy seuns doen, as oor wat met Dina gebeur het.  Selfs ná die moord op die mense van Sigem, wil dit voorkom, is hy slegs angstig oor die effek wat die uitwissing van Sigem en sy mense op hom sal hê: “Julle het my in die moeilikheid gebring, want julle het my naam sleg gemaak by die mense van hierdie land.

Later in die verdere verloop van die verhaal van Jakob kom ‘n mens egter agter dat hy dié optrede regtig glad nie goedgekeur het nie.  Sy oordeel oor dié gruwelike moord op Sigem sien ons in die weiering om aan die einde van sy lewe vir Simeon en Levi te seën soos hy dit doen met sy ander seuns.  Hy praat eerder van die straf van God wat hulle sal tref oor die gewelddadige hantering van dié tragedie rondom Dina wat in hoofstuk 49 aangeteken word:

Simeon en Levi is die een soos die ander: altyd gereed vir geweld.  Aan hulle beraadslagings wil ek geen deel hê nie, in hulle vergaderings wil ek nie kom nie, want koelbloedig het hulle mense vermoor, roekeloos het hulle diere mishandel.  Die straf van God sal hulle tref oor hulle geweldpleging, hulle onbeteuelde drif: hulle sal uitmekaar gejaag word in Jakob, versprei word tussen die stamme van Israel.” (Gen. 49:5-7).

Dit is dan ook inderdaad wat uiteindelik gebeur.  Simeon word mettertyd deel van die stam van Juda – trouens hulle grondgebied met die aanvanklike indeling met die Intog was binne dié van Juda (Jos. 19:1) – soos ons lees in 2 Kronieke 15 toe die hervormings van Asa in die 9de eeu v.C. ‘n aantal mense van Simeon gemotiveer het om deel van die suidryk te raak.  Dit is waarskynlik ook ‘n stukkie genade, want dit gee hulle ‘n uitkoms toe die noordryk in 8ste eeu v.C. in ballingskap weggevoer word.

Levi kry weer geen grondgebied met die Intog nie, hoewel daar vir Levi weliswaar verlossing gekom het in die aanstelling as die stam wat as priesters en Leviete diens gedoen het.  Twee van die groot figure in die Trek uit Egipte was deel van die stam van Levi, Moses en Aäron.

Boodskap

‘n Mens sien hier duidelik twee beginsels geïllustreer.

Aan die een kant is dit regdeur Genesis duidelik dat seks binne die huwelik hoort.  Daarom word Gam se ontering van sy pa (Gen. 9), Lot se dogters se verkragting van hulle pa (Gen. 19), en ook hierdie verhaal van Dina (Gen. 34) in detail vertel.  “So iets doen ’n mens nie.”  Selfs die verhale van farao (Gen. 13) en koning Abimelek (Gen. 20; 26) gee erkenning aan dié belangrike moreel-etiese norm, soos die wet dit uiteindelik ook uitspel dat maagdelikheid ononderhandelbaar was en seks binne die huwelik gehoort het.

Dit word as ’n ongehoorde ding in Israel beskou as ‘n vrou: “met ’n man geslagsgemeenskap gehad het terwyl sy nog ongetroud was.” (Deut. 22:21).  Vergelyk ook Paulus se opdrag dat begeertes net in die huwelik tot hulle vervulling kan kom (1 Kor. 7:36).

Dit is as ‘n nog groter skande beskou as iemand verkrag word.  Vandaar die oordadige geweldadige reaksie van die broers van Dina.  Die skande van haar ontering word met die wreedheid van ‘n volskaalse moord op al die mans getroef.  Grusaam. Maar dit is ook ‘n totale oorboord gaan met geweld, anders as wat die wet later sou uitspel dat die straf met die oortreding verband moet hou.  Dit is wat: “‘n oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand” later sou reël, ‘n beperking van die geweld wat ‘n oortreding tot gevolg kan hê.

Aan die ander kant is dit ook regdeur Genesis duidelik dat daar ‘n afstand gehandhaaf word tussen die geloofsgemeenskap en die heidense omgewing, veral weens hulle afgodery en onsedelikheid en die effek wat dit op die geloofsgemeenskap kan hê in terme van beide hulle aanbidding en godsdiens as die handhawing van hoë sedelike waardes.

Dit is beginsels wat uiteindelik regdeur die OT en selfs in die NT gehandhaaf word.  Daarom leer Paulus ons dat ‘n ongelowige en ‘n gelowige nie in dieselfde juk kan trek nie, verseker ook nie in die huwelik nie, behalwe as die huwelik reeds voltrek is, en die ongelowige dit goedvind om in die huwelik met die gelowige te bly (1 Kor. 7:12-16).  Daar kan geen kompromie aangegaan word met ongelowiges nie weens die gevaar van afvalligheid en onsedelikheid:

Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie. Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg? Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis? Hoe kan daar eenstemmigheid wees tussen Christus en Belial? Hoe kan ’n gelowige dieselfde belange hê as ’n ongelowige? Hoe kan ’n ooreenkoms tot stand kom tussen die tempel van God en afgode? Ons is immers die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het:

“Ek sal onder hulle woon en wandel, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.” (Vgl. Lev. 26:12; Jer. 32:38; Eseg. 37:27).  Daarom: ‘Gaan van hulle af weg en sonder julle af,’ sê die Here, ‘en moenie wat onrein is, aanraak nie.’ (Vgl. Lev. 26:12; Jer. 32:38; Eseg. 37:27).  ‘Dan sal Ek julle aanneem, en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees,’ (Vgl. 2 Sam. 7:8; 7:14; Jes. 43:6; Jer. 31:9) sê die Here, die Almagtige.  Geliefdes, hierdie beloftes is ook vir ons. Laat ons ons dan reinig van alles wat liggaam en gees verontreinig, en ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom toewy.” (2 Kor. 6:14-7:1).

Soos die Here Jesus die gemeente van Tiatira in Openbaring 2 oproep tot ‘n onberispelike heilige lewe – vry van afgodery en onsedelikheid – só doen die talle verhale van Genesis ook.  Dit is hierdie geestelike tradisie wat die grondslag vorm vir ons eie moreel-etiese en geestelike waardestelsel, veral met die druk wat uit ons omgewing op ons uitgeoefen word om aan hierdie wêreld gelykvormig te word.  Mag ons die genade vind om nie net self hieraan getrou bevind te word nie, maar ook in opstand te kom en die heersende Westerse onsedelike waardes teen te staan.

View all posts in this series

Genesis


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Wat het later gebeur met Dina,vrouens was stief behandel in die Bybeltyd,hoekom was daar twaalf stamme daar moes `n dertiende stam afkomstig van Dina wees.Hoekom word Dan nie in Openbaring genoem nie en is die Iere Dan se afstammelinge.

    • Daar is nie meer gegewens oor Dina in die Bybel nie. Dan word nie ingesluit in Openbaring nie, eerder Manasse, die kleinseun van Jakob, seun van Josef. Dit is moontlik weens die boek Kronieke wat die stam van Dan ook in die geslagsregisters in 1 Kronieke 2:1 uitlaat. Dan is geassosieer met afgodery (1 Kon. 12:28-30 – Jerobeam het onder andere afgodsbeelde in Dan opgerig wat Israel verlei het). Die Iere is nie Dan se afstammelinge nie.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: