Skip to main content

Ekskursus: Kan God van gedagte verander?

655804-breathtaking-space-artNa aanleiding van die verhaal van Sodom en Gomorra en Abraham se gebed vir die regverdiges, vra mense baie keer die vraag: “Kan God van gedagte verander?”

Die kort antwoord is die volgende, soos een kommentaar (Klein) skryf hieroor:

Daar is ‘n paradoks tussen God se vryheid, om van gedagte te kan verander, en God se betroubaarheid, om nie van gedagte te kan verander nie.  Albei is tegelykertyd waar: God verander nie sy gedagte nie, en tog doen Hy dit!

Ek wil twee aspekte in my langer antwoord uitlig:

  1. God verander nooit in sy wese of karakter nie – Hy is onveranderlik in terme van bv. sy liefde en trou. Vergelyk bv. Hosea 11:8: “Hoe kan Ek jou vernietig … Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk.”
  2. God kan wel van gedagte verander, omdat Hy in verhouding is met ons. Dit sien ‘n mens bv. in die bekende Pottebakker verhaal in Jer 18.  Soos klei in die hande van die pottebakker is, so is ons in God se hand.  Wanneer Hy ‘n oordeel uitspreek en mense luister (is plooibaar soos klei), SIEN HY AF van die kwaad, en omgekeerd as Hy seën uitspreek en mense luister nie (is nie plooibaar soos klei nie), SIEN HY AF van die goeie wat Hy wou doen.

God verander dus van gedagte BINNE die verhouding met ons, soos ons ook onderling met mekaar werk, hoewel Hy nooit van karakter verander nie.

Vincent Brümmer (What are we doing when we pray? On prayer and the nature of faith – 2008 – een van die vorige Andrew Murray pryswenners) skryf hieroor en sê dat gebed eintlik die sleutel is om God se wese te verstaan (Ebeling se gedagtes).

“God gives us some things, not only as we wish, but because we wish.”

Dit beteken nie dat ons gebed God se arm draai nie, of dat dit outomaties gebeur nie, maar dat Hy in vryheid op ons versoeke reageer, omdat ons dit vra en Hy in verhouding is met ons.

Teenoor die statiese idee van God as onveranderlik, wys Vincent uit hoe gebed die verhouding tussen God en die bidder verander wat daardeur ‘n werklike veranderings effek op beide het.  (On)veranderlikheid is altyd ‘n dinamiese begrip omdat dit ‘n onvolledige konsep is – God is onveranderlik in sy goedheid en getrouheid, maar veranderlik ten opsigte van gebeurlikhede.  Anders sou hy nie ‘n persoon wees nie.

In ‘n besondere gedeelte in sy boek, Asking an omniscient God, sê hy die volgende.

Hy skiet die populêre gedagte van Boethius af dat God alwetend ten opsigte van die toekoms is, deur van buite ons realiteit, uit die ewigheid, na ons gebeure in tyd te kyk en dus te reageer op die gebeure soos dit gebeur, en dus nie voor die dinge gebeur nie. Dit maak nie logiese sin volgens Vincent nie, want ons ervaring van tyd sal dan ‘n illusie word.    Selfs die verlede, hede en toekoms sal dan van God se perspektief een punt in tyd word en ononderskeibaar.

Vincent stel eerder voor dat God se alwetendheid ten opsigte van die toekoms gesien moet word as dat Hy te alle tye van alle toekoms moontlikhede bewus is, en ook die relatiewe waarskynlikheid van elke gebeurlikheid ken.  Hy kan dus die toekoms antisipeer,

  1. omdat Hy ons intensies ken, maar
  2. ook sy eie bedoeling tot uitvoer kan bring.

Ten opsigte van die feit dat God ons behoeftes ken, kan ‘n mens aanvaar dat God baie van ons behoeftes vervul sonder dat ons vra, maar weens sy behoefte om met ons in ‘n verhouding te lewe, sommiges net gee omdat ons vra.  Anders sou ons óf oorweldig wees deur die vervulling van ons onuitgesproke behoeftes óf bederf deur te dink dat ons behoeftes outomaties, sonder ‘n verhouding, bevredig word.

Hy sê ook volgende ongelooflike ding:

God se goedheid is die onderbou van die bidder se vertroue om te vra!

Daarvoor het die bidder die gawe van enlightenment (om sy wil te ken), empowerment (om sy wil te kan doen) en taste for the good (om sy wil uit liefde te doen) nodig.  Hierdie trinitariese verklaring (enlightenmentJesus; empowermentVader; motivation [soos hy dit verderaan noem] – Gees) is kenmerkend van sy teologie.

Vincent gebruik ook John Lucas (Freedom and Grace) se briljante voorbeeld as ‘n metafoor vir gebed as samewerking tussen ons en God, dié van Persiese tapytmakers.

In elke familie werk die pa aan die eenkant en die kinders aan die ander kant.  Die kinders faal baie keer daarin om presies te doen wat die pa sê, maar die pa is vaardig genoeg om sy patrone aan te pas om hulle foute te inkorporeer en in ‘n fassinerende, konstant-ontwikkelende ontwerp te verander.

God se werk moet dus nie as ‘n bloudruk verstaan word nie, maar eerder as ‘n goddelike projek wat God ontwikkel in gemeenskap met menslike deelnemers.  Dit het ‘n effek op hoe ons die eskatologie sien – in stede van ‘n vaste uitkoms, is die eschaton iets waaraan ons as medewerkers met God saamwerk.

Om terug te keer tot die vraag oor God se verandering van gedagte:

Numeri 23:19 sê wel van God die volgende: “God is nie ’n mens dat Hy sou lieg nie, ’n mens dat Hy van gedagte sou verander nie.”  Maar daar moet ons onthou dat dit uit die mond van Bileam kom, wat nie gesagvol oor God ‘n uitspraak kon lewer nie.  Daarby interpreteer Bileam dit self, deur daaraan by te voeg: “Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?”

Dit beteken dat al wat Bileam sê, is dat God se woorde en sy dade ooreenstem, Hy doen wat Hy sê.

Dieselfde geld die gedeelte in 1 Samuel 15:29, waar Samuel die oordeel oor Saul se koningskap uitspreek en dit verbind aan God wat nie van gedagte verander nie, maar doen wat Hy sê.  In 1 Samuel 13:15 sê Samuel immers dat God se plan eintlik was om Saul se koningskap vir altyd te bevestig het, maar omdat Saul nie gehoorsaam was nie, het Hy sy plan verander.  Die frase “nie van gedagte verander nie” bedoel dus eintlik net, dat God doen wat Hy sê.

Daarteenoor, moet ons ook sê, soos Jeremia die gesagvolle profeet van die Here, God reageer ook op hoe mense na Hom luister of nie, en verander sy optrede in reaksie daarop.

DUS: Albei stellings is tegelykertyd waar: God verander nie sy gedagte nie, en tog doen Hy dit!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Genesis, God


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda