Skip to main content

Genesis 29-30 – Jakob word sterk in die stryd met Laban

655804-breathtaking-space-artJakob se verhaal in Haran by Laban en sy twee dogters, Lea en Ragel, word in drie episodes verspreid oor twee hoofstukke vertel.  In die eerste episode word die verhaal van Jakob se troue met twee vroue, Lea en Ragel, vertel weens Laban se bedrog – 29:1-20.  In die tweede episode word die verhaal van Jakob se kinders by dié twee vroue van hom vertel ten spyte van die hewige onderlinge konflik tussen die vroue – 29:21-30:24.  In die derde episode word Jakob se stryd om Laban se bedrog in ‘n voordeel vir homself om te swaai, vertel – 30:25-43.  Ek gaan dit dus as ‘n eenheid hanteer in drie episodes.

Genesis 29:1-20 – Jakob trou met Lea en Ragel weens Laban se bedrog

Jakob het sy reis voortgesit – “sy voete opgetel” – na sy familie in die ooste.  Soos dit vroeër die geval was met die slaaf wat vir sy pa, Isak, ‘n vrou gaan soek het, speel ‘n waterput weer ‘n belangrike rol om Jakob by die regte adres uit te bring.

Anders as met Rebekka wat die slaaf gehelp het om sy kamele te laat drink, is dit hierdie keer Jakob wat uit sy pad uit gaan om Ragel te help om haar vee te laat suip. Van die eerste kontak af met haar is dit duidelik dat daar ‘n vonk is tussen dié twee.

Laban bied aan dat Jakob vir hom teen betaling werk, want Jakob kom daar aan sonder enige rykdom.  Jakob soek egter net een ding van Laban, sy beeldskone – in liggaamsbou en gelaat – dogter Ragel.  Hy is bereid om sewe jaar vir haar te werk, ‘n tyd wat vir hom soos ‘n gedagte verbygevlieg het.

Laban bedrieg hom egter met Lea, die een met die sagte (of dowwe) oë, sodat hy uiteindelik nie net met twee vroue trou nie, maar op die koop toe nog sewe jaar vir Laban moes werk.  Laban se gierigheid bepaal al sy verhoudinge, hierdie keer tot Jakob se nadeel.

Albei vroue bring ook ‘n slavin in Jakob se huishouding, Silpa saam met Lea en Bilha saaam met Ragel.  Dit sorg vir ‘n uiters ingewikkelde familieverhouding waaruit ‘n hele aantal kinders gebore is.

Jakob het vir Ragel baie liewer gehad as vir Lea al moes hy nog sewe jaar by Laban vir haar werk.

Genesis 29:21-30:24 – Jakob se familie brei uit ten spyte van konflik tussen sy twee vroue

Van die begin af definieer die wedywering om die aandag van Jakob dié twee vroue, Lea en Ragel, se onderlinge verhouding.  Dit hou net nie op nie!  Jakob maak dit ook nie makliker nie, want hy maak geen geheim daarvan dat hy Ragel verkies nie.  Soos sy pa Isak dit met Esau gedoen het …

Gou kom ‘n mens egter agter dat die Here alles raaksien en tussenbeide tree deur Jakob vir sy ongelyke hantering te dissiplineer.  Lea ontvang kinders van die Here, maar Ragel bly kinderloos.

Elkeen van die kinders word ook name gegee wat iets van die worstelstryd om die liefde van Jakob in dié bigame en later poligame huwelik illustreer.  Met elke geboorte is Jakob waarskynlik herinner aan dieselfde stryd wat daar in sy ouerhuis was tussen hom en sy tweelingbroer Esau om Isak se seën.  As hy maar net wou leer!

Die eerste vier kinders word almal vir Lea gebore.  Met elkeen spreek sy die hoop uit dat Jakob haar sal liefhê soos hy vir Ragel lief was:

  • Lea se eersgebore Ruben se naam is ‘n loflied aan die Here dat hy: “my smart raakgesien” het.
  • Lea se tweede oudste kry die naam Simeon waarmee sy die Here loof dat hy haar: “gehoor” het.
  • Lea se derde seun kry die naam Levi wat verband hou met die Hebreeuse woord vir “gebind wees”. Haar hoop was Jakob deur dié seun aan haar gebind sou wees. Hoewel dit nie geslaag het nie, was dit ‘n gepaste naam vir die geslag priesters en Leviete wat hierna die volk aan die Here sou “bind”.
  • Lea se vierde seun kry die naam Juda wat weereens ‘n loflied aan die Here is en inderdaad die betekenis van “prys” dra.  Uit hierdie geslag sou al die Dawidiese konings gebore word en uiteindelik die Messias, ons Here Jesus Christus.

Die volgende twee kinders word vir Bilha, Ragel se slavin, gebore, omdat Ragel kinderloos gebly het.  Soos Sara dit met Hagar gedoen het, wil Ragel op dié manier haar kinderloosheid oplos.  Let op hoe bewus Jakob is van die Here se rol in dit alles toe hy haar jaloerse beskuldiging antwoord met: “Kan ek God se werk oorneem? Dit is Hy wat sorg dat jy nie swanger word nie.

Ragel het deur Bilha twee kinders, maar dié keer, anders as wat die geval was met Sara wat Hagar en Ismael weggestuur het, bly dié twee kinders deel van die groterwordende familie en vorm uiteindelik deel van die twaalfstamme ryk van Israel.:

  • Bilha se eerste kind kry die naam Dan waarmee Ragel haar interpretasie verwoord dat die Here: “in my guns uitspraak gelewer” het.
  • Bilha se tweede kind kry die naam Naftali waarmee Ragel haar stryd met Lea verwoord: “ek was in ’n bitter swaar stryd gewikkel”.

Lea was natuurlik nie links nie en doen dieselfde met haar slavin Silpa wat ook twee kinders vir Jakob in die wêreld bring:

  • Silpa se eerste kind kry die naam Gad wat verband hou met die Hebreeuse woord vir “gelukkig”.
  • Silpa se tweede kind kry die naam Aser wat ook verband hou met die Hebreeuse woord vir “gelukkig”.

In ‘n wending in die stryd om Jakob se aandag “verkoop” Ragel Jakob se liefde aan Lea vir ‘n aantal liefdesappels (waarskynlik mandrakes wat met seksuele begeerte en fertiliteit geassossieer is) wat Ruben vir sy ma in die oestyd gepluk het.  Lea word geseën met nog twee eie seuns sowel as ‘n dogter:

  • Haar vyfde eie kind kry die naam Issaskar wat verband hou met die Hebreeuse woord vir “loon”. Die Here het haar dus beloon met nog ‘n kind is haar interpretasie.
  • Haar sesde eie kind kry die naam Sebulon wat verband hou met die Hebreeuse woord vir “bly by”. Haar droom is dat haar man by haar sal bly, ‘n droom wat met die konstante wedywering van drie ander vrouens ‘n onhaalbare droom gebly het.  Tog sou Sebulon (en ook Naftali, haar tweede kind by Silpa) die plek word waar Jesus in Kapernaum gaan bly het (Matt. 4:13-15) soos dit in Jesaja voorspel is (Jes. 8:23).  Daarmee is hulle historiese vernedering opgehef.
  • Daarna het Lea ook ’n dogter in die wêreld gebring en haar Dina

Uiteindelik verhoor God Ragel se volgehoue gebed om ‘n eie kind.

  • Ragel het swanger geword en haar eerste eie kind Josef in die wêreld gebring. Interessant genoeg noem sy jaar seun Josef, wat beteken “byvoeg”.  “Want,” het sy gesê: “die Here sal my nog ’n seun gee.” En dit is inderdaad wat ‘n paar jaar later ná hulle aankoms in Kanaän op ‘n trek van Bet-El na Efrata in Kanaän gebeur het, hoewel dit haar dood gekos het..

Nie net het God met Josef haar skande van kinderloosheid weggeneem nie, maar iemand gegee wat ‘n groot rol in die toekoms van die volk Israel sou speel.  Josef se byvoeging is dus nie net ter wille van Ragel se behoefte aan ‘n kind nie, maar ter wille van ‘n baie groter plan waarvan Ragel nie eers naastenby die impak kon besef nie.  Dit laat ons ook verstaan waarom dit regtig gaan in gebedsverhoring.  Daar is altyd meer by betrokke as die doodgewone antwoord op gebed!

Genesis 30:25-43 – Jakob se rykdom groei ten spyte van die bedrog van Laban

Jakob besluit met die geboorte van Josef dat die tyd vir sy terugkeer aangebreek het.  Dit is min of meer veertien jaar ná hy daar aangekom het, hoewel dit nie presies aangedui word nie.  Die gierige Laban wil egter nie die seën van God, wat hy weet om Jakob se ontwil sy deel geword het, ontbeer nie.  Hy bedrieg Jakob nog ‘n keer deur al die diere wat Jakob kies om as beloning te neem – die gestreepte en bont kleinvee – af te keer en weg te steek drie dae se trek van Jakob af.

Jakob is egter nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie en werk die volgende ses jaar kliphard om ‘n groot rykdom aan kleinvee op te bou.

Sy metodiek om die kleinvee by die gestreepte afgeskilde lote van populiere, amandels en plataanbome te laat dek, sowel as om hulle in die rigting van die gevlekte en swart vee van Laban te laat kyk, val ietwat vreemd op. Dit verteenwoordig waarskynlik ‘n bygeloof uit daardie tyd, hoewel die feit dat hy net met die sterker diere teel en die swakkes uitlos, ‘n briljante werkbare plan was om ‘n groot kudde diere vir hom op te bou.  Saam met sy slavinne en slawe, sy kamele en donkies, het Jakob nou ‘n ryk en magtige man geword.

Boodskap

Dit is weereens só ‘n ryk gedeelte dat ‘n mens ‘n hele aantal perspektiewe hieruit van toepassing in jou lewe kan maak.

Ek het nou al verskeie kere oor die problematiek van bigamie en poligamie geskryf, maar kan nie anders as om net weer te onderstreep watter groot probleem dit vir die geloofsgemeenskap was nie.  Eerder as dat meer as een vrou die probleem van kinderloosheid oplos, vererger dit die wyse waarop die nageslag van dié meervoudige metgeselle met mekaar moet saamleef.

Die besluit van waarskynlik veral Lea se nasate om Josef te verkoop aan die Midianiete is moontlik ‘n onafwendbare gevolg van die feit dat Jakob hulle ma, Lea, nie gelykwaardig aan sy tweede vrou, Ragel, behandel het nie (Gen. 37).  En dan praat ons nie eers van die primêre konflik wat dit tussen die vroue onderling veroorsaak nie.

Geen wonder die wet reflekteer die afkeur van bigamie en poligamie in Levitikus se verbod daarop: “Solank jou vrou lewe, mag jy nie met haar suster trou nie. Daar sal vyandskap tussen hulle ontstaan as jy met albei gemeenskap het.” (Lev. 18:18).

Nie dat veral die koninklikes hulle daaraan gesteur het nie, soos veral die verhaal van Salomo illustreer.  Die skrywer van Konings is egter met reg uiters afkeurend oor Salomo se liefde vir vroue (en perde).  Die baie vroue het hom verlei: “om ander gode te dien. Toe het hy die Here sy God nie meer met soveel toewyding gedien soos sy pa (Dawid) nie.  Hy het Astarte, die godin van die Sidoniërs, en Milkom, die afskuwelike god van die Ammoniete, gedien.” (1 Kon. 11:4-5).

Tot Jakob se krediet hou hy sy familie beter bymekaar as wat sy oupa Abraham dit reggekry het.  Die Here seën hom ook deurdat elkeen van dié twaalf seuns – Benjamin word op pad terug gebore – ‘n plek binne die twaalfstamme ryk kry, sowel as uiteindelik ‘n deel van die beloofde land.

Dit is ook die evangelie in die verhaal.  Dat dié familie tot ‘n magtige volk saamgesnoer word, ten spyte van die onderlinge jaloesie en konflik, getuig van God se genade wat van bedrieërs bedienaars maak, en van vyande vriende.  Nie dat dit ‘n eenvoudige proses was nie.  Maar God se genade vir hierdie geloofsgemeenskap skep inderdaad ‘n toekoms nie net vir hulleself nie, maar vir die hele wêreld.

Die verhaal wys ook hoe die uitmergelende stryd wat Jakob moes voer om sy merk in die lewe te maak nie net vir hom rykdom gebring het nie, maar veral sy karakter gebou het en van hom ‘n sterk mens en dienskneg van God gemaak het.  Hierna sou dié stryd tot ‘n worsteling met God self oorgaan wat ‘n onuitwisbare vastigheid in sy verhouding met God gebring het.

Dit kan ook nooit anders met wees met die kinders van God nie.  Soos Paulus jare later sou skryf:

Weet julle nie dat atlete wat aan ’n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen. Almal wat aan ’n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om ’n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons ’n onverganklike. Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos ’n bokser wat nie in die lug slaan nie. Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie.” (1 Kor. 9:24-27).

View all posts in this series

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar