Skip to main content

Genesis 5 – Adam het ‘n seun na sy beeld

4782847Die hoofstuk begin met die tweede van die elf formulerings: “Dit is die (familie)-geskiedenis van …”  (tôledôt) wat in die boek ingespan word.  Hiermee word die familiegeskiedenis en die verloop van tien geslagte van Adam vertel.  Die hoofstuk berus waarskynlik op die gegewens uit ’n geskrewe bron soos vers 1 letterlik aandui: “die boek (sē·p̄ěr) van die geslagsregister van Adam.” Hoewel die persoonlike naam Adam en die naam vir “mens” in Hebreeus presies dieselfde is, word die woord “adam” hier waarskynlik die tweede keer as persoonsnaam gebruik, aangesien dit sonder ‘n lidwoord geskryf is en dit binne die konteks die meeste sin maak.

Die hoofstuk kan ná die eerste twee verse as inleiding in tien gedeeltes verdeel word volgens die opeenvolging van Adam se nageslag.  Elke gedeelte word op ‘n soortgelyke drieledige wyse saamgestel met enkele uitsondering na gelang van die ekstra detail oor sommige:

  1. Toe X só oud was, het hy die vader geword van Y.
  2. Nadat Y vir X gebore is, het X nog só lank geleef en seuns en dogters gehad.
  3. X was dus só oud toe hy gesterf het.

‘n Oplettende leser sal opmerk dat sommige van die name in Kain se geslagsregister en Set s’n ooreenkom, maar die ordes verskil, sowel as die Hebreeuse spelling van die woorde, wat beteken dat dit twee verskillende lyste is, soos die skrywer van Genesis inderdaad dit aanbied.  (Ek maak ook ‘n paar opmerkings oor verdere probleme wat daar met die geslagsregister is aan die einde.)

Dit is veral duidelik dat dié twee geslagsregisters in Genesis 4 en 5 met teenoorgestelde uitkomste aangebied word.  Die geslagsregister van Kain eindig met die wreedaardige gedig van Lamek, die noodwendige gevolg van ‘n beskawing wat God ignoreer.  Die geslagsregister van Adam en Set eindig met die geboorte van Noag, die seun wat ons sal: “opbeur in die harde werk met ons hande en in ons swaarkry op die grond wat deur die Here vervloek is.

Selfs in die afvalligheid wat so hand oor hand toegeneem het in die wêreld, kom daar nuwe moontlikhede in die feit dat Noag die guns van die Here geniet het.  ‘n Nuwe begin vir die mensdom was in hom dus moontlik.

God maak die mens as sy beeld.  Adam het ‘n seun na sy beeld

‘n Mens kan nie anders as om die tragiese ironie in die eerste twee verse raak te sien nie.  Die skrywer gryp terug na die skeppingsverhaal en vertel hoe God die mense gemaak het: “as beeld van Homself. Man en vrou het Hy hulle geskep en Hy het hulle geseën en hulle ‘mens’ genoem toe hulle geskep is.”  Maar, sê die skrywer, “Toe Adam 130 was, het hy die vader geword van ’n seun, sy beeld, een soos hyself.”  God maak die mens as sy beeld.  Adam het ‘n seun na sy beeld.

Daar is dus ’n doelbewuste ooreenkoms hierin en ook kontras met God wat mense “as beeld van Homself” gemaak het.  Aan die een kant word die “beeld van God” in mense voortgesit op grond van die afstamming van Adam.  Aan die ander kant maak Adam nou kinders “soos hyself.” Die effek van die sondeval – dat ons steeds God se beeld is, maar tegelyke ’n geskende beeld – word hiermee ondubbelsinnig uitgespel.

Die nageslag van Adam dra dus van geslag tot geslag die geskende beeld van God oor.  Daar is iets van God in hulle. Daar is egter ook iets van Adam in hulle.

Adam se tien geslagte

Soos ek reeds gesê het, die geslagsregister van die tien geslagte wat hier genoem word, word elke keer min of meer in dieselfde formaat geskryf: die jaar van die eerste seun van die nasaat (Adam het natuurlik al twee gehad voorheen), die hoeveelheid lewensjare wat hy daarna gelewe het, en die somtotaal van die betrokke nasaat van Adam (moontlike betekenis van die naam in hakies).

  1. Adam (mens) – 130/800/930 – dood 726 jaar vóór die vloed
  2. Set (plaasvervanger) – 105/807/912 – dood 484 jaar vóór die vloed
  3. Enos (mens) – 90/815/905 – dood 426 jaar vóór die vloed
  4. Kenan (kennis) – 70/840/910 – dood 421 jaar vóór die vloed
  5. Mahalel (lof) – 65/830/895 – dood 366 jaar vóór die vloed
  6. Jered (gaan op/af) – 162/800/962 – dood 234 jaar vóór die vloed
  7. Henog (slim/wys of toegewyd) – 65/300/365 – dood 669 jaar vóór die vloed
  8. Metusalag (man van Salag) – 187/782/969 – dood jaar ván die vloed
  9. Lameg (verneder?) – 182/595/777 – dood 5 jaar vóór die vloed
  10. Noag (rus) – 500 (/450/950 [Gen. 9:28]) – dood 350 jaar ná die vloed

Almal is dood vóór die vloed, ook Lameg 5 jaar vóór die vloed, behalwe Metusalag, en natuurlik Noag, wat dit oorleef het.  Dit wil voorkom asof Metusalag in die vloed oorlede is, of ten minste in die jaar van die vloed (soos dit interessant genoeg heel korrek in die fliek oor Noag uitgebeeld word, teenoor ander dele daarvan wat problematies is).

Interessant is dat Adam waarskynlik sewe van dié nasate geken het, ook vir Henog en Metusalag.  Net Lameg en Noag is gebore ná Adam al dood was.  Set het waarskynlik vir Lameg geken, maar nie vir Noag nie.  Henog het ook vir Lameg geken, maar nie vir Noag nie.

Die vloed het hiervolgens 1656 jaar na die skepping van Adam gebeur, as ’n mens volgens die geboortejare van die onderskeie nasate gaan, hoewel dit deel van die “voor-geskiedenis” is en daar uiteraard geen historiese verifikasie vir enige van die gegewens is nie.  Daarmee sê ek niks meer of minder nie as wat in Genesis staan nie.  Die gesprek oor die ouderdom van die skepping en die aarde kan op ‘n ander forum gevoer word.

Henog en Noag

Oor twee van die nasate van Adam word ietsie meer gesê.  Henog het met God gewandel en nie op ‘n natuurlik wyse gesterwe nie.  Noag was bedoel om hoop te gee vir die aarde.  Interessant genoeg sal van Noag nog op dieselfde wyse as van Henog gesê word dat hy met God gewandel het (6:9), soos dit inderdaad van die ander patriarge in Genesis waar was (Abraham – 17:1; Isak – 24:40; Jakob – 48:15, hoewel Jakob daar eintlik van God as “herder” praat, d.w.s. dat God saam met hom gewandel het).

Om met God te wandel word as ‘n werklikheid geskets in die res van die Bybel, nie net vir priesters nie, hoewel ‘n mens dit natuurlik van hulle kan verwag (Mal. 2:6), maar ook van elkeen wat hom- of haarself ‘n gelowige noem: “wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” (Mig. 6:8).

Die geslagsregister plaas ons voor ’n paar baie moeilik tekskritiese en interpretasie probleme. 

Die Hebreeuse teks (wat in ons Bybel opgeneem is) verskil eerstens op ’n hele paar plekke van die Samaritaanse Pentateug teks sowel as van die Griekse LXX teks in terme van die lengte van die jare wat aangegee word vir elke nasaat van Adam.  Daar is min konsensus onder geleerdes presies hoe om dit te hanteer, hoewel die Hebreeuse teks die meeste sin maak.  Daarom volg ek die Hebreeuse teks.

Die besonder lang lewensduurtes van Adam se nasate plaas ons tweedens voor die probleem hoe om histories sin daarvan te maak.  Dit help nie om spitsvondig te wees en te werk met die idee dat die jare eerder maande verteenwoordig nie, soos sommige doen, want uit die vloedverhaal is dit duidelik dat ’n jaar in Genesis min of meer 360 dae lank was.  Dit help ook nie om voor te stel dat nie alle nasate genoem is nie, soos sommige ander doen nie, want dit is duidelik uit dié geslagsregister dat dit bedoel was as ’n opeenvolgende lys van nasate.  Dit help ook nie om dit simbolies te interpreteer nie, want wat sou die simboliek dan inhou, veral as dit glad nie só in die teks self geïnterpreteer word nie?

Miskien is die beste om Gordon Wenham se suggestie te aanvaar, dat die presiese beskrywings van die lewensduurtes van Adam se nasate die boodskap wil oordra dat dié mense regtig geleef het, dat dit werklike verhale is, maar dat die lengte daarvan ook wys dat dit in die oertyd gebeur het, lank voor die skrywer van Genesis geleef het, d.w.s. dat dit nie kan ooreenkom met wat ons vandag as historiese navorsing ken nie, soos WH Gispen ook suggereer.

Die hoofstuk sluit af met die verwysing na Noag se drie seuns:

  • Sem (naam)
  • Gam (warm – waarskynlik met seksuele konnotasies)
  • Jafet (groot)
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar