Skip to main content

Genesis 39:1-20 – Josef weerstaan Potifar se vrou om aan God en sy baas getrou te bly

655804-breathtaking-space-artDie verhaal van Josef en Potifar se vrou word waarskynlik in die eerste plek hier vertel om ‘n kontras met Juda se dreigende afvalligheid en uiteindelike losbandigheid te trek.  Nog belangriker is egter in die tweede plek dat Josef se onkreukbare karakter bevestig word wat sy betroubaarheid in die uiteindelik hantering nie net van die wel en weë van mens en dier in Egipte in die vooruitsig stel nie, maar veral in die hantering van die boodskap wat hy van God af vir farao en die res van die mense moet bring.

Josef onderskei homself dus op uitnemende wyse in die vreemde, aanvanklik in die wyse waarop hy sy baas bly dien selfs in die uitdaging van slawerny.  Hy bly in die huis van Potifar en is suksesvol in alles wat hy aanpak.  Soveel só dat Potifar hom goedgesind is en aanstel oor al sy besittings.  Dit het vir Potifar nog meer dividende opgelewer, want die Here het nou ook sy huis gesëen.

Die skrywer is egter baie duidelik daaroor dat sy sukses in die vreemde te danke was aan die feit dat die Here by Josef was en dat dit die rede was waarom dit so goed gegaan het met Josef en met Potifar.  “Dit was oor Josef dat die Here dit gedoen het. Die seën van die Here het gerus op al Potifar se besittings, dié in sy huis en dié in die veld.”  Dit word heel eerste as die rede vir Josef se sukses genoem.

Josef word dus geloof vir sy absolute getrouheid aan die Here wat hom inspireer tot kreatiewe en betroubare inisiatiewe in sy meester se huis.  Potifar: “het alles aan Josef oorgelaat en hom aan niks gesteur nie, behalwe aan sy kos.

Josef bly aanvanklik selibaat, d.w.s ongetroud.  Daarmee voorkom hy die gevaar van die verleiding van afgodery en sedeloosheid en kry hy dit reg om gehoorsaam te bly nie net aan die geloofsgemeenskap se sedelike norme nie, maar nog belangriker, aan die Here s’n.  “U is sy (Potifar se) vrou.  Hoe kan ek só ‘n verkeerde ding doen.  Ek sal mos teen God sondig!” (Gen. 39:9).

Soos Willcox sê: “It is out of an appropriate intimacy with the Lord that Joseph is able to refuse an inappropriate intimacy with the woman.” (Living the Dream).

Let op dat Josef raaksien dat sedeloosheid nie net die twee partye betrokke betrek nie, maar altyd ook die Here wat raaksien wat in die slaapkamer gebeur.  Wat ons in die slaapkamer doen, soos trouens op elke ander plek op hierdie Godgeskape aarde, gebeur altyd voor die: “oë van die Here.

Wat ons ook moet raaksien, is dat Josef op dié manier Potifar se regte beskerm deur sy vrou se onsedelike voorstelle: “dag vir dag” te weerstaan.  Dit laat my dink aan Paulus in sy eerste brief aan die Tessalonissense wat die gemeente oproep om die huwelik heilig te hou en niemand in dié verband te bedrieg met seks buite die huwelik nie:

Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid. Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe; julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie. Ook mag niemand hom in hierdie verband te buite gaan en sy broer bedrieg nie, want die Here straf al sulke dinge. So het ons julle trouens al vroeër gewaarsku; ons het julle nadruklik hierop gewys. God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe. Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net ’n mens nie, hy verwerp God wat ook sy Heilige Gees aan julle gegee het.” (1Tess. 4:3-8).

Tot op die dag dat Potifar se vrou nie meer nee vir ‘n antwoord van die aantreklike fris jongman wou aanvaar nie, en Josef moes vlug vir haar, al bring dit hom uiteindelik in die tronk, weens haar valse beskuldiging.  Hy aanvaar die onreg daarvan, omdat hy aan die Here getrou wil bly en aan sy baas.  Sy lewe getuig dus van ‘n volhardende selfdissipline, anders as Juda wat geval het vir afleiding buite die huwelik om, soos die vorige hoofstuk dit uitspel.

Die tronk sou egter net ‘n volgende fase van God se plan met Josef wees, soos ons in die volgende deel gaan lees.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • Marius smit on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieHoekom beskerm die Here jou juis aan jou regterkant?
  • runawayjoyous2427b27b07 on Eenjaar Bybelleesprogram – 366 daeBaie dankie!