Genesis 18 – Abraham se gasvryheid sluit die lewe vir almal oop
Ek wil vandag ‘n bietjie anders kyk na dié belangrike verhaal in Genesis. Soos Wenham sê, dit is die bes beskryfde 24 uur tydperk in die hele boek van Genesis. Dit gee ons ‘n besondere kykie in die ontwikkeling van die verhouding tussen God en sy mense. Dit steek die hoop in ons aan dat ons op dieselfde wyse in ons eie verhouding met God kan groei, nie net in terme van die seën wat dit vir onsself bring nie, maar veral ook in terme van die impak wat dit in die wêreld kan hê.
Ek gaan daarom Abram se gasvryheid wat hy so oorvloedig demonstreer in dié verhaal as sleutel gebruik om die verhaal se betekenis te ontsluit. En ‘n deel van ‘n preek wat ek oor dié gedeelte gelewer het in die gemeente Bergsig in Natal, watter wonderlike plek! Geniet!
Drie figure in die dynserigheid
Dis warm. Die bokke staan in mekaar se skaduwee. Die beeste beweeg net hulle kake om te herkou. Die skaduwees is kort. Dis die warmste deel van die dag.
Abraham sit-slaap in die trek van sy oop tentdeur. Hy staar slaperig uit oor die woestyn. Die hitte slaan golwe oor die duine. ‘n Beweging trek sy aandag. Drie figure staan skielik in die dynserigheid
Abraham is nog gevoelig. Hy is kort tevore besny. Waar sou die drie mans so skielik vandaan kom? Hy het nie goed genoeg opgelet nie.
Sonder om te huiwer, staan Abraham egter dadelik op, draf na hulle toe en buig neer voor hulle:
“Menere, doen my die guns.
Moenie net verby gaan nie.
Laat ek eers ‘n bietjie water gaan haal en julle voete was.
Kom rus hier onder my boom.
U is nou eenmaal hier en ek wil darem vir julle ‘n stukkie brood gaan haal sodat julle weer nuwe krag kan kry vir die pad wat voorlê.”
Die drie mans huiwer ook nie. “Goed! Maak so!”
Abraham skarrel in die tent in na Sara en sê vir haar: “Bak vir ons roosterkoeke, sommer 16 kg s’n.” Dis meer as 64 koppies meel, meer as ‘n honderd roosterkoeke!
Abraham draf buitentoe na die beeste en vat ‘n mooi jong kalf. Hy gee dit vir ‘n slaaf om te slag en gaar te maak. Die beste en sagste vleis wat hy het – omtrent ‘n 100 kg.
Abraham vat botter en melk, die roosterkoeke en die kalfsvleis en sit dit voor die mans neer en bedien hulle self.
Daar onder die boom in die warmste deel van die dag het die drie mans geëet, terwyl hy hulle bedien.
Oor ‘n jaar sal jou vrou Sara ‘n seun hê
Dan maak die verhaal ‘n wending. Die mans vra na sy vrou en maak ‘n belofte: “oor ‘n jaar sal jou vrou Sara ‘n seun hê”.
Skielik besef Abraham, dis die Here wat nou met hom praat. Sy gasvryheid het in ‘n ontmoeting met die Here verander! Hy hou ‘n braai vir die Here!
In die ontmoeting doen die Here ‘n wonderlike ding. Hy bring vir Abraham en Sara weer bymekaar uit. 24 jaar al wag hulle vir die kind van die belofte. Sara het al vir Abraham haar slavin Hagar gegee om deur haar ‘n kind te hê. Maar dit het net verwydering gebring.
Geen wonder dat Sara by haarself lag en dink: “Sal ek nog genot kan hê noudat ek afgeleef is? En dit met my man wat oud is?”
Maar die Here maak ‘n belofte vir ‘n spesifieke tyd. Oor ‘n jaar sal jou vrou ‘n seun hê.
En dit was ook só.
Dan skuif die verhaal na die wêreld
As Abraham saam stap om die Here af te sien, dan begin die Here vir Hom intrek in sy planne vir die wêreld, spesifiek dié vir Sodom en Gomorra. Trouens, in die Hebreeuse teks staan dit duidelik dat God “voor Abraham” gaan staan, soos Abram kort tevore gevra is om “voor God” te lewe (vgl. Gen. 17:1 met Gen. 18:22)! Dit is waarskynlik die diepste boodskap van die hele boek Genesis, dat God nie net van ons vra om naby Hom te lewe nie, maar dat Hy inderdaad naby aan ons kom.
Dit is dan ook die rede waarom Abraham toegelaat word om ‘n medewerker van God in sy gebed vir die regverdiges in daardie bose plekke Sodom en Gomorra te word, want Abraham lewe naby God en God is naby Abraham.
Vir ‘n tweede keer word Abraham se broerskind Lot saam met sy familie gered. In Genesis 14 was dit van die ontvoering deur die Mesopotamiese konings. Hier is dit van die “oordeel” van God oor Sodom en Gomorra. Dié God verlate plek word vandag geïdentifiseer met die gebiede van die Dooie See.
Vir dieperdelwers: lees wat God se visie vir die toekoms is in Esegiël 47 en Openbaring 22.
Boodskap
Die verhale in Genesis het almal ‘n besondere openbaringskarakter. Dit help ons om diep na te dink oor die lewe, oor God, oor menswees en oor wat regtig belangrik is in dié lewe. Dit sluit vir ons die betekenis van ons menswees oop en nooi ons uit om op die belangrike dinge te konsentreer.
Genesis 18 wys vir ons hoe gasvryheid ‘n sleutel is tot ‘n diep verhouding met God, ‘n herstelde verhouding met mekaar en ‘n lewensveranderende verhouding met die wêreld.
Gasvryheid is nie maar ‘n toevallige ding wat sommige kan doen en ander kan nalaat nie. Dit het nie net met jou persoonlikheid te make nie, maar met die diepste dele van jou menswees.
Groei na God toe
U is nou eenmaal hier – mense kom nie per toeval oor ons pad nie. Daar is ‘n stuk voorsienigheid in die gebeure van elke dag, wat ons moet aangryp.
Abraham se huis is nie net vier mure teen die wind nie. Nee, dit het ‘n oop deur na die mense wat moontlik oor sy pad kan kom. Sy lewe draai nie net om die beveiliging van sy eie nie. Hy vra nie net Here beskerm my, Here gee vir my om nie. Nee, Hy lewe na buitentoe. Here, U is in alles, ook in die gebeure van elke dag. U kom oor my pad in die ontmoetings met mense wat U oor my pad stuur. Ek wag daarvoor Here, stuur die ontmoetings oor my pad!
Hoekom? Want Abraham weet, ons groei nie na God net deur ons stiltetyd of deur die erediens of deur een of ander godsdiensoefening nie. Nee, God is in elke uur van elke dag. Hy is in die lewe en terwyl die lewe gebeur, kom daar ontmoetings met God, nie net in die Bybel nie, maar in die mense wat nou maar eenmaal oor ons pad kom. Ons groei na God toe in ons oop tentdeure in die woestyn.
Jesus hak hierby aan in sy profetiese rede oor die laaste oordeel. Hy sê vir die skape aan sy regterkant:
“Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit, want … Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My gehuisves; Vir sover hulle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.” (Matt. 25:34-35, 40).
Die Hebreërskrywer doen dieselfde:
“Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.” (Hebr. 13:2).
Lukas herinner ons aan die twee op pad na Emmaus wat by die vreemdeling wat aan hulle verskyn, aandring om by hulle oor te bly en dan agterkom dat dit al die tyd Jesus was by hulle!
“Het ons harte nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” (Luk. 24:32).
Niks gebeur net per toeval nie! Hoe gepas was die gasvryheid van Abraham nie … as jy aan die einde van die verhaal terugkyk! As jy geweet het God besoek jou in die onderbreking van jou middagslapie, sou jy gehardloop het en nog meer kos gaar gemaak het as Abraham … as jy maar net geweet het!
En dis die eerste punt van dié verhaal. Gasvryheid is die deur na ‘n ontmoeting met God! Ons groei na God toe deur gasvryheid te betoon aan die onderbrekings op ons pad! Die deur na God maak oop die oomblik as jy vir iemand sê wat jou dag onderbreek: “Jy is nou eenmaal hier …” en wie weet waarheen die deur jou sal lei?
Groei na mekaar toe
Maar gasvryheid het nie net betekenis vir ons verhouding met God nie. Dit het ook ‘n direkte impak op ons verhouding met mekaar. Die verhaal van Abraham sê vir ons, dat daar iets besonders met ons gebeur wanneer ons ons lewens oopmaak vir die vreemdelinge op ons pad. Ons eie intieme verhoudings word deur die Here heelgemaak, as ons die vreemdeling op ons pad raaksien en met gasvryheid ontvang!
En die wonder van dié verhaal, is dat die Here selfs die kleinste stukkie gasvryheid raaksien!
Kyk, Sara staan hier nie juis as ‘n model van geloof nie. Sy lag oor die voorstel van die Here. Sy wonder, sal sy nog plesier kan hê? Sal haar man nog dié plesier vir haar kan gee? En ‘n kind op haar ouderdom?
Maar dis juis dié man van haar, wat die eerste heling bring. Abraham se gasvryheid breek ‘n deur oop vir hulle albei se verhouding ten spyte van haar ongeloof!
Maar dan raak sy self betrokke. Sy raak by die gasvryheid betrokke en bak die roosterkoeke!
Ek kan só identifiseer met Sara en haar werklikheidsvisie. Dis klaar met ons en dit is al! En haar dromer-man? Hý én sý is oor die muur en dit is al.
Maar sy bak darem die roosterkoeke. Sy skeep nie die vreemdelinge af nie … en die wonder van God se teenwoordigheid in dié vreemdelinge sluit haar ook in!
Vir God is niks te buitengewoon nie en Hy maak hulle verhouding heel, plesier en peuter en al. Vir die brood in die oond, gee die Here vir haar ‘n kind en bevredig haar diepste begeerte na ‘n nageslag en skep vir haar en Abraham ‘n ruimte om hulle huweliksliefde te kan laat groei tot ouerliefde.
O – dat ons nooit die geleentheid sal laat verbygaan om vir iemand wat oor ons pad kom, iets goeds te doen nie. Ter wille van God, maar ook ter wille van onsself. Dit is saliger om te gee as om te ontvang. Maar dan ontvang ‘n mens ook weer soveel van God, dat die dankbaarheid jou ook weer motiveer om weer te gee en weer en weer … dis die lewe!
Groei na die wêreld toe
Maar dis nog nie al nie! Dié gasvryheid het nog wyer implikasies as die verhouding met God en met mekaar. Dit raak die hele wêreld!
Dis interessant hoe die verhaal met die aankondiging van ‘n kind, ‘n heel ander pas aanneem. Waar dit Abraham was wat rond gehardloop het en reggemaak het en gaan staan het onder die boom om God te bedien, verdiep die gesprek tot ‘n intieme vriendskapsverhouding.
Die teks sê eintlik dat as Abraham die drie vreemdelinge gaan afsien op pad die woestyn in, God voor Abraham gaan staan en intrek in ‘n merkwaardige verhaal van medewerking vir die wêreld.
Die agenda is nie meer net die verhouding met God of die verhouding met Sara nie. Nee, die agenda omsluit nou die hele wêreld. God deel met Abraham wat Hy gaan doen met Sodom en Gomorra en lok Abraham uit om saam te gesels en erken Abraham se bydraes.
Abraham se gasvryheid het dus baie meer implikasies as wat hy ooit kon besef het met die eerste draffie die son in om ‘n driemanskap te onthaal. Sy lewe word onherroeplik verbind aan wat in die wêreld gebeur. Gasvryheid lei tot God, lei tot geloof, lei tot gemeenskap, lei tot gebed en lei tot verhoring van gebed.
Daarom dat die Nuwe Testament uiteindelik so vol is van oproepe na gasvryheid. Want dit is die beginsel van die nuwe lewe. En die basis daarvan is vriendskapsliefde.
-
Romeine 12:13 gee die omvattende liefdesbeginsel: “Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid (philoxenia – vriendskapsliefde vir vreemdelinge).”
-
Kolossense 4:10 spits dit toe op evangeliebedienaars: “Aristargos, wat hier saam met my gevange sit, stuur vir julle groete; ook Markus, die neef van Barnabas. Oor hom het julle reeds opdragte gekry: as hy daar by julle kom, moet julle hom gasvry ontvang.”
-
1 Timoteus 3:2 pas dit toe op ouderlinge: “‘n Ouderling moet onberispelik wees, getrou aan sy vrou, nugter, verstandig, beskaaf, gasvry en bekwaam om te onderrig;”
-
Titus 1:8 brei uit oor die leiers: “Hy moet gasvry wees, lief vir wat goed is, verstandig, regverdig, vroom en selfbeheers.”
-
1 Petrus 4:9 herinner ons: “Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla.”
Daar is niks meer opwindend as gasvryheid nie. Daar is niks meer avontuurlik as om die eerste draffie te gee na iemand wat oor jou pad kom nie.
En dis belangrik om te besef dat dié gasvryheid in die eerste plek bedoel is vir vreemdelinge! Daarom dat die woord gasvryheid letterlik beteken: vriendskapsliefde vir vreemdelinge. Gasvryheid beteken om in te nooi, om as gasheer op te tree teenoor iemand wat buite staan.
Pat Kiefert sê ons verval te maklik in ‘n soort private intieme godsdiens. Ons gebruik die metafoor van ‘n intieme familie en sluit daarmee mense uit wat nie deel van die familie is nie. En hoewel die kerk verseker met die beeld van familie beskrywe kan word, is dit nie net die intieme beeld van familie wat saamgevoeg in hulle huisie sit en beskerm word teen die koue en die gevare nie, maar ook die beeld van ‘n Abraham wat met sy oop tent sit en drie vreemdelinge ontvang in sy familiekring. Geen wonder dat Hy God op dié manier ontmoet het nie, want dít is die tipe gasvrye God wat ons het!
Gasvryheid is ‘n kultuur van uitreik na die wêreld. Dit is die wyse waarop ons ons liefde aan ander bekend maak. Dit is die ontmoetingspunt tussen mens en God en mens en medemens. Dit is die helingsmoment wat vervreemding in vriendskap laat verander.
Dink net as ons die beste wat ons het kan netwerk met die slegste wat ons het! Die meeste met die minste! Die siekste met die gesondste! Die oudste met die jongste! Die vinnigste met die stadigste! Die rykste met die armste! Die slimste met die domste!
My droom is dat die kerk ‘n plek sal word waarvandaan ons gaan lewe daarbuite eerder as ‘n plek waarnatoe ons kom om te lewe. Die kerk moet my help om nader te groei aan mense daarbuite en nie net nader te groei aan mense hierbinne nie. En om dít te doen, moet elkeen van ons aktiewe netwerkers word.
Ons moet mense intrek in ons kring en hulle blootstel en inlei in verhoudings met ander mense en met die Here. En die ideale manier, is deur ons gasvryheid. Die Nuwe Testament maak geweldig baie van die prinsipiële radikale openheid wat ons teenoor alle mense moet handhaaf, veral teenoor diegene wat op die rand van die samelewing staan. Ons moet vreemdes deel van ons omgee-kultuur maak.
Groei dus na God, mekaar en die wêreld deur GASVRYHEID … dié week en elke week!
View all posts in this series
- God gee Genade vir Geloofsgemeenskappe - October 5, 2016
- Die Pentateug
- Hoe lees ons die verhale in die Bybel?
- Lees, Luister, Leef
- Genesis – Die oorsprong van alle dinge - October 6, 2016
- Genesis in sy ontstaanswêreld
- Die verskille oordonder die ooreenkomste
- Indeling
- Genesis 1:1-2:3 – In die begin het God die hemel en die aarde geskep - October 7, 2016
- Genesis 2:4-25 – Dit is nie goed dat die mens alleen is nie - October 8, 2016
- Genesis 3 – Die mens kruip vir God weg weens die sonde - October 10, 2016
- Genesis 4 – Kain oorweldig vir Abel en maak hom dood - October 11, 2016
- Genesis 5 – Adam het ‘n seun na sy beeld - October 12, 2016
- Genesis 6 – God is bedroef dat Hy die mens gemaak het, maar begenadig Noag - October 13, 2016
- Genesis 7 – Ek het jou gesien en bevind jou regverdig - October 15, 2016
- Genesis 8 – Toe het God gedink aan Noag en al die diere in die ark - October 16, 2016
- Genesis 9 – God sluit ‘n verbond met alle lewende wesens - October 18, 2016
- Genesis 10 – Uit Noag en sy nageslag versprei die nasies oor die aarde
- Genesis 11 – God bring ‘n taalverwarring en beweeg Tera om na Kanaän te trek - October 19, 2016
- Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwys - October 21, 2016
- Genesis 13 – God herhaal sy belofte van die land en ‘n groot nageslag aan Abram
- Genesis 14 – Abram seën en straf nasies op die wêreldverhoog - October 22, 2016
- Genesis 15 – Die Here belowe beskerming en beloning in ‘n verbond met Abram - October 24, 2016
- Genesis 16 – Abram val vir die versoeking om self ‘n nageslag te voorsien - November 14, 2016
- Genesis 17 – Lewe naby My en wees onberispelik - November 15, 2016
- Genesis 18 – Abraham se gasvryheid sluit die lewe vir almal oop - November 16, 2016
- Ekskursus: Kan God van gedagte verander?
- Genesis 19 – Losbandigheid en bloedskande bedreig familiewees - November 17, 2016
- Genesis 20 – Abraham tree as profeet op ten spyte van sy onbehoorlike gedrag - November 18, 2016
- Genesis 21 – Die Here het aan Sara gedink soos Hy beloof het - November 19, 2016
- Genesis 22 – Nou weet ek dat jy My dien - November 21, 2016
- Genesis 23 – Sara word begrawe in die Makpelagrot as vervulling van die landsbelofte - November 22, 2016
- Genesis 24 – God gee vir Isak ‘n gasvrye vrou wat hom vertroos na die dood van Sara - November 23, 2016
- Genesis 25:1-18 – Abraham omhels die roeping van God enduit - November 24, 2016
- Genesis 25:19-34 – Esau minag sy eersgeboortereg en verkoop dit aan Jakob - November 25, 2016
- Genesis 26 – Isak beweeg van rusies na die ruimte wat die Here hom gee - November 26, 2016
- Genesis 27:1-45 – Rebekka en Jakob se bedrog bedreig die geloofsgemeenskap se voortbestaan - November 30, 2016
- Genesis 27:46-28:22 – Die Godsverhouding en die beskerming van die huwelik bevestig die geloofsgemeenskap - December 1, 2016
- Genesis 29-30 – Jakob word sterk in die stryd met Laban - December 2, 2016
- Genesis 31 – Die Here stuur Jakob as ‘n ryk man weer terug na Kanaän - December 3, 2016
- Genesis 32 – Jakob worstel enduit met God en word verander van bedrieër na begenadigde - December 5, 2016
- Genesis 33 – Jakob bely teenoor Esau dat God goed was vir hom - December 6, 2016
- Genesis 34 – Dina se verkragting word met koelbloedige moord beantwoord - December 7, 2016
- Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin het - December 8, 2016
- Genesis 36 – Esau verlaat die beloofde land en slaan sy eie koers in - December 9, 2016
- Genesis 37 – Josef die dromer word ‘n slaaf in Egipte - December 10, 2016
- Genesis 38 – Tamar tree as verlosser op in Juda se afvalligheid en losbandigheid - December 12, 2016
- Genesis 39:1-20 – Josef weerstaan Potifar se vrou om aan God en sy baas getrou te bly - December 13, 2016
- Genesis 39:21-40:23 – Josef lê drome uit in die tronk met God se hulp - December 14, 2016
- Genesis 41 – Josef se lot word dramaties verander van vergete na vrugbaar - December 15, 2016
- Genesis 42 – Jakob se seuns word deur God uitgedaag in Egipte - December 16, 2016
- Genesis 43 – Jakob stuur Benjamin na Egipte in die hoop dat God hulle barmhartig en genadig sal wees - December 17, 2016
- Genesis 44 – Juda offer sy lewe vir Benjamin op toe God hulle sonde aan die lig bring - December 19, 2016
- Genesis 45 – Josef omhels sy broers en verklaar dat alles God se werk was - December 20, 2016
- Genesis 46 – Jakob trek Egipte toe en herenig met Josef - December 21, 2016
- Genesis 47-48 – Jakob seën die farao sowel as Josef se twee seuns - December 22, 2016
- Genesis 49-50 – Jakob seën sy seuns met die oog op die toekoms - December 23, 2016
- Oor die woord van Sarai - June 20, 2018
christa marais
Dankie Chris, dit was pragtig! Het ook vir my ‘n kosbare les geleer!