Skip to main content

Indeling

655804-breathtaking-space-artDit is opmerklik dat die indeling van die boek Genesis op verskillende maniere gedoen kan word.  Telkens gee elke indeling ook ‘n unieke manier om na die inhoud van die boek te kyk en ‘n oorhoofse prentjie van die boodskap van Genesis te vorm.  Ek gee daarom ‘n paar maniere om die boek in te deel sodat jy ‘n gevoel kan begin kry van wat regtig onder die oppervlak aangaan in hierdie boek van die ontstaan en begin van alles.

Die eerste indeling is die belangrikste.  Dit is die indeling van die verhaal van Genesis in twee hoofdele, hfst. 1-11 en 12-50.  Daarmee is Genesis die verhaal van die:

  1. Oergeskiedenis (‘n onbepaalde tyd), wat die begin van alles vertel, met ‘n fokus op vier sleutel gebeure: Skepping, Sonde, Vloed en die Nasies. Dit het ‘n meer universele karakter – Genesis 1-11.
  2. Aartsvaders (ongeveer 300 jaar) wat die begin van die heilsgeskiedenis van God met sy volk – Abraham en sy “saad” – vertel, met eweneens vier sleutel karakters: Abraham, Isak, Jakob en Josef. Dit het ‘n meer verbondskarakter – Genesis 12-50.

Dit sluit goed aan by die samestellers van die boek se indeling van Genesis.  Hulle het ‘n geykte frase: “Dit is die (familie)-geskiedenis van …”  (tôledôt) op elf plekke in die boek ingespan.  Hierdie frase deel die boek in tien fases in (2 van dié frases handel opeenvolgend oor dieselfde geskiedenis en word daarom deur die meeste geleerdes as een onderafdeling geneem).

Die eerste vyf fases het met die verhaal van die oergeskiedenis te make.  Die laaste vyf fases het met die verbond met die aartsvaders te make.  Daarmee het die boek die volgende tien onderafdelings:

  • Die OERGESKIEDENIS
    • Die geskiedenis van die hemel en aarde – Genesis 2:4;
    • Die boek van die geskiedenis van Adam (die “boek” is waarskynlik ‘n skriftelike bron, die enigeste plek waar van ‘n boek gepraat word in Genesis) – Genesis 5:1;
    • Die geskiedenis van Noag – Genesis 6:9;
    • Die geskiedenis van Noag se seuns: Sem, Gam en Jafet – Genesis 10:1;
    • Die geskiedenis van Sem – Genesis 11:10;
  • Die VERBONDSGESKIEDENIS
    • Die geskiedenis van Tera – Genesis 11:27;
    • Die geskiedenis van Ismael – Genesis 25:12;
    • Die geskiedenis van Isak – Genesis 25:19;
    • Die geskiedenis van Esau – Genesis 36:1,9 (die frase word hier twee keer gebruik, maar handel oor dieselfde nasie);
    • Die geskiedenis van Jakob – Genesis 37:2.

As ‘n mens die boek só lees, dan verwoord die indeling die tien “families” waarop Genesis fokus wat ook die skepping as sodanig insluit, binne die groter raamwerk van die skepping van die heelal, die nasies en Israel.

Dit is opmerklik dat drie van die sleutel karakters in die verhaal eintlik as ‘n onderafdeling van die familiestorie van hulle pa vertel word:

  • Abraham is deel van Tera se storie (11:27),
  • Jakob is deel van Isak se storie (25:19), en
  • Josef is deel van Jakob se storie (37:2).

Dit wys net hoe integraal die verhale van individue met dié van families en geloofsgemeenskappe verweef is.  Dit is ook duidelik dat die familie lyne van beide die “verkose” families en die “verwerpte” families aangegee word. Die verskil is egter, dat die “verkose” families se storie ook vertel word, maar net die geslagslyste van die “verwerpte” families vertel word.  Die verkose families raak deel van God se storie met hierdie wêreld.

Dogmatici het hierdie twee breë temas as uitgangspunt vir die teologie geneem: Skepping en Verbond (Du Rand, König).  ‘n Mens kan ook Paulus se teologie met dié twee terme beskryf veral vanuit die herinterpretasie wat sy ontmoeting met die Messias in die NT daaraan gee (Wright).

Ander indelings

Ek noem nog twee moontlikhede om Genesis in te deel.  ‘n Mens kan Genesis in drie dele verdeel wat ook goeie sin van die inhoud van die boek maak.  Dan is dit die verhaal van:

  • Die ontstaan van die wêreld – Genesis 1;
  • Die ontstaan van die nasies – Genesis 2-11;
  • Die ontstaan van Israel – Genesis 12-50.

Ek hou ook veral van die indeling van die boek as vier Roepingsverhale wat opgebou is rondom God se beloftes (Brueggemann):

  • Die voorgeskiedenis – die Soewereine (sovereign) roeping van God – Genesis 1-11;
  • Die Abraham verhaal – die Omhelsde (embraced) roeping van God – Genesis 12-25;
  • Die Jakob verhaal – die Konflikterende (conflicted) roeping van God – Genesis 26-36;
  • Die Josef verhaal – die Verborge (hidden) roeping van God – Genesis 37-50.

Hierbenewens is dit ook opmerklik dat daar twee ander stories is wat ‘n eenheid aan die boek Genesis gee.  Dit brei uit op die derde aspek van God se opdrag in Genesis 1-2 aan die mens – bewoon, bewerk en bewaar – en koppel dit aan die ingryping van God se genade.  Dit vind ons in die twee verhale van God se bewaring:

  • Die storie van Noag – God bewaar mense in die vloed – Genesis 6-9;
  • Die storie van Josef – God bewaar mense in die hongersnood – Genesis 37-50.

Watter een van bogenoemde indelings jy ook al kies, dit is duidelik dat dié boek ‘n fundametele vertrekpunt is vir die nadenke oor God, die skepping en menswees, en die wyse waarop ons bestaan op hierdie wêreld.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…