Skip to main content

Genesis 41 – Josef se lot word dramaties verander van vergete na vrugbaar

Josef – die sewentienjarige tiener wat dertien jaar lank in die tronk vergeet is – se lot word dramaties in sy dertigste jaar verander (1885 v.C.).  Hy word gevra om farao se drome te interpreteer en bestyg met die positiewe uitleg daarvan die hoogste posisie wat enigiemand in Egipte kon beklee, uitgesonderd die koning.

Josef se status word van ‘n vergete slaaf in die tronk verander na ‘n vrugbare leier wat nie net die volk van Egipte help om die voorspoed van hulle oes ekonomies voortreflik te bestuur nie, maar vir die hele wêreld in hongersnood ‘n uitkoms te bied. Sy twee kinders kry name wat dié twee aspekte van sy lewe simboliseer: vergete (Manasse) en vrugbaar (Efraim).  “The vale of tears has proved to be the valley of soul making.” (Wenham).

Farao het twee drome.  In die eerste droom word sewe mooi vet koeie deur sewe lelike en maer koeie opgevreet.  In die tweede droom word sewe mooi vol are deur sewe skraal are ingesluk.

Geeneen van farao se waarsêers en raadgewers kon dit vir hom uitlê nie, totdat die hoof van die skinkers Josef se droomuitleg in die tronk onthou het.  Die farao het Josef laat roep.  Josef is geskeer en ander klere aangetrek om hom respektabelik te maak vir die Egiptiese koning.

Interessant genoeg kry ‘n mens dit op ‘n paar plekke in die Bybel dat die skeer van hare ‘n simboliese betekenis gehad het.  Ons lees op een plek dat net die helfte van die baard van ‘n paar manskappe afgeskeer is as ‘n minagtende gebaar teenoor Dawid, iets wat die Ammoniete suur bekom het (vgl. 2 Sam. 10:4). Ons lees ook van die skeer van alle liggaamshare as iemand van ‘n velsiekte gereinig is (Lev. 14:9).

Simson se skeerdery van sy sewe haarlokke het hom egter suur bekom (Rigt. 16:19), hoewel die skrywer die uiteindelike oorwinning van Simson aankondig met die onheilspellende opmerking: “Daar het sy hare wat afgeskeer was, weer begin groei.” (Rigt. 16:22).

Meer in lyn met Josef se ervarig, lees ons egter ook dat die baard sowel as die kophare afgeskeer is ná die tydperk van ‘n besondere nasireërgelofte van toewyding aan die Here voltooi is (Num. 6:9).  Dit is presies wat Paulus op ‘n keer doen in Jerusalem om sy getrouheid aan die wet te bewys, deur saam met vier mans wat ‘n gelofte afgelê het, te betaal dat hulle almal hulle hare (baard en kop) laat afsny (Hand. 21:22-26).

Dit laat ‘n mens onmiddelik dink dat wat die Egiptenare hier doen aan die een kant inpas by hulle eie gebruike.  Die meeste van die lande van die Ou Nabye Ooste het nie hulle baarde en hare geskeer nie, die Egiptenare wel.  Die Egiptiese priesters het selfs hulle kop geskeer.  Dit verklaar waarskynlik ook hoekom Josef se broers hom nie herken het toe hulle uiteindelik in sy teenwoordigheid toegelaat is nie. Hy het nie meer gelyk soos hulle hom onthou het nie.

Aan die ander kant laat dit ‘n mens die gedagte kry dat die tydperk in die tronk vir Josef soos ‘n tyd van toewyding aan die Here was.  Hy is nou getoets deur dié tyd van ontbering en toewyding en geskik bevind vir die taak wat die Here vir hom verder gehad het.

Let op hoe Josef ontken dat hy drome kan uitlê, slegs dat die Here vir farao ‘n goeie antwoord sal kan gee.  Ná hy na die drome geluister het, gee hy daarom ook onmiddelik vir farao die uitleg dat die twee drome eintlik maar net een boodskap dra: “Wat God wil doen, het Hy aan u meegedeel.

God het farao laat sien het wat Hy wil doen.  Daar sal in die hele Egipte sewe jaar groot oorvloed wees waarna sewe jaar van hongersnood sal aanbreek. Dit sal die hele land op sy knieë bring weens die strawwe droogte en hongersnood.

Die feit dat die droom twee keer na farao toe gekom het, beteken maar net dat die saak vas staan by God. “Hy sal dit binnekort uitvoer.

Dan gaan Josef aan om in lyn met sy verstommende organisatoriese en bestuursvermoë die farao raad te gee om die jare van oorvloed behoorlik te organiseer.  Op ekonomiese voortreflike manier beveel hy aan dat daar met mening gespaar word deur die oorvloed van koring op te gaar vir die maer jare wat sal kom.

Almal – die farao en al sy amptenare – het Josef se raad goedgevind.  Trouens, farao sê-vra: “Waar kry ons so iemand, ’n man met die verstand van ’n god?”  Inderdaad.  Josef is deur God gestuur!

Farao stel hom daarom oor sy paleis en die hele Egipte aan en betoon aan hom groot eer met klere en ‘n entourage wat hom op die tweede beste wa van die farao laat ry het.

Farao besluit ook om Josef ‘n Egiptiese naam te gee – Safenat-Paneag, dit beteken moontlik “verborge ontdekker”, soos Josephus dit vertaal het – en laat hom trou met Asenat, dogter van Poti-Fera priester van On, dit is die stad Heliopolis (16 km noord-oos van Kaïro) van die songod Ra.

Josef het nie gras onder sy voete laat groei nie en onmiddelik die opdrag van farao in werking gestel.  In dié tyd, die tyd van oorvloed voor die hongersnood begin het, is daar vir Josef ook twee seuns gebore. Hy was dus nie net vrugbaar in sy bediening nie, maar ook in sy huis en familie.  Josef het die oudste Manasse genoem, “want,” het hy gesê, “God het my alles laat vergeet: al my swaarkry en alles wat my familie my aangedoen het.”  Hy het sy ander seun Efraim genoem, “want,” het hy gesê, “God het my vrugbaar gemaak in die land waar ek verneder is.

‘n Gepaste opsomming van sy lewe tot dusver.

Die voorspoed het ook ná sewe jaar in ‘n grootskaalse wêreldwye hongersnood oorgegaan wat nie net die hele wêreld van Egipte se voorsiening afhanklik gemaak het nie, maar binnekort vir Josef en sy broers weer in kontak met mekaar sou bring. Die tafel is gedek vir ‘n baie interessante verdere werk van God in die lewe van sy volk.

Die gawe van administrasie

Die Ontdek jou gawes kursus sal Josef se gawe waarskynlik beskryf as die gawe van administrasie.

Hulle sê: “Die gawe van organisasie is die Godgegewe vermoë om te verstaan wat dit is wat ‘n organisasie laat funksioneer, en die spesiale vermoë om prosedures te beplan en uit te voer ten einde die doelwitte van die bediening te bereik.” Skrifverwysings is 1 Korintiërs12:28; Handelinge 6-1-7; Eksodus 18:13-26.

Veral 1 Korintiërs is waarskynlik van toepassing om dit van die gawe van leierskap te onderskei, hoewel dit baie naby aan mekaar is. Die NAV vertaal ‘n bietjie onversigtig: “om leiding te gee“. Die Griekse woord is kubernesis (κυβέρνησις) wat van die werkwoord kubernao afkom en basies beteken om ‘n skip te stuur of om te begelei.

Die gawe van leierskap word effens anders gedefinieer. Hulle sê: “Die gawe van Leierskap is die vermoë om visies te formuleer, te motiveer en mense so te bestuur dat hulle in harmonie God se doel bereik.” Skrifverwysings is Romeine 12:8; Hebreërs 13:17; Lukus 22:25-26.

Veral Romeine is waarskynlik van toepassing om die gawe van leierskap van administrasie te onderskei. Die Griekse woord is proistamenos (προϊστάμενος) en basies beteken dit om ander só te beïnvloed dat hulle ‘n aanbevole koers of optrede volg.

Naby mekaar, maar tog onderskeibaar.

View all posts in this series

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar