Skip to main content

Genesis 2:4-25 – Dit is nie goed dat die mens alleen is nie

4782847Die eerste fase van die geskiedenis van families

Die frase “dit is die geskiedenis van …” deel die res van die verhaal van Genesis in tien fases in.  Die eerste vyf fases dek die tyd van die oergeskiedenis van die Skepping, Adam, en Noag tot en met die verhaal van Sem, Noag se kind.  Die tweede vyf fases dek die tyd van die verbondsgeskiedenis met die verhaal van Tera waarin Abraham die groot rol speel, Ismael en Isak, Esau en Jakob wat eindig in Egipte.

Genesis 2:4 lei egter nie net die tweede skeppingsverhaal in nie, maar ook die sondeval waarvan Genesis 3 vertel.  Die verhaal word as ‘n eenheid in sewe episodes vertel waarvan episode vier, die sondeval, die sentrum vorm (Wenham se indeling gebaseer op Gunkel):

  • Episode 1 fokus op die tuin van Eden as lewensruimte vir die mens – 2:4-17
    • Episode 2 fokus op die verhouding tussen die man en die vrou – 2:18-25
      • Episode 3 fokus op die gesprek tussen die slang en die vrou – 3:1-5
        • Episode 4 fokus op die sonde van die man en die vrou – 3:6-8
      • Episode 5 fokus op die gesprek tussen God en die mens – 3:9-13
    • Episode 6 fokus op die versteuring van verhoudings in die skepping – 3:14-21
  • Episode 7 fokus op die sluiting van die tuin van Eden vir die mens – 3:22-24

Soos in enige verhaal is die optrede van die karakters die sleutel tot die betekenis daarvan.  Let op na die volgende interessante aspekte van die onderskeie karakters:

  • In episode 1 en 7 is die aktiewe subjek God alleen. Hy skep die lewensruimte vir die mens.  Hy sluit dit ook vir hulle toe weens hulle ongehoorsaamheid.  Die mens het geen sê in die seën en straf van die Here nie.  God is soewerein.  Hy bepaal die gang van sake.
  • In episode 2 en 6 staan verhoudings in die kollig. God is steeds die handelende subjek, hoewel Hy in gesprek tree met die mens daaroor.  Hy gee vir die mens ‘n hulp, ‘n maat wat by hom pas. Ná die sondeval is dit egter steeds God wat die situasie hanteer as dinge verkeerd loop en verhoudinge tussen hulle versteur word.  ‘n Mens sien hoe sy genade in beweging kom selfs al moet Hy die ongehoorsaamheid straf.  Selfs in sy straf is daar ‘n belofte van hoop.
  • In episode 3 en 5 staan gesprek Die slang plaas die mens voor die versoeking om nie na God te luister nie.  Hy los hulle egter in hulle ellende as hulle daarvoor val.  Ná die sondeval is dit God wat die mens opsoek om vir hom ‘n uitweg te berei, al beteken dit ook dat die tuin vir hom gesluit sal word.  God se gesprek is verlossend van aard selfs te midde van die noodwendige en onafwendbare oordeel.
  • In episode 4, die hart van dié verhaal, is die mensepaar alleen in hulle versoeking en raak hulle ongehoorsaam. Hulle alleen dra die skuld vir hulle sonde.  Hulle kan dit ook nie self regmaak nie.  God alleen kan dit doen.  Hier sien ‘n mens die vertrekpunt waarmee Paulus sy magnus opus, die brief aan die Romeine, veel later sou skryf, dat God die mens oorgegee het aan hulle sondige keuse om Hom nie te aanbid nie, iets waarvoor hulle alleen verantwoordelik is, maar terselfdertyd die verlossing in Christus voorsien het wat deur geloof ‘n werklikheid vir hulle kan word (Romeine 1-4).

Episode 1: Die tuin van Eden as lewensruimte vir die mens – 2:4-17

Genesis 2 se verhaal begin met die omgekeerde volgorde as in Genesis 1 en praat van: “aarde en hemel” (Gen. 2:4b) eerder as van: “hemel en aarde” (Gen. 1:1; 2:1,4a).  Dit is dus van die begin af duidelik dat ons hier met ‘n verhaal van die aarde te make gaan hê.  Dit verklaar hoekom hierdie tweede skeppingsverhaal ander dinge beklemtoon as die eerste skeppingsverhaal.

Genesis 2 is ‘n verhaal

In aansluiting by Genesis 1 is dit belangrik om agterkom dat ons in Genesis 2 nie meer met ‘n gedig oor die skepping te doene het nie, maar met ‘n verhaal daaroor.  Dit is alreeds ‘n belangrike verklaring vir die beduidende verskille wat daar tussen die eerste en tweede skeppingsverhale is:

  • Die orde van die skeppingsdade verskil. Die mens word vóór die diere gemaak en die plante spruit ook uit eers ná die skepping van die mens.
  • Genesis 2 veronderstel ‘n droë klimaat, anders as die waterryke omgewing van Genesis 1.
  • Genesis 1 vertel van God se skepping met woorde: “God het gesê …”, hoewel dit telkens met dade opgevolg word. Genesis 2 praat egter net van God se skepping as dade – die mens is gevorm, die tuin is geplant, die aarde bring plante voort, ensomeer.
  • Die grootste verskil is natuurlik dat Genesis 1 te make het met die skepping van die heelal en Genesis 2 meer spesifiek met die skepping van die mens in verhouding met mekaar en met God.

Die verskille in ordening is egter nie soseer ‘n probleem om op te los as wat dit ‘n aanduiding is van die verskil in benadering tussen die Genesis 1 se digterlike aanpak en Genesis 2 se narratiewe benadering:

  • Die eerste skeppingsverhaal (gedig) maak die mens die kroon van die skepping en vertel dié gesamentlike skepping van man en vrou aan die einde van die sesde dag. Dit is teen die heersende Ou Nabye Ooste idee van die vrou as ‘n mindere skepsel. En hulle word geskep om as Godsbeeld sy verteenwoordigers op die aarde te wees. Daarom word die mens se skepping logieserwys aan die einde van die gedig in Genesis 1 geplaas.
  • Die tweede skeppingsverhaal (narratief) maak die huwelik – God wat vir die man ‘n vrou gee – die kroon van die skepping en vertel daarom die verhaal as ‘n proses wat begin met die skepping van die man. Die skepping van die diere kom dus ná die skepping van die mens (anders as in Genesis 1) en as dit duidelik word dat hulle nie ‘n maat vir die man kan wees nie, word die vrou in ‘n volgende skeppingsdaad gemaak. Sy is steeds sy gelyke en helper (beskermer), maar word aan hom toegevoeg in ‘n verbondsverbintenis, soos God ook aan hulle verbind is (Genesis 1). Dit is ook uiters interessant dat God in Genesis 1 hulle “maak” en “skep” soos Hy ander dinge maak. Maar in Genesis 2 “vorm” Hy die mens uit klei (soos die diere in dié verhaal) en “blaas” Hy die lewensasem in hom (anders as die diere) en neem ‘n ribbebeen uit die mens en “bou” dit om tot ‘n vrou. Dit is baie meer intiem as in die eerste verhaal wat ook dan uitmond op ‘n intieme verbintenis tussen die twee. En … dit laat my net weereens besef dat ‘n mens regtig nie moet torring aan die huwelik nie!

Die Here God skep Eden as lewensruimte vir die mens sowel as die plek waar Hy by hulle kan woon

Let ook op dat Genesis 2 se verhaal begin het met die verwysing na God as “Here God”.  “Here” is die vertaling van Jahwe die persoonsnaam van die Verbondsgod van Israel. Die skrywer verklaar daarmee dat die God van Genesis 1 wat alles gemaak het nie maar net die algemene God is nie.  Hy is ook Jahwe, die God wat Homself aan Israel verbind het (Eks. 3).

Dit is ‘n belangrike perspektief vir die intieme verbintenis wat God hier tussen man en vrou skep.  Dit vorm die basis vir wat ons deur die geskiedenis as die huwelik leer ken het, soos in die oerverhale (Gen. 4:19 – Lameg; Gen. 6:2 – selfs die “seuns van God”!), die patriargale geskiedenis (Gen. 11:29; 16:3 – Abraham) en Israel (1 Sam. 18:17 – Dawid) waar vrouens “geneem” of “gegee” is, en ook in die NT erken word, bv. deur Jesus (Matt. 19) en Paulus (1 Kor. 7).  God se persoonlike naam word dus verbind aan die persoonlike karakter van die lewensverbintenis wat Hy skep tussen man en vrou.

Eden se presiese plek kan nie meer vandag aangedui word nie.  Die aanduiding dat dit in die Ooste lê, bedoel waarskynlik dat dit oos van Israel was.  Net twee van die vier genoemde riviere is bekend, die Tigris en die Eufraat in Mesopotamië.  Die Pison en die Gihon is onbekend en was moontlik sytakke van die bekende twee.

Daar is geleerdes wat die Gihon met die Nyl verbind wat die interessante moontlikheid open om na te dink oor die ooreenkomste met die paleontologiese en genetiese navorsing wat beweer dat die mens soos ons hulle vandag ken, uit ‘n klein groepie Afrikane ontstaan het … maar daaroor kan ‘n mens net spekuleer.  Dit kan nie uit die Bybelse of enige ander historiese gegewens bewys word nie.

Dit is interessant dat Eden in die Bybel nie net die naam van die tuin van Adam en Eva is nie, maar in die profete as die tuin van God op metaforiese wyse beskryf word, die plek waar God woon (Jes. 51:3; Eseg. 28:12-15; 31:8-18).

Dit resoneer met hierdie tweede skeppingsverhaal waar dit duidelik is dat dit nie net oor die aarde of die tuin van Eden as sodanig gaan as geskenk aan die mens nie.  Dit is duidelik uit die verloop van die verhaal dat God die tuin gemaak het om by die mens te kom woon, om met hulle in gemeenskap te tree.  Daarom word aan die een kant aandag gespandeer aan die beskrywing van die wonder van die tuin van Eden.  Maar dit is ook daar dat God aan die ander kant met hulle in gesprek tree as Hy in die tuin wandel teen die tyd dat die aandwind opkom (Gen. 3:8).

Die wonderlike perspektief wat Genesis 2 hiermee vir ons gee, is dat God die wêreld gemaak het as sy woonplek, die plek waar Hy met ons in gesprek kan tree.  Daarom maak Hy ons as sy verteenwoordigers, as sy beeld, sodat Hy met ons in verhouding kan tree, soos in Genesis 1 reeds gesê is.  En Hy plaas hulle in die tuin waar hulle tuis kan kom in die natuur sowel as in verhouding met Hom.

God se groot passie is dus nie net die uitsonderlike grootsheid van die heelal soos in die eerste skeppingsverhaal nie.  Hy is nie tevrede met die unieke verskeidenheid van die fauna en flora van die aarde nie, al is dit ook hoe aantreklik en interessant.  Hy is nie eers tevrede net met die skepping van die kroon van sy skepping, die mens, nie.  Nee, God se doel met dit alles is om in verhouding te tree met die mens en Sy tuiste te vind by ons.  Die God wat alles gemaak het, wat vir alles ‘n plek gevind het, wil by ons kom woon.  Sy plek is by ons, soos Jesus op so ‘n diep roerende manier in Johannes 14-17 vir ons sou kom vertel.

Dink daaroor na.  God skep die heelal en alles daarin met die visie om by ons te kom woon.  Ons is die punt van Sy storie. Jy is die punt van God se storie.

Die boom van die kennis van goed en kwaad

Die tuin van Eden was in alle opsigte ‘n paradys, nie net in terme van die oorvloed nie, maar ook in terme van die vryheid van geleenthede.  Daar was net een voorskrif: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie.  Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.” (2:17).

Die interpretasies wat aan die boom van alle kennis – letterlik: “die boom van die kennis van goed en kwaad” – verbind word, is baie uiteenlopend.  Die interpretasie wat vir my die meeste sin maak, is dat God hiermee vir Adam en Eva ‘n voorskrif gee om hulle onderskeidingsvermoë van wat goed en kwaad is aan God self oor te laat.  Hulle moet nie selfstandig probeer om sonder God se direkte insette in hulle lewe, hulle morele en spirituele keuses te maak nie.  Die onderskeiding van wat reg en verkeerd is – alle kennis – moes hulle aan God oorlaat.  In hulle verhouding met Hom sou hulle geweet het hoe om te leef.

Die implikasie van hierdie enkele verbod is dat die mens van die boom van die lewe (2:9) mag geëet het, want dit word as een van die redes aangegee waarom die mens ná die sondeval uit die tuin geban word: “As hy nou maar net nie sy hand uitsteek en die vrug van die boom van die lewe vat en daarvan eet en altyd bly lewe nie!” (3:22).  Hulle kies egter om eerder outonoom te wees en self te besluit wat reg en verkeerd is.  Daarmee verbeur hulle ook die geleentheid om vir altyd te lewe, iets wat eers in Jesus Christus reggestel kon word.

Episode 2: Die verhouding tussen die man en die vrou – 2:18-25

Die feit dat die Here God vir Adam ‘n maat maak, moet nie gesien word as ‘n erkenning van een of ander gebrek in die mens nie, eerder as ‘n aanduiding van die belangrikheid van maatskap, van gemeenskap, van familiewees en selfs in die verlengde daarvan van die belang van geloofsgemeenskap, iets wat nog uitvoerig in die res van die Pentateug aan die orde sal kom.  Sonder ‘n maat wat by hom pas, sal die mens nie sy opdrag kan uitvoer om vrugbaar te wees en die aarde te bewoon, bewerk en bewaar nie.

God maak die vrou as ‘n “helper” (ʿě·zěr), ‘n woord wat in die res van die OT baie keer met God self geassossieer word (Ps. 10:14; 42:6,12;  43:5; 72:12; vgl. ook Hebr. 13:6). Daarmee word sy ‘n “indispensible companion” (NET Bible), iemand wat kan doen wat die mens nie self op sy eie kan doen nie, iemand wat die mens komplementeer, sonder wie die mens as skepsel van God nie vrugbaar kan wees en aan hulle doel kan beantwoord nie.

Dit sien ‘n mens ook in die feit dat die vrou as die mens se “gelyke” gemaak word, maar nie as ‘n presiese replika nie, eerder as ‘n “counterpart” (in Hebreeus ně·ḡěḏ) – in Afrikaans “eweknie” – soos die woord miskien beter vertaal kan word, die mens se komplementerende teenoorgestelde.

Om dié gedagte te onderstreep, word Eva uit die “ribbebeen” (ṣē·lāʿ) van Adam gemaak is.  Dit is die enigste plek in die Bybel waar dié woord gebruik word.  In buite-Bybelse bronne word die woord bv. in argitektuur gebruik – “een kant” van ‘n paar (bv. suide-kant vs. noorde-kant, bo-kant vs. onder-kant).  As dié gebruik van die woord as verklaring gebruik word, kan ‘n mens die “ribbebeen” as een kant van Adam sien.  Eva word dan uit die “helfte” van Adam gemaak.  Daarom kan sy sy antropologiese gelyke of eweknie wees, die “helfte” van wat hom ‘n mens maak. Saam maak hulle menswees moontlik in terme van die opdrag wat vir die mens het: bewoon, bewerk, bewaar.

Die vrou word dus as sy antropologiese gelyke – sy ander helfte, sy eweknie – gegee, nie die diere nie, want hulle sou op die meeste net sy troeteldiere kon wees.  Die idee van die “ribbebeen” vorm dus die komplementariteit van die mens in hulle manlike en vroulike geslagtelikheid, en is nie maar slegs ‘n beskrywing van ‘n seksuele of huweliksverhouding nie. Dit gaan ook nie net oor Adam en Eva as individue nie – hoe ‘n mens ook al daaroor dink – maar oor wat dit van menswees en geslagtelikheid en die uitlewing daarvan sê.  Dít is hoe mense is.  Dít is hoe mense hulle menswees verwesenlik – geslagtelik komplementêr as eweknieë en onontbeerlike metgeselle.

Dié idee kom ook ooreen met die lering in die mistiese Judaïsme dat Adam aanvanklik as manlik EN vroulik geskep is, d.w.s androgeen.  Die proses om Eva uit die “ribbebeen” of “sykant” van Adam te maak, was dus nie ‘n verandering van ‘n deel van Adam in iets nuuts, ‘n vrou, nie, maar eerder ‘n verdeling van die eerste mens in twee helftes, manlike Adam en vroulike Eva.

Die implikasies hiervan word dan uitgespel deur die huwelik in ‘n baie besondere manier te beskryf as die vereniging van twee “helftes” in ‘n lewensverbintenis.  Dié lering lê waarskynlik agter die populêre siening waar van ‘n mens se man of vrou as ‘n “wederhelf” of in die geval van ‘n man se vrou as sy “beter helfte” gepraat word.  Daar is ook raakpunte met die androgene Griekse mitologie soos ‘n mens dit in Aristophanus se toespraak in Plato se Simposium lees.  Hieroor egter ‘n ander dag!

In die argetipe huwelikseremonie van twee mense in ‘n huweliksverhouding gee God, die “pa” in die gebeure, die vrou aan die man – ek sien Hom eintlik in die paadjie afstap met die bruid aan sy arm om haar te oorhandig aan die bruidegom wat opgewonde staan en wag – en skep só die moontlikheid van vrugbaarheid sodat die tuin en aarde bewoon, bewerk en bewaar kan word.

Die man tree as eerste onder gelykes op en noem haar “vrou”, omdat hy herken dat sy uit hom geneem is, en nou as sy helper en eweknie hulle menswees voltooi.

En die skrywer van Genesis trek hieruit die beginsel vir alle tye en situasies: “Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.” ‘n Wonderlike waarheid wat in die toekoms ook ‘n dieper betekenis sal kry in die voorbeeld wat dit vir gelowiges gee van hulle eenheid as bruid vir die Bruidegom, Jesus Christus, aan die einde van die tyd (Ef. 5).

Adam en Eva is werklike figure sowel as paradigmatiese archetipes

Die Bybel beskou Adam en Eva as werklike figure.  Daarom word daar later in Genesis 5 ‘n geslagsregister gegee wat waarskynlik op ‘n skriftelike bron berus, soos ‘n mens uit Genesis 5:1 kan aflei.  Dit is uiteraard nie iets wat ‘n mens histories kan verifieer nie.  Die verhaal is dus nie “histories” nie, hoogstens “voor-histories” (Wenham).  Adam word na Genesis 5 ook nie verder in die OT vermeld nie, behalwe in ‘n geslagsregister in 1 Kron. 1:1.

In die res van die Bybel word dié verhaal egter as paradigmaties geneem vir die verklaring van die effek van die sonde wat alle mense onder die skuld daarvan geplaas het.  Adam en Eva se nalatenskap word dus as ‘n werklike nalatenskap geneem, iets waarvoor die Here Jesus met sy kruisdood moes instaan.  Vgl. Adam in Rom. 5:14 waar die ooreenkoms tussen Adam en Jesus uitgespel word, 1 Kor. 15:22,45 waar die mensdom se verbondenheid met Adam bevestig word en 1 Tim. 2:13-14 waar Adam se voorrang in die skepping en Eva se voorrang in verleiding verwoord word.  Eva word ook in 2 Kor. 11:3 genoem as voorbeeld van die gevaar van verleiding vir gelowiges. Dit is nou benewens die voorkoms van Adam as die “seun van God” in die geslagsregister van Jesus (Luk. 3:38).

In lyn hiermee, werk John Walton (Investigating What the Bible Claims Concerning Adam and Eve – https://www.youtube.com/watch?v=NAoZ7wbGur0) met Adam en Eva as archetipes, nie as individue nie, hoewel hy nie noodwendig daarmee hulle werklikheid ontken nie.  Hulle word bv. gevorm uit “stof”.  Dit beteken vir hom dat hulle verganklik is, nie soseer dat hulle gevorm is uit die materie van die aarde nie.  Hulle moes immers van die boom van die lewe eet om vir ewig te kan lewe, iets wat hulle deur hulle keuse gemis het.  “Stof” is dus ‘n aanduiding van hulle identiteit, nie soseer ‘n aanduiding van hulle biologiese of fisiese samestelling nie.  So word dit in Ps. 103:14 en 1 Kor. 15:47-48 geëggo.  Dit is waar van almal van ons, nie net van Adam en Eva as individue nie, wat beteken dat dit as argetipe vir ons kan geld.

View all posts in this series

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar