Skip to main content

Die verskille oordonder die ooreenkomste

655804-breathtaking-space-artDaar is dus weliswaar baie ooreenkomste in die verskillende skeppings- en vloedverhale, soos uit die kursoriese oorsig duidelik is. Maar, die duidelike en doelbewuste verskille wys duidelik dat die Pentateug die antieke idees oor God, die wêreld en die mens op deurslaggewende wyse uitgedaag en verander het.  Met die ooreenkomste het hulle aangesluit by die bekende verhale.  Met die verskille het hulle die heersende teologiese, kosmologiese en antropologiese idees uitgedaag en met nuwe inhoud gevul.

Die Bybel deel bv. die wêreldbeeld van die antieke verhale: dat daar ‘n bonatuurlike wêreld in onderskeid van die geskape werklikheid is; dat daar ‘n God (of gode) is wat met mense kan kommunikeer; dat die mens nie net stoflik is nie, maar ook geestelik; dat die mens na die beeld van God gemaak is (farao was gereken as die “beeld van Ra”); dat daar ‘n onderskeid gekom het by die skepping tussen duisternis en lig, tussen land en see; dat plante, diere en die mens geskep is; dat die woord van die gode/God daarin ‘n rol gespeel het (Wenham).

Maar die verskille oordonder die ooreenkomste.  Ek noem sewe deurslaggewende verskille.

  1. Die God van die Bybel is uniek en enkelvoudig.

Die eerste verskil is ook die diepste verskil.  Soos Moses die volk later sou leer: “Hoor, Israel, die Here ons God is ‘n enige Here.” (Deut. 6:4).  God staan in sy enkelvoudigheid teenoor die veelgodedom van die ander godsdienste van die Ou Nabye Ooste.  Hy tree onafhanklik op van enigiemand anders, en tree daarom as soewereine God in gesprek met sy skepping en alles wat Hy gemaak het.  Sy woord is wet en niemand kan Hom voorsê of uitoorlê nie.  Dit is in sterk kontras met die intriges en stryde wat die gode van die ander skeppings- en vloedverhale kenmerk ook in hulle interaksie met mense.

Waar die hemelliggame in die antieke verhale ook as gode gereken is, is die Bybelse verhaal baie duidelik daaroor dat God fundamenteel anders is as alles anders in die skepping.  Die son, maan en sterre is maaksels van sy hande en nie deel van sy entourage in die hemel nie.  Hy is Skepper.  Die hemelliggame is skeppinge, en die mense skepsels.

  1. Die mens is die kroon van God se skepping, maar bly ‘n skepsel.

Die tweede verskil is ook fundamenteel.  Nie net is die Bybelse siening oor God anders as die siening van die gode van die ander antieke verhale nie.  Die wyse waarop oor die mens gedink word, is ook anders in die Bybelse verhaal van die skepping van die mens as in die antieke verhale.  Die mens bly in die Bybelse skeppingsverhale afhanklik van God selfs al kan die mens met God in verhouding tree anders as die res van sy skepping.

Trouens, die mens word uitgenooi om in verhouding met God te tree, maar bly fundamenteel anders as God, ‘n geskape wese.  Dit is juis een van die redes vir die vloed, omdat gepoog is om die grens tussen God en mens te oorskry met die vreemde en enigmatiese verhaal van die “seuns van God” wat met die “dogters van die mense” gemeenskap gehad het (Gen. 6).  In die NT verwys Judas, die een skrywerbroer van Jesus, na hierdie tradisie soos dit in die buite-Bybelse apokriewe werk 1 Henog (dit is die Henog van Gen. 5:21-24) uit die 3de eeu v.C. beskryf word en beskryf dit as die verlating van hulle aangewese woonplek (Jud. 6).

Ook Noag bly ‘n mens, al loof God hom vir sy gehoorsaamheid, anders as wat die geval is met Utnapisjtim in die Epos van Gilgamesj wat ‘n god raak weens sy gehoorsaamheid.

Genesis verwerp dus die sentrale motief van die heidense skeppingsverhale: die vergoddeliking van die natuur en in sommige gevalle van die mens.  Daar is volgens Genesis net een God.  Hy hoef nie sy soewereiniteit oor ander te bevestig deur hulle te oorwin nie.  Hy is die universele God.  Hy bly Skepper.  Die geskape werklikheid bly die skepping.  Selfs die kroon van God se skepping, die mens, bly uiteindelik ‘n skepsel.

  1. Die mens is in hul binêre geslagtelikheid beeld van God en gelyke vennote en metgeselle vir mekaar.

Die derde verskil is eweneens fundamenteel belangrik.  Die mens word spesifiek in hul binêre geslagtelikheid, as man en vrou, as skepping van God beskou (Gen. 1). Dieselfde geld van die mens in hulle heteroseksuele verhouding met mekaar.  Man en vrou is bedoel vir mekaar.  Hulle is gelyke vennote en metgeselle vir mekaar in die verhouding waarin God hulle vir mekaar gee (Gen. 2).

Dit sien ons eerstens in Genesis 1 wat die verhaal van die skepping van die mens vertel as ‘n binêre gelyke geslagtelike werklikheid.  Dit sien ons tweedens in Genesis 2 wat die verhaal van die mens wat in verhouding met mekaar tree, vertel as ‘n verhaal van gelyke vennote en metgeselle: “Ek sal vir hom ‘n hulp maak wat by hom pas.”  Die gelykwaardigheid van die geslagte en die gerigtheid op mekaar as vennote en metgeselle in ‘n unieke monogame – een man, een vrou – lewensverbintenis is daarmee onteenseglik gekonstateer.

Die idee van die vrou as ‘n minderwaardige skepping en besitting van die man, soos wydverspreid in van die antieke godsdienste geglo is, is daarmee uitgedaag.  Ook die idee van poligamie – een man, baie vroue – wat aan die orde van die dag was.  Ook die idee van seksuele omgang buite die veilige ruimte van die huwelik, soos in ander Ou Nabye Oosterse gemeenskappe met orgies van tempel- en gewone prostitusie die geval was, is daarmee uitgedaag.

Vergelyk bv. Levitikus se morele riglyne hieroor, veral in hfst. 18-20, wat seks beperk tot die verhouding tussen ‘n man en vrou binne die grense van die familie.

  1. Die Bybelse skeppingsverhaal begin by die goeie skepping van God wat deur die mens se sondeval in ‘n krisis gedompel is.

Die ontwikkeling van die mensdom vanaf die skepping staan in die vierde plek in die Bybel ook in skerp kontras met die ander antieke verhale.  Die Bybelse skeppingsverhaal en die verhaal van die mens begin by die goeie skepping van God wat deur die mens se sondeval in ‘n krisis gedompel is.

Die Babiloniese skeppingsverhale doen dit andersom.  Daar is progressie van ‘n duister verlede na die hoop op ‘n beter toekoms weens die ingrype van die gode.  Waar die antieke verhale dus werk met die idee dat dinge beter word, vertel die Bybelse verhale vir ons juis die teendeel.  Dinge raak al hoe slegter en verg ‘n al hoe groter en dieper ingrype van God in die wel en weë van die skepping om dit van chaos te red, soos die verhaal van Noag illustreer.

  1. God hou mense verantwoordelik om gehoorsaam aan sy wil vir die lewe te lewe.

Die Bybelse skeppingsverhale en die verhaal van die mens sentreer in die vyfde plek op ‘n morele oordeel van God waarin Hy mense verantwoordelik hou om aan Hom gehoorsaam te lewe, of die gevolge daarvan te dra.

En die verhale gee op ‘n regressiewe manier ‘n al hoe donkerder prentjie van die vooruitsig vir die mens. Die sondigheid van die mens word toenemend die storie van die mens soos ons dit sien in die verhale van Kain en Abel (Gen. 4), die verhaal van die seuns van God (Gen. 6); die verhaal van die vloek op Gam en Kanaän (Gen. 9) en die verhaal van die taalverwarring wat met die bou van die toring van Babel ingelei word (Gen. 11).

  1. Die situasie van die mens is hopeloos sonder die genadige ingrype van God.

Die situasie van die mens is dus hopeloos sonder die genadige ingrype van God.  Dit illustreer God selfs in die genade vir die moordenaar, Kain (Gen. 4), in die redding van Noag en sy gesin (Gen. 6-9), en later in die roeping van Abraham (Gen. 12 vv.).

Trouens, die verhaal van die taalverwarring kan juis as ‘n satiriese kritiek op die idee van Babilon as die sentrum van die beskawing gesien word (Wenham).  Dit is in sterk kontras met die wyse waarop oor die gode en die mensdom in die ander antieke verhale geskryf word.

  1. Israel se moraliteit word deurslaggewend deur hulle spiritualiteit bepaal.

Hierdie fokus op verhoudinge in die konteks van die Pentateug is in die sewende plek daarom in radikale kontras met die wyse waarop oor menswees, in terme van die liefde en familiewees, sowel as in terme van die verhouding met God, in die ander antieke godsdienstige verhale geskryf is.

Die wil van God soos uitgedruk in die Tora het ‘n beslissende impak gehad op die wyse waarop in die geloofsgemeenskap geleef word.  Israel se moraliteit is deurslaggewend deur hulle spiritualiteit bepaal wat beteken dat die Tora – en daarmee sluit ‘n mens die hele Pentateug in – ‘n integrale deel van die Godsverhouding uitgemaak het.

Dit het beteken dat die Pentateug ook uiters kritiese kommentaar op die kultiese prostitusie en vrugbaarheidsgebruike van die Babiloniërs en Kanaäniete gelewer het.  Let op in Genesis 9 dat dit die kleinseun Kanaän is wat deur Noag vervloek word, nie sy pa Gam nie, wat op ‘n eksplisiete veroordeling van die vulgêre en afstootlike seksuele praktyke van die Kanaäniete neerkom, soos wat Levitikus later in al die lyste van ongeoorloofde seksuele verhoudings sal uitspel (Lev. 18-20), en dit boonop koppel aan die gebod van die liefde vir die naaste (Lev. 19:18) waarop Jesus inspeel in sy verwoording van die liefdesgebod (Matt. 22:39).

Nie dat die geloofsgemeenskap van Israel in die ontvouende verhaal van die OT hulle altyd hieraan gesteur het nie.  Dit is immers duidelik in die OT dat dié idees in die patriargale gemeenskappe van Israel onder konstante druk was, soos dit duidelik in bv. die voorkoms van poligamie te siene is.

Die ongehoorsaamheid aan dié duidelike perspektiewe op menswees in die skeppingsverhale in die praktyk van die geloofsgemeenskappe van Israel beteken egter nie dat die betekenis van Genesis se perspektiewe op menswees geïgnoreer kan word nie.

Dit sien ons onder andere in die wysheidstradisie van Israel:

Uiteindelik het hierdie perspektiewe op menswees die deurslag gegee in die NT waar dit die grondbeginsel vir die geloofsgemeenskap word.  Eers gryp Jesus terug op die skeppingsverhaal in sy teologisering oor die huwelik tussen een man en een vrou (Matt. 19).  En dan doen Paulus later dieselfde in sy beskrywing van die wyse waarop seksualiteit in die geloofsgemeenskap binne die skeppingsvisie van God vir die mens kan gedy (bv. 1 Kor. 5-7; Rom. 1; Efes. 5).

View all posts in this series

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar