Skip to main content

Genesis 38 – Tamar tree as verlosser op in Juda se afvalligheid en losbandigheid

655804-breathtaking-space-artDie verhaal van Tamar en Juda word waarskynlik hier vertel om ‘n kontras tussen Juda se dreigende afvalligheid en uiteindelike losbandigheid te trek met Josef se absolute getrouheid en volhardende selfdissipline in die volgende hoofstuk.  ‘n Mens kan ten minste die volgende vier kontraste tussen die verhaal van Juda en Tamar en dié van Josef en Potifar se vrou trek:

  1. Juda trek op eie inisiatief weg van sy broers en bekende omgewing en gaan woon tussen die Kanaäniete. Josef word deur Juda se toedoen in Egipte aan Potifar verkoop as ‘n slaaf.  Dit stel beide bloot aan ‘n heidense omgewing.
  2. Juda raak deel van sy heidense omgewing deur met Bat-Sua ‘n Kanaänitiese vrou te trou. Hy loop daarmee die gevaar dat sy huishouding aan afgodery en onsedelikheid blootgestel sal word. Dit is waarskynlik geen wonder dat sy seuns nie die guns van die Here geniet nie, want Er was in die oë van die Here ‘n slegte man, en Onan ook so.  Josef bly aanvanklik selibaat en bly daarmee gehoorsaam nie net aan die geloofsgemeenskap se sedelike norme nie, maar nog belanriker, aan die Here.
  3. Juda ignoreer Tamar se regte toe sy eie seuns haar regte vertrap. Josef beskerm Potifar se regte deur sy vrou se onsedelike voorstelle dag vir dag te weerstaan.
  4. Juda slaap by ‘n “prostituut” ná sy vrou oorlede is en sy drange vir hom te veel word. Josef vlug uiteindelik van die verleiding van Potifar se vrou al bring dit hom in die tronk, omdat hy aan die Here getrou wil bly: “U is sy (Potifar se)  vrou.  Hoe kan ek só ‘n verkeerde ding doen.  Ek sal mos teen God sondig!” (Gen. 39:9).

Juda se verbintenis met die Godsvolk kom dus in gedrang.  Dit is moontlik dat sy gewete hom gepla het oor sy bose planne met Josef; dat hy nie sy pa in die oë kon kyk, omdat hy hom soveel leed aangedoen het nie; dat hy nie geweet het hoe om die situasie reg te stel nie en hom oorgee aan die versoekings en verleidings van sy omgewing.

Die evangelie van Juda se verhaal is egter ‘n stukkie goddelike ironie.  Juda word gered deur juis dié vrou wat hy aanvanklik ignoreer, misbruik as “prostituut” en wil doodmaak toe sy swanger word buite die huwelik.  Trouens, dit is die begin van ‘n omkeer in sy lewe waarvan ons die ontwikkeling in die verloop van Josef se verhaal kan agterkom.

Tamar was waarskynlik ‘n Kanaänitiese vrou.  Sy was getroud met die oudste van Juda se seuns, Er.  Hy was egter ‘n slegte mens “in die oë van die Here”, en is vroeg dood, voordat hulle kon kinders kry.  “Die Here het hom laat sterf.

Soos die gebruik toe was, moes een van die broers by haar ‘n kind verwek sodat daar ‘n nageslag vir haar en haar man sou wees.  Onan wou egter nie val vir dié storie nie en het telkens gesorg dat die seksdaad nie voltrek word nie – coïtus interruptus of onanie soos dit ook na aanleiding van dié episode genoem word.  Wat Onan gedoen het, was eweneens verkeerd: “in die oë van die Here”, en hy sterf nes sy broer.

Dit gee ons ‘n kykie agter die skerms van wat hier in Genesis gebeur.  Wat in die slaapkamer gebeur, is nie vir God se oë verborge nie.  Wat verkeerd loop in die verhoudinge tussen mense is daarom nooit vir die Here ‘n duistere geheim nie.  En wat ons hier agterkom, is dat Hy optree en regstellings bring op grond van sy eie oorwegings.

Juda het toe egter ‘n groot probleem.  Hy wou nie die gebruike van sy geloofsgemeenskap heeltemal verontagsaam nie, maar wil ook nie nog ‘n seun verloor nie. Hy beraam ‘n slinkse plan en stuur haar terug na haar ouerhuis met die vae belofte dat sy volgende seun sy plig sou nakom as hy groot genoeg is.

Die tyd het egter aangestap en die belofte van Sela – nogal ‘n toepaslike naam, want hy het alles net “on hold” geplaas, soos die term in die Psalms gebruik word om ‘n “pouse” aan te kondig! – het net nie ten uitvoer gekom nie.

En dit is waar die “verlosser” in die verhaal begin optree.  Tamar besluit om iets aan die saak te doen en besluit om vir die pa self te gaan.  Sy verlei haar skoonpa Juda deur haar te vermom as ‘n prostituut.  Let op hoe bruusk hy haar aanvanklik hanteer: “Kom! Ek wil met jou gemeenskap hê!”  Sy sorg egter dat sy sy seëlring, ketting en kierie as pand kry vir die plan wat sy in die stilligheid beraam het.

Toe sy swanger is en die gemeenskap wil optree teen haar, wys sy vir hom haar pand.  Juda kom tot insig: “Sy is onskuldig, ek nie! Ek moes my seun Sela aan haar as man gegee het.”  Dit is die begin van sy bekering, want hy maak nie net reg wat hy hier verbrou het deur haar in ere te herstel en dié kinders wat uit haar gebore is as sy eie te erken nie, maar begin verantwoordelikheid neem vir die belange van die geloofsgemeenskap veral met betrekking tot die latere ontwikkelings rondom Benjamin.

Hoe mooi bely hy dit nie later in sy gesprek met Josef nie: “God het ons sonde aan die lig gebring”, en pleit vir genade vir Benjamin (Gen. 44:16 vv.).  Die feit dat hy tot selfkennis kom in sy verhouding met Tamar maak dat sy Godskennis toeneem en hy algaande self in gehoorsaamheid aan God begin lewe.  Dat dié ontwikkeling in sy karakter kon plaasvind, het begin by die optrede van Tamar wat hom verantwoordelik gehou het vir sy belofte.

Die geboorteproses van die tweeling is ook net so betekenisvol, omdat dit eintlik die boodskap versterk dat hier iets gebeur wat vir die toekoms betekenis kan hê.  Toe die geboorte begin, het een van die twee, Serag, sy hand uitgesteek en die vroedvrou het dit gegryp en ’n stukkie rooi garing daarom gebind. Maar toe trek hy sy hand terug en sy broertjie kom.

Die vroedvrou gee hom daarmee die naam Peres, want, sê sy: “Jy het met krag vorentoe gekom.”  Daarna het Serag gekom om wie se hand die rooi garing was, wie se naam daarom met die “rooi van die dagbreek” verbind word.

So behou Tamar nie net haar lewe en dié van haar ongebore kinders nie, maar word ingeskryf in die geslagsregister van die Messias.  Jesus sou gebore word uit haar nageslag, uit Peres, die een: “wat met krag vorentoe gekom het.” (Vgl. Matt. 1:3).  En Juda word hiermee op soortgelyke wyse die stamvader van Jesus.  Verlos deur ‘n vrou!

Vernuftig!  God soek mense wat met durf en daad kan optree, selfs al word die reëls van die swaershuwelik so ‘n bietjie gerek (vgl. Deut. 25:5-10; Rut 4).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda