Skip to main content

Genesis 39:21-40:23 – Josef lê drome uit in die tronk met God se hulp

655804-breathtaking-space-artDrie frases in vers 21 struktureer die volgende fase van Josef se lewe in Egipte.  Terwyl Josef daar in die tronk was: 1) “was die Here by hom”, en 2) “het Hy Josef sy troue liefde laat ondervind”, sodat 3) “die tronkbewaarder hom goedgesind geword het.

Hoewel Josef dus van ‘n slegte situasie as slaaf in Potifar se huis na ‘n nog slegter situasie in die koninklike tronk beweeg het, is die bepalende faktor steeds die Here se teenwoordigheid in Josef se lewe. Nie net was die teenwoordigheid van die Here by Josef nie, maar die Here het sy lojaliteit, sy besondere troue liefde (die Hebreeuse ḥě·sěḏ) steeds aan Josef bewys.  Daarom was die tronkbewaarder hom goedgesind en plaas hom bykans onmiddelik in beheer van al die gevangenes in die tronk.  Hy was nou verantwoordelik vir alles wat hulle daar moes doen.  Josef was só goed in sy organisastoriese en leidinggewende vermoëns dat die tronkbewaarder eintlik na niks meer omgesien het nie.  Alles was in Josef se hande, soos dit uiteindelik van die hele Egipte waar sou word.

Om die punt te onderstreep, herhaal die skrywer die feit dat dit die gevolg is van die Here wat by hom was en alles wat Josef ook al aangepak het, laat slaag het.

’n Ruk nadat Josef in die tronk gesit is, gebeur daar iets wat Josef se invloedsfeer beslissend sou uitbrei.  Die bekende storie uit ons jeug van die skinker en die bakker van Egipte se koning word vir ons vertel.  Hulle het albei verkeerd opgetree teenoor die farao, hoewel ons nie weet wat presies hulle verkeerd gedoen het nie.  Die farao het vir hulle kwaad geword en hulle beland in die tronk.

Die afwagting neem toe, maar die volgende positiewe ding wat met Josef gebeur, kom eers na ‘n lang tyd verloop het, ongeveer in die elfde jaar van sy tronkstraf (Gen. 41:1).  Trouens Josef sou ongeveer dertien jaar in die tronk deurbring (Gen. 41:46).  In die tydsberekening van die Here verloop daar soms jare voor die tyd ryp is vir wat Hy beplan.

Die skinker en die bakker droom albei een nag ‘n droom, maar wonder oor die uitleg daarvan.  Let op hoe Josef eers invra oor hulle bedruktheid – sy belangstelling kom baie eg oor – en daarna stellig verklaar dat God hulle drome se uitleg ken.  Die uitleg van drome, sê hy, is nie ‘n menslike kuns nie, maar ‘n Goddelike guns.

Die hoof van die skinkers se droom oor die wingerdstok met die drie lote waarvan hy die ryp druiwe in die farao se beker uitdruk, word deur Josef geïnterpreteer dat hy weer oor drie dae in sy amp herstel sal word.

Die hoof van die bakkers se droom was opgewonde oor die gunstige uitleg vir die skinker, maar moes die grusame nuus aanhoor dat sy droom van die drie mandjies met brood op sy kop wat die voëls opgevreet het, beteken dat hy aan ’n paal opgehang sal word waar die voëls sy vleis van hom sal afvreet.

Let op hoe dit net vir die skinker is wat Josef vra dat hy aan hom moet dink en ‘n guns aan Josef moet bewys deur sy saak aan die farao te stel.  Dit is immers net hy wat moontlik ‘n effek op Josef se lot kan hê.  Josef wil hê dat sy verhaal van ontvoering en verontregting die ore van die koning moet bereik.  Hy het niks gedoen wat dié onreg verdien nie.

Dit alles het gebeur soos Josef vir die twee hulle drome uitgelê het.  Na drie dae is die twee weer na die koning met sy verjaarsdag ontbied en die skinker het inderdaad sy pos teruggekry en die bakker is opgehang.

Die hoop dat Josef se verhaal by die koning sou uitkom, het egter beskaam.  Die hoof van die skinkers het nie weer aan Josef gedink nie.  “Hy het van Josef vergeet.”  Soos dit waarskynlik die geval was met sy broers in Kanaän.  Maar nie soos dit die geval was met die eintlike koning, die Here, nie, soos ons in die volgende hoofstuk sal agterkom.  Twee jaar later sou Josef se kans kom.

Dit is ook merkwaardig dat Josef se twee drome in Kanaän vir Josef in die tronk laat beland het toe eers sy broers en daarna Potifar hom in die steek gelaat het. Twee drome van die skinker en bakker in die tronk lei uiteindelik daartoe dat hy as verantwoorde Goddelike uitlegger vir die farao aanbeveel word.  Twee drome van die farao lei uiteindelik daartoe dat hy in die posisie as de facto leier van Egipte aangestel word wat nie net tot Egiptenare se voordeel is nie, maar sy broers, familie en selfs wyer na ander nasies s’n ook.

Die laaste twee drome bevestig dus uiteindelik die ware betekenis van die eerste twee drome, al neem dit ongeveer twintig jaar voor dit waar word.  En dit is nie net sy ouers en broers wat hom daarvoor eer nie.  Hy hou die hele wêreld se lot uiteindelik in sy hand met die wyse plan om koring gedurende die sewe vet jare op te gaar vir die sewe maer jare wat sou kom.  God het hom inderdaad vir die hele wêreld geroep en sy sorg vir alle mense daardeur geïllustreer.

Dit was inderdaad so dat die Here by Josef was, dat Hy hom sy troue liefde laat ondervind het, sodat almal teenoor hom goedgesind geword het, al het dié fase in sy lewe dertien jaar lank geduur.  Selfs sy broers sou uiteindelik sy guns soek en dit vind.  Watter wonderlike getuienis van wat God met ‘n mens se lewe kan doen!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda