Genesis 39:21-40:23 – Josef lê drome uit in die tronk met God se hulp
Drie frases in vers 21 struktureer die volgende fase van Josef se lewe in Egipte. Terwyl Josef daar in die tronk was: 1) “was die Here by hom”, en 2) “het Hy Josef sy troue liefde laat ondervind”, sodat 3) “die tronkbewaarder hom goedgesind geword het.”
Hoewel Josef dus van ‘n slegte situasie as slaaf in Potifar se huis na ‘n nog slegter situasie in die koninklike tronk beweeg het, is die bepalende faktor steeds die Here se teenwoordigheid in Josef se lewe. Nie net was die teenwoordigheid van die Here by Josef nie, maar die Here het sy lojaliteit, sy besondere troue liefde (die Hebreeuse ḥě·sěḏ) steeds aan Josef bewys. Daarom was die tronkbewaarder hom goedgesind en plaas hom bykans onmiddelik in beheer van al die gevangenes in die tronk. Hy was nou verantwoordelik vir alles wat hulle daar moes doen. Josef was só goed in sy organisastoriese en leidinggewende vermoëns dat die tronkbewaarder eintlik na niks meer omgesien het nie. Alles was in Josef se hande, soos dit uiteindelik van die hele Egipte waar sou word.
Om die punt te onderstreep, herhaal die skrywer die feit dat dit die gevolg is van die Here wat by hom was en alles wat Josef ook al aangepak het, laat slaag het.
’n Ruk nadat Josef in die tronk gesit is, gebeur daar iets wat Josef se invloedsfeer beslissend sou uitbrei. Die bekende storie uit ons jeug van die skinker en die bakker van Egipte se koning word vir ons vertel. Hulle het albei verkeerd opgetree teenoor die farao, hoewel ons nie weet wat presies hulle verkeerd gedoen het nie. Die farao het vir hulle kwaad geword en hulle beland in die tronk.
Die afwagting neem toe, maar die volgende positiewe ding wat met Josef gebeur, kom eers na ‘n lang tyd verloop het, ongeveer in die elfde jaar van sy tronkstraf (Gen. 41:1). Trouens Josef sou ongeveer dertien jaar in die tronk deurbring (Gen. 41:46). In die tydsberekening van die Here verloop daar soms jare voor die tyd ryp is vir wat Hy beplan.
Die skinker en die bakker droom albei een nag ‘n droom, maar wonder oor die uitleg daarvan. Let op hoe Josef eers invra oor hulle bedruktheid – sy belangstelling kom baie eg oor – en daarna stellig verklaar dat God hulle drome se uitleg ken. Die uitleg van drome, sê hy, is nie ‘n menslike kuns nie, maar ‘n Goddelike guns.
Die hoof van die skinkers se droom oor die wingerdstok met die drie lote waarvan hy die ryp druiwe in die farao se beker uitdruk, word deur Josef geïnterpreteer dat hy weer oor drie dae in sy amp herstel sal word.
Die hoof van die bakkers se droom was opgewonde oor die gunstige uitleg vir die skinker, maar moes die grusame nuus aanhoor dat sy droom van die drie mandjies met brood op sy kop wat die voëls opgevreet het, beteken dat hy aan ’n paal opgehang sal word waar die voëls sy vleis van hom sal afvreet.
Let op hoe dit net vir die skinker is wat Josef vra dat hy aan hom moet dink en ‘n guns aan Josef moet bewys deur sy saak aan die farao te stel. Dit is immers net hy wat moontlik ‘n effek op Josef se lot kan hê. Josef wil hê dat sy verhaal van ontvoering en verontregting die ore van die koning moet bereik. Hy het niks gedoen wat dié onreg verdien nie.
Dit alles het gebeur soos Josef vir die twee hulle drome uitgelê het. Na drie dae is die twee weer na die koning met sy verjaarsdag ontbied en die skinker het inderdaad sy pos teruggekry en die bakker is opgehang.
Die hoop dat Josef se verhaal by die koning sou uitkom, het egter beskaam. Die hoof van die skinkers het nie weer aan Josef gedink nie. “Hy het van Josef vergeet.” Soos dit waarskynlik die geval was met sy broers in Kanaän. Maar nie soos dit die geval was met die eintlike koning, die Here, nie, soos ons in die volgende hoofstuk sal agterkom. Twee jaar later sou Josef se kans kom.
Dit is ook merkwaardig dat Josef se twee drome in Kanaän vir Josef in die tronk laat beland het toe eers sy broers en daarna Potifar hom in die steek gelaat het. Twee drome van die skinker en bakker in die tronk lei uiteindelik daartoe dat hy as verantwoorde Goddelike uitlegger vir die farao aanbeveel word. Twee drome van die farao lei uiteindelik daartoe dat hy in die posisie as de facto leier van Egipte aangestel word wat nie net tot Egiptenare se voordeel is nie, maar sy broers, familie en selfs wyer na ander nasies s’n ook.
Die laaste twee drome bevestig dus uiteindelik die ware betekenis van die eerste twee drome, al neem dit ongeveer twintig jaar voor dit waar word. En dit is nie net sy ouers en broers wat hom daarvoor eer nie. Hy hou die hele wêreld se lot uiteindelik in sy hand met die wyse plan om koring gedurende die sewe vet jare op te gaar vir die sewe maer jare wat sou kom. God het hom inderdaad vir die hele wêreld geroep en sy sorg vir alle mense daardeur geïllustreer.
Dit was inderdaad so dat die Here by Josef was, dat Hy hom sy troue liefde laat ondervind het, sodat almal teenoor hom goedgesind geword het, al het dié fase in sy lewe dertien jaar lank geduur. Selfs sy broers sou uiteindelik sy guns soek en dit vind. Watter wonderlike getuienis van wat God met ‘n mens se lewe kan doen!
View all posts in this series
- God gee Genade vir Geloofsgemeenskappe - October 5, 2016
- Die Pentateug
- Hoe lees ons die verhale in die Bybel?
- Lees, Luister, Leef
- Genesis – Die oorsprong van alle dinge - October 6, 2016
- Genesis in sy ontstaanswêreld
- Die verskille oordonder die ooreenkomste
- Indeling
- Genesis 1:1-2:3 – In die begin het God die hemel en die aarde geskep - October 7, 2016
- Genesis 2:4-25 – Dit is nie goed dat die mens alleen is nie - October 8, 2016
- Genesis 3 – Die mens kruip vir God weg weens die sonde - October 10, 2016
- Genesis 4 – Kain oorweldig vir Abel en maak hom dood - October 11, 2016
- Genesis 5 – Adam het ‘n seun na sy beeld - October 12, 2016
- Genesis 6 – God is bedroef dat Hy die mens gemaak het, maar begenadig Noag - October 13, 2016
- Genesis 7 – Ek het jou gesien en bevind jou regverdig - October 15, 2016
- Genesis 8 – Toe het God gedink aan Noag en al die diere in die ark - October 16, 2016
- Genesis 9 – God sluit ‘n verbond met alle lewende wesens - October 18, 2016
- Genesis 10 – Uit Noag en sy nageslag versprei die nasies oor die aarde
- Genesis 11 – God bring ‘n taalverwarring en beweeg Tera om na Kanaän te trek - October 19, 2016
- Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwys - October 21, 2016
- Genesis 13 – God herhaal sy belofte van die land en ‘n groot nageslag aan Abram
- Genesis 14 – Abram seën en straf nasies op die wêreldverhoog - October 22, 2016
- Genesis 15 – Die Here belowe beskerming en beloning in ‘n verbond met Abram - October 24, 2016
- Genesis 16 – Abram val vir die versoeking om self ‘n nageslag te voorsien - November 14, 2016
- Genesis 17 – Lewe naby My en wees onberispelik - November 15, 2016
- Genesis 18 – Abraham se gasvryheid sluit die lewe vir almal oop - November 16, 2016
- Ekskursus: Kan God van gedagte verander?
- Genesis 19 – Losbandigheid en bloedskande bedreig familiewees - November 17, 2016
- Genesis 20 – Abraham tree as profeet op ten spyte van sy onbehoorlike gedrag - November 18, 2016
- Genesis 21 – Die Here het aan Sara gedink soos Hy beloof het - November 19, 2016
- Genesis 22 – Nou weet ek dat jy My dien - November 21, 2016
- Genesis 23 – Sara word begrawe in die Makpelagrot as vervulling van die landsbelofte - November 22, 2016
- Genesis 24 – God gee vir Isak ‘n gasvrye vrou wat hom vertroos na die dood van Sara - November 23, 2016
- Genesis 25:1-18 – Abraham omhels die roeping van God enduit - November 24, 2016
- Genesis 25:19-34 – Esau minag sy eersgeboortereg en verkoop dit aan Jakob - November 25, 2016
- Genesis 26 – Isak beweeg van rusies na die ruimte wat die Here hom gee - November 26, 2016
- Genesis 27:1-45 – Rebekka en Jakob se bedrog bedreig die geloofsgemeenskap se voortbestaan - November 30, 2016
- Genesis 27:46-28:22 – Die Godsverhouding en die beskerming van die huwelik bevestig die geloofsgemeenskap - December 1, 2016
- Genesis 29-30 – Jakob word sterk in die stryd met Laban - December 2, 2016
- Genesis 31 – Die Here stuur Jakob as ‘n ryk man weer terug na Kanaän - December 3, 2016
- Genesis 32 – Jakob worstel enduit met God en word verander van bedrieër na begenadigde - December 5, 2016
- Genesis 33 – Jakob bely teenoor Esau dat God goed was vir hom - December 6, 2016
- Genesis 34 – Dina se verkragting word met koelbloedige moord beantwoord - December 7, 2016
- Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin het - December 8, 2016
- Genesis 36 – Esau verlaat die beloofde land en slaan sy eie koers in - December 9, 2016
- Genesis 37 – Josef die dromer word ‘n slaaf in Egipte - December 10, 2016
- Genesis 38 – Tamar tree as verlosser op in Juda se afvalligheid en losbandigheid - December 12, 2016
- Genesis 39:1-20 – Josef weerstaan Potifar se vrou om aan God en sy baas getrou te bly - December 13, 2016
- Genesis 39:21-40:23 – Josef lê drome uit in die tronk met God se hulp - December 14, 2016
- Genesis 41 – Josef se lot word dramaties verander van vergete na vrugbaar - December 15, 2016
- Genesis 42 – Jakob se seuns word deur God uitgedaag in Egipte - December 16, 2016
- Genesis 43 – Jakob stuur Benjamin na Egipte in die hoop dat God hulle barmhartig en genadig sal wees - December 17, 2016
- Genesis 44 – Juda offer sy lewe vir Benjamin op toe God hulle sonde aan die lig bring - December 19, 2016
- Genesis 45 – Josef omhels sy broers en verklaar dat alles God se werk was - December 20, 2016
- Genesis 46 – Jakob trek Egipte toe en herenig met Josef - December 21, 2016
- Genesis 47-48 – Jakob seën die farao sowel as Josef se twee seuns - December 22, 2016
- Genesis 49-50 – Jakob seën sy seuns met die oog op die toekoms - December 23, 2016
- Oor die woord van Sarai - June 20, 2018
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar