Skip to main content

Genesis 13 – God herhaal sy belofte van die land en ‘n groot nageslag aan Abram

4782847Hierdie hoofstuk vertel vir ons van die feit dat Abram as ‘n geseënde man terugkom uit Egipte – 13:1-4 – maar dan in die uitdaging wat sy rykdom en ‘n botsing van belange met sy broerskind inhou, vasloop – 13:5-7.  Dié uitdaging word aan die een kant in ‘n gesprek tussen Abram en Lot beslis waarin Lot die beste deel van die land kies – 13:8-13 – maar dan ook aan die ander kant tot ‘n verdere bepalende belofte van die Here lei in terme van land en nageslag – 13:14-18.  Abram erf eintlik die hele aarde, en sy nageslag verwerf ‘n unieke status as die geseëndes van die Here.

Abram trek terug na Kanaän – 13:1-4

Abram trek terug uit Egipte na Kanaän om die roeping wat die Here vir hom het, opnuut op te neem.  Ten spyte van sy liederlike lafhartige leuens in die krisis van hongersnood leer hy dat God vertrou kan word selfs wanneer dit broekskeur gaan.

Hy kom as ‘n ryk man terug uit Egipte!  Hoeveel besittings hy reeds gehad het, en hoeveel farao vir hom gegee het, kan ‘n mens nie sê nie, maar dit is duidelik dat sy rykdom uiteindelik substansieel was.  Hy was ryk aan vee, silwer en goud.

Abram trek weer van plek tot plek en roep die Naam van die Here aan in die land.

Abram word uitgedaag deur rykdom en ‘n botsing van belange – 13:5-7

Gou word Abram egter voor ‘n volgende toets gestel, hoe om ‘n vreedsame naasbestaan te verseker met sy nefie Lot wat ook self ‘n groot rykdom opgebou het.  Hulle rykdom het ‘n botsing van belange teweeg gebring.  Die katalisator vir die krisis was ‘n getwis tussen hulle veewagters.

Hierdie konflik laat ’n mens diep nadink oor die wedywering oor grond, soos ons in ons land nou alreeds ’n paar eeue ervaar.  Trouens, grond is iets wat regdeur die wêreld ’n kritiese rol speel in die handhawing van goeie onderlinge verhoudinge, al dan nie.  Sonder ‘n tuiste in die land waar jy woon, kan niemand ’n gelukkige naasbestaan met ander hê nie.

Twee belangrike gesprekke beslis die uitkoms van dié krisis tussen hulle.  Die eerste is die gesprek tussen Abram en Lot waarin Lot die beste deel van die breër landstreek van Kanaän kies in die Jordaanvallei – 13:8-13.  Die tweede is die gesprek tussen die Here en Abram waarin die Here sy belofte van seën herhaal in terme van ‘n tuiste in die land en ‘n toekoms vir sy nageslag – 13:14-18.

Die gesprek tussen Abram en Lot – 13:8-13

‘n Mens leer uit Lot se keuse dat wat op die oog af na ‘n: “tuin van die Here” lyk (let op die parallel met die tuin van Eden!), en boonop vir Lot herinner aan die plek waarvandaan hulle so pas gekom het, “soos Egipte”, dat dit nie altyd die beste keuse is nie.  Die skrywer se kort opmerking oor Sodom laat ‘n rilling by jou ruggraat afgaan:  “Die inwoners van Sodom was sleg: hulle het baie gesondig teen die Here.” En, ‘n mens weet wat kom met die verhaal van Lot se ontvoering (Gen. 14) en sy uiteindelike verlossing uit die ramp wat Sodom en Gomorra tref (Gen. 19).

Die gesprek van die Here met Abram – 13:14-18

Wanneer Abraham beteuterd agterbly met die droër dele, is dit asof ’n mens die idioom hoor: “Nice guys come second”.  Dit is egter presies hoe God baie keer werk deur dié een wat in die skadu gestel word, van ‘n blywende oplossing te voorsien.

Die Here nooi Abram uit om ‘n “bird’s eye view” te neem, want die Here gee vir hom die land rondom hom, vir sover as wat hy kan sien: “Die hele land (aarde?) wat jy sien, gee Ek vir altyd aan jou en jou nageslag.” (onthou dat die woord vir land en aarde presies dieselfde is …).

Aan die belofte van land word ook die belofte van ‘n nageslag gekoppel.  Al sou Lot, sy broerskind, nou nie meer noodwendig sy erfgenaam wees nie, het die Here nog nie sy plan laat vaar nie om ‘n nageslag vir Abram te voorsien waarin die hele aarde geseën sal word: “Trek nou deur die land, deur se lengte en breedte, want Ek gee dit vir jou.

Hierdie keer gehoorsaam Abram die Here en gaan woon by die groot bome van Mamre by Hebron waar hy ‘n altaar vir die Here bou om Hom te aanbid. Die Amoriet Mamre, saam met sy twee broers, sou vir Abram ondersteun om Lot te gaan red in die volgende hoofstuk.  Hy het dus ook goeie buurmanskap in Mamre gevind.

Boodskap

Een van die wonderlike aspekte van hierdie verhaal in Genesis 13 is die interessante ooreenkomste wat daar met ander Bybelse verhale is.  Daar is bv. ooreenkomste met die verhaal van die slawerny in Egipte en die Uittog terug na die land Kanaän sowel as met dele van die verhaal van die koms van die koninkryk in die NT.

  • Dink aan die swaar plae van Genesis 12 wat die farao oortuig het om Sarai vir Abram terug te gee, en die soortgelyke plae in Eksodus 7-12 wat die farao oortuig het om die volk van Israel te laat trek na die beloofde land. ‘n Mens sien dieselfde proses in die plae van die eindtyd in Openbaring – vgl. veral die inhoud van die trompette – wat die finale koms van die koninkryk van God voorafgaan (Openb. 6-16).  Dit is waarom Jesus ook vir ons geleer het om nie net negatief te kyk na allerhande “plae” wat die wêreld tref nie: “Al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.” (Matt. 24”8).
  • Dink aan die rykdom waarmee Abram terugkeer na Kanaän en dieselfde gebeure in die Uittog, soos in Eksodus 12:35-36. ‘n Mens sien dieselfde proses in die terugkeer uit ballingskap, hoewel dit daar as ‘n vrywillige gawe geteken word wat deur koning Kores as ‘n proklamasie uitgereik is (Esra 1:2-11).  Geen wonder dat Jesus ons aanraai om eerder op God en die koms van sy koninkryk te fokus, want: “dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” (Matt. 6:33).

Die verhaal nooi ons dus uit om hierdie verhaal nie net te sien as ‘n beskrywing van God en die pad wat Hy met mense stap in die verlede op spesifieke geleenthede nie, maar as voorbeeldverhale van die pad wat Hy met alle gelowiges stap.

Jy kan dit self van toepassing maak op die konflikte wat jy tans beleef, sowel as die uitdagings wat ons in ons land het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda